Resensie: Portrette in my gang (Dolf van Niekerk)

Afgeronde bundelkomposisie en estetiese selfvertroue in Dolf van Niekerk se Portrette in my gang

(PRYS: R150.00 (BTW ingesluit); ISBN: 978-1-4853-0230-8 (gedrukte boek); 978-1-4853-0231-5 (e-boek); 978-1-4853-230-8 (ePub), Sagteband; 62 bls. Protea Boekhuis, 2015)

Resensent: Andries Visagie

Omslag

Omslag

Dolf van Niekerk se digbundel Portrette in my gang (Protea Boekhuis, 2015) is die jongste toevoeging tot sy produktiwiteit as digter oor die afgelope paar jaar en is ’n bundel wat verdien om wyd gelees te word. Die titel is al ’n aanduiding van die eenheidskeppende gegewe in die bundel wat feitlik deurgaans volgehou word. Die meeste gedigte is naamlik portrette van individue wat belangrik was in die vorming van die digter, maar daar is ook portrette van denkers, digters en merkwaardige figure uit die geskiedenis. Portrette in my gang is dus in ’n sekere mate die digterlike ekwivalent van Hennie Aucamp se Bly te kenne (2001), ’n bundel prosaportrette wat Aucamp geskryf het van figure wat vir hom op sy lewenspad betekenisvol was. Sommige van die portretgedigte in Van Niekerk se bundel speel egter in op werklike foto’s en skilderye en is as sodanig beeldgedigte oftewel ekfrastiese verse.

’n Sleutelgedig is “Mastos”, ’n ekfrastiese gedig na aanleiding van ’n foto van die digter se moeder wat kort ná die geboorte van haar seun in 1929 oorlede is. Die visuele indrukke van die portret van die moeder word dan gevolg deur ’n roerende samevatting van die durende invloed wat sy ondanks haar vroeë dood op die skryfwerk van haar seun uitgeoefen het:

Verskyn verbeeld in prosa

en poësie; woorde word gees,

gesig, hande, borste

en oë; oplaas litanieë

vir die onsterflike onvoltooid

Van Niekerk se gedigte oor “die onsterflike onvoltooid” sluit aan by die ambisie wat hy in sy bundel uitspreek om, met erkenning aan Fanie de Beer en Danie Goosen, “die heengaan van die gees” in “die nuwe eeu waar middelmatigheid / vir verstardes ego’s maatstaf word” (“Monsters”), teen te gaan. Hy mik naamlik na ’n herwaardering van en begrip vir die onsienlike, dit wat “diep verborge” (“Circa 1933”) in die geesteswêreld van die mens lê. Dolf van Niekerk gryp terug na Westerse denke wat in die negentiende eeu beslag gekry het met die werk van Hegel, Nietzsche en Dostojefski en in die twintigste eeu met die eksistensialisme van Sartre en Camus vir nuwe en invloedryke wendings gesorg het. In sy gedigte assosieer hy hom ruiterlik met die modernistiese gedagtegoed wat hierdie belangrike voorgangers aan hom bied “in die nou / se durende verlede” (“Vergange”). Die werk van hierdie groot denkers is die verwysingsraamwerk waarmee hy, soos ook sy mede-Sestigers in die tweede helfte van die vorige eeu, probeer om die hede in woorde vas te vang. Die eietydse filosofie en byderwetse ontwikkelinge in die literatuur word op ’n afstand gehou met die uitsondering van ’n waarderende gedig oor die digterlike oeuvre van Joan Hambidge (“JH”).

Drie indrukwekkende gedigte oor die self, “Brose reis” en die twee slotgedigte “laaste woord” en “Selfportret”, is verklarings van Dolf van Niekerk se poëtikale strewe en bestekopname van sy plek as bejaarde intellektuele mens wat steeds met verbystering en verwondering die wêreld beskou en weeg. Die vers “laaste woord” is ’n suiwer hoogtepunt in Portrette in my gang:

laaste woord

Bo-aardse wind uit oersee

waai deur my lyf

dat ek deursigtig voor my spieël

vel en pees van jare moet verduur.

Ek soek agter ou oë en ribbekas

nog jeug; wil met albatrosse vlieg

na stormwaters van die gees

en duik in gevaarlike getye

van denke en dade, nou dat

die liggaam so maklik meegee.

Opstand, weerstand tevergeefs,

maar tot die laaste bietjie weet

en asem die lyf verlaat

om na sy oorsprong terug te keer,

sal die gedig nog van onsterflikheid leer.

In hierdie gedig oor bejaardheid, wat met vrug saam met die ouderdomsgedigte van onder meer Elisabeth Eybers, Breyten Breytenbach en T.T. Cloete gelees kan word, is dit soos telkemale in Portrette in my gang die wind wat metafoor van kreatiewe beroering word. In “Nagwind” gee Van Niekerk erkenning aan Adriaan Roland Holst wat onder meer in sy gedig “Zwerversliefde” die wind tipeer as ’n oeroue aanwesigheid en draer van geheimenisse. In die ewe meevoerende gedig “Wind” is die wind vir Van Niekerk uiteindelik metafoor vir die winde van verandering wat in Suid-Afrika waai:

Ek sou so graag die wind wou vashou,

maar leer algaande wind

is nie altyd wind maar metafoor;

winde van verandering, my land

lê braak vir nuwe saad,

hoogdruk en laagdruk laat winde

anders waai en niemand weet

hoe winde van verandering kan draai.

In gedigte soos “Prisma”, “Mutant” en “Visbaai” dig Dolf van Niekerk met ’n gewaarwording van ontheemding oor die plek van mense van Europese herkoms in Suid-Afrika. Die wit Suid-Afrikaner is ’n “mutant, eurobaster, afrosteg” en as mutasie is hy “bloot oorgang / van arbitrêr ontstaan na ondergang”. Hierdie pessimisme hou deels verband met die Europees-getinte bril waarmee die digter die wêreld beskou en die vrees dat Afrika min verdraagsaamheid het met mense en dinge van ’n vreemde herkoms.

Die kort, gedronge versreëls en die vermyding van enjambemente in ’n gedig soos “Grammatika” is soms verantwoordelik vir die hortende ritme in sommige verse in Portrette in my gang. In die beste gevalle is hierdie weerbarstige ritme juis besonder funksioneel. In “Slaap” sluit die gebrek aan ’n vloeiende ritme goed aan by die slapeloosheid van die “ek” wat so behep is met sien en ken dat hy sy oë nie wil sluit nie.

Dolf van Niekerk se Portrette in my gang is inhoudelik boeiend, as bundelkomposisie fyn afgerond en as toevoeging tot die digter-skrywer se oeuvre ’n opwindende en uitdagende leeservaring. Daar is talle hoogtepunte waaronder “Tel-Aviv 1987”, “Abstrakte ritme, Anna Vorster”, “Paradigma”, “Skêrsang” en “Amarillis” benewens die gedigte waaruit ek hierbo aangehaal het. Die bundel is nie soseer die werk van ’n digter wat nuwe eksperimente wil waag nie, maar is veel eerder die estetiese prestasie van ’n kunstenaar wat sy kleim reeds afgesteek het en met selfvertroue die woord verder plet en in ’n veredelde verband plaas.

 

Andries Visagie is professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch

Bookmark and Share

Comments are closed.