Hennie Nortjé. Kraaie

Kraaie

Eens was ek witbors trots
verbeeld suiwer Aries arend,
maar grootliks in die duister
oor hoe die sterk donker vlerk,
ook die meerderheid van my lyf
tot groot hoogtes saam moes dra.

Toe broei onder ons ‘n gitsswart rafie uit,
maar dié was lagwekkend lomp,
dom-astrant, duidelik kuikenlik gegrief.
Raad was bloot mos vir die voëls,
verder as vlerkelank wou dit vlieg.
En meteens was meeste neste leeg,
want wittes, bruines, geles,
ja, veral die arme swartes,
is voor die voet verorber
deur dié verbrande eierdief.

Wie vere voel vir ander se goed
verdien immers niks minder as
‘n weldeeglike gepik en pluk.
En siedaar toe ons met hom klaar was,
staan klein verwaand die ene hoendervleis,
beteuterd-pienk en piep.
Nou hoop ons maar en ons bid
die nuwe dons raak eendag silwer vleuels,
soos van ‘n swaan, of godweet,
enige ander kleur
behalwe weer
skeidend swart
of wit.

© Hennie Nortjé / 2016

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Hennie Nortjé. Kraaie”

  1. TransKei Se kind :

    So waar!