JC van Staden. Klaaglied vir César Vallejo

 

KLAAGLIED VIR CéSAR VALLEJO

 

I.

Eers spartel ek

in die moeras

van hierdie grys lakenweb

waarin swerre vlermense vaswoel,

motte teen die plafon

van die towenaar se kasarm,

dan hoeg ek

tot ek mug terugsyg

my modder swarter

as Donker van die Nag –

‘n skurwe akkedis wat haar tuismaak

op hierdie riffel in die son: 43 jaar:

‘n miniskule eelt op die tyd se duim,

‘n teel mikrolos in die growwe dak van Amerika –

die matras ‘n koorsspons vir my geel kas,

maywiy kausay van die andes,

ontredde medisynemens los

in die astrale krans

om wens vir wens te wens:

César! César!

 

II.

Uit die skedel

kerf ek

‘n refleksiewe versugting

om ‘n vrou

aan haar sagte boude

vas te vat,

‘n hefboom

vir ‘n fruktale skuif

van hierdie planeet,

maar ek voel dit nie, soos hulle sê,

en as ek vanaand

‘n oormaat bloed voel opstul

terwyl ek vryf en streel

sal ek sê: dit het my onverhoeds betrap.

Die glibberige slakgeboorte

sak tydsaam terug.

Onder die skedelvel

‘n moeras weefsel

waardeur bloedpype

hul ontbindingsvog dra,

stadig en terugwaarts,

César,

César.

 

III.

(in memoriam johann schutte)

my vriend se koue lyk

op ‘n vloer in taiwan.

wag. sak.

sy oogballe gliserien.

my vriend se lyk

koue vrag

in die buik

van ‘n vlug

oor die oseaan.

sy kopvries 7 kg

amper alles water,

hy kadawer-kadawer

in sy metaalbuis

nes ‘n ontstollende gelatien

in ‘n fles.

kyk hoe het die tyd jou geliefkoos,

ou vriend! voosgevat.

kyk wat het sy met jou gemaak

wat so lief was om haar te karnuffel

vir elke geur en elke reuk

wat sy vir jou

gevange gehou het

om met jou tong – o koue slik –

los te lek. altyd onmóóntlik!

hoe diep het jy nie jou leë vlees

– o kil aar –

in haar ingedring

toe sy meegee nie,

en gegeegeegee nie

tot sy jou smeek

om te kom,

kom nou man!

maak nou klaar!

César! César!

 

IV.

 

Soos alles het verwording sy roetines,

en hierdie verrotting in die bulte van die hospitaalmatras

opgewonde krag wat taal ontrafel

sodat drie vier vyf die lyf van woorde

uitgeryg

lê hyg

sygnat velle gestrek oor die beenkas

van hierdie instrument wat eens

Mens was

César          César

 

V.

César Vallejo is dood, en ‘n Donderdag

vou om sy bene, naamlose osse

wat in die turf omgeploeg word.

Daaroor kon jy snare span,

‘n geskiedenis van senings.

‘n Vrydag kry nêrens vat nie.

‘n Eeu eeue honderde eeue vind niks

wat anderkant vir diekant kan wees nie –

‘n woordding waardeur een

ontwrig word, uit die potjie gepluk

om nul en nog te maak.

Saterdag. Sondag. Maandag. Dinsdag.

Selfs Woensdag is César Vallejo dood.

César, César.

 

VI.

loop dertig veertig al

met ondergang rond

‘n sool onder my voet

winkels op die straathoeke van buurte

waar ek intrek

sluit deure

bome hou op

opwaarts beur

op erwe waar ek onderdak vind

word diere maer, raak weg

geute roes

en in die duisend spore

van die tyd maak ‘n fyn afbreekfiet

hom tuis

en van beton puin

die Afwesige stal ornamente uit

op vensterbanke waaroor ek

die buitekant vergangeslaan –

elke dag is ‘n verdwynsel

elke uur verduur vir sy kwaliteit

van afmeting

minute en sekondes

die geklingel van munte in die ryk dode

se kis

o

César, César

 

VII.

Dat jy deur hierdie roes waarsêers

dolosgooiers en wiggelaars

by die dood kan kom

is ‘n merkwaardige prestasie, soveel meer

omdat verpleërs en dokters, agente van die vlees,

by die deur gestuit word, en soos ons weet

is vlees met sy spiere organe geraamtes

die sekerste poort na die dood: kyk net,

hierdie trop met hulle inkantasies

premonisies en bevallinge (hóógswánger,

die hele lot!) spin tot in die verste uithoeke van dié bestaan

hulle konstellasies wis en seker asof séker

en waaragtigweet en elke uur wat tot asem

gevoeg word ‘n verlossing is, maar ons weet

verwendsels bind,

maak jou blind vir wat aan die binnekant

van die buitelose

geopenbaar word, ontaalde onlyde

onstaan waardeur net dié

met die eindlike bedeel

durf gaan –

César! César.

 

VIII.

‘n gedag op stelte kom swym

oor my amperlyk (43 jaar oud)

my uitgetoorde lyf

in die wemel

van ‘n oranje middag

wys sy my

haar binnevlesige

dáár wáár

sy wankel dat die rook opskuif

om haar slinke enkels

sodat my verskrompelde gelid

in my gedigtes roer

dáár wáár

haar wye, sugte wye so wyd

so oopgesply dáár!

dáár wáár

tag! slyk die bed my gereemte

sag ek dieper-dieper, weg

daar waar

César César

 

IX.

Aanwas en subtraksie is die poëtiese matema,

verrot en koel geswolle rigor tegelykertyd:

hierdie lyf wat die hand huisves wat skryf

om samehange, gelykstellings, verenigings van die taal,

frókkelende taal, sigbaar te maak vir die oog

van die taal, ontsetel uit die skedelnul

waarin dit bevlees die multipupille vermoed het

waarin lig verdwyn soos gewig – gegryp

déúr gewig – en ‘n holte maak in die bedding

van millennia nog onsigbaar, onontdek deur esoteriese tegniek

(byvoorbeeld takserings van die afskilfering van atome,

of die letsels waaraan molekules ontken word

deur hulle vorige familie): ons eie millenium

en sy susters onbedag deur die eerste planete,

onsigbaar vir ‘n futuurgeskiedenis, ‘n algeborg

opgemaak uit die splitsing van die eier

waaruit jy ook kom,

César, César.

 

X.

in borges se groen pupille is daar mos ‘n papirusbos

neruda vir ‘n glas pyn en raak sy hoed

berryman struimel oor die brug

‘n sug terwyl toelopers snak hy het dan

geglag (en die daad verwar)

die wilde americano’s walt en allen prewel blyk

terwyl met grys kloue die warm

se mikromandibels reeds

in die verbeeldans knibbel aan die glans:

ou man yeats driftig aan ‘t aandryf

die brand ook in wm. blake se lyf:

lê hier hortasemd

die dae (getel) vol vet kaapse aasvoëls

vol vrystaatse jakkalse wat met hulle blodde snutte

vrittel in die bynakarkas net om met die eerste gewaar

weg te hink tot teen die rand

van hierdie boswees

om daar spoegerig hulle sê’e te sê’ê –

maar waddefok! en buitendien: erstaatniet.

César. César.

 

XI.

 

Die man

wie se dag aangbreek het

dra vir ons

‘n skottel dood

by die hospitaaldeur uit

en stort dit

die laaste bietjie warmte

in die koue

sodat ons

‘n nuwe vrag

op die rug

kan lig,

César!

César!

 

(© Christo van Staden. 2016)

Bookmark and Share

Comments are closed.