Hein Viljoen. Parys

Parys

ek is in die grys donkerte afgevoer
in die ingewande van jou terminaal
met ’n pyp langs gesluk in ’n bus uitgespoeg
ek het deur tonnels geslinger in jou
rasende moltrein in ’n breë straat daglig aanskou
my tas agter my aangesleep

ek het in notre dame die mis beleef
die orrel gehoor pragtige sang en die hele gedoe
met wierook u woord in twee tale
en die hostie droog op my tong tussen duisende
pelgrims nuuskieriges toeriste en ’n sakkeroller of twee
my hoof gebuig en die oomblik beleef
swaar en dik en heilig of iets
ek weet nie meer wat

ek het motors om jou arc sien jaag
wonderbaarlik sonder om te bots met die champs
elyssee langs geslenter die winkels aangegaap
jou obelisk beskou van egipte gesteel tot eer
van die Franse Republiek en ek het macdonalds geëet
tot my skande maar darem goedkoop

ek het jou vroue bewonder donker
en sensueel in lang toue verby jean cocteau
se werk gestrompel vol onbegrip
hier en daar gesigte begin herken
’n beeldskone blondine oorkant die straat sien loop

in d’orsay het ek in die hoë lig
langs manet en monet en toulouse lautrec afgestap
olympia se smeulende blik probeer ontwyk
my in jou grotte ingewaag waar monsters knarsend
op staalspore om die draai in die donker wegraak

ek het onder die eiffel gestaan sy fondasies
bewonder sy dik staalbalke langs
die fonteine wat wit in jou sonlig spuit
gesinne verby sien rollerblade ’n arabier
wat poskaarte vir vier euro verkoop

ek het in les halles beangs na my perron gesoek
deur ’n golf jasse meegesleur aan my tas bly klou
verward na die regte trein gevra my rug amper
teen die muur ’n droë toebroodjie probeer sluk

een in die hoek se oog vlugtig gevang
nog een se handjie was klein toe ons groet
o ja bruin uiesoep soos ’n werker geëet
en ’n oester ook maar die res alles vergeet

© Hein Viljoen / 2016

Bookmark and Share

Comments are closed.