Wicus Luwes. Die maskers van Verwoerdburg

masker1

Liewe Ma,

Die sersant is ‘n slim man. Hy sê dat ‘compound interest’  die agtste wonder van die wêreld is. Hy sê dat Nommer Een se ‘compound’ ook ‘n ‘point of interest’ is, maar dat die wêreld nie juis daaroor wonder nie. Net so sê hy.

Die sersant sê ons moet stompies op die sokkerveld optel as ons niks het om te doen nie. Die sersant gooi self sy stompies op die sokkerveld. Ek dink hy doen dit omdat hy aan ons dink en bang is dat ons nie besig sal bly nie. Die sersant is darem maar slim.

Die ‘Briewe van Kleinjan’ aan sy moeder het te midde van ‘n oorlog ‘n stem aan soldate gegee. Dit was in ‘n era waar ons skole briewe aan troepe op die grens gestuur het. Vir ‘n paar jaar het ons gedink dat ‘Die Stem’ ook ons stem is.

Ek het Johann Rossouw se ‘Verwoerdburg‘ saamgeneem op vakansie. Die boek handel oor ‘n groep tipies Afrikaanse mense wat ontsteld is oor ‘n boek wat deur die hoofkarakter geskryf is. Johann Rossouw is ‘n bekende in filosofie- en ander akademiese kringe en ek het bepaald dus vermoed dat die karakters in die boek plekhouers is vir ‘n ander betekenis of vlak. Die boek speel in Verwoerdburg af, maar dit is duidelik dat Verwoerdburg plek hou vir ‘n Suid-Afrika waarmee ons dalk net te bekend is of was. Verwoerdburg het sy naam gekry nadat Verwoerd gedood is, maar is toe later herdoop na Centurion nadat Apartheid ook die doodskoot gekry het.

 

Eergister en môre, met visse

Tyd
is die naam wat ons gee
aan die een wat in nat
beton getrap het,
lank gelede, en ons só nimmer verlaat
in die hede.

Om te begryp
is moeilik;
omhelsing nog swaarder.

Uittreksel uit Charl-Pierre Naudé se gedig uit ‘Al die lieflike dade’

Die vaderlose hoofkarakter rebeleer teen die vaders van sy tyd. Die stem in die eerste deel in die boek is die stem van mense wat voel dat hul verkeerd uitgebeeld is of dat hul stemme verkeerd verstaan is. Hulle voel verraai. Die karakters praat oor ‘n gedeelde twintigjarige reünie by hul Alma Mater en uit die hoek van my leke-oog sien ek (miskien verkeerdelik) die twintig jare van ‘n demokratiese bestel in die verte op perspektief se vlakte nader kom. ‘n Vader is nie noodwendig ‘n spieël vir en van sy kinders nie, maar ek wonder of die spieël na ander rigting toe ook werk? Hoe gemaak as jy in die spieël kyk en nie hou waarvan jy sien nie? Ons land het baie vaders wat ons help vorm het: Bartolomeus Dias, Harry die Strandloper, Mosjesj, Jan van Riebeeck, Hendrik Verwoerd, Jan Smuts, FW de Klerk, Chris Barnard, Frederik van Zyl Slabbert, Desmond Tutu, Breyten Breytenbach, André P Brink, PW Botha, Pik Botha, Dingaan, Mangosuthu Buthelezi, Adam Small, Etienne Leroux, Russel Botman, Wim de Villiers, Bram Fischer, Jonathan Jansen, Jan Brand, Paul Kruger, Cecil John Rhodes, Johannes Kerkorrel, Thabo Mbeki, Jacob Zuma, Max du Preez, Tim du Plessis. Partykeer wil vaders nie vaderskap erken nie en ander kere maak aanneem-vaders kinders groot wat nie eers ‘n bloedlyn met hul deel nie. Jan Rabie word ook vader deur die Rossouw se verwysings na ‘Ek het jou gemaak’.

Visbaai

Monstersee in die oseaan,
wit perde galop, deining styg en val
maar Mosselbaai se punt
en Fransmanshoek omsluit
‘n stukkie see tot skuiling
vir ‘n vissersboot.
Seesproei gordyn oop in ‘n visioen:
Twee karavele plus een om die rotspunt,
vermoeid, gehawend na die torment
van wegwaai om ‘n kaap
en muitery asof die kontinent
onaantasbaarheid bewaar.
Sou Bartolomeus Dias
in sy wroeging dalk vermoed:
Afrika duld nie vreemde goed –
die ander met bos en mens oorgroei,
uit sy outentieke wêreld druk.
Om ‘n tweede rotsige punt
na ‘n inham vir beskutting,
aan wal op die feesdag van St. Blesius,
martelaar van God;
betree vir laas die land wat hy gevind het,
nie moes vind nie, maar noem dié baai
Aguada de São Bras. Geen padrão hier
maar vars water in ‘n grot;
lafenis vir die eensame –
dat hy moet terugkeer na die Taag
waar hy net nuwe name kan noem
op sy vaart na êrens.

uit: ‘Portrette in my gang’ deur Dolf van Niekerk

Rossouw gee maskers ‘n sentrale tema in die boek: Daar is die masker van die Afrikaner as soldaat, die masker van boer wat veg vir grond wat sy eie mense by hom weggeneem het. Die maskers is natuurlik nie slegs die maskers wat ons vir ander mense voorhou nie, maar ook die maskers wat ons vir onsself voorhou. Daar is dus die tema van ontwaking of die afhaal van die maskers in die spieël, wat vir my baie interessant aangebied is in ‘Verwoerdburg’. Rabie se’Ek het jou gemaak’ word in ‘n toneelstuk omskep en ryg soos ‘n lyntjie deur die boek. Die hoofkarakter probeer die ander karakters in die boek wys hoe bisar die stelsel van die dag is, maar sien die maskers wat hyself dra nie raak nie.

masker2

Die nuwe jaar se studies begin en ‘n mens sien hoe die bekende maskers opgesit word. Daar is die maskers van die rebelse student en die masker(s) van die nuwe Afrikaanse identiteit(e). In Naòmi Morgan se bespreking oor ‘Verwoerdburg’ op Litnet word daar gehoop dat die boek mense sal laat praat oor die plek van mense wat uit die ou bedeling kom en hoe hulle inskakel in die nuwe bedeling. Johann Rossouw skryf hier vanuit die invalshoek wat hy ken of deel van is of was. Ek wonder voortdurend oor die Xhosa persoon en ‘n Zulu persoon wat ‘n Engelse masker dra.

Ek kan nie namens die Xhosa-persone wat Xhosa-maskers dra praat nie, maar ek sien hom glad nie uitstaan in die toneelstuk wat op die oomblik voor ons afspeel nie. Ek dink terug aan die vaders wat Afrikaanse tersiêre instellings op die been gebring het en die feit dat hul kwalifikasies steeds in baie lande erken en selfs hoog geag word. Ek wonder hoeveel spreekbeurt die vaders van die ander tale kry om hul taal ook hul eie masker te gee.

Vergange

As die volmaan dof gekartel is
en sekelmaan ‘n sens wat krap
in die geheue: Onthou jy
tussen die eerste skree
en die teruggee van die asem;
is dit aankoms of vertrek,
hoor jy die kokkewiet
of die laaste basuin –
boetedoening oor die sondige ontvangs;
verhuising na die beloofde land
of vasklou aan die laaste strooi;
as verlede, hede en toekoms
saamvloei in die nou
se durende verlede

uit: ‘Portrette in my gang’ deur Dolf van Niekerk

Die tema van boetedoening dra daartoe by dat die hoofkarakter in ‘Verwoerdburg‘ homself beter verstaan teen die einde van die boek. Die tema van boetedoening word op die ou end meer van ‘n persoonlike saak as iets anders. Wat vir my die mooiste uitstaan is egter die rol van ‘n moederfiguur in hierdie ontwaking. Ons volk het baie moeders gehad en sal nog baie moeders hê: Antjie Krog, Elisabeth Eybers, Nadine Gordimer, Nkosazana Dlamini-Zuma, Helen Zille, Mamphela Ramphele, Emily Hobhouse, Gill Marcus, Santie Botha, Ferial Haffajee, Basetsana Kumalo, Graça Machel, Thuli Madonsela, Nicky Newton-King, Maria Ramos, Karen Meiring, Helen Suzman, Saartjie Baartman. Die moeder wat ons egter dikwels vergeet of wegwens is ons moedertaal. Ek hoor die wêreld deur die stem van my moedertaal, ons moedertaal.

Die masker of identiteit van die Afrikaans-sprekende het verander of miskien het die masker net afgeval. Die Engelse maskers sit egter wel ‘n bietjie ongemaklik op baie van die gesigte wat dit dra. Tydens die #feesmustfall-veldtog het van die vaders hul van die moedertaal gedistansieër en eers toe ander vaders daaroor praat die saak herbesin. Ek wonder ook oor die rol van die jeug in die stryd om die moedertaal.

Die hoofkarakter in ‘Verwoerdburg‘ kon teruggaan om reg te maak. In die werklike of konkrete stryd is daar baie op die spel. Ek weet nie wat die regte antwoord is nie, maar ek weet wel dat daar nie vordering gemaak kan word deur mekaar te ondermyn nie. Dit is miskien makliker om persone aan te vat, maar die werklike stryd moet sekerlik eerder in vorm van konsep(te) gevoer word. Moedertaal kan jou help om daardie rol of spel te speel. Die hart word nie verander deur ‘n geografiese naamsverandering nie. Moedertaal het sonder twyfel ‘n rol te speel in elke ‘Ek het jou gemaak’-verhaal in ons land.

St Gregory on his Soul

You have a job to do, soul, and a great one, if you like:
examine yourself, what it is you are and how you act,
where you come from, and where you’re going to end,
and whether to live is this very life you are living, or something else besides.

“[Soms] beoordeel jy dade nie as goed of sleg nie maar as mooi; nie as regverdig nie maar groots; en nie as redelik nie maar buitengewoon.” – Montesquieu, die gees van die wette (Boek IV, hoofstuk 2)
– uit die voorkant van Charl-Pierre Naudé se ‘Al die lieflike dade’

Immigration activist Dolores Huerta, left, listens to Elvira Arellano, right, during a news conference at Aldalberto United Methodist Church in Chicago on Thursday, Aug. 17, 2006. Huerta arrived overnight from Los Angeles to show her support for Arellano, a single mother and illegal immigrant who invoked the ancient principle of sanctuary and took refuge in the church rather than submit to deportation to Mexico. (AP Photo/Julio Cortez)

Bronne:
Internet: http://www.leader.co.za/article.aspx?s=1&f=1&a=3890
Internet: http://www.litnet.co.za/verwoerdburg-deur-johann-rossouw/
Internet: http://www.orthodoxchristianity.net/forum/index.php?topic=25911.0
Internet: http://www.sagoodnews.co.za/categories/23-sa-teaching-the-world/6944-south-african-females-whose-names-you-should-know-this-women-s-day.html
Naudé Charl-Pierre, Al die lieflike dade, Tafelberg, Kaapstad, 2014
Van Niekerk Dolf, Portrette in my gang, Protea Boekhuis, Pretoria, 2014

Prente:
Internet: http://humansareweird.com/2012/11/11/should-we-start-a-revolution/
Internet: http://www.armygasmasks.com/Avon-M50-FM50-Joint-Service-CBRN-Gas-Mask-p/aaagas-247.htm
Internet: http://www.italymagazine.com/featured-story/five-best-carnival-celebrations-italy

Bookmark and Share

Comments are closed.