Andries Bezuidenhout. Peau noire, masques blancs

"Stillewe met Breytenbach se 'Die na-dood', 'Die singende hand' en bottel terpentyn", olie op doek, 25x25cm

“Stillewe met Breytenbach se ‘Die na-dood’, ‘Die singende hand’ en ‘n bottel terpentyn”, olie op doek, 25x25cm

I

staan poppie staan
en laat jou gedagtes gaan
sodat jy vir my kan sê
hoe ver die liefde lê

Die masker, in Grieks prosopon, was ʼn integrale deel van antieke Griekse teateropvoerings. Op ʼn praktiese vlak het maskermondstukke as luidsprekers gedien, sodat gehore in groot amfiteaters kon hoor wat akteurs kwytraak. Een akteur kon verskillende rolle in ʼn teaterstuk speel deur van masker te verwissel. Omdat alle akteurs manlik was, het maskers hulle in staat gestel om vroulike rolle te speel.

Benewens maskers het sekere antieke Griekse teaterstukke ook van poppe gebruik gemaak. Die Griekse woord vir pop is nevrospastos. Nevron verwys na ʼn tou of ʼn sening en spao na trek – m.a.w. ʼn pop is iets wat aan ʼn tou getrek word. Deesdae noem ons sulke poppe marionette. Griekse teatermarionette is tipies van terracotta gemaak. Daar is ʼn lang tradisie waarin poppe as spelers in satiriese teater gebruik word om dinge te sê wat te gevaarlik vir menslike akteurs sou wees. In Lübeck is daar ʼn museum wat aan teaterpoppe toegewy is. Benewens marionette kry mens deesdae verskillende tipes poppe: Vingerpoppe, skadupoppe, kouspoppe en handpoppe.

"Poppedans", olie op doek, 25x20cm

“Poppedans”, olie op doek, 25x20cm

II

Breyten Breytenbach skryf:

was dit dan Rimbaud wat die digkuns
aan die vooraand van sy vertrek
Afrika toe
op sy knieë moes neem sodat sy
kon ween?

want in Afrika
is die voorreg van digter te wees
immers dat jy nie pa hoef te staan
vir jou opinies nie

jy maak die gedig sit op jou skoot
ʼn lieflike
buikpop:
laat haar dan al dansdansende
vryheidsliedere sing vir Afrika

Buiksprekers gebruik gewoonlik armpoppe, sodat dit lyk asof die pop op die poppemeester se skoot sit. Die twee kan dan ʼn gesprek voer. Buiksprekers verander klanke effens, sodat hulle nie hul lippe hoef te gebruik as hulle praat nie. Die m-klank word byvoorbeeld as “ng” uitgepreek. “Ma” word byvoorbeeld “Nga” en “nader” word “ngader”. Die b-klank word tipies ʼn “d” of “gh”, die w-klank word “th” (soos die Engelse “they”), die s-klank word “th” (soos die Engelse “third”) en ek het nou vergeet wat om met ʼn p-klank aan te vang, dalk ʼn “k”. Buiksprekers verander met ander woorde hul lipklanke met soortgelyke, maar liplose klanke. “So kan ngens thir jou duikkok the thoorde ka staan.”

"Poppespel", olie op doek, 25x25cm

“Poppespel”, olie op doek, 25x20cm

III

ʼn Paar weke gelede woon ek ʼn werkswinkel in die skilder Andries Gouws se ateljee in Jamestown (naby Stellenbosch) by. Dit handel oor die gebruik van olieverfkleure (meer oor die werkswinkels hier). Eers meng mens verskillende kleurskakerings met die drie primêre kleure: magenta, siaan en suurlemoengeel. Plus wit, want wit is nie ʼn kleur nie. Dan gebruik mens hierdie kleure om aan ʼn stillewe te werk. Later word die drie primêre kleure met ander kleure vervang: soos indigo, Indiese rooi en rou sienna. Plus wit, want wit is nie ʼn kleur nie. Of magenta, viridien en gebrande omber. Plus wit, want wit is nie ʼn kleur nie. Die teorie is dat ʼn beperkte palet die skilder uitdaag om versigtig oor kleur en kleurkombinasies na te dink. Dis soos om ʼn lied in ʼn sekere sleutel te komponeer, of om ʼn gedig in ʼn vaste vorm te moet skryf.

In Andries se ateljee is uie, eiers, rissies – objekte wat die skilder van stillewes verder uitdaag om, benewens kleur, oor vorm en tekstuur na te dink. Dis die tweede keer dat ek die werkswinkel oor kleur bywoon en voel effe verveeld met uie, eiers en rissies. Ek sou foto’s kon gebruik om aan landskappe te werk, maar ek weet ʼn belangrike deel van die werkswinkel se metodiek is om fyn waar te neem. Wat kan ek as monster vir my volgende stillewe gebruik?

"Poppekas", olie op doek, 25x20cm

“Poppekas”, olie op doek, 25x25cm

IV

Terug in Kaapstad, ná die werkswinkel se eerste dag, gaan loer ek wat op Versindaba aangaan. Breyten Breytenbach se nuwe digbundel, Die na-dood, en ʼn nuwe versamelbundel, Die singende hand, is pas gepubliseer. Elke oggend hou ek by ʼn winkelsentrum net buite Jamestown stil om koffie te drink en om iets vir middagete te koop (ʼn lekker ongeskikte kaas, tamaties en sommer ʼn fles rooiwyn as digestief – wit, rooi, rooi). Daar is ʼn boekwinkel in die sentrum, nie die tipe winkel waar mens sou verwag om poësie aan te tref nie. Ek waag ʼn kans en doen navraag. Hulle het kopieë van albei Breytenbach se nuwe boeke (Jammer Louis, ek kon nie wag nie). Ek vat sommer die twee boeke ateljee toe saam en besluit om ʼn stillewe daarvan aan te pak. ʼn Bottel gedistilleerde terpentyn (in Kleinmond vervaardig) beland saam met die boeke in die prent.

Die volgende dag hou ek weer by die winkelsentrum stil om koffie te drink en om iets vir middagete te koop (dolmades, groenboontjies en maaskaas – groen, groen, wit). Op die winkelrak loop ek ʼn reeks poppe raak. Ek haal een af. Sy lyk soos ʼn Barbie, maar kos R36-90, goedkoper as gister se ongeskikte kaas. In Ronelda Kamfer se bundel “Hammie” skryf die digter-spreker oor haar suster Allisen wat in ʼn winkel “tussen/ Barbies en Ninja Turtles” afdwaal en dan wegloop. Hierdie laaste gedig in die bundel se titel is “Wees lief vir mekaar, kyk agter haar Neldie, sy’s jou suster…” In die inhoudsopgawe word die gedig egter as “Bonusvers” aangedui. Ek dink ek hou dalk meer van “Bonusvers” as titel vir die gedig, juis omdat hierdie laaste gedig so belangrik vir die digbundel as geheel is. Ek lees dit as ʼn tipe sleutelvers. Ek hou ook van die feit dat die twee titels verskil. Eindes is waarskynlik selde eenselwig. Die laaste gedig in Die na-dood se titel is ook “die na-dood”. Dit verwys na “lig wat lankal weg is/ en nou eers brand”. Alhoewel die inhoudsopgawe dit as laaste gedig aandui, is daar ʼn leë bladsy daarna, gevolg deur vier reëls wat in kursief gedruk is – ʼn tipe motto as laaste woord of refrein. Die laaste gedig is nie die laaste gedig nie.

Hierdie gedagtes tussen die speelgoedrakke ter syde; dalk kan ek vandag die Barbie look-alike pop as model gebruik. Die probleem met só ʼn pop is egter dat dit baie maklik kitsch kan lyk as mens dit in ʼn skildery gebruik. Dis egter die tipe uitdaging waarvan ek hou – ek werk immers meestal aan landskapskilderye. Ek dink aan die versameling Afrika-maskers in Andries se ateljee. Dalk kan die pop met die maskers in gesprek tree. Wat sou hulle vir mekaar kon sê?

Verwysings:

“(die buikspreker)” uit Breyten Breytenbach, Die singende hand: Versamelde gedigte 1984-2014 (2016, Human & Rousseau), p. 702.

“Wees lief vir mekaar, kyk agter haar Neldie, sy’s jou suster…” uit Ronelda S. Kamfer, Hammie (2016, Kwela), pp. 94-95.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Peau noire, masques blancs”

  1. Maria Snyman :

    Andries, herinner jy my nou – so met jou “voel effe verveeld met uie, eiers en rissies” – aan die stillewe wat ons elke Woensdag van 2 tot 5 nm in standerd 9 en 10 gedoen het. Sonder om jou te kritiseer, ek kan nie onthou dat ons ooit oor verveling gekla het nie. My punt is, ek wonder wat kinders vandag van so ‘n roetine sal sê?!

    Ons kunsjuffrou was “tannie van Zyl” (soos ons haar genoem het) en my matriekjaar was ook haar laaste jaar in die onderwys. Sy was toe al lankal beroemd vir haar studente se uitstekende werk. Een van haar geheime was: die beste kwaliteit kwasse, gouache, pastelle (Rembrandt) en papier. ‘n Mens het al in standerd 6 geweet wat jy in matriek gaan doen. Suiwer uitstekende tegniek – dit was haar doel. Dit mag nie baie kreatief in vandag se terme klink nie, maar dit maak vir my sin – beman iemand met tegniek, met vaardigheid en los sy verstand uit vir hom/haarself …

    Sy was asmaties en het altyd twee klein hondjies van ‘n sekere soort by haar gehad – hulle was glo goed vir asma – en sy het dus selde van haar stoel opgestaan. As mens kla oor ‘n appel of ‘n skynsel op die koperpot of oor hoe die lig deur die groen bottel of turquois organzalap val wat jy nie regkry nie het sy net gesê: “Kyk wat jy sien”. Die meeste van haar studente het A’s van die departement gekry vir daardie stillewes …

    Sy het die mensliggaam met die mooiste lyne geteken … Tussen my pa se Scopes en tannie van Zyl se hand as sy die mens se liggaam teken is ek steeds versot op die naakfiguur as genre …

    En nou het ek nog eers begin vertel van hoe sy kunsgeskiedenis aangebied het nie … my mond het oopgehang oor wat sy wys en vertel, vanaf die Egiptiese piramides in standerd 6 tot by Dada en die Surrealiste in standerd 10 …

    Aan tannie van Zyl:

    “laat haar dan al dansdansende
    vryheidsliedere sing vir Afrika”

    Dankie vir nog ‘n lekker blog.

  2. Maria, dis nou ‘n heerlike reaksie om te lees! Interessante punt oor tegniek en verstand. Tannie van Zyl het darem die verstand betrek by die deel oor kunsgeskiedenis, maar ek verstaan wat jy bedoel met die waarde van ʼn tegniese opleiding wat nie op ʼn tipe styl aandring nie. Kazuo Ishiguro se “Artist of the floating world” is in hierdie verband ʼn interessante boek – oor die skool deel van kunsskole. Een van die mense in ons werkswinkel was vir baie lank ‘n kunsdosent by Stellenbosch. Sy het self by Michaelis studeer. Ek het die gesprekke tussen haar en Andries Gouws insiggewend gevind – oor hoe kunsopleiding ook deur modegiere (“tendense” is seker ʼn minder gelaaide woord) in die kunswêreld beïnvloed word. Verskoon tog die onsamehangende gedagtes.

  3. Maria Snyman :

    Dankie vir leidraad na Kazuo Ishiguro se “Artist of the floating world” Andries – die titel wink na iets interessant vir my.

  4. Charl-Pierre Naude :

    Andries is dit jou werk, hierdie pop-skilderye? Dis nie duidelik uit jou stuk nie. Dis pragtig. Dra my waardering oor aan die kunstenaar.

  5. Groot waardering Charl-Pierre, dis ek wat hulle gepleeg het.

  6. Viva magenta, siaan en suurlemoengeel plus wit! Baie geniet, Andries – dankie!