Gisela Ullyatt. Wanneer die Klankman begin droom.

recording studio

Deel een en twee van die vierluik oor Meyer van Rensburg, wat in 1983 met Klankmanwoordboom
debuteer, het op die herbekendstelling van die digter gesentreer:

http://versindaba.co.za/2015/09/11/gisela-ullyatt-wat-het-van-meyer-van-rensburg-geword/

http://versindaba.co.za/2015/09/16/gisela-ullyatt-meyer-van-rensburg-foto-album-en-enkele-gedigte-2/

Deel drie poog om die ‘klank’-gedeelte van die bundel van naderby te beskou en vir die leser ’n paar klankingenieursterme te ontsluit. Hierdie terme/beelde word sentrale metafore in die bundel wat met temas soos byvoorbeeld die soeke na God skakel. Die sinne wat in kursief aangehaal word, is Meyer se verbatim woorde, soos verskyn in ons e-pos kommunikasie.

Vanweë my uiters beperkte kennis van klankmeganika en klanktoerusting, moes ek allereers by Meyer kersopsteek. Uiteraard het die wêreld van die klankoperateur/-ingenieur in so ’n mate verander vandat die bundel verskyn het, dat bandmasjiene, byvoorbeeld, in onbruik verval het. Die digitale era het die klankateljee radikaal verander.

Die volgende twee gedigte is voorbeelde van hoe die digter ‘klank’ met die ‘boom’ verweef;
“Klankboom” (43) sluit aan by die program-gedig, “Woordboom 1” se laaste ses reëls:

Daar, tussen rotse aan die rand,
verstaal in ’n kilohertzland,
begin desibels Boerwees die doring dryf
om meters klank neer te skryf:
klink en kopuleer nou hier en daar
die klankboomwortels aanmekaar.

Klankboom

Die chroomboom is driewiel
vol katrolle
met net een dwarstak
wat met teenwig-vrugte plankwip
of teleskopeer

’n woordboom
wat die verskil maak
tussen verwringing
of hoë klankgetrouheid
kwaad of goed
my boom van kennis.

Soos reeds verduidelik in Blog 1, was Meyer werksaam as onder andere klankmenger/-operateur by die destydse SAUK. Later jare is hy werksaam (15 jaar) by Radio Kansel. Die ‘klankboom’ verwys na die chroom- of staalboom wat deur middel van katrolle beheer word. Hierdie ‘boom’ word byvoorbeeld in televisieopnames aangetref. Dus word woorde of musiek so ‘klinkklaar as moontlik vas[ge]lê’. Sodoende word ‘die eggo’ uitgesluit. Klank word ‘deur die klankmengbak [mixing desk] na die opnamemasjien gelei’. Voor dit na die opnamemasjien gelei word, kloof, ondersoek en rangskik die klankmenger die klank.

Klankboom met mikrofoon.

Klankboom met mikrofoon.

Volgens die digter verwys die ‘dwarstak’ wat by die klankboom gevind word, direk na die simbool van die Kruis, wat terselfdertyd terugspeel na Genesis se Boom van Kennis van Goed en Kwaad. Hierdie boom/kruis help die gelowige om tussen ‘verwringing’ of ‘hoë klankgetrouheid’ te onderskei en die regte keuses te maak.

Klankboom as 'dwarstak' en kruis.

Klankboom as ‘dwarstak’ en kruis.

Nog ’n betekenismoontlikheid ten opsigte van die ‘boom’ is die Kosmiese Boom (of Boom van die Wêreld) van ander wêreldfilosofieë soos die Kabbala, en die Noorse kosmologie. Die Boom van die Lewe is ’n motief wat neerslag vind in verskeie teologieë, mitologieë en filosofieë. Enersyds word die Boom van Kennis verbind met die hemel en onderwêreld, andersyds, word die Boom van die Lewe die simbool van kosmiese interkonneksie. Daar is dus, soos met die kruis, ’n horisontale asook vertikale dimensie:

World tree, is also called ‘cosmic tree’, the centre of the world, a widespread motive in many myths and folktales among various preliterate peoples, especially in Asia, Australia, and North America, by which they understand the human and profane condition in relation to the divine and sacred realm. Two main forms are known and both employ the notion of the world tree as centre. In the one, the tree is the vertical centre binding together heaven and earth; in the other, the tree is the source of life at the horizontal centre of the earth (Encyclopaedia Britannica online [World Tree]).

Boom van die Lewe

Keltiese ontwerp van die Boom van die Lewe.

Meesterbandmasjien: Drie-in-een (52)

Drie koppe waar die band oorspeel
kan magneties
klein deeltjies met nuwe lewe bedeel
en dit dan luid as toonbeeld weergee
of die opname vir ewig uitvee.

Die destydse bandmasjien bestaan uit drie koppe (heads). Tydens ’n opname word alles wat tevore op die band was deur die eerste kop uitgevee. Die tweede kop neem nuwe klanke op en die speel die nuwe opname terug. Die ‘Drie-in-een’ aktiveer ook die Christelike konsep van die Drie-Eenheid, iets wat persoonlike resonansie vir die digter het. Hy skryf só hieroor: ‘’n Mens se vorige lewe word vir ewig uitgevee as jy weergebore word en dan word jou gees met nuwe lewe bedeel. Hierdie nuwe lewe behoort as voorbeeld vir ander te dien’.

Bandmasjien met drie koppe/'heads'.

Bandmasjien met drie koppe/’heads’.

Slagwerk (42)

Ek sny die ritme op in stukke,
rantsoeneer dit streng:
perkussie, bas of tromme
lewer maer of vet en ronde note,
maar net soveel per maat;
druk die snaar vas, slaan die trommelvel,
laat dit in my kopstukke dreun,
in my oordromme,
pynig, maar nie te veel nie,
moenie oordaad pleeg nie:
die balans moet tref.

Hierdie gedig verwys na die ritme-afdeling van ’n orkes wat die klankman moet balanseer. Terselfdertyd het die titel ook ’n ander betekenis: die slag van diere wat gekoppel word aan beelde in die bundel soos die janfiskaal wat in blog 4 geëksploreer sal word. Metafories vervul die klankman dus die rol van die slagter (of selfs chirurg): die klank word gedissekteer en opgesny:

In die ateljee kry elke trom, simbaal en ander ritme-instrument sy eie mikrofoon en ek poog om elkeen se klank so suiwer as moontlik te hou sodat ek met elke klank apart kan werk om dit te vereffen of te begrens. Die effenaar (‘equaliser’) kan die klank se gehalte heeltemal verander deur die hoër, middel of laer frekwensies óf te aksentueer óf sagter te maak óf heeltemal te sny (‘tops’ en ‘bass’). Die bastrom (‘bass drum’) of snaartrom (‘snare drum’) of ‘hi-hat’ [‘cymbals’] kan dus individueel vereffen word. Hiermee word die klank gesuiwer, want een instrument ‘lek’ nie oor na ’n ander nie: [aldus die] ‘maer’, ‘vet’, ‘ronde’ note.

Hi-hats simbale

Hi-hats simbale

Die vereffening en begrensing kan op twee vlakke beskou word: vanuit die Christelike etos is God die Groot Klankman wat die ritmes van die mens begrens of verruim om balans, veral op geestelike vlak te voorsien. Die mens as individu, soos gesien vanuit ’n Jungiaanse perspektief vind hierdie balans deur onder andere die ‘vereffening’ van sy/haar anima en animus, ’n individuele reis wat na individuasie lei.

Voorts kan gedigte soos ‘Klankfiskaal’ (46); ‘Operateur’, (47) en ‘Klankmenger’ (48) ook gelees word as die goddelike wat balans in die individu skep. Laasgenoemde gedig utiliseer die wêreld van die klankateljee deur optimaal met die dubbelsinnigheid van klank en betekenis te werk te gaan: (‘Groot Geheul’) en ‘bi(e)d’. ‘Hangstokmikrofoon’ dui byvoorbeeld nie slegs op die klankapparaat nie, maar ontgin ook die fallosentrisme van die klankman en sy wêreld van manlike (of selfs goddelike) beheer (‘wees gehoorsaam’; ‘klankwettig’ en ‘finale meng’):

(i)
Dis jou taak
om klank te kloof,

dit onder jou vingers aan te voel,
party splinters vas te druk,
saam te pers,
dikker te maak,
te laat uitbot
en nader te bring;

terselfdertyd
(rooi pynkrete van ’n viool of sanger)
herhaalde kere te laat weerklink;
die eggo’s te lei
deur verskeie kanale
en dan al die klein strome
van die helder lewe

te laat saamloop
en te meng
tot een Groot Geheul.

(ii)

Maar hier, god luisterryk,
wys ek my hangstokmikrofoon
na willekeur,
regeer klankwettig
en besluit verhewe
wie se klank weerklank sal word:

wees gehoorsaam,
bi(e)d jou woorde weer en weer,
miskien sal jou stem
met die finale meng
my luidspreker sag laat vibreer.

Insgelyks word die woordspel voortgesit in ‘Begrens’ (51) waarin die digter die gesegde ‘stoksielalleen’ letterlik begrens of besnoei deur die ‘siel’ uit te laat. Ook word die idioom ‘hoog in die takke’ se betekenis verruim deur dit in een versreël te isoleer, met ‘takke’ in die eindposisie, wat terugspeel na ‘boom’ en ‘dwarstak’. ‘Deur die blare’ en ‘draadloos’ word ook vernuwend gebruik. ‘Die klankryke dop’ word ook veelvoudig aangewend: dit kan na ’n eierdop verwys maar kan ook inspeel op die woord ‘dophou’:

Waar ek graag god wil speel
sit ek stokalleen
hoog in die takke,
’n waterfiskaal oor die stroom.

Ek hou deur die blare die klankryke dop:
kanale hol my klankbord leeg
en dol jaag ek aan,
probeer myself deur die klankgrens kry,
wil draadloos wees,
maar ek word klankdig afgesny.

Die begrenser of ‘compressor’ word gebruik om ‘die klankpeil te handhaaf sodat dit nie te hoog op die klankmeter sal gaan en verwringing veroorsaak nie’.

Begrenser

Begrenser/’compressor’, oud-modiese styl.

Laastens sluit ‘Solusklankman’ (60) aan by die klank-tematiek wat regdeur bespreek is. ‘Solus’ is die Latynse oorsprong van die Italiaanse ‘solo’. Meyer kontekstualiseer die gedig soos volg: ‘ek het opnames gemaak wat baie populêr geword het en wat ’n mens oral kon hoor, totdat dit my byna mal gemak het. ‘Gruesome’ verwys hier na ‘Gruesome Gresh’: David Gresham wat die Top 20 aangebied het. My harde werk is suksesvol op aarde, maar is dit ’n seën of ’n vloek?’:

Ek wil niemand my beste opnames laat hoor nie
ek wil elke desibel bêre
in ’n nes van stilte iewers
soos ’n hand vol weglê-eiers

anders word dit
middelpuntvliedend gedruk
en alles klink vals
in donkerige speelhole geskend
jillend luid oor lawaaisprekers geskree
(van te klein tot te groot)

om te klim
tot bo-aan die gruesome tref-en-trap-parade

dan word dit subtieler lugbesoedeling
want elke nuwe restourant
hyser
of
hipermark
het verwringend agtergrond nodig

music to buy the better by
music the better to buy by

totdat ek
my oorskulpe soos krimpvarkies
probeer oprol
en probeer uitvlug
uit die weergalmende gange van die binne-oor
en beenderige vingers
brein en bandmasjien
vervloek

oor die seën
wat hulle oor dié land uitgespreek het.

En óórverdowend is die lewe wel. Tog kan ‘middelpuntvliedend’ ook die stil middelpunt van die Al word, in elkeen van ons:

At the still point of the turning world. Neither flesh nor
fleshless;
Neither from nor towards; at the still point, there the dance
is,
But neither arrest nor movement. And do not call it fixity,
Where past. And future are gathered. Neither movement
from nor towards,
Neither ascent nor decline. Except for the point, the still
point […]

-T.S. Eliot, ‘Burnt Norton, ii’, Four Quartets (15)

Gettyimages.in

Deel vier van Klankmanwoordboom eksploreer die digter se ontworteling van die Afrika-kontinent deur onder andere motiewe soos die janfiskaal, stamboom, Afrikaans en geboortegrond. Drie meer resente gedigte van Meyer sal ook geplaas word.

Bibliografie

Eliot, T.S. (1972).Four Quartets. Londen: Faber.
Encylopaedia Britannica Online [Worldtree]. (Besoek: 10/12/2015).
Van Rensburg, M. 1983. Klankmanwoordboom. Kaapstad: Human & Rousseau.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Gisela Ullyatt. Wanneer die Klankman begin droom.”

  1. Meyer van Rensburg :

    Hi Gisela,
    Ek het gedink jy sou hier die resensies inbring wat gese het dat ek “vernuwing” in die Afrikaanse letterkunde bring omdat dit ‘n wereld is wat niemand nog ooit ontgin het nie. Die Klank gedeelte behandel die klank van die oomblik wat dit gekomponeer word, dan gespeel word (Konsertinaspeler) tot dat dit regdeur al die toerusting gegaan het en op band vasgele is. Niemand anders het voorheen of daarna hieroor geskryf nie.

  2. Gisela Ullyatt :

    Blogs is soos karakters in ‘n roman: hulle neem hulle eie loop en fokus. Ek sou veel meer in elke blog kon skryf en aanhaal, maar dit sou ‘n ewige proses wees. Lesers kan ook net soveel lees voor ‘n blog te lank raak(dus meer soos ‘n akademiese artikel). Ek glo egter dat meeste lesers van hierdie blog beslis kennis geneem het van die eiesoortige tematiek wat jy met jou bundel ter tafel gebring het. ‘n Hele blog sou natuurlik op al die resensies (Joan Hambidge; TT Cloete; Henning Snyman, en EC Britz)kon fokus; die idee van die kanon en hoe dit saamgestel word (insluiting, uitsluiting). In blog een word daar melding gemaak (en aangehaal uit) van TT Cloete en Joan Hambidge wat destyds die debuut geresenseer het wat die leser op die resensie-roete plaas en aandui dat die bundel eiesoortig was en positief ontvang is.