Resensie: die bome reusagtig soos ons was (Hilda Smits)

die bome reusagtig soos ons was deur Hilda Smits. (Protea, 2016, ISBN: 978-1-4853-0640-5, Formaat: Sagteband, 52p.)

Resensent: Dr Amanda Lourens

Omslag

Omslag

Die ses gedigte van Hilda Smits wat in 2013 in Nuwe Stemme 5 verskyn het, het alreeds beïndruk en blyke gegee van hierdie digter se unieke stem. Haar debuut met sy ietwat raaiselagtige, maar lieflik poëtiese titel, is dan ook in alle opsigte die produk van ’n digter wat die verskillende intonasies van haar eie stem verken, maar nooit die eiesoortigheid daarvan prysgee nie.

Smits se verse vra om aan die hand van ’n geskakeerde leesstrategie benader te word. Alhoewel daar in die verse sterk sprake van die bewussynstroom is, is haar digterlike styl ook nugter en intellektueel en getuig van ’n digter wat intens oor dinge nadink en voortdurend ervarings verwerk. Hiermee saam loop egter ’n intense verbondenheid aan die onderbewussyn, sodat die leser op sommige plekke assosiatief moet lees, maar elders weer op ’n meer kognitiewe wyse die leidrade van die gedig moet naspeur. (Ek sukkel om te bepaal watter element oorheers, maar vermoed tóg dat dit die intellektuele is, alhoewel ander lesers hiervan mag verskil.) Die manier waarop sy haar verse opbou, herinner nogal sterk aan Gilbert Gibson se assosiatiewe beeldgebruik en sy eksperimentering met enjambement en sintaksis. (Dit is dan interessant dat sy in die Versindaba-onderhoud met René Bohnen na Gibson verwys wanneer sy oor die digterlike invloede op haar uitgevra word.) Sy is egter geen Gibson-kloon nie, en haar digterlike verbeelding put uit ’n bron wat volledig haar eie is, en waarin die eie ervaring in die hede en verlede sentraal staan.  Haar gedigte is wel ook nie soseer hermeties van aard nie en betekenis word meer geredelik uit Smits se gedigte gehaal.

Die perspektief in die bome reusagtig soos ons was, is dié van die volwassene wat haas akuut bewus is van hoe haar teenwoordige ervarings van dié van die kinderjare verskil. Tog is daar geen breuk tussen die bewussyn van die kind in die verlede en die volwassene in die hede nie – dit is eerder die geval dat die verlede op ’n dringende wyse meespreek aan die hede, alhoewel die afstand die spreker in staat stel om te begryp op welke maniere haar eie perspektief ook deur die jare verander het. Vandaar dan moontlik die titel, wat kan dui op die kinderlike waarneming waardeur voorwerpe en gebeure in die herinnering dikwels veel groter voorgestel word as wat hulle by nabetragting wel was. In talle gedigte word die verlede herbesoek, dikwels waarskynlik met die doel om sin te maak uit die verlede, om as’t ware met ’n nuwe perspektief na vergange dinge te kyk.

Die openingsgedig (p.7) illustreer baie goed hoe daar vanuit die hede teruggekyk word na ’n verlede wat integrerend deel van die teenwoordige self is:

die lig val geel ongeskend swem ons daar was

dae groter as ons wat gesneuwel het en ek

is lief ek is lief vir julle ongeskend swem ons

onder weifelende geel lig broos teen broos

in die stroom want ons het lief die lewe teen

my bors kinderjare brandend teen my bors ongeskend

brandarm dae groter as die heelal

[…]

Die verlies van onskuld wat gesuggereer word deur die woord “ongeskend” in die openingsgedig, kom aan die orde in ’n gedig soos “elke Vrydag Gants Hill toe” (p.11), waarin die ruimte van die Londen van die hede op ’n assosiatiewe wyse verbind word aan die soms ontstellende ervarings van die kind. Dit is in ’n gedig soos hierdie een dat die leser (soos ook in “Mariaan se suster”, p.26) leidrade (dikwels as sintaktiese brokke aangebied) moet saamvoeg om die onthutsende boodskap te rekonstrueer:

elke Vrydag Gants Hill toe in die donker deur die tonnel gestap

terwyl die bus soos ’n groot verligte speld verdwyn

tot in dr. Bennett se huis waar dit altyd sneeu soos op die televisie

as ons Alzheimer’s speel onder die bank op die klein koffietafel

tussen mediese boeke en hier is die temperatuur altyd ’n paar grade te warm

sê ek want hier is ander mense sê dr. Bennett as ons rooi tamatiesop eet

met ons hande soos ek en my vrou is sy op vakansie? en my dogters al drie

en die dag breek amper die son kom op in die donker sê dr. Bennett

terwyl hy op kort stewige bene skeer netnou gaan koop ek en jy roomys

knipoog hy gaan kyk ek en jy bome in die park –

Die gevaar van ’n hortende gang word egter slim teëgewerk deur die enjambemente wat ook die vrye vloei van gedagtes en beelde ondersteun. Dit word veral gesien in die pas genoemde “Mariaan se suster”(p.26) waar die slotwoord van die gedig die vrye vloei tot ’n abrupte einde bring en die leser tot nabetragting dwing:

Mariaan se suster het drie tweelinge soos ’n dubbele

maan soos ’n tweekoplikkewaan sê Mariaan en haar

broer het vigs soos ’n skaapwagter jaag hy trokke

soos ’n renjaer sterwend deur die land Mariaan se deurknop

is met ’n tou vasgebind want ek is ’n slaapwandelaar

sê Mariaan en loop in deure vas by Mariaan se huis speel

ons dokter-dokter trek jou klere uit sê Mariaan kom ons vry

soos soapie-sterre kom ons SEKS nee dankie sê ek en vertel

my ma ek en Mariaan tel ’n kondoom in die pad op warm klop

die sperm nog gross man sê Mariaan toe ons dit in haar pa se posbus stop

Die kinderjare word herbesoek in talle gedigte waarin die spreker haar moeder, vader en ouma aanspreek, en waarin sensoriese herinneringe op ’n knap wyse ineengestrengel word. Veral treffend is die gedig waarin die ouma as die liefdevolle versorger in haar geur- en klankryke kombuis herskep word (“ouma jy het soggens vroeg die lig gebreek”, p.13). Die moeder word konkreet voorgestel as die doener in die huis wat Saterdae wasgoed trap (“op Saterdae in Welverdiend”, p.24) naas die vader (in die openingsgedig die “dromer-pa”) wat in meer as een gedig die toehoorder word wanneer die spreker haar ervaringe as reisiger beskryf. Dit is veral via gesprekke met en herinneringe aan die vader wat die soeke na die eie identiteit plaasvind. Die vaderfiguur word ook sterk aan die onderbewuste geskakel, soos blyk uit “Londen. 18 Februarie 2005” (p.20), waarin die spreker waterbeelde gebruik om haar ervarings in die vreemde ten tyde van haar pa se begrafnis in Suid-Afrika te verwoord:

luister – my pa word begrawe op die radio en dit sneeu (op die radio)

in die klein bad dobber ek dromend soos ’n muis en buite dryf daar Cockneystemme

in die vlak water op die pad in die wassery draai ons klere

skilpad dop om dop om

In die gedig vir die broer (“vir klaasman”, p.8) vertel die spreker van die nuwe omgewing waar sy haar bevind. Daar vind sy die broer se spore op onverwagte plekke, en terselfdertyd is sy bewus van haar taak as kunstenaar wat moet waarneem en dokumenteer sodat die toehoorder haar ervarings in die vreemde kan deel:

geliefde broer die seisoene verander hier tydsaam soos ’n ou vrou met rumatiek

wat soggens pynlik stadig haar trui toeknoop haar misvormde vingers soek en vat

soek en vat sy stap saam met my op die grondpad stasie toe gebukkend onder

die koue wat vat en los vat en los skuifelend stap ons geliefde broer daar is ’n kroeg

in soho jou vingerafdruk blink op ’n pint staropramen die reuk van jou tabak talm

in die lug terwyl ek drentel my gedagtes vat en los vat en los die grate van ons midnag-

gesprekke lê die huis vol broer in jou kamer sit ek soms toe-oog en dink en die lente

bloei soos ’n diep sny in greenwich park my kamera-oog is ’n kamer vir twee mense

broer ek raam die lente daar vir jou terwyl die lewe vat en los vat en los

Die basiese spanning tussen die “hier” en die “daar” wat in hierdie gedig sigbaar word, word verder in die bundel uitgewerk as ’n basiese spanning tussen die Suid-Afrikaanse agtergrond en die ervaring van “ekspat”-wees in Londen. In hierdie verband is “deesdae is londen my stad” (p.10) ’n sleutelgedig – enersyds is daar ’n lyflike verkenning van en ’n nuwe verbintenis aan hierdie stad, maar andersyds is daar die terugkerende belewenis van vreemdelingskap:

deesdae is Londen my stad ek sit elke oggend koerant teen die neus

netjies in ’n kompartement ingepak terwyl die trein roggel

soos ’n bekende song oor die silwer spore draf lees ek die metro

of vernon god little iewers hol laas week se trein nog met my vergete

stephen king-boek aan boord en my geel pis gorrel en gis my suidafrikaanse

pis blink soos goud in die rioolpype van die stad se ondergrondse

vlaktes iewers vloed my pis soos bloed onbekende vlaktes

en verken die infrastruktuur onbewustelik iewers spoel ek in ’n warrel

van been en binnensmonds gebromde woorde tussen blackheath

en soho en die shithole wat elephant and castle is iewers in walworth road

tussen ses oxfams wag ek nog op ’n bus ’n passasier soos ’n indringer

Wat die bundel in die besonder boeiend maak, is dat die teenstelling tussen die verlede in Suid-Afrika en die hede in die buiteland nooit as ’n eendimensionele spanning tussen die koesterende bekende en die onvriendelike onbekende voorgehou word nie. Die verlede is ook die landskap van afskeid en ontnugtering, soos baie duidelik blyk uit gedigte soos “die dag toe ons trek” (p.29) (oor die afskeid van kindervriende) en “in die dam geswem op Welverdiend” (p.27) (oor die tragiese dood van ’n jeugvriend). En alhoewel Londen die stad van “wrede skyscrapers” is (in “ek hang steeds aan jou lippe”, p.35), is die stad ook die ruimte in terme waarvan haar wense vir die geliefde verbeeld word:

[…] mag

die kake van die stad jou nooit verslind nie en jou £10 vir altyd hou

mag jy soos ek langs die Teems afstap en die nag aanskou asof

vir die eerste keer mag jy altyd daardie sexy swagger wat net jy

alleen besit mag jy altyd soos ’n swart kat die reëlmaat van die stad

tussen jou heupe hou

’n Ander belangrike tema wat ondersoek word, is die verhouding tussen taal, digter- en kunstenaarskap en betekenisvolle kontak met die ander, soos gesien word in “vir ’n digter” (p.37) asook in  “Gokarna” (p.16). Die verkenning van verskillende vreemde plekke word dan ook ’n verkenning van die self, tesame met die ervaring van kuns in ’n velerlei van vorme – waaronder dié van Bach, Chopin, Ella Fitzgerald en Jimi Hendrix.

Die gedig “vir Primo Levi” (p.44), waarin die spreker haar met die bekende Holocaust-oorlewende identifiseer, is besonder aangrypend. Hier word die psige van ’n ander besoek om ook tot groter selfkennis te groei, alhoewel die wete van die dood (moontlik Levi se selfdood) uitgroei tot ’n blywende soort kennis: “[…] hier herkou almal aan die / benerige oorskot van die vroeë dood”.

Dit is interessant om daarop te let dat van die gedigte wat reeds in Nuwe Stemme 5 verskyn het en nou in die debuut opgeneem is, intussen klein veranderinge ondergaan het. “vir klaasman” het nou langer versreëls, wat op paradoksale manier die oplossing bied vir die ietwat lomp indruk wat die indeling van die reëls in die eerste weergawe tot gevolg gehad het. In “vir pa, soos die ander”, is die reëls weer merendeels ingekort, sodat die lastige afbreek van woorde in die eerste weergawe vermy word. Ook “vir Primo Levi” se waarskynlik oorbodige slotreël is nou weggelaat.

Die beperkte omvang van die bundel (46 gedigte en 52 bladsye) sou dalk kon aanleiding gee tot die vraag of die bundel nie ietwat yl is nie, maar so ’n voorbehoud is myns insiens ongeldig. Eerder getuig die bundel van dissipline en streng seleksie, sodat die leser nêrens die indruk kry dat sekere gedigte bloot maar ingesluit is ter wille van invulling nie.

die bome reusagtig soos ons was is ’n baie sterk debuut, en die lesers daarvan sal waarskynlik na dese Smits-aanhangers wees. ’n Mens sien met afwagting uit na die volgende bundel uit haar pen.

 

Bron

Bohnen, R. 2016. Onderhoud met Hilda Smits (die bome reusagtig soos ons was). Versindaba. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2016/03/14/onderhoud-met-hilda-smits/ [2016, 25 Maart].

.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie: die bome reusagtig soos ons was (Hilda Smits)”

  1. Marie Bredenkamp :

    Ek is baie opgewonde oor jou bundel, Hilda, en kan nie wag om dit in my hande te hou nie. So tuis en herkenbaar is ‘n wandeling langs die Teems uit ou gesprekke. Baie geluk!

  2. Susan Coetzee :

    Hilda, vandag jou bundel gelees in die vliegtuig van die Kaap af huistoe na Potchefstroom. ‘n Aangrypende belewenis vir my omdat ek jou as kind onthou (julle het altyd voor ons in die kerk gesit) Ek weet van die reuse boom wat nou weg is, ek het jou ma die wasgoed sien ophang, ek ken haar gul glimlag, ek het haar die tuin sien natspuit, ek weet en ek onthou ook met groot deernis…Omdat ek die konteks ken het die skerp skrynende my baie diep geraak. By tye selfs baie aangedaan laat voel. Wonderlik jou dans met woorde! Wat sou jou pa nou gesê het …? Magtag my kind !

  3. Hilda Smits :

    Susan, ek sien nou eers! Baie dankie vir jou mooi woorde…Hilda