Andries Bezuidenhout. Dag/reis – oor Willem Pretorius se uitstalling

10399874_1896457167247266_2107555253421030291_n

Met die bekendstelling van Willem Pretorius se uitstalling Day trip / Dagreis by die Tina Skukan Galery, Pretoria, 17 April 2016

“Dag” verwys na tyd en “reis” verwys na ruimte, die aksie om deur ruimte te beweeg.

  1. Newton

“Absolute space is fixed and we record or plan events within its frame. This is the space of Newton and Descartes and it is usually represented as a pre-existing and immoveable grid amenable to standardized measurement and open to calculation. Geometrically it is […] the space of all manner of cadastral mapping and engineering practices […] Socially this is the space of private property and other bounded territorial designations (such as states, administrative units, city plans and urban grids).”

Ruimte is absoluut. Dit gaan oor die afstand tussen twee punte op ʼn kaart. In die Europese Middeleeue het ʼn dorp se invloed so ver gestrek soos die oor ʼn kerkklok kon hoor lui. Hier in die kolonies was dit so ver soos die oor ʼn kanonskoot kon hoor. ʼn Plaas se grense is bepaal deur die afstand wat ʼn perd in ʼn dag kon drafstap – ʼn dagreis te perd. In hierdie absolute ruimte moet jy van Punt A na Punt B, sê maar van Stella na Rosendal, bloot as voorbeeld. Jy kan nie vlieg nie (daar is nie lughawens in Stella of Rosendal nie) so jy moet ry. Per kar. Die treinspoor is geroes en op plekke reeds verwyder, grensdrade bo-oor gespan, wat ook reeds roes. Jy kan reguit ry, of met ʼn ompad via Londen, maar dit sal lank duur, langer as ʼn dag en dan is dit nie meer ʼn dagreis nie. Dalk ontmoet jy iemand in Londen wat die koers van jou lewe sal verander en dan is die ompad die moeite werd. Om deur Pretoria te ry sou ook kon sin maak, dalk om ʼn kwalifikasie in grafiese ontwerp in byvoorbeeld jaar 2000 te behaal.

20160417_123806

Dáár in die hoek is Willem Pretorius se ma. Dis ʼn kombinasie van landskap en portret. Die landskap is Stella, iewers tussen ʼn soutpan, Eybers se Wes-Transvaal en die Kalahari. Die portret is die skilder se ma. Is dit die negentien sewentigs, die sestigs? Die kleredrag lyk sestigs of sewentigs. Die son op die fotografiese papier is moeg en word flouer. Dit skyn reeds vanaf die sestigs of sewentigs op daardie foto, skuif oor huis-, skool- en poskantoorstoep, Cobra-politoer wat lou word, smelt en stof vergader. Dis ʼn belangrike deel van Pretorius se werk, hierdie tweegesprek tussen fotografie en skilder, die son op ʼn lens, die son op die skilder se oogbal, die son in olie op doek. Wit lig loop ook van Punt A na Punt B, maar as jy dit buig, ʼn dagreis vir lig ʼn bietjie van koers af stuur met prisma, lens, of die aarde se koepelatmosfeer, breek dit in kleure uit. Van die sestigs of sewentigs na die onlangse verlede. So van portrette gepraat, Willem Pretorius het twee keer al die top 40 gehaal met Sanlam se portretstudietoekenning en so van die spoed van lig gepraat kom ons by:

  1. Einstein

“Space is relative in the double sense: that there are multiple geometries from which to choose and that the spatial frame depends crucially upon what it is that is being relativized and by whom […] All forms of measurement depended upon the frame of reference of the observer […] We know, given the differential frictions of distance encountered on the earth’s surface, that the shortest distance (measured in terms of time, cost, energy expended) between two points is not necessarily given by the way the legendary crow flies over physical distance. Furthermore the standpoint of the observer plays a critical role.”

Wat is dit wat maak dat kunstenaars anders na die werklikheid kyk as ander mense? Jy let op. Jy kyk stip en soms vanuit ʼn ander hoek. Oor hierdie uitstalling skryf Willem Pretorius: “ʼn Dagreis verwys hoofsaaklik na ʼn uitstappie êrens in jou nabye omgewing gewoonlik om te kuier of besienswaardighede rondom jou te besoek… Die uitstalling is van dinge wat die kunstenaar op sulke ‘Dagreise’ teëgekom het, dus ʼn tipe van visuele dagboek. Dit bring die kyker tot stilstand by dié dinge waarby die kunstenaar stilgestaan het en sien dit as’t ware deur sy oë, ʼn oomblik gevries in tyd. Die ironie lê daarin dat dit juis die gewone, onopvallende goed is wat dan verhef word tot ʼn olieverfskildery. So wil die kunstenaar sy gehoor dwing om die mooi te sien in die alledaagse, dikwels onder ons neuse, waarby ons so maklik verby jaag.”

20160416_162626

Mens kan van Stella af Rosendal toe jaag, of jy kan jou tyd vat en stilhou. Jy kan by kollegas gaan inloer. Mense saam met wie jy al jou werke uitgestal het: Hanneke Benadé, Walter Meyer, Ingrid Winterbach, Henk Serfontein. Jy kan so ver gaan om eers ʼn draai in Piketberg te maak, by Clare Menck, die einste een wat daar anderkant op ʼn skildery in haar gang af loop. Jy kan nadink oor die invloede in jou werk en die hele tradisie van Suid-Afrikaanse kontemporêre realisme. Menck, as sy oor Willem Pretorius se werk praat, verwys na “South African rural vernacular”. Pretorius se oogpunt, die plek van waar hy af waarneem, is vanuit die platteland. Hy is nie ʼn stedeling wat soontoe reis vir vinnige besoeke aan klein dorpies nie. Daar is iets aan die skilderye wat eg voel – dis nie ʼn buitestander wat Smithfield in die nag skilder nie, of die T-aansluiting as jy Trompsburg in die nag binnery nie. Dis hoe dit lyk en voel.

13007343_1904800833079566_3228943033736591174_n

Relatiewe ruimte is tyd en ruimte. Milan Kundera skryf in sy boek Slowness dat as mens iets wil onthou, jy instinktief stadiger loop. As jy wil vergeet, klim jy op jou motorfiets en jy jaag. Die geheue werk langsaam, vergeet gebeur spoedig. Tegnies, as jy baie vinnig kon ry, vinniger as die spoed van lig, sou jy na die verlede kon terugkeer. Willem Pretorius spesialiseer in lig en die kwaliteit van lig. Die skilderye in hierdie dagreis gaan oor stadig ry, tyd verwyl, nie spandeer nie. Dit gaan oor onthou, soms ʼn wêreld wat vir stedelinge verlore is, maar soms ʼn tyd wat vir altyd verlore is – mansbroeke het in die sewentigs gesit soos hulle net in die sewentigs kon sit.

12321230_1863884267171223_7247721182798758441_n

  1. Leibniz

“The relational view of space holds there is no such thing as space outside of the processes that define it. Processes do not occur in space but define their own spatial frame […] The relational notion of space-time implies the idea of internal relations; external influences get internalized in specific processes or things through time […] In a way, relational conceptions of space-time bring us to the point where mathematics, poetry, and music converge […] If I ask the question: what does Tiananmen Square or ‘Ground Zero’ mean, then the only way I can seek an answer is to think in relational terms.”

12717868_1900039273555722_4694690556626264282_n

Soms wonder ek oor die Vrystaat se stapelwolke – ʼn lug vol helder wolke, soos Karel Schoeman dit noem. Hoekom beur hulle so boontoe? Is dit omdat hulle vir die plat, uitgestrekte landskap skrik as hulle van die Malutiberge af see toe waai? Dis ʼn kuns om daardie wolke as brekers en weerkaatsers van lig te verf. Een van die belangrikste denkers oor kuns in die moderne era is seker die Duits-Joodse filosoof Walter Benjamin. Lank terug lees ek ʼn opstel deur die antropoloog Michael Taussig oor sy besoek aan Benjamin se graf by Port Bou, op die grens tussen Frankryk en Spanje. Benjamin was in September 1940 besig om van die Nazi’s te vlug. Toe dit duidelik word dat hulle nie oor die grens sou kon ontsnap nie, het hy selfmoord gepleeg. Niemand het ooit die tas met geskrifte gevind wat een van sy oorlewende reisgenote gesê het hy gedra het nie. Volgens oorlewering het Benjamin gesê die manuskrip daarin is belangriker as sy lewe.

Hy is onder die naam Benjamin Walter in die Katolieke deel van die begraafplaas begrawe. Hannah Arendt kon nie die graf opspoor toe sy Port Bou besoek nie. Ten spyte daarvan het sy geskryf: “Dit is by verre een van die mooiste en mees fantastiese plekke wat ek nog in my lewe gesien het.” Taussig skryf dat die inwoners van Port Bou ʼn naam vir die wind daar het: transmontaña. “Dit maak jou mal, sê hulle.” In 1994 is ʼn monument ter ere van Benjamin hier opgerig.

Van Punt A na Punt B kan soms so met die geskiedenis verstrengel wees dat dit nie ʼn eenvoudige reis is nie, maak nie saak waar jy staan of heen vlug nie. Walter Benjamin het eens geskryf:

“Daar is ’n skildery van Klee, getiteld Angelus Novus. ’n Engel in die afbeelding lyk of hy stip oor iets nadink, maar op die punt is om daarvandaan weg te beweeg. Sy oë is gesper, sy mond oop, sy vlerke gespan. Dít is hoe die engel van die geskiedenis moet lyk. Sy aangesig is na die verlede toe gedraai. Waar iets vir ons soos ’n ketting van opeenvolgende gebeure lyk, sien hy ’n enkele katastrofe wat onophoudelik soos wrakstukke voor sy voete neergesmyt word. Die engel sou graag wou verpoos, die dooies opwek en dit wat gebreek is, weer heelmaak. Maar ’n storm woed vanuit die Paradys, het hom aan die vlerke beet en waai so onstuimig dat die engel hulle nie weer kan sluit nie. Die storm dryf hom genadeloos die toekoms in, waarop sy rug gekeer is, terwyl die rommelhoop voor hom ten hemele aangroei. Hierdie storm is dit wat ons vooruitgang noem.”

Oor Benjamin se laaste dagreis het Breyten Breytenbach geskryf:

deur die nag gekom

en gemompelweet

dat om te leef nie ʼn opsie is nie,

van die maan nou die uitsmyter se iewerse oog,

dat dit nie genoeg is om te luister

na die gang van die bewe-asem nie,

jy die selfbegeleier as gids vooruit moet kan stuur,

al is dit ook net verby nag se gesig oor die grens

na waar daar daglig en see en mense is

12928155_1901178080108508_2860062030059822020_n

Ons weet Suid-Afrika se landskap lê vol wrakstukke. Van ons landskappe is so deur menslike onnoselheid en gierigheid omvorm dat dit wat voorheen daar was soms onherkenbaar geword – gedwonge verskuiwings, suurwater wat by myne uitsypel en dreig om die Wieg van die Mensdom in die Graf van die Mensdom te verander, ontwikkelaars wat historiese geboue sloop om winkelsentrumtempels op te rig. Soms vind mens egter ook, soos Hannah Arendt, die skoonheid te midde van gruwels en storms (dalk júis): ʼn Vulstasie in die nag waar jy stilhou ten spyte van die feit dat jou kinders reeds slaap omdat die petrol amper klaar is, daardie sonderlinge Vrystaatse donderstorm, die pad net voor sononder as die son só in jou oë skyn dat jy stilhou en dan ʼn foto neem en ʼn motor toevallig die prentjie binnery die oomblik as die sluiter agter jou kameralens knip. Dan gaan sit jy by die huis in Rosendal met die foto en jy vang ʼn vlietende oomblik in olie op doek vas – die kuns se mees duursame medium – en jy weet wat jy pas gedoen het nie net is om van Stella af hierheen toe te ry nie.

12512403_1898714263688223_1530466617273984792_n

Aanhalings uit:

Walter Benjamin, uit Über den Begriff der Geschichte (eie vertaling).

Breyten Breytenbach, “Eine kleine Nachtmusik”, Uit: Vyf en veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte (2014, Human & Rousseau)

David Harvey, “Space as a Key Word.” Uit: Spaces of Global Capitalism: Towards a Theory of Uneven Geographical Development (2004, Verso).

Michael Taussig, Walter Benjamin’s Grave (2006, University of Chicago Press).

Erkenning: Van die idees is in hierdie toespraak is deur gesprekke en referate by ʼn colloquium oor ruimtelike geregtigheid in postkolonies by die Universiteit van Kaapstad geïnspireer. Dankie aan Jaco Barnard-Naudé en Julia Chryssostalis, die sameroepers van die colloquium.

Besoek gerus die Tina Skukan Galery. Die uitstalling kan besigtig word tot 12 Mei 2016. Die foto’s is van skilderye deur Willem Pretorius wat deel vorm van die uitstalling, almal olie op doek.

11148712_1897202233839426_1128468829740099352_n

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Andries Bezuidenhout. Dag/reis – oor Willem Pretorius se uitstalling”

  1. Maria Snyman :

    Baie interessante en mooi geskryfde stuk, Andries. Ek (as altyd ietwat dronkgeslaande Derrideaan) sien natuurlik ook ‘n sekere vierde soort ruimte, naamlik die een van verruimteliking (“spacing”), oftewel wat Derrida o.a. ook différance of skrywing in die algemeen of geskenk van die dood of letterkunde in die geheim noem om na wat plaas-vind (“takes place”) of gebeur te verwys, d.w.s. daardie sekere buitensporige logiese – of “selfbegeleier[ende]”? – gebeurtenis.

    Dit wil dan ook sê ‘n soort ruimte wat onder andere ook deur Benjamin se skrywe oor Klee se Angelus Novus vertaal word – die dekonstruktiewe of verruimtelikende gebeurtenis is, as ‘n mens dit raaksien, ‘n punt waarvan weg beweeg wil word, ‘n punt wat jy graag sal wil ver-taal, want dit laat ‘n mens se “oë […] gesper”, jou “mond oop”, jou “vlerke gespan” – in ‘n sekere eksistensiële krisis? Jy is na die verlede toe gedraai, na “’n enkele katastrofe wat onophoudelik soos wrakstukke voor [jou] voete neergesmyt word”, “downright monotonous[ly]” (Derrida 2001:3) dog elke keer in absolute unieke styl … Wat sou ‘n relevante vertaling hiervoor kon wees? ‘n Mens “sou graag wou verpoos, die dooies opwek en dit wat gebreek is, weer heelmaak. Maar ’n storm woed vanuit die Paradys” – ‘n spel van spore van spore, oftewel daardie asof voorgeskrewe of “selfbegeleier[ende]” skrywing? – en dit “het [mens] aan die vlerke beet en [speel] so onstuimig dat [mens] hulle nie weer kan sluit nie. Die storm [van die spel van spore van spore, van skrywing, van wat plaasvind] dryf [mens] genadeloos die toekoms in, waarop [die mens se] rug gekeer is, terwyl die rommelhoop voor [die mens] ten hemele aangroei.”

    Is “[h]ierdie storm” [van ‘n spel van spore van spore] “wat ons vooruitgang noem”? D.w.s. is vooruitgang iets wat gelyktydig vooruit en nie vooruit gaan nie en ons dus in [‘n] geheim laat, oftewel laat weet dat “wat jy pas gedoen het nie net is om van Stella af hierheen toe te ry nie”, oftewel wat jou laat weet jy het meer gedoen as wat jy bedoel het om te doen, iets gelyktydig dommer en slimmer as wat jy jouself ooit kon verbeel jy kon doen, oftewel het jy “gemompelweet / dat om te leef nie ʼn opsie is nie” want “dat dit nie genoeg is om te luister / na die gang van die bewe-asem nie” voor die hand liggend behoort te wees, oftewel dat “jy die selfbegeleier as gids vooruit moet kan stuur, / al is dit ook net verby nag se gesig oor die grens / na waar daar daglig en see en [MENSE] is”!

    Om Leon gelukkig te probeer hou, sluit ek my skrywetjie af met jou aanhaling van Einstein:

    “”Space is relative in the double sense: that there are multiple geometries from which to choose and that the spatial frame depends crucially upon what it is that is being relativized and by whom […] All forms of measurement depended upon the frame of reference of the observer […] We know, given the differential frictions of distance encountered on the earth’s surface, that the shortest distance (measured in terms of time, cost, energy expended) between two points is not necessarily given by the way the legendary crow flies over physical distance. Furthermore the standpoint of the observer plays a critical role.””

    (Ek lees tans Jonathan Murdoch se Post-struturalist geography, a guide to relational space (2006) en besef weereens hoe mens Foucault sonder veel moeite in Derrida kan vertaal, en vice versa … In die begin sou daar een of ander separasie/apartheid/relasie/malheid/woord/spoor/skrywing/ge-heim moes gewees het …)

    En toe leer ek nou die volgende uit my WAT:

    “heim b.nw. (weinig gebruiklik, digterlik) Geheim: Hiëroglifiese skriftuur / van die heime skeppingsmag (Eitemal)”.