Resensie: Hammie (Ronelda S. Kamfer)

Resensie: Hammie – Ronelda S. Kamfer

Hammie, deur Ronelda S. Kamfer. (Kwela, 2016. R200; 96 pp; Formaat : 198 mm x 130 mm, Sagteband; ISBN-13 : 9780795707575, Epub-ISBN : 9780795707582)

Resensent: Marlies Taljard

boodskappe coded in die onvermoë om mekaar te troos

Omslag

Omslag

Ronelda Kamfer se derde digbundel, Hammie, wat pas by Kwela Boeke verskyn het, is ‘n huldeblyk aan ‘n gestorwe moeder. Dit is die “terugleef” van ʼn gesamentlike lewe, nie net die uitsoek van die pêrels nie, maar ook ʼn eerlike konfrontasie met die ambivalente gevoelens wat die spreker ten opsigte van haar moeder beleef en beleef het. Soos haar vorige bundels, is Hammie (ʼn sinoniem vir “Mammie”) grotendeels ʼn narratiewe bundel waarin kleinverhale wat op die moeder betrekking het, aangebied word. Die “verhale” verloop nie streng chronologies nie, maar het die geaardheid van ʼn soort gedagtestroomtegniek – dit is flardes onthou soos dit ʼn mens skielik en onnadenkend te binne skiet. Tog is ʼn duidelike struktuur in die gedigte onderling en in die bundel as geheel waarneembaar en kry die leser dikwels die idee dat gedigte met mekaar “praat”, terugverwys na ander gedigte in die bundel en selfs dat gedigte oor die grense van die bundel uitreik na die digter se vroeër werk. Geen indeling in afsonderlike afdelings kom voor nie – ʼn besluit wat die idee van ʼn enkele groter verhaal wat gestalte kry deur die aaneenvloei van kleiner verhale as onderdele, ondersteun.

Kamfer kán ʼn storie vertel – oënskynlik sonder veel inspanning vloei die woorde en kom ʼn verhaal tot stand, vertel in die minimum woorde, dikwels met ʼn verrassende of ontstellende slot. Sy skryf steeds in Kaaps met sy buitengewone narratiewe vermoë wat aan die kleinverhale ʼn besondere, orale karakter verleen. Tog beskou sy (volgens die gedig Rocco de Wet op bl. 61) Afrikaans as ʼn belemmering wat haar verhinder om “die marginalised [te] acknowledge”.

As voorbeeld van haar narratiewe vermoë, sonder ek graag twee opeenvolgende gedigte uit. Die gedig Ma op bl. 32 handel oor die wyse waarop die verteller en haar suster in haar ma se huis voortleef na haar dood. Dit eindig met die reëls: “ek dra my ma se trouringe / maar dit maak my vingers seer”. Die volgende gedig, Troupanne, op bl. 33, handel oor die geldnood wat die nagelate familie beleef en eindig met die volgende strofes:

ek wil nie sentimental wees nie

en vir niemand wys

dat ek my ma se hande voel

wanneer ek na die ringe kyk nie

om te rou is om te vervel

en ek wil nog ʼn rukkie

in die dooie dop sit

maar

ek het ʼn kind

ek is ʼn ma

en sy moet eet

ek koop vir haar kos en medisyne

met my ma se troupanne

dit is ʼn manier vir my ma

om my te help

want ek is haar kind

sy is my ma

sy moet my help[.]

Hierdie onsentimentele lewensingesteldheid wat deur die nugter vertelling ondersteun word, is reeds sedert haar eerste bundel, Noudat slapende honde (2008) ʼn kenmerk van Kamfer se poëtiese styl, soos ook haar metafoor-fondse wat dikwels byna die asem wegslaan. Dat die digter ʼn aangebore talent het vir poëtiese segging, kan nie betwyfel word nie. Dat sy haarself egter te veel op dié talent verlaat en haar gedigte nie genoegsaam afwerk nie, is egter ook uit die onderhawige bundel duidelik. Dikwels word die metafisiese aspek van die poësie agterweë gelaat ter wille van ʼn storie wat uitrafel en nie veel om die lyf het nie – baie van die gedigte is liggewigte waarin telling heelwat swaarder weeg as showing. Hoewel ek in dieselfde asem moet sê dat gedigeindes soms verbysterende waarde in terme van universele belewenis tot gedigte toevoeg! Soos gesê: die digter kán vertel!

Die verhale wat vertel word, sentreer in die eerste instansie rondom die verteller se onthou van haar oorlede moeder en bevat intieme outobiografiese besonderhede. Die bundel begin op ʼn sterk negatiewe toon, soos die verskillende motto’s van die bundel wat almal na nag of donker verwys, suggereer. Die openingsgedig, Vir die voëls (bl.15), verskaf ʼn motivering vir die “galbraak” in gedigte soos High birds (“ek is ʼn selfvernietigende fokop”, bl. 63):

ek het bloed op my hande

van al die vredes wat ek bewaar

ek het al jare weggelieg

om op te maak vir verlore tyd

maar

mens kan net soveel keer

jouself uitbrand

en oor begin[.]

Uit hierdie belydenis kan die afleiding gemaak word dat die spreker dié dinge wat sy oor jare opgekrop het, uiteindelik uit haar gestel moet kry ten einde vrede met haarself te maak en haar ware identiteit te vind – so gesien is die bundel dan inderdaad ʼn tipe individuasie wat plaasvind deur die (argetipiese) verhouding met die moeder te ondersoek en te ontleed – hoewel nie op wetenskaplik-psigologiese vlak nie, maar deur die verhouding tussen moeder en dogter teen die agtergrond van die wel en wee van ʼn uitgebreide familie op die Kaapse Vlakte te belig. Die fragmente van onthou neem uiteindelik die vorm aan van ʼn narratiewe terapie-oefening om rou (nie net oor die moeder nie!) te verwerk. Die belewenis van die verteller is in hierdie bundel net so belangrik soos die uitbeelding van Hammie as geliefde mens ten spyte van tekortkominge:

sy was my ma

en sy het my geleer

hoe om nie lief te wees

vir myself nie[.]

Tog was sy ook:

die vrou wat haar siek

leave gehou het

vir wanneer iemand

anders in die huis siek raak[.]

Soos in haar vorige bundels, is vervreemding, woede en pyn belangrike temas in die bundel onder bespreking. Een van die treffendste gedigte is Box cutters (bl. 36) waarin die verhaal vertel word van die verteller se wreedaardige aanranding waarin sy ernstige snywonde aan haar nek opgedoen het, maar die aanvallers vlug voordat hulle haar verkrag. Die reaksie van haar ouma in die slotstrofe kan onder andere geïnterpreteer word as die onvermoë van geweld om te skok in ʼn omgewing waar dit alledaags geword het. Ingeborg Bachmann se bekende woorde “Das Unerhörte is alltäglich geworden” (“Die ongehoorde het alledaags geword”) kom onwillekeurig by my op as reaksie op die slotstrofe van dié gedig met sy eksplisiete gewelddadige beskrywing:

ek het stadig huis toe gestap

toe ek die voordeur oopmaak

vertel ek my ouma wat gebeur het

sy staar vas teen ʼn dooie muur

en sê ek moet winkel toe gaan

om brood te gaan koop[.]

Die gewelddadigheid, kriminaliteit en uitsigloosheid van ʼn lewe op die Kaapse Vlakte word onder andere uitgebeeld in gedigte soos Immigrant (bl.23), Fluit-fluit in kamer 3 (bl.27), Disney days (bl.45) en Tronk-teaparty (bl.51).

ʼn Verdere ooreenkoms met Kamfer se vorige bundels is die sterk politieke ondertoon wat veral manifesteer in woede teen witmense. In Belville (bl. 85) beskryf die spreker haar afkeer van die wit vrou wat simbolies word vir post-apartheid liberales, en wat “heeltyd vir my ma [sê] / hoe ongelooflik mooi ek is / en hoe sy nie tyd het vir rassisme nie”. In Apartheid (bl. 71) kook haar bloed namens haar ouma wat vir ʼn wit man “baas” moes sê. In Volkspele (bl.68) sê die spreker:

ek is by ʼn party vol depressed

wit mense

(…)

ek wens ek was

iewers anders

iewers waar mense

nie almal mekaar haat nie[.]

Hoewel die digter seker nie die vlaag van redelose rassisme wat tans in die land woed, kon voorsien toe sy die bundel saamgestel het nie, mag ʼn groot aantal dergelike (dikwels streteotiperende) gedigte haar moontlik in die huidige politieke klimaat van ʼn groot deel van haar leserskorps vervreem. Weer eens is dit niks nuuts nie – wat hier gesê word, is al by herhaling in die digter se vorige bundels gesê.

Wat poëtiese tegniek betref, moet ek Kamfer loof vir die heerlike vloei wat meestal in haar gedigte teenwoordig is. Die invloed van Antjie Krog kom nog sterk deur, maar die digter beskik oor die talent om ʼn sterk eie stem te ontwikkel. Daar is enkele hinderlike gewoontes wat met deegliker afronding reggestel kan word, byvoorbeeld die hebbelikheid om die woord “maar” alleen in ʼn reël te laat staan. Indien dit ʼn gewoonte word, verloor so ʼn tegniek sy trefkrag. Ook word reëleindes nog nie deeglik genoeg ontgin nie: reëls eindig dikwels voorspelbaar op natuurlike ruspouses. Soos by goeie orale digters, word herhaling oor die algemeen geslaagd aangewend. Dit breek die streng narratiewe verloop wat kenmerkend is van prosa, terwyl dit stukrag, ritme en klankrykheid aan gedigte verleen in die afwesigheid van tradisionele elemente soos rym.

Soos aangetoon, maak Ronelda Kamfer in die bundel Hammie hoofsaaklik gebruik van tegnieke wat haar vorige werk kenmerk. Die tematiese materiaal is nie nuut nie – die woede teen pyn, swaarkry en rassisme is steeds nie uitgewoed nie, die gedigte is steeds hoofsaaklik narratief van aard, ten opsigte van styl is daar weinig vernuwing. Die bundel kon nie daarin slaag om my te beïndruk nie. ‘n Digter kan tog nie op een plek bly vassteek sonder om as digter en in tegniek te groei en te ontwikkel nie. Op sy beste slaag die bundel daarin om die identiteit van sowel die spreker as Hammie as gevarieerde, menslike karakters uit die verf te lig:

.

Gertruida

.

my ma is gemaak van vlees en been

haar stem is ʼn boom wat skeef gegroei het

haar oë is ʼn gewonde dier

haar neus is ʼn naald en haar liggaam

is gekneus soos vrugte onder in ʼn bak

my ma is bang dood

met ʼn stukkende hart

ek tel die glasstukkies op

en begrawe dit onder my vel

***

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: Hammie (Ronelda S. Kamfer)”

  1. Gert :