Emma Bekker. Versekeringsbrief insake brandskade aan ‘n huis
Versekeringsbrief insake brandskade aan ‘n huis
Ek verklaar dat ek onraad vermoed het
toe ek die braaivleisvuur
aan hom geruik het,
‘n vlugtige vriendskaplike omhelsing
wat deur ‘n kleinerige komplikasie langer as gepas sou duur:
sy regterhand-met-sigaret het in die net van my los hare homself sonder skade verstrik.
Die ontknoping
het ‘n nadertrek van lyf vereis,
om stadige onttrekking van ‘n kool
uit lokstemlokke te bewerk.
Hitte-te.
‘n Nylonnet, wat muskiete moes uithou
en hartswater moes bekamp,
is nie bestand teen ‘n herkenningsblits nie:
Klip, skêr en papier
word algar
verteer deur vuur.
© Emma Bekker / 2016