Wicus Luwes. Tale wat die vingers praat

like_unlike_facebook

Vingers het hul eie taal. Ek verwys nie hiermee na die formele vingertaal of gebaretaal nie. Vingertaal is ook nie noodwendig ‘n onderafdeling van lyftaal nie. Formele vingertaal en gebaretaal verskil, anders as algemeen aanvaar, van streek tot streek. Die informele vingertaal is moeilik om te definieer en kan miskien eerder na aanleiding van simboliek neergepen word. Anders gestel: Lekker mag dalk net ‘n vinger lank wees, maar die simboliek agter vingers is veel langer. Die standaard ‘Like’-handgebaar, soos gebruik deur Facebook, beteken ‘regso’, ‘kulungile’ of ‘ek hoor wat jy sê’ vir die deursnit Suid-Afrikaner. Die duim na bo en duim na onder het natuurlik, volgens oorlewering, sy oorsprong by die Romeinse Kolosseum. Die Latynse frase ‘pollice verso’ verwys na ‘n gedraaide duim en word deur baie gesien as die manier waarop Romeinse gehore besluit het oor die lot van die vegters in die kolosseum. Jean-Léon Gérôme se skildery, Pollice Verso van 1872, stel so ‘n kolosseum-toneel voor waar die duim gebruik word om die geveg se lot te bepaal.

polliceverso

 Jean-Léon Gérôme se skildery, Pollice Verso

Ander bronne wil hê dat die ‘duim na bo’ moontlik van Middeleeuse kontrakte afkomstig is. Die kontrak sou bekragtig word deur die deelnemers aan die kontrak wat hul duim lek en teen die ander deelnemers se duim druk. Dit was sekerlik die Middeleeuse ekwivalent van die hedendaagse bladskud oor ‘n saak. Nog ‘n voorbeeld van die gebaar vind ons in Diego Velázquez se ‘Die Middagete’. Interpretasies verskil of die een persoon in die skildery net aandui dat die ete sy goedkeuring wegdra en of hy dalk wys dat hulle pas ‘n ooreenkoms aangegaan het. Dit is sekerlik algemene praktyk dat daar geëet word wanneer daar ‘n kontrak gesluit word.

Diego_Velázquez_016

Diego Velázquez se ‘Die Middagete’

Daar is wel plekke waar die duim na bo ‘n neerhalende betekenis het. So was daar die geval in Irak, waar dit gebruik word op ‘n soortgelyke wyse as die middelvinger hier by ons. Die verhaal word vertel dat met die aankoms van Amerikaanse troepe in Irak, die landsburgers hul met ‘n duim-na-bo verwelkom het. Die troepe was natuurlik maar te bly oor die ‘thumbs up’ en so is die komedie agter inter-kulturele kommunisasie beklemtoon. Nog ‘n voorbeeld van handgebare wat tot ‘n misverstand kan lei, is die oorwinningsteken of die V vir ‘Victory. Iets so subtiel soos die draai van ‘n handpalm kan daartoe aanleiding gee dat mense van dieselfde land mekaar verkeerd verstaan. Churchill is een van die eerste bekende voorbeelde van iemand wat die uitgestrekte voor- en middelvinger sy eie gemaak het. Aan die begin het hy die teken dikwels met sy kneukels na buite gewys, totdat iemand hom meegedeel het dat die teken maklik as ‘flipping the bird’ gesien kan word – weereens ‘n neerhalende betekenis.

Die uitgestrekte voor- en middelvinger is egter een van die interessantste tekens, aangesien dit een van die tekens is wat tot ‘n sekere mate oorgeneem of gekaap is. Die ‘Victory’ vir die soldaat het ‘n teken van vrede vir die hippie geword. Die oorwinningsteken wat tydens en na die Tweede Wêreldoorlog in die 1940’s gebruik is, word die vredesteken van die Viëtnamese oorlog in die 1960’s. Verder moedig die Belgiese politikus, Victor de Laveleye, in 1941 mense aan om die simbool te gebruik aangesien dit mense in sy land saam kan bind, want die V kan vir sowel ‘victoire’/oorwinning in Frans as ‘vrijheid’ in Vlaams/Nederlands gebruik word. Die Rap / Hip-hop beweging vind weer aanklank by die bendelewe – daar het die V-teken ook posgevat en kry ‘n betekenis wat iewers tussen ‘n uittarting en ‘n falliese simbool staan. (Die Rap / hip-hoppers se weergawe van die V-teken het erg oorgespoel na die huidige jeug se foto’s – en bitter min van hulle het enige idee wat dit simboliseer. Dit word meerendeels ter wille van nabootsing op foto’s herhaal.)

winstonchurchill_vsign

As ons by die musiek stil sou staan, moet die rockers se uitgestrekte pinkie en wysvinger darem ook bespreek word. Rodney Seale se grootste nagmerrie en die dowe gebaar om hallo te sê – weereens verdeel die vingertaal/handgebare die gehoor in twee kampe. Malcolm Young van AC/DC het dimensie en kan nie aldag meer die drukke van die bekende groep se liedjies onthou nie. Ek wonder of die uitgestrekte pinkie en wysvinger nog iets vir hom sal beteken in die jare wat voorlê? Ek wonder hoeveel mense het hy al die teken sien maak in konsertgehore dwarsoor die wêreld? Hoe maak ‘n mens as die tekens wat jy voorheen geken het nie meer iets vir jou sê of beteken nie?

justback_1704094c

ode aan malcolm young

eelte op die vingers
kringfluite in die gees
thunderstruck op lugkitare

My kinders gebruik gereeld hul hande en vingers om diere teen die muur te silhouette. Die handgebare ontsluit ‘n wêreld van verbeelding: Voëls wat vlieg teen die kamermure; diere wat praat en baklei. Die speletjie begin gewoonlik op die naat van die rug, maar eindig met die kinders wat albei op hul beddens staan en saamspeel. Die vingers word gemanipuleer om oë en monde te vorm. Die middelvinger en voorvinger word diere se bekke en tande wat beweeg en groter en kleiner word na gelang van hoe ver hul van die bedlampie af staan.

nagvlinders

vingers ingehak
skadubeelde agter lig
vlindervlerke teen die muur

 

Wikipedia beskryf lyftaal as ‘n vorm van nie-verbale kommunikasie waar gedagtes, intensies en gevoelens oorgedra word deur middel van fisiese gedrag. Hierdie fisiese gedrag sluit gesigsuitdrukking, liggaamshouding en -gebare, oogbewegings, aanraking en die gebruik van ruimte in. Vingertaal en gebaretaal is nou wel nie ‘n vorm van lyftaal nie, maar maak ook gebruik van nie-verbale metodes om te kommunikeer. As verbale kommunikasie klank as medium gebruik, moet nie-verbale klank seker mediums soos sig gebruik om ‘n boodskap mee oor te dra. Die medium en ruimte van vingertaal of gebaretaal interesseer my. Ek probeer luister na die klanklose kommunikasie en die geluidlose geluide. Vingertaal en ander vorme van nie-verbale kommunikasie praat dikwels harder as wat enige ander vorm van kommunikasie kan doen.

 

Vuil hande

pa, ek onthou ‘n plaas wat afgee aan jou hande:
roes van waenhuisslotte, braai-as onder naels
‘n afgeslagte bok
se moeilik-afgewaste bloed en stront
muf en sweet van die bakkie se stuurwiel
die geweer in jou hand los ‘n reuk van metaal
drifsand in jou palm, lewenslyne, houtgryne,
jaarringe, ou beginne in eelt en nerf

pa, ek onthou, ek het geval op die werf:
ek huil, jy vee my wang, “nikse getjank”
en los ‘n smeermerk
soos ‘n geboortevlek
soos oorlogverf

deur Loftus Marais uit ‘Staan in die algemeen nader aan vensters’

 

Sonnet 49 — XLIX From: ‘Cien sonetos de amor‘

It’s today: all of yesterday dropped away
among the fingers of the light and the sleeping eyes.
Tomorrow will come on its green footsteps;
no one can stop the river of the dawn.

No one can stop the river of your hands,
your eyes and their sleepiness, my dearest.
You are the trembling of time, which passes
between the vertical light and the darkening sky.

The sky folds its wings over you,
lifting you, carrying you to my arms
with its punctual, mysterious courtesy.
That is why I sing to the day and to the moon,
to the sea, to time, to all the planets,
to your daily voice, to your nocturnal skin.

It’s today: all of yesterday dropped away
among the fingers of the light and the sleeping eyes.
Tomorrow will come on its green footsteps;
no one can stop the river of the dawn.

It’s today, it’s today…

deur Pablo Neruda

breytenkopdoekbreyten breytenbach

Bronne
Internet. http://time.com/3880345/v-for-victory-a-gesture-of-solidarity-and-defiance/
Internet. http://uncyclopedia.wikia.com/wiki/Backwards_Peace_Sign
Internet. http://www.todayifoundout.com/index.php/2014/10/give-thumbs-gesture-get-start/
Internet. http://www.litnet.co.za/heita-pappiepiet-my-bru/
Internet. https://en.wikipedia.org/wiki/Diver_communications
Internet. https://en.wikipedia.org/wiki/The_Lunch_%28Vel%C3%A1zquez%29
Internet. https://en.wikipedia.org/wiki/V_sign
Marais, L. Staan in die algemeen nader aan vensters

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Wicus Luwes. Tale wat die vingers praat”

  1. maria snyman :

    Is jy bewus van Jay-Z se Roc-teken? Met die handpalms na voor, met die duime en voorvingers teen mekaar maak dit ‘n driehoek/piramide of diamant – deur die hande so te hou dat die oog deur die driehoekvenstertjie gesien word, maak dit ook die teken van die “Alsiende Oog”, ‘n bekende Illuminati simbool (onderskei met laasgenoemde tussen Illuminati as die naam van Weishaupt se beweging [wat bestaan het vanaf 1776 tot 1785/1787] en die naam geassosieer met die samesweringsteorie oor ‘n magtige finansiële elite wat aan die orde van die wêreld staan) en wat sedert 1935 op die Amerikaanse 1 dollarnoot verskyn.
    Met die hande in die lug is hierdie ook die teken wat deur die Joodse Kohanim (beskou as afstammelinge van Aaron, die hoëpriester en broer van Moses) gemaak word om die “priesterlike seën van Kohen” (Numeri 6:22-27) uit te spreek.
    In Suid-Korea het ek groot pret gehad met die “duh!”-teken – met al die vingerpunte van een hand teen mekaar, met die hand afgebuig en skuddend voor die gesig wat mens maak vir iemand wat baie simpel is. Die Koreaantjies (so mal oor die haasoortjiesteken agter die kop op foto’s) was gefassineerd deur hierdie teken wat hulle nie geken het nie – meestal vir stoutekabouter seuntjies gewys.
    Lank gelede het ek ‘n ou Mercedes gehad wat ek aspris baie vuil gehou het (met [gedroogde en vars] moerbeie en babapoeier [=muti]!) met die hoop dat niemand hom sal steel nie – die uitlaat is baie keer geloof vir die enjin wat so mooi wit brand; ek het baie aanbiedinge by vulstasie gekry. Ek moes gereeld by stopstrate ‘n toet hoor wat my laat vaskyk het in iemand wat vir my die “was jou kar”-teken gemaak het! Ek het dan maar net baie vriendelik terug geglimlag. Ek moes die geliefde kar uiteindelik verkoop toe die petrol so duur begin raak het.
    “No one can stop the river of your hands” … Te wonderlik vir woorde!

  2. Maria Snyman :

    Lieflike skrywe Wicus! Pragtige gedigte en veral die slot so met gekopdoekte Breyten wat sê: “trap in jou spore (‘watch out’) – vrede/wees skerp/wees okei!” (soos ek dit lees).

    (Laasgenoemde is die eerste paragraaf van die vorige kommentaar, net so om die rowwe begin daarvan te versag – daar was probleme met die oplaai daarvan en toe bly bogenoemde paragraaf in die slag.)

  3. Wicus Luwes :

    Dis nou omtrent interessant, Maria. Ek het op heelwat tekens afgekom met die saamstel van die skrywe. Die Roc-teken en geheime handdrukke van organisasies, kan ‘n mens nuwe insigte in bekendes soos Jay-Z se lewens gee. Die ooreenkomste kan nie altyd toevallig wees nie. Die vingertaal en handtaal sluit hele wêrelde vir my oop. Die kompleksiteit van sulke gebare lê natuurlik in die eenvoud.
    Wat die ou Mercedes aanbetref: Daar is nie meer motors wat hobbels en gate in die pad kan vat soos daardie ou Mercedes-motors nie. Op ‘n ligte noot: Die petrol-liggie op die ‘dashboard’ lyk vir my veels te veel na ‘n mannetjie wat sy kop krap en dit is net nog ‘n vorm van vingertaal wat ons lewe beheer.