Onderhoud met Hilda Smits (die bome reusagtig soos ons was)

cats
Hilda Smits gesels oor haar debuutbundel,
die bome reusagtig soos ons was, met René Bohnen.
.

 

Hilda, baie geluk met jou debuutbundel, wat beskryf word as eerlik, ondersoekend en onderliggend melankolies.

Die bundel “voel” soos ‘n foto van ‘n droom en die leser vermoed met die eerste gedig reeds dat vrye assosiasie met ʼn ordende hand die leeservaring gaan lei. (Soms herinner dit skrams aan vaste vorme, soos die villanelle of rondeau, maar wyk dan weer heeltemal af). Waar persone direk aangespreek word, (ma, pa, ouma, broer) is dit slegs in die spreker se gedagtes, voel dit vir (hier)die leser.

Hoe benader jy vorm in jou werk?

Dankie, René. Ek is nie altyd seker of ek vorm benader en of sy my benader nie. Dit voel vir my asof elke gedig reeds haar eie liggaam besit, haar mates in ritme & klank. Ek span my ses sintuie in vir die diep-luister, vir die verstaan-van. My gedigte het baie van liggaam verander oor die jare. Soos wat ons in psigoterapie leer, probeer ek my bes om ‘n “aktiewe luisteraar” te wees. Die proses voel vir my soos een van evolusie, van intuïsie, van weet wanneer om asem te haal. Ek leer nog om my ore te prik.

.

Jy maak gebruik van droomlogika en (ek maak ‘n nuwe woord) onderbewussynstroom. Na aanleiding van Yeats se bekende reël “How can we know the dancer from the dance?”[1] wonder ek: vind jy, as psigoloog-digter, dat jou kennis van sielkundige teorie of denkskole jou styl rig of dat jy hierdie kennis doelbewus aanwend in jou gedigte?

As voorbeeld haal ek die gedig “Gokarna” aan:

             

Gokarna           

 

dobberend in die see

die strand is verlate behalwe vir jou

breë pienk rug ’n Degas

ek is woordgroot ’n swak swemmer

jou behendige hande skets my

versamelaar van geheime klanke

onder die blad van die spieël

sal die koraal jou voete tot sagte repies sny

die visse dra nie horlosies nie

hulle is blind en vreesaanjaend stom en altyd

digby jy is ’n lyk dryf op jou rug

dan skil jy die son oop soos ’n vrug dan drink jy

die sweet met jou bleek vel op dan luister jy

hoe die dik bloed deur die rosyntjies van jou voete

vloed terwyl die man die lyne van sy skets versny

 

Sou dit akkuraat wees om te sê dat die bundel soos ‘n lang interne monoloog lees, of selfs soos ʼn poëtiese dagboek aandoen?

Die woord “monoloog” span haar tentpenne nou en laat my benoud voel. Ek verkies om aan die proses van skryf as ‘n interaksie te dink, ‘n dialoog met die wêreld. Kafka sê, “How pathetically scanty my self-knowledge is compared with, say, my knowledge of my room. There is no such thing as observation of the inner world, as there is of the outer world”. Dus, die digter eerder as middelman/vrou, as bemiddelaar. As die slagter en die geslagte. As die kamer en die stem in die kamer (aldan by tye “binnensmonds” mompelend).

Ek hou van Yeats se reël. Die digter is die danser is die dans is die digter is die psigoterapeut (in wording!) is die drawwer is die asem in die bad is die lamp in die aand is die toilet ontstopper. is die digter (in wording!)

 

Jy het ʼn hoogs-herkenbare digterstem. Hoe lank het dit geneem voor jy geweet het hoe jý klink? Kan jy jou eerste gedig onthou?

Ongelukkig onthou ek nog my eerste (op 9) gedig, René.

.

daar dans ‘n gans

op my ma se vloer

voel politoer

hy het toe gegly

en ons was te bly

hy het nie seergekry

ons plaas hom toe terug

onder die brug

hy was tog te bly

hy is weer vry.

.

Ek vind nog my eie stem. Soos ‘n kat op hitte slaan sy gereeld ‘n koers van haar eie in.

 

Wie is jou literêre invloede?

Ek hou baie van Gilbert Gibson. Gert Vlok Nel. Breyten Breytenbach. Larry Levis. Kafka. Rilke. Frank Stanford. Octavio Paz. Bruno Schulz,  The Street of  Crocodiles. James Agee, A Death in the Family. Andrei Tarkovsky, Sculpting in time. Aracelis Girmay.

 

Die bundel is opgedra aan Ma & Pa, Karst, Alet, Piet, Gerda & Klasie.  Die tweede gedig se titel is dan ook “vir klaasman”, wat jy aanspreek as “geliefde broer”. Terwyl die digter slegs fragmente van ʼn eie verhaal deel, word ʼn narratief tog opgebou. Wat is jou siening omtrent outobiografiese materiaal?

In Die Notaboeke van Malte Laurid Brigge skryf Rilke, “It would not be enough for a poet to have memories. You must be able to forget them…” En, “Poems are not . . . simply emotions . . . they are experiences. For the sake of a single poem, you must see many cities, many people and things . . . and know the gestures which small flowers make when they open in the morning. You must be able to think back to streets in unknown neighborhoods, to unexpected encounters, and to partings you have long seen coming; to days of childhood whose mystery is still unexplained . . .; to childhood illnesses . . . to mornings by the sea, to the sea itself, to seas, to nights of travel . . . and it is still not enough.”

Ek dink nie die skrywer kan hom/haarself ooit heeltemal ontsnap nie. ‘n Mens skryf tog wat jy ken, en vanuit jou self. Tog poog ek na die gedig as transformasie, na die self vertaal tot…

 

Die leser weet nie wie Isobel of Ben of Evert of Mariaan in die gedigte is nie en dit maak nie saak nie, pla glad nie – hulle word “Alleman”. Kan ʼn mens dus sê dat dieselfde tegniek wat gebruik word om die intiem-persoonlike te bewerkstellig ook deug as sneller vir die leser se eie herinneringe en sodoende universaliteit en herkenbaarheid in die hand werk?

As Ben of Evert of Mariaan of Wilson toffies op ‘n Saterdag of die Anglia wat teen die bult op grom of die mot wat om die stoeplig gons, bekend voel aan die leser, gemaklik in die hand pas, dan is ek bly.

.

Die woord “soos” kom meer as ʼn honderd keer in die bundel voor en word selfs refreinagtig aangewend. Indien ons vlugtig kyk na identiteitsoeke, wil ek voorstel dat “soos”gebruik word om te tas na iets bekends, iets wat pas. Daar is ook ʼn skynbare vereenselwiging van die ek-spreker met verstotelinge, bannelinge, vreemdelinge, indringers en ook verontregtes. Ek dink byvoorbeeld aan:

.

vir Rosa Eisenberg

 

droom hoe ons goudvisse in ’n pan braai

soos enjins in olie lig en val hulle kiewe

in die bad was ek jou ouma se rug met lang hale

drup die water waardig soos ’n ou horlosie

– trek jou beste klere aan

tydsaam sal ons netnou met die bene

van eeue deur die Vistularivier stap

aan die oorkant brand die oewer soos ’n skulp

druk jou oor teen die jare van haar lyf

luister diep

 

en ook, as voorbeeld, slegs enkele reëls uit die titellose gedig op bladsy 26:

.

Mariaan se suster het drie tweelinge soos ’n dubbele

maan soos ’n tweekoplikkewaan sê Mariaan en haar

broer het vigs soos ’n skaapwagter jaag hy trokke

soos ’n renjaer sterwend deur die land Mariaan se deurknop

 

“Soos” is die deur na, die aar, die laan, die oog wat uitkyk op, die verbintenis tussen.  As ‘n gedig ore & vel & oë & reuk & tong is, dan is “soos” die hand wat die liggaam van die gedig binnelei, wat die droom gedig maak, die beeld ‘n vloer & dak gee om op/onder te staan.

 

Daar is ook ʼn gedig vir Primo Levi. In watter mate is die soeke na “legkaartstukke” in die groter geheel ʼn verkenning van die self? Is die verkenning van geografiese plekke ook ʼn digterlike identiteitsoeke?

Ek dink dit is alles ‘n verkenning van die self. Die digter as beide gebied verken en as verkenner van gebiede. Die digter soos ‘n hond laag op die grond opsoek na.

 

Ons lees Tom Waits raak, asook Bach, Ella Fitsgerald, Chopin, Jimi Hendrix ensomeer. Die ek-spreker sê ook : “ek is jammer/ dat ek die musiek vergeet het ouma”. Watter rol speel musiek in die skep van ‘n effens herkenbare tuiste? Wat is die klankbaan van jou skeppende proses? Hoe klink ‘n droom?

Musiek soos reuk soos olie in die pan, soos die lig wat deur die blinds val, soos iemand wat neurie in die bad, soos die hond wat snork…Jimi & Chopin as interieur van die gedig, as die gedig se muurpapier. ‘n Droom klink soos die wind, soos reën op ‘n sinkdak, soos my ma se asem-gaan-haal in die nag, soos here-liedjies destyds op die strand.

 

Tyd is ʼn belangrike element in die bundel en die verlede tyd kom in die titel reeds voor. Hartklop en horlosietyd kom saam voor, bv in die gedig “die uil”, waar die horlosies van die hart “soos ʼn duisend miere” klop.  Indien die hart sy eie tyd het, hoe betroubaar is geheue?  

Die geheue, soos die hart, is nie altyd betroubaar nie. Die hart is vol wind. Ek hou van wat die Russiese film regisseur, Andrei Tarkovsky, skryf oor Tyd. “History is not Time; nor is evolution. They are both consequences. Time is a state: the flame in which there lives the salamander of the human soul”.

 

Die eerste gedig dui aan dat “ons” ongeskend was en dat daar by implikasie intussen skending plaasgevind het. Hiermee word verlies onmiddelik geaktiveer. Wat is jou digterlike siening van nostalgie en hoe word ontheemding geraak?

Jy moet maar asb. al my aanhalings verskoon, René! Ek vind aanklank by wat Milan Kundera skryf oor nostalgie, “The Greek word for “return” is nostos. Algos means “suffering.” So nostalgia is the suffering caused by an unappeased yearning to return.” Ek dink aan nostalgie as die alewige hunkering/soeke/terugkeer na. As tyd, soos ‘n raaisel in ‘n Hitchcock speurverhaal, onopgelos. Mens vind jouself keer op keer weer op dieselfde plekke, in dieselfde droom. Miskien dan by tye ‘n obsessiewe soektog na leidrade, na die self  (ook ‘n leidraad). Ontheemding dan seker as dieselfde proses? Die alewige soek na die bekende in die vreemde.

 

Sommige gedigte het titels en ander nie, sommige eiename word met hoofletters geskryf, ander nie.  Ek neem aan niks in die bundel is sonder rede gedoen nie. Wat het jy dus as ordenende beginsel gebruik en hoe het jy besluit om sekere verse sonder titel te laat?  Is die volgorde van die gedigte belangrik?

Ek dink ‘n titel, soos ‘n geboortedatum of die vier mure van ‘n definisie, kan ‘n gevaarlike ding wees.  Sommige gedigte het gevra vir name, ander nie. Natuurlik probeer ek my ore deurgaans prik, maar dit is moontlik dat ‘n vis deur die net geglip het. Net die vis sal weet.

Die gedigte hardloop bietjie soos my geheue, my geheue wat ‘n lewe van haar eie het.

 

Daar word beweer[2] dat die mens se bewustheid van die kleinheid en die grootheid van dinge melankolie teweeg bring. Jou bundel het ʼn onmiskenbare onderliggende weemoed, droefheid, ʼn bepaalde saudade. Selfs in die pasgevonde skuil die reedsverlore.  Is daar in die bundel ook versoening met verlies, dalk selfs die expat se troos?  Was melankolie altyd inherent teenwoordig, of maak emigrasie ʼn ekstra bewustheid oop vir daardie kleinheid en grootheid van dinge?

Ryunosuke Akutagawa sê oor melankolie, “What good is intelligence if you cannot discover a useful melancholy?” Ek dink dit is moontlik om ‘n skip op melankoliese waters te wees, en nie self te verdrink nie.

Emigrasie maak beslis ‘n bewustheid oop van die kleinheid en grootheid van dinge. As buitelander word die “self” aan al die elemente, aan die vier winde van die wêreld, oorgelaat. Lughawens as die groot Tussenin, as niemandsland. Die “self” land in haar blou Virgin airline sokkies in die donker winter in Londen, verander in ‘n aksent, word amper gebliksem deur ‘n Cockney dame by Lewisham bus stasie, braai boerewors by Earl’s Court in die reën tussen ‘n spul patriotiese Suid Afrikaners wat niks in gemeen het nie, word 13 jaar later oordonder deur groot, lawaaierige Amerikaners… Iewers in daardie alleen krap ‘n mens ou wonde oop, soek jy naarstiglik na dit wat bekend is. Na die Mooirivier, na die buitelyne van wat ‘n huis was.

 

Het jy Robert Burton se teks oor melankolie al gelees, of is daar ander interessante tekste waarna jy dalk kan verwys, dalk ander poësie wat vir jou merkwaardig is?

Nee, René. Maar ek gaan loer. Een van my gunsteling gedigte:

“Melancholy Inside Families”, Neruda.

 

I keep a blue bottle.

Inside it an ear and a portrait.

When the night dominates

the feathers of the owl,

when the hoarse cherry tree

rips out its lips and makes menacing gestures

with rinds which the ocean wind often perforates —

then I know that there are immense expanses hidden from us,

quartz in slugs,

ooze,

blue waters for a battle,

much silence, many ore-veins

of withdrawals and camphor,

fallen things, medallions, kindnesses,

parachutes, kisses.

It is only the passage from one day to another,

a single bottle moving over the seas,

and a dining room where roses arrive,

a dining room deserted

as a fish bone; I am speaking of

a smashed cup, a curtain, at the end

of a deserted room through which a river passes

dragging along the stones. It is a house

set on the foundations of the rain,

a house of two rooms with the required number of windows,

and climbing vines faithful in every particular.

I walk through afternoons, I arrive

full of mud and death,

dragging along the earth and its roots,

and its indistinct stomach in which corpses

are sleeping with wheat,

metals, and pushed-over elephants.

But above all there is a terrifying,

a terrifying deserted dining room,

with its broken olive cruets,

and vinegar running under its chairs,

one ray of moonlight tied down,

something dark, and I look

for a companion inside myself:

perhaps it is a grocery store surrounded by the sea

and torn clothing from which sea water is dripping.

It is only a deserted dining room,

and around it there are expanses,

sunken factories, pieces of timber

which I alone know,

because I am sad, and because I travel,

and I know the earth, and I am sad.

 

Die digter verwys na “ʼn huis/ waar elke kamer sy eie kleur gedoop is” (bladsy 12) en ook na “my kamera-oog is ʼn kamer vir twee mense” (bladsy 8).  Die kleure swart en wit kom die meeste in die bundel voor, met rooi en groen ʼn kortkop agter. Boonop is daar die geel lig van die eerste gedig. Wil jy iets vertel van die visuele aspekte in jou poësie, met spesifieke verwysing na kleur? (“Blou” kom byvoorbeeld glad nie voor nie.)

Vertel meer van jou fotografie, waarvan ʼn foto ook vir die voorblad gebruik is. Wil jy iets meer oor die voorblad sê?

Kleur is vir my so intiem soos die reuke wat ons ken. Ek kan aan jou beskryf hoe ‘n geel dag vir my lyk, kan aan jou beskryf hoe die lig op die oomblik val, die reuk van my ouma se kombuis. Maar jou geel en my geel is nie dieselfde ding nie. Terloops, my pa se gunsteling kleur was geel, en so vir jare was geel ook my gunsteling kleur. Hy was kleurblind, en ek het eers jare later besef dat sy geel seker ‘n tipe groen moes wees. (Opmerklik dat ek die woord geel ses keer hier gebruik. Freud sou in sy noppies wees).

Die voorblad is gebaseer op ‘n foto wat ek geneem het, en toe deur die ontwerper gedokter is.  Ek neem graag foto’s, besoek graag kunsmuseums. My man is ‘n skilder. Dit voel vir my asof al hierdie mediums verwant is, lede van dieselfde gesin is. Miskien doen my oog & oor die meeste van die skryfwerk terwyl my hand vol woorde slaap.

 

Hilda, jy is ʼn reisiger en het reeds baie plekke besoek, waarvan sommige neerslag gevind het in hierdie debuutbundel. Waarheen lei die roetes nou, wat lê verder voor?

René, ek is self nie seker nie. Skryf verseker, & lees lees lees. Vanmiddag met my hond gaan stap. Probeer om nie te veel te dink aan alles wat ek hier kwytraak nie. Te veel dink aan alles wat ek hier kwytraak. ‘n Aktiewe luisteraar word.


En as ʼn laaste gedagte, deel asseblief ʼn vers van jou keuse met die lesers.

 

ouma jy het soggens vroeg die lig gebreek jou lyf bonkige lyne

die son sku-slaperig geel die kombuis het geruik

na worseiers na warm brood onder my het die groot bed gekraak

terwyl die botter in die pan spring sissend fluister

die matras het my omvou ek was nege ek was nege

’n donsige kuiken ouma jy met jou een arm my eenduimouma

het die kombuis laat sing ’n musikant van potte die ketel fluit

ouma die ketel fluit ouma en jy breek die dag ouma jy breek

die dag en die grond deesdae ses voet onder en ek is jammer

dat ek die musiek vergeet het ouma jou bonkige lyf jou eenduimhand

’n musikant breek jy die dag oop soos ’n eier ouma breek

 ***

 

[1] . William Butler Yeats: “Among School Children” in The Collected Poems of W.B. Yeats (1989).

[2] Jacky Bowring: A Field guide to Melancholy (2008)

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Onderhoud met Hilda Smits (die bome reusagtig soos ons was)”

  1. Lewies Botha :

    Wat ʼn insiggewende en lekker onderhoud. Die digterstem breek deur in die antwoorde, elk soos ʼn gedig vanself. Ek sien daarna uit om die bundel aan te skaf.

  2. Gert :

    Ek sien baie uit hierna. Die titel laat my dink aan die Bee Gees se liedjie “1st of May”

    When I was small
    And Christmas trees were tall

  3. Corlietha Swart :

    Ons almal by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) hou Hilda Smits se vordering as begaafde digter al lank met afwagting dop sedert sy jare gelede reeds die eerste maal (en vele kere daarna) ons jaarlikse nasionale BSV-Skryfwedstryd se poësie-afdeling gewen het. Ons BSV-bestuur en een van ons beoordelaars, die digter, dr. Gilbert Gibson, het gereeld teenoor haar genoem dat ons graag eendag haar debuutbundel op ons boekrakke sal wil staanmaak – en hier is hy nou! Baie geluk, Hilda!!! Ons is saam met jou bly!
    Corlietha Swart (Voorsitter, namens almal by die BSV)

  4. Fyn vrae, lekker antwoorde, lieflike voorblad. Mal oor ‘ Miskien het die oog en oor die meeste van die skryfwerk gedoen terwyl my hand vol woorde slaap’. Mooi werk, Hilda en Rene!

  5. Hilda Smits :

    Dankie vir die lees Lewies, Gert, Corlietha & Engela!

  6. Rene Bohnen :

    Dankie, Engela

  7. Gisela Ullyatt :

    Knap onderhoud, René. Ek sien uit na jou bundel, Hilda.

  8. Rene Bohnen :

    Dankie, Gisela.

  9. Marie Bredenkamp :

    Hilda, uiteindelik het ek nou tydsaam, en die tweede keer – met groot genot – hierdie onderhoud gelees. Die bundel “bestaan” nou al so half-en-half in my gedagte – kan nie wag om hom in my hande te hou nie. Baie geluk, aan jou, en ook aan Rene.

  10. carina :

    Opmerklik is Hilda se antwoord wanneer René haar in bg. onderhoud as “psigoloog-digter” en haar bundel as ‘n moontlike “monoloog” en “poëtiese dagboek” omskryf. Dis tipies menslik om iemand wat met iets vorendag kom wat nuut, vars en anders is, te probeer etiketteer – ons doen dit almal – en dit maak van René juis ‘n goeie onderhoudvoerder. DANKIE. Dankie ook vir mooi geformuleerde opmerkings soos die ene oor melancholie, René: “Selfs in die pasgevonde skuil die reedsverlore”. Ek’t lekker hieraan gelees. Hilda systap die woord “monoloog” en reik liewer via Kafka uit na “dialoog”, hoewel dit miskien eerder ‘n droom vir ‘n volgende bundel bly? Sy is geen digter wat met die oog op haar potensiële lesers hulle doelbewus probeer te “please” nie: “As Ben of Evert of Mariaan of Wilson toffies op ‘n Saterdag… bekend voel aan die leser, gemaklik in die hand pas, dan is ek bly.” Hilda bly nou al outonoom, getrou aan haarself en onafhanklik en dis presies wat elke poësieleser graag wil lees. Dankie vir jou raakvat woorde oor emigrasie, liewe mede ekspat! “Emigrasie maak beslis ‘n bewustheid oop van die kleinheid en grootheid van dinge.” Ek sien nog steeds uit daarna om jou bundel met een diep teug op te drink.