Jannie Malan. Ek stuur vir jou

Ek stuur vir jou

Met apologie aan Breyten

 

Allerliefste, ek stuur vir jou geen rooiborsduif nie.

ek stuur vir jou ‘n hommeltuig

wat hoog en ongesiens bo die soldate gaan.

Kyk, my dreun styg op en my dreun sak na neer

en waar hy vlieg sing sy sensors

om die bruin vel van jou gesig af te tas, te konstrueer

en teen sy globale databasis te verifieer.

Ek gord jou liefde om my buik

en steek die gewig daarvan

onder ‘n t-hemp en ‘n baadjie weg,

want jou liefde reis soos ‘n lyfbom met my mee.

Jou liefde moet by my bly soos die vurige asem van ‘n djinn

Ek en al my onskuldige omstanders moet van jou liefde weet

‘n vuurstorm van skrapnel wat ek met my vingers kan ontsteek.

 

 

© Jannie Malan / 2016

 

Bookmark and Share

19 Kommentare op “Jannie Malan. Ek stuur vir jou”

  1. Louis Esterhuizen :

    Watter ongelooflike interteks is hierdie nie! Welgedaan, Jannie.

  2. Waldemar Gouws :

    Hoe anders is die uiteindelike verwagting van hierdie spreker nie in vergelyking met dié van die oorspronklike se “Jy moet van my liefde bly weet/ soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie” – sonder, let wel, die finito punt wat Jannie Malan wel aan die einde van sy laaste reël plaas – omdat die spreker self die lug in vlieg, wég van die geliefde se Arabiese bruin vel.

    Glad nie ‘n liefdesgedig nie – omdat die beminde nie die geïmpliseerde geleentheid het om “NEE” te sê nie.

  3. Louis Esterhuizen :

    Dit was vir my nog altyd die ironie van Breyten se oorspronklike vers, Waldemar. Die enigste rooiborsduif waarvan ek weet, is een wat geskiet is. Dit is myns insiens ‘n sterwende (of gewonde) duif wat aan die “Allerliefste” gestuur word, want niemand sal ‘n “boodskap” wat reeds geskiet (of sterwend) is, nog ‘n keer skiet nie. Gaan lees gerus weer die gedig met bogenoemde in gedagte en jy sal besef dat selfs een van die mees beroemde liefdesgedigte in Afrikaans helaas geen liefdesgedig is nie, maar ‘n gedig oor futiliteit. Ek kan natuurlik ook heeltemal verkeerd wees. 🙂

  4. Louis Esterhuizen :

    Terloops. ‘n belangrike neweteks by Breyten se ikoniese vers was vir my nog altyd Robert Desnos (1900 – 1945) se laaste gedig wat hy enkele ure voor sy dood vir sy vrou, Youki, geskryf het. (Hulle het die gedig in sy hempsak gevind toe die “bevryders” op sy lyk in die konsentrasiekamp afgekom het.) In my jare as onderwyser het ek altyd my les oor Breyten se “Allerliefste” met dié Desnos-gedig ingelei.

    LAST POEM
    Terezina Concentration Camp, May 1945

    I have dreamed so much of you,
    Walked so often, talked so often with you,
    Loved your shadow so much.
    Nothing is left me of you.
    Nothing is left of me but a shadow among shadows,
    A being a hundred times more shadowy than a shadow,
    A shadowy being who comes, and comes again, in your sunlit life.

    (c) Robert Desnos
    Uit Frans vertaal deur Kenneth Rexroth

  5. Waldemar Gouws :

    Louis, jammer vir jou verkeerde hipotese en salige onkunde oor rooiborsduifies, maar dis die algemeenste en bekendste duif hier (behalwe in die woestyne). Ek dink die land is vrot van hulle. Die Robertsnommer is 355. Die naam is nie in my ou HAT nie (tensy mens dit versin) tog wel in Bosman en Boerneef-hulle se tweetalige woordeboek. Die roesrooi, diep kaneelerige borsveertjies is deurspek met swart kolletjies (die bors is maar klein, as jy nie die voël ken nie). As die mannetjies aanlê, rys hierdie rooi veertjies asof die duif hoendervleis op sy borsie gekry het. By kos op die grond klap die mannetjies mekaar links en regs met gebalde vlerke.

    Denotatief gesproke moet mens dus by hierdie duifie begin as jy Breyten Breytenbach se gedig lees.

    Maar die Malangedig is sonder ‘n duit se omgee, sonder ‘n greintjie besorgdheid, sonder ‘n knippie katoolsheid en sonder ‘n sweempie respek vir die sg. geliefde. Dis eintlik ‘n simulakrum en dus suiwer skyn, sonder dat die digter ‘n werklikheid “signify” waarmee hy in aanraking is, behalwe via TV-nuusbulletins.

  6. Waldemar Gouws :

    Die parodie is wel as baie geldige werklikheid hier op die lappe, het ek vergeet om te sê. Maar hoe satiriseer jy die liefde asof dit een van die sewe doodsondes moes wees?

  7. Louis Esterhuizen :

    Jinne, Waldemar, daar leer ek weereens ‘n ding … Sal hom gaan naslaan. Tog hou ek ook van my interpretasie, want dit maak tog ook sin. Of hoe? Soos Carl Sandburg gesê het: “Poetry is a spot about half-way between where you listen and where you wonder what it was you heard.” En dit is juis dié meerduidigheid wat poësie so uniek maak.

  8. Skokkend-apokaliptiese vuishou, die verwerking van die gekanoniseerde liefdesvers – met aarde wat vernietig word, gebombardeer word.

  9. Waldemar Gouws :

    Terug na Jannie Malan se “vuurstorm” doodmaaksending en hel op aarde: haat het liefde op ‘n groot skaal vervang. Vir wie sien Malan as sy leser? En Breytenbach destyds? Uiteindelik is die duif of die tegniese hommel as tekens in die twee gedigte, en Desnos se krisis van skadu en son in sy finale gedig aangewese op die “(vers as boodskapper)” (BB in “Voetskrif” 1976).

  10. Adriaan Coetzee :

    Miskien is dit die tye maar in die oorspronklike lees ek ‘n taalkwessie, Breyten se vredevolle toewyding aan alle sprekers tot die dood, teenoor die stryders van eiening. Jannie takel tematies iets hier wat ek eers deeglik oor moet besin.

  11. Waldemar Gouws :

    Die omkeer van waardes en die wêreld: die liefde is nou opgebláás; wat oorbly is (lank-)moerig, onvriendelik en gelowig.

  12. Maria Snyman :

    Die liefde is nou ook gedissemineer, soos plante mos ook maak via die proses van dehiscence (spontane opening met rypwording om die inhoud daarvan vry te laat), Waldemar. Wonde ondergaan ook wat bekendstaan as wond dehiscence, en dan sien ek op Wikipedia daar is ook “superieure kanaal dehiscence” waardeur “a new window opens up in the labyrinth of the inner ear, resulting in a form of vertigo” sowel as “autothysis” (kry nie nou vinnig die korrekte vertaling nie), as “a usually fatal, voluntary dehiscence used as a form of defense by ants, termites and other animals”. Derrida en biologie kan nie los van mekaar beskou word nie, al mag dit moeilik wees om te glo. Lieflike gesprek rondom ‘n pragtige gedig!

  13. Seker ook van belang is die titel v d oorspronklike, “4.11 (soos van vlerke)” (in die reeks “Refleksies”, uit Lotus, 1970″46). Die afdeling is volgens d motto vooraf besinning oor of poësie “met komma of sonder deelteken streep” d pyn werd is…

    Uit “vlerke” (BB) kom dan d vonk vir “hommeltuig” (JM) – vir eietydse pyn en bedreiging v geweld tussen mense

  14. Waldemar Gouws :

    Só lyk die motto (kursief gedruk oorspronklik) van die afdeling “Refleksies” in die bundel “Lotus”:

    “is die poësie
    streep met komma of sonder deelteken streep
    die pyn werd vraagteken”

    Breytenbach se engel (in die “Allerliefste …” gedig, seker ‘n beskermengel ook) en Malan se djin (uit die storie van die arm visserman in “Die duisend en een nagte” staan in ‘n interessante jukstaposisie tot mekaar.

  15. Waldemar Gouws :

    Hier is Breyten Breytenbach se gedig:

    Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
    want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
    Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
    weet al die jagters sal dink dis die son.
    Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
    en waar hy vlieg daar skitter oseane
    en bome word groen
    en hy kleur my boodskap so bruin oor jou vel

    Want my liefde reis met jou mee,
    my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
    soos vlerke, wit soos ‘n engel.
    Jy moet van my liefde bly weet
    soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie

    Blom, Jan. 1970. Lotus. Kaapstad: Buren-Uitgewers (p.81).

  16. Francis Galloway :

    Dis die moeite werd om André P. Brink se kort bespreking van hierdie gedig van Breyten in die blokboek “Die poësie van Breyten Breytenbach” (Academica, 1971) te herbesoek. Hy wys op die drie motiewe wat afdeling 4 oorheers: a) die haas; b) die fyn spel van moord en woord; en c) die óú spel van vlerke, vere, voëls en engele. Verder wys hy op ’n belangrike sleutel tot die struktuur van baie Lotus-gedigte, waar “die werklikheidsmoment omslaan in die fantastiese, waar die váste (of die vas gewáánde) op reis begin gaan. Dan skryf hy soos volg oor “4.11: Allerliefste ek stuur vir jou ’n rooiborsduif”:

    “Die duif, dit weet ons uit vorige gedigte, is draer van die liefde, van die ek sélf: die duif is die poësie, die ‘boodskap’ van heimlikheid, die variant van die perd van die lug: die poging om die onmoontlike te verwesenlik. En die duif het die rooi kleur van bloed – van lewe en dood […]. Dié duif word in die lug opgegooi en aangesien vir die son; pas daarna wórd dit die son wat lewe bring, wat blink in die see, en wat die beminde bruin brand. (Let op dat die gewone sintaksis, die sin-met-leestekens laat vaar word sodra die ‘wonder’ gebeur; ook in die tweede strofe word dieselfde patroon gevolg.) Die tweede strofe vervang die duifmotief met ’n engel: maar die bewarende, bonatuurlike engel wat magtiger en hemelser is as die duif, is tegelyk mágteloser: ‘Jy moet van my liefde bly weet / soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie’. Hierdie kontras van werklikheid en wens, alledaagse en fantastiese, presiese en móóntlike, verbind die gedig met dié oor die kamma-reis (‘3.15’) […].”

  17. Helize van Vuuren :

    Kyk hier, na die geheimsinnige, Franse “bloeiende-hart duif”, asof so rooi van bloed wat sypel uit die getroffe hart:

    http://johanndelange.blogspot.co.za/2015/03/breyten-breytenbach-allerliefste-ek.html

  18. Baie, baie dankie Francis vir die plasing van André P. Brink se onoortroffe
    insigte!

  19. Waldemar Gouws :

    Na net een kyk na die foto van die Luzon bloeiende-hart duif, trek ek my steun vir die plaaslike rooiborsduifie as rolspeler in die “Allerliefste …” gedig onvoorwaardelik terug. Die Filippynse duifie (Gallicolumba luzonica) lyk skilderagtig gewond met die helder rooi duimdrukgrootte vlek voor die bors. (“Gallocolumba” sou ‘n Franse duif gemaak het).

    Louis Esterhuizen se aanvanklike beeld van ‘n verwonde duif was nie vergesog nie. Miskien is die regte liefde nooit inheems nie (en maak die dood hom van die begin af maklik oral tuis).