Andries Bezuidenhout. Dis my geheim

Selfportret van Lucian Freud

Selfportret van Lucian Freud

I

“Dis my geheim” was ʼn program op Suid-Afrikaanse televisie in die 1980s. Die aanbieder was Cobus Robinson, ʼn radio omroeper, TV-aanbieder en stemkunstenaar. Hy was ook die eerste aanbieder van die radio aktualiteitsprogram “Monitor”. Die ander deelnemers was Carel Trichardt, Sybil Coetzee een Alewyn Lee. Trichardt en Coetzee is bekende akteurs. Lee was ʼn kultuurman en was legendaries by die SAUK vir sy pogings om goeie Afrikaans te bevorder. Hy was ʼn lid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), asook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy was ʼn taaladviseur aan die SAUK en het die program “Skrywers en boeke” vir jare aangebied. Hy het Anton Tsjekof se dramas Die seemeeu, Die kersieboord, Drie susters, Oom Wanja, Die buffel en Die groot vraag in Afrikaans vertaal en is ook hiervoor bekroon.

Ek het die web gefynkam vir video-uittreksels uit “Dis my geheim”. Helaas, daar is niks te vinde nie. Ek maak dus hier op my geheue staat. Met elke episode van “Dis my geheim” is ʼn gas aan die kykers voorgestel. ʼn Vreemde spookstem het die gas se beroep aangekondig. Carel Trichardt, Sybil Coetzee en Alewyn Lee moes dan uitvis oor die persoon se beroep en kon na ʼn aantal vrae raai wat die beroep was.

Uitnodiging na verlede jaar se voorlesing

Uitnodiging na verlede jaar se voorlesing

II

Loftus Marais reël ʼn poësievoorlesing in The Whippet in Linden, Johannesburg. Hy vra Bibi Slippers, Melt Myburg en my om saam met hom te werk aan gedigte oor Lucian Freud se windhond (volg skakels op hul name na hul gedigte). Ek het nog altyd ʼn fassinasie met Freud se werk. Hy was ʼn tipe kultusfiguur en na sy dood is daar vele stories oor sy legendariese veelwywery en misogenie gepubliseer. Sommige mense ervaar sy portretstudies as wreed en beweer dat hy meer simpatie vir sy honde as vir sy menslike modelle gehad het. Julian Barnes is besonder krities op Freud in ʼn bundel opstelle oor kuns wat onder die titel Keeping an Eye Open gepubliseer is: “Freud’s men, on the whole, keep their clothes on, and lead with their faces; Freud’s women, on the whole, (are made to) take their clothes off, and lead with their pudenda. His animals, which are allowed to keep their genitalia hidden, come out best of all…” Miskien kan dit ʼn onderwerp vir ʼn gedig wees. Ek werk aan een met Barnes se aanhaling as motto. Ek sukkel om met oortuiging te skryf. In my navorsing kom ek onder die indruk van hoe koud Freud se hantering van beide mans en vroue in sy naakstudies is. Wat Barnes oor die windhonde skryf is ook nie heeltemal waar nie, alhoewel die dubbele gebruik van “on the whole” seker die gat in sy argument toestop.

Dan is daar liefdesbriewe tussen ʼn jong Freud en Stephen Spender wat eers na Freud se dood gepubliseer is. Freud is nog altyd as heteroseksueel gesien, dalk omdat hy na bewering ten minste veertien kinders gehad het. Die briewe veroorsaak ʼn mediasensasie. Hieroor skryf Jonathan Jones in die Guardian: “The Freud/Spender letters are not just another bit of tittle-tattle. They are a caution that we should not crudely interpret art by biographical assumptions. Freud clearly liked sex, of that we can be sure. But as a painter, he achieves something stranger and more universal than lust. He sees people beyond the constraints not merely of clothes, but of gender.” ʼn Ander moontlike onderwerp vir ʼn gedig. Probeer weer. Onsuksesvol, maar ʼn idee bly iewers hang.

Skildery met David Dawson as model

Skildery met David Dawson as model

III

As mens onderhoude met Freud se modelle lees, is daar meestal net deernis en waardering vir die ervaring. Van sy vele kinders kon deur vir hom te poseer ʼn tipe gespreksverhouding met hom opbou. Veel ander tyd vir kuier het hy nooit gehad nie, omdat hy dag en nag gewerk het. Dit kan ook ʼn onderwerp vir ʼn gedig wees. Freud as vader en sy oupagrootjie se psigoanalise. Flake white was een van Lucian Freud se gunstelingkleure, maar verskaffers het opgehou om dit te vervaardig omdat dit giftige lood bevat. Freud het egter ʼn massiewe voorraad van Winsor & Newton aangekoop. Ek probeer om ʼn gedig hieroor te skryf en kom die verste. Dis egter flou, te “obvious”.

FLAKE WHITE

Sondagmiddag, voorstedelike motorwasroetine –
trek die tuig in, vensters toe, sitplek teruggeslaan.
Maak my oë toe, hoor hoe kompressor
bakwerk blaas, dan, seepskuim teen vensters en die wieg,
wieg van die afsponsproses. Vrye-assosiasie.

Flake white, olieverfkleur vol lood.
Baie, baie giftig, maar die witste wit onder die wittes,
só wit dat Lucian Freud honderd buisies
by Winsor & Newton bestel het vir ingeval
titanium lood finaal sou vervang.

Flake white, lankal in Suid-Afrika onbekombaar.
Hier meng jy loodvrye witte by jou flesh tint
as jy jou ma of minnaar moet skilder.

 

Freud aan die werk

Freud aan die werk

IV

Danksy David Dawson, Freud se assistent, kan mens die skilder se werksprosesse op ʼn dokumentêre film bestudeer. Dawson was ook die onderwerp van ʼn hele aantal naakstudies waarin een van die windhonde figureer. Die ateljee was vol lakens wat deur hotelle weggegooi is. Van die modelle het op hierdie lakens gesit of gelê. Repe is afgeskeur en voor by Freud se broek ingedruk om kwasse en paletmesse mee af te vee. Hy het altyd sy blou serp gedra en stadig gewerk. Kwaspunte is korter geknip en hy het nooit sy verfbuisies se proppies teruggedraai nie, bloot die droë verf teen ʼn muur in sy ateljee afgekrap. Hy het kleure op sy palet gemeng, dan een streep op die doek getrek. Eers weer verder gemeng. Kyk, talm. Gesels met die model. Dan nog ʼn kwashaal. ʼn Portretstudie kon maande duur en sy modelle moes maande aan hom afstaan vir die proses.

Freud het sy huis aan David Dawson nagelaat. Dawson het die ateljees – een met ʼn glasplafon, vir dagwerk en een met helder ligte teen die plafon, vir nagwerk – net so gelos soos Freud dit gelaat het toe hy een middag moeg word, gaan lê en toe sterf. Die laaste kleurbuisie wat hy gebruik het, was terra verte.

Hoekom onthou mens sulke onbenullige detail? En wat het my aan Dis my geheim laat dink? Dalk die feit dat dit bitter moeilik is om iemand wat so kontroversieel, maar tog so kompleks soos Lucian Freud is, in ʼn gedig op te som. Ek is steeds nie tevrede met die gedig nie, maar dis gangbaar. Dit kan in ʼn koffiewinkel voorgelees word.

DIS MY GEHEIM

Eliot said that art is the escape from personality.
– Lucian Freud

Linden woonkamer, 1980s. Ferweelgordyne,
diefweringskaduwee op parketvloer.

TV-stelbuis pruttel aan. In ʼn snoekertafelhoeksak
verskyn ʼn ligroos bal. O, dis Cobus Robinson:

“Welkom by, Dis my geheim!”
Naderskoot van ʼn maer man met ʼn blou serp.

Dan die gebruiklike spookstem:
“Lucian Freud is ʼn skilder.”

Hm, anders as die gewone vertikale-gebou-vervoeroperateur,
varksemenkoerier of akwatiele veearts.

Alewyn Lee, Sybil Coetzee en Carel Trichardt
moet nou uitvis, die gas se nering raai.

(Natuurlik sien ons deur die skerm. Dis volksberoepsleiding
as game show gemaskeer. Nietemin, ongeloof opgeskort.)

Alewyn eerste aan die word:
“Is dit binnenshuis of buitenshuis?”

Freud mompel iets oor beide,
interieure landskappe, dagskof met Londen-lig.

Sybil se beurt:
“Werk u met mense of met diere?”

Freud mompel iets oor beide,
stillewe as natuurtoneel, kind, windhond, moeder.

Nou Carel Trichardt:
“Werk u ekspressionisties of realisties?”

Freud mompel iets oor beide,
dat sy subjekte meer soos sy portrette lyk

soos hulle ouer word en of dít nou
ekspressionisties of realisties is

of selfs konseptueel en anyway,
wat het dit met júlle uit te waai?

Dis Suid-Afrika in die tagtigs en julle is gefok,
kyk net die Bettie Cilliers Barnard bo die kaggel.

Skree Alewyn:
“Veelwywer, afwesige vader!”

Gil Sybil:
“Pervert – daai wydsbeenvroue!”

Bulder Carel:
“Wat van die Spender-briewe, Luscious Fruit?”

Kug Cobus:
“Meneer Freud, u reaksie?”

[Vertaalde transkripsie van Freud se antwoord]:

“Julle meld van ʼn ander tyd, ʼn ander land, ʼn ander taal aan
en op daardie noot is dit lood wat my witte

witter as julle maak, my linne is met terra verte besmeer
so gaan blaas my halfleë buisieproppies

as ek droë verf teen kosyne afskraap en met varkhaar
merke op my sitters laat, hulle oor weggooilakens

drapeer en interrogeer, maar wat maak dit saak?
Ek bely:

Lucian Freud was skilder van beroep
en die res is sy geheim.”

Cobus Robinson

Cobus Robinson

V

Alewyn Lee is in 1993 op die ouderdom van 66 in Johannesburg aan lewerkanker oorlede. Cobus Robinson het na sy aftrede by die SAUK saam met sy lewensmaat Albert Venter in Bedford in die Oos-Kaap gaan woon, waar hulle ʼn gastehuis bedryf het. Robinson is in 1996 met terminale longkanker gediagnoseer, maar het nogtans oorleef. In Januarie 2005 is Robinson weens ʼn abses in sy maag geopereer en is kort na die operasie in Port Elizabeth oorlede. Kort na sy dood het Albert Venter selfmoord gepleeg. ʼn Vriend van Robinson en Venter is in die media aangehaal: “Cobus het al die jare sy oorlede ouers se as saam met hom rondgekarwei. Hy het altyd gesê sy as moet ná sy afsterwe saam met dié van sy ouers oor die see gestrooi word. Ek vermoed Albert se as sal nou ook bygevoeg word.” (Rapport, 13.02.2005)

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Dis my geheim”

  1. Maria Snyman :

    Sjoe, Andries, wonderlike stuk! Het jy al ooit werk van Rudolph Vosser gesien – ek besef nou ewe skielik hoe naby van sy laaste werk aan Freud s’n is! Vosser het van die (algemene lewens)toneel verdwyn – niemand wat ek ken weet iets van hom nie behalwe dat hy nog in sy huis bly waar hy nie antwoord as mens klop nie. ‘n Ongelooflike verstand en talentvolle skilder het ondergronds gegaan … “dis [sy] geheim” (dalk dwelms, dalk iets anders …?)

  2. Dankie Maria, ook vir die wenk oor Rudolph Vosser. Ek sien hy kom van Stella af.

  3. Leo Vashnikov :

    “dat hy nog in sy huis bly waar hy nie antwoord as mens klop nie”: dat lijk me in deze wereld een ideaal toestand, en toenemend helemaal niet uniek…

  4. Dit was baie interessant om te lees, ek het nog nooit van Lucian Freud gehoor nie.

  5. Maria Snyman :

    Leo, laat jy my nou lekker lag. Jy het ‘n goeie punt beet, want anders sou daar mos vrede en versorging vir als wat leef en beef op aarde gewees het. Ek sien jou opmerking in die lig van Derrida (2004:119) se frase “unbounded generalization” wat mens kan vertaal in ‘n ander opmerking van hom (2001:58) naamlik “We know in common that we have nothing in common”. Ons is almal (te?) tuis om die ander te (wil) hoor klop …
    Gewis een “een ideaal toestand” want ons kan die ander ook nooit heeltemal weerstaan nie. Ek is vertel dat daar hope klippe op die sypaadjie buite Vosser se erf lê wat hy blykbaar snags aanry (want niemand sien hom ooit) … Sy hande was altyd besig … Dalk bou hy iets ondergronds daar in die put agter in sy erf …

    Andries, was jy ooit by Die Jaart (die windpomp was al die pad van Stella af ingevoer) en die Boerebar (bestuur deur Gilda Swanepoel) daar in Hatfield in Pretoria? Dit was een van Vosser se ander skeppings, saam met Philip Uys (eertydse eienaar van die Barrydale Hotel). Vosser was nie net ‘n skilder nie, maar ek dink die volgende woorde uit jou gedig mag van toepassing wees:

    ““Julle meld van ʼn ander tyd, ʼn ander land, ʼn ander taal aan
    en op daardie noot is dit lood wat my witte

    witter as julle maak, my linne is met terra verte besmeer
    so gaan blaas my halfleë buisieproppies

    as ek droë verf teen kosyne afskraap en met varkhaar
    merke op my sitters laat, hulle oor weggooilakens

    drapeer en interrogeer, maar wat maak dit saak?”

  6. Maria, ek onthou die Boerebar. Ek ken vir Gilda, ook Monchichi, haar mees onlangse projek in Johannesburg se middestad. Ek dink sy reis op die oomblik deur die Oos-Vrystaat. Sy’s een van daardie mense wat mens dankbaar maak dat jy ‘n Suid-Afrikaner is, al staan ons Weimar-era nou einde se kant toe. (Nou onthou ek ook Berlin in Melville.)