Resensie: ‘n vlerkslag van kleur (Fransi Nieuwoudt)

´n vlerkslag van kleur, deur Fransi Nieuwoudt.  (Cordis Trust Publikasies, 2016; prys: R140; formaat: sagteband; 74 pp.; ISBN: 978-0-9922057-8-2)

Resensent: Ingrid Woudstra

 

ʼn Drang om deur ondeurdringbare verse te dring

Omslag

Omslag

Fransi Nieuwoudt druk haar stempel binne die Afrikaanse literêre sisteem af met die verskyning van haar debuut, ʼn vlerkslag van kleur, wat vanjaar deur Cordis Trust uitgegee is.

Soos afgelei kan word uit die titel, is die bundel deurspek met motiewe van insekte (veral vlinders soos die belenois aurota [12]) en verskeie voëlsoorte se vlerke. Die voëlvlerke is dikwels ʼn simbool van koestering, internalisering en verlies waarvan die versreëls “winter is ʼn jong meeu wat verveer” (4) ʼn voorbeeld van laasgenoemde is. Die leser behoort daarop te let dat dit juis ʼn jong meeu is wat verveer; dat die digter ʼn voorliefde daarvoor het om te kontrasteer met woorde en kleur.

Dié kontraste kom dwarsdeur die bundel voor – vanaf die eerste afdeling getiteld “bontvlerk se skaduwee” met die aanhaling “Colour itself is a degree of darkness” deur Johann Wolfgang von Goethe tot in die titel van die slotvers “die dood as bruidegom” (65) (my kursivering). Daar word met “vlerkslag” elke moment van beweging as die vlerke klap, geïmpliseer. Die “kleur” is vir die leser ʼn aanduiding dat die verse sterk visueel van aard is en dat visuele kuns ook aan die begin van elke afdeling in die bundel afgedruk is. Die omslag verklap laasgenoemde eintlik reeds. In ʼn gedig soos “aksiekuns” met die subtitel “The painting has a life of its own….” deur Jackson Pollock (38) word die skilderkuns deur middel van woordkuns beskryf as iets wat lewe. In ʼn vlerkslag van kleur word die saamvlug van dig- en skilderkuns gebruik as mediums in ʼn poging om deur die dig geslotenheid van die verse te breek. Hierdie breking word dikwels deur middel van tipografie uitgebeeld, soos byvoorbeeld te sien in “oop- / gebreek / losgebeur” uit “Doringrosie” (5).

Die digter skryf meermale oor twee onversoenbare wêrelde: dié van duisternis of voorgeboorte en dié wat lig, die lente, lewe en die hemel insluit. In ʼn vers soos “Eurydike aan Orfeus” (3) kan daar uit die reëls “hierdie kant is / die Styx klankdig” afgelei word dat daar ook ʼn ánder of “daardie” kant is. In die Grieks en Romeinse mitologie is die Styx die rivier wat die twee wêrelde, lewe en dood, verbind. In die bundel word daar met “hemel” ook nie noodwendig “die een in die lug” (8) met ʼn religieuse konnektasie bedoel nie, maar eerder die spreker se hoop op verlossing. Dit kan wees dat die spreker hoop om van haar steurings of alleenheid verlos te word met verwysing na die verse “self-skade” (17) en “sosiale angsversteuring” (18-19). Sy wend ʼn poging aan om die twee wêrelde met mekaar te skakel deur middel van ʼn “sweefbrug”, oftewel die dig- en skilderkuns. ʼn Voorbeeld hiervan is te sien in die gebruik van die woord “ligbreking” wat voorkom in die gedig “ligkroon” (31). As iets breek kom daar lig deur die verskillende deeltjies van die voorwerp, maar ʼn liggolf kan ook breek. Ligbreking kan in die konteks van die bundel geïnterpreteer word as die refraksie van ʼn liggolf deur die oppervlak tussen twee mediums met verskillende digthede. Daar word met die gebruik van die woord “dig” digkuns, maar ook verdigting (sien “verdigsels van lig”, 58) of digtheid gesuggereer. Dit is ironies dat daar in Nieuwoudt se verse by die spreker ʼn drang is om as ’t ware deur te breek na “die anderkant”; tog is die aard van die verse hermeties.

Heelwat verse is só kompak of dig gesluit, dat dit lyk asof die digter met die skrywe daarvan totaal ingestem was op die innerlike perspektief in terme van bewussyn, nabetragting en diepdenkendheid. Enkele voorbeelde is: “hoop is ʼn seisoen / ons offer dit soos saad / ons vou die vlerke na binne” (12), “ek tree na binne / tyd het spoelklippies / ingemessel” en “blare val nie / blare reis na ander aanloopbane / (herfsvlinders vou bont vlerke toe)” (65). Dit blyk dat die digter hakies en veral die beeld van vlerke wat toevou gebruik in die uitbeeldings van die internaliseringsproses. Die laasgenoemde voorbeeld is ook die slotstrofe uit die laaste vers wat in die bundel voorkom. Dit dui daarop dat die bundel dus af(gesluit) word.

Die klem op verinnerliking lei daartoe dat ʼn duidelike skeiding tussen die leser en die digter ontstaan. Die gevaar wat die digter loop, is dat sy haar lesers in die proses kan vervreem, omrede haar poësie veeleisende lesersbetrokkenheid verg. Die digter doen dit meestal deur oop spasies in haar verse te laat, sodat dit lyk asof daar gedagtespronge plaasgevind het. Twee voorbeelde is te sien in die gedigte “ʼn laaste totsiens” (47) en “splitsing” (58) (soos wat reeds uit die gedigtitel afgelei kan word). Die eerste strofe van “ʼn laaste totsiens” (47) is soos volg:

ek fluit op akkerdoppe

klim in ou bome

en sit wydsbeen op takke

waar ons      kom lente

blougrys eiers bloot-lê

Die spasie tussen “ons” en “kom” is die aanduiding van ʼn skeiding – waarskynlik ook in die digter se gedagtegang – wat die leser self moet vul. Sommige lesers kan hierdie soort hiate wel as uitdagings beskou. ʼn Soortgelyke voorbeeld is, soos genoem, te sien in “splitsing” (58):

die uitspansel is ʼn ma

daagliks

omhels en soog sy

opnuutgebore kinders

miljoene verdigsels van lig

[…]

in haar gloei gewoon      stofvlerke

wat die nag met oker blerts

Myns insiens is dit die digter se voorliefde vir assosiatiewe beelding (veral die vermensliking van objekte soos die “silhoeët verbeel” [6], “blinde skaduwees” [14], “die bos het geel oë / hy trek sy spiere saam” [16], “die maan is ʼn glasblaser” [30], “donker wolke vlug” [61] of “sterre plant indrukke voort / wat ver-skiet” [62]) wat kan lei tot verwardheid en uiteindelike lesersvervreemding. Ongelukkig doen die opstapelende assosiatiewe beelding, wat soms voorkom asof dit nie goed deurdink is nie, afbreek aan ʼn beeld wat in sy eenvoud andersins moontlik meer trefkrag sou kon hê. Die slotstrofe van die gedig “Ingrid Jonker” (36) is ʼn voorbeeld waarin daar ook verwys word na Jonker se gedig, “ek herhaal jou”: “in die ruising van jou woorde / spoel daar steeds krappies uit / wat die wolke se fynskrif / op duine herhaal” (my kursivering). Nóg ʼn voorbeeld is “reëls vir die digkuns?” (4).

die winter is ʼn jong meeu wat verveer

en ek klim uit my vel

met ʼn kaalte

wat grondlangs rui

my nes bly leeg

ek grabbel vir vis

duik in bekende habitat

maar Augustus waai dwars

skud stof los

en ruk

my tot in die dons

van bitterbossie

dooie kikoejoe en klitsgras

vasgepen

aas ek in die wind

in skielike omheining

Die geslaagdheid van dié vers lê volgens my in die slotstrofe wat gaan om die woordbeperktheid of –inperking (soos afgelei kan word uit “omheining”) wat digters het om ʼn bepaalde emosie of ervaring te verwoord. Weens hierdie beperktheid “aas” hulle dikwels op ánder se idees of vorige werke. Weereens is die idee van beperktheid of inperking teenstrydig met die algehele gedig, omrede die aard van Nieuwoudt se verse ook vormloos oftewel amorf is.

Die digter verdien erkenning vir haar gewaagdheid met die eksperimentering van hermetiese en esoteriese verse, waarin die skilderkuns boonop ook diep gebed is. Vanweë die vormloosheid, ironie, betekenisgapings en feitlik ondeurdringbaarheid van die verse kry die leser nooit werklik ʼn houvas daarop nie en word hy/sy eerder verward gelaat. Dit is dan waarskynlik ook wat die digter met die skrywe van hierdie verse ten doel gehad het.

Ingrid Woudstra behaal ‘n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands aan die universiteit van Stellenbosch. In 2012 besluit sy om na Nederland te vertrek, waar sy in Utrecht en Nijmegen onder andere somerskole bywoon. Na ongeveer ses maande keer sy terug na Suid-Afrika en begin met ʼn meestersgraad in Afrikaanse Letterkunde onder leiding van Prof. Louise Viljoen. Tydens haar meestergraad werk sy as konsultant by die Universiteit van Stellenbosch se Taalsentrum (Skryflaboratorium) en sy bied terselfdertyd klasse vir tweedejaarstudente aan. In 2014 word sy ʼn Afrikaanse onderwyseres by die Hoërskool Stellenbosch. Sy beoog om ʼn Nagraadse Onderwyssertifikaat in 2016 te voltooi.
Bookmark and Share

6 Kommentare op “Resensie: ‘n vlerkslag van kleur (Fransi Nieuwoudt)”

  1. Baie dankie vir ‘n knap resensie, Ingrid, en veels geluk, liewe Fransi, met die welverdiende debuut in dimensies wat jy soveel ewighede reeds ontgin en waarin jy tuis is. Seënbede vorentoe! Baie geluk ook aan CORDIS TRUST PUBLIKASIES met ‘n voortreflike venster op woorde uit die hart: die uitgewery wat waarlik ‘n verskil maak.

  2. Fransi Nieuwoudt :

    Baie dankie, Ingrid.

    Myra, ‘n innige, innige dankie.
    Ek voel regtig geseënd en ek waardeer al jou harde werk. Jy is werklik ‘n ster.

  3. Marie Bredenkamp :

    Dankie Ingrid Woudstra vir ‘n gebalanseerde en weldeurdagte resensie van ‘n debuutbundel. Ek het my pad deur die bundel gewerk en jou resensie het ruim toegevoeg en verduidelik waar ek vasgeval het. Geluk ook Fransi, en aan Cordis Trust wat vensters oopmaak sodat meer mense die klank en kleur van vlerkklap kan ervaar.

  4. sigeuner :

    Die resensie en ook die omslag maak die bundel begeerlik!

  5. Ingrid :

    Fransi, baie geluk met die verskyning van jou bundel. Dit is harde werk en jy verdien ‘n klop op die skouer daarvoor. Ons sien uit daarna om in die toekoms van jou nuwe verse te lees. Hartlik geluk ook aan Cordis Trust. Dankie aan elkeen vir die positiewe terugvoer in verband met die resensie. Dit word opreg waardeer.

  6. Fransi :

    Baie dankie. Ek waardeer dit inniglik. 🙂