Wicus Luwes. Woordeboek van onbewuste emosies

sorrow_ SketchyEmotionIcons

Die verskillende skakerings van emosie word nie maklik in een woord vasgevang nie. Hoe sou ‘n boorling van die binneland, wat die afgelope paar jaar in die Kaap woon, die emosie beskryf wat hy ervaar as hy aan donderweer dink? Miskien ‘n vorm van verlange? Heimwee? Die spreekwoord wil ons laat glo dat Bolanders bang is vir donderweer, aangesien hulle dit nie baie ervaar nie. Dieselfde situasie kan dus verskillende emosie ontlok by verskillende mense.

Een manier om die emosie in een woord vas te vang, kan gedoen word deur verskillende beskrywings van die situasie te probeer kombineer. So ‘n kombinasie is makliker op die tong as dit ‘n klein ritme handhaaf, maar word nie noodwendig daartoe beperk nie. Ek het die ritme-roete aangepak in my soeke na ‘n woord om die verlange na donderweer te probeer beskryf.

donder / donderen / bulderen / sturm
longing / sehnsucht / sehnend / verlange / hunkering

As ‘n plek soos die Kaap by die verwysende kombinasie ingebring sou word, moet daar seker iets wees wat die plek beskryf. Dinge wat die Kaap beskryf kan dan wees: Tafelberg / Wyn / Suidooster.
Ek wou egter meer van ‘n persona aan die kombinasie gee en het gedink aan karakters soos Antjie Somers / Van Hunks / Van Riebeeck / Odin om my daarmee te help.

Die kortlys van kombinasies het op ‘n stadium as volg gelyk:
sturmsehnend = storm verlange (Google Duitse vertaling)
donderverlange
Odinhunkering

Die woord wat die meeste byval by my oog en tong gevind het, was egter ‘vanhunksbulderen’. Ek kon sommer Van Hunks en die Duiwel se pyprook oor die berg sien aankom en kon die twee hoor bulder soos wat die pyprook-kompetisie in die volksverhaal plaasvind.

En daar is my ontwerpte woord:
Vanhunksbulderen – die gevoel van verlange wat ‘n binnelander ervaar wanner ‘n donderstorm plaasvind in die Kaap

thunderstorm10

 

Woordverklaring

Kaar. ‘n Mooi ou Dietse woord
vir iets waarin mense kan vergaar
heuning, vis, yswater; in ‘n skuit
‘n bak vir lewendige paling
of ‘n byekorf gevleg van spaanse riet,
stingels brem en langstrooirog;
‘n nis deur sneeu uit ‘n spits geslyt
aan die bopunt van ‘n gletsergeut
met onderaan ‘n keteldal
waar, op ‘n vloer van swerfsteen,
‘n dorp kan aanslib teen ‘n meer.
‘n Tregter sonder voet
waardeur die koring
op die meulsteen stroom;
ook die mond van Sint Ambrosius
as kind waar die bye in- en uitravot
soos stille aforismes –
de bono mortis, de fuga saeculi.

‘n Vers, dink ek, waarvan mens deur
die vlegwerk loer, deur deksel,
wolke, dooie neerslag –
om voor die wyn, die brood,
die droë vis, die kiem,
die gis, die suur te kry; die gevaar
van vinne, ander spore, vars verskrik
soos van Gervasius en Protasius
of van ‘n klank soos minne, orewoet,
doupunt en furore. In ‘n kaar
wil ek begrawe word,
geen vuur, geen kis.

deur Marlene van Niekerk uit Kaar

 

Tweede op my lys van tipies Suid-Afrikaanse emosies moes natuurlik iets met die Karoo te doen hê. Die mens se hunkering na ‘n pragtige, maar harde wêreld, kan daarby ingebring word. Die oopte van die uitspansel, ‘n onbeperkte kykie na die melkweg. Skoon lug. Karoo-skaapvleis.

Ek het op Karoosehnsucht besluit, want dit sal die meeste mense laat wonder oor die oorsprong en terselfdertyd hul gedagtes na die Karoo neem:

Karoosehnsucht – die verlange na die Karoo, alhoewel jy nog net daardeur gery het.

 

Karoo

So brief a time
to love all things

O Karoo
your veld
has a moonless sound.

deur Charl JF Cilliers uit Karoo (Haiku Variations)

Die idee vir die beskrywing van emosies het ek by John Koenig gekry. Koenig is ‘n grafiese ontwerper / redakteur en is verantwoordelik vir die besonderse “The Dictionary of Obscure Sorrows”. Hierdie woordeboek word beskryf as ‘n soort ‘kompendium van nuutskeppings’. Daar word gereeld nuwe woorde ‘beskryf’ op die webwerf en op Youtube. Koenig geniet etimologiese studies en alhoewel die woorde nuutskeppings is, het dit ‘n oorsprong wat deur Koenig se navorsing bepaal word. Hier is ‘n paar van die woorde:

sorrows_eyecontact

Opia – die dubbelsinnige intensiteit gedurende oogkontak. Iets wat die betrokke partye beide die rol van indringer en kwesbare wese kan laat speel.

In die Youtube video oor Opia sê hy die volgende: Oogkontak is eintlik nie kontak nie. Dit is streng gesproke seker waar, maar kontak vind tog op emosionele vlak ook plaas. As ek dit vir myself moet verduidelik sou ek sê: Opia verwys na ‘n soort dubbelloop emosie waar jy die skut sowel as verwonde is.

sorrows_trainstation

Kenopsia – die onheilspellende, swaarmoedige atmosfeer van ‘n plek wat normaalweg oorloop met mense, maar op die oomblik leeg en stil is.

Monachopse – die subtiele maar aanhoudende gevoel dat jy uit plek uit is.

Jouska – ‘n hipotetiese gesprek wat aanhoudend in jou gedagtes afspeel.

Vellichor – die vreemde nostalgie van tweedehandse boekwinkels

Anecdoche – ‘n gesprek waar almal gelyk praat, sonder dat iemand luister

Mauerbauertraurigkeit – die onverklaarbare behoefte om mense weg te stoot, selfs naby vriende van wie jy baie hou.

Vemödalen – die frustrasie om iets ongeloogliks te fotografeer alhoewel duisende identiese foto’s reeds bestaan.

Gaan loer gerus by die volgende skakel na die Youtube-videos:
https://www.youtube.com/user/obscuresorrows

Ek sou graag lesers se eie nuutskeppings wou lees. Ek dink daar is soveel unieke emosies in Suid-Afrika of Afrika wat kan baat vind by die beskrywing of naamgewing daarvan.

Ek sluit af met een van my eie nuutskeppings waaroor ek die afgelope tyd nogal baie dink:

Kollateralschadenisme – die ervaring van misnoë wat jy kry as die taal van jou hart misken, misbruik of sommer net misgekyk word.

 

Paradigma

Model vir grammatika,
rangskikking van woorde,
vervoeging en verbuiging
van denke en soeke
na ‘n prototipe van God
en gees voor alles was.
Patroon sonder grense
los van tyd of gebondenheid
aan die vergange.
Versugting om te weet,
bewussyn wat omvat om sin te maak.
Mensgemaak, model om verlede
te herskep, meesterverhaal
waaraan die siel kan kleef.
En elke geslag
sal telkens ‘n kopskuif maak
tot metafoor vir die groot verlange.

deur Dolf van Niekerk uit Portrette in my gang

 

Bronne:
1. Cilliers, C.J.F. Karoo (Haiku Variations). Malgas Publishers, 2012
2. Internet. http://www.dictionaryofobscuresorrows.com/
3. Van Niekerk D, Portrette in my gang, Protea Boekhuis, Pretoria, 2014
4. Van Niekerk M, Kaar. Human & Rousseau, Kaapstad, 2013

Prente:
1. https://namibsands.wordpress.com/2009/05/22/cape-town-thunderstorm-amazing-photos/
2. https://www.flickr.com/photos/cristiano_betta/3236922125

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Wicus Luwes. Woordeboek van onbewuste emosies”

  1. Maria Snyman :

    Woes lekker blog, Wicus.

    “Kollateralschadenisme” het my ‘n rukkie gevat om gesê te kry, maar dalk het ‘n mens so ‘n /gek/’Griekse'(/Duitse?! [ek dink Heidegger]) woord nodig vir die ervaring waarna dit verwys?

    Academia moet sou gou as moontlik begin om Afrikaans as vak aan te bied, en waar dit dan ook modules moet bevat wat ‘n mens vir pure pret kan neem, d.w.s. vir nie-akademiese doeleindes nie. Ek dink aan modules soos ekokritiek, reisjoernalistiek, resensiekunde, ens., ens., en dit dan goed bemark! Mense hou van reis, in die natuur, in ander lande, van lees/luister/eet/ensovoorts. Meer kennis oor lees en skryf in Afrikaaans, meer werk daarin, ens., ens. Dit sal dan nie meer so maklik misgekyk kan word nie.

  2. Wicus Luwes :

    Dankie vir die lees, Maria.