Onderhoud met Marlene van Niekerk. Die aarde as oester en ander skryfkundes

Marlene van Niekerk

Louis Esterhuizen gesels met

Marlene van Niekerk oor die digkuns

LE: Marlene, baie dankie vir hierdie geleentheid om aan die hand van ‘n paar vrae oor ons digkuns te kan gesels. Ek weet nie of jy met my sal akkoord gaan nie, maar my indruk is dat daar die afgelope jare ‘n toenemende aantal uiters belowende klompie digters hul toetrede tot ons digkuns gemaak het. Interessant genoeg is dié debuutwerk dikwels die resultaat van ‘n kursus in Kreatiewe Skryfkunde aan ‘n universiteit. Wat is jou mening hieromtrent?

MvN: Ja, jy het gelyk Louis, dit lyk asof  skryfkursusse goed werk:  formele ondersteuning, aanbevole leeslyste, redaksievoorstelle en die dosente se verwagting van gereelde inlewering van nuwe werk lyk of dit vir baie jong digters die nodige aanmoediging gee om formeel te publiseer. Ook om gewoon saam met klasgenote, insluitende Willem Anker en my, te soek na oplossings en uitgebreid idees uit te ruil, kan help om vooruit te kom, ‘n taamlike persentasie van die mense wat by ons klas aansluit is/was ook reeds gevorderde lesers.

Daarby moet ‘n mens voeg dat volgens ons ervaring die meeste jong digters geen aanmoediging nodig het om formeel te probeer publiseer nie. Die vraag bly of keurders, uitgewers, resensente en skryfdosente oral altyd op dieselfde bladsy hoef te wees/behoort te wees/kan wees wat behoorlike kwaliteit en publikasiegereedheid betref.

Die hele begrip van kwaliteit is in ieder geval in flux tans, omdat enigiemand op die web kan publiseer, of hulle werk self kan uitgee sonder enige moeite, twyfel, redaksie of belemmering. En daar kan skynbaar altyd op die web ‘n ontvanklike dankbare gehoor gevind word/gemaak word wat graag in vriendelike toonaarde met die digter en met mekaar gedagtes uitwissel, en dan met ‘n gans ander doel as om oor kwaliteit uitsluitsel te kry.

Miskien moet ‘n mens liewer vra wat die funksie is van die hele verskynsel van poësie, die produksie, die publikasie en resepsie daarvan. Een antwoord kan lui dat dit soos alle kulturele verworwenhede gewoon die sosiale kohesie van die samelewing dien. En wat is die samelewing anders as ‘n lewendige gom van tekens en inligting wat klam en souterig gehou moet word? Miskien is hierdie funksie van poësie op die ou end veel belangriker as die kwaliteit van hierdie of daardie gedigte?  

Kan dieselfde gesê word van vertalings?  Al dadelik lyk dit asof die kwessie van kwaliteit weer kop uitsteek. Mens kan vinnig sien of ‘n vertaling versigtig en nadenkend gedoen is, of dit onhandig en verbeeldingloos is en of dit met adekwate vaardigheid en vindingrykheid gedoen is. Meestal word ‘n korpus poësie wat oorweeg word vir her/vertaling van meet af aan op kwaliteit geselekteer en word die kwaliteit van die vertaling self sterk in ag geneem by die formele publikasie daarvan. Mens kan jou kwalik voorstel dat ‘n swak hervertaling van, neem nou maar ‘n ekstreme voorbeeld, Shakespeare se sonnette in Duits, sommer maklik gepubliseer sal word deur ‘n ordentlike uitgewer.

Ek begin hier oor vertaling omdat ek graag jou mening wil hoor oor oefeninge wat ek deesdae heel eerste doen met jong digters wat in Afrikaans werk, ook op derdejaarsvlak. Ek gee vir hulle vertaaloefeninge van goeie Engelse gedigte. Dan kan ek dadelik sien of hulle poësie kan lees, of hulle enige nosie het van verstegniese kwessies rondom patrone van klem op sillabes (metrum), of hulle ‘n woordeskat het, en of hulle hul moedertaal met enige verve en vindingrykheid kan hanteer. Dikwels verstaan hulle glad nie waarom hulle hierdie vertaaloefeninge moet doen nie en vind dit ‘n mors van tyd omdat dit vele vele pogings kos voordat daar iets uitkom wat nagenoeg by die oorspronklike gedig kan kers vashou.

LE: Jy vra my na die gebruik van vertaling as deel van ‘n kursus oor skryfkunde? Wel, ek is geen akademikus nie, maar ek vermoed tog wel dat hedendaagse (Afrikaanse) digters nie genoeg kennis neem van wat op die internasionale verhoog gebeur nie. Uiteraard kan hulle hierdie digkunste in die meeste gevalle slegs deur middel van vertaling beleef. Wie is dit wat gesê het: “Elke leser van ‘n gedig is die mede-skrywer van daardie gedig”?! Vertaling (of meer korrek “omdigting”) is ‘n integrale deel van daardie proses. Hoe besluit jy watter digter en/of gedig by jou kursus betrek word? Is jou oogmerk om primêr verstegniese aspekte oor te dra of probeer jy ook iets van ‘n “ander-manier-van-kyk” daardeur te vestig?

Marlene van Niekerk en Loftus Marais

MvN: Ek dink jy is reg Louis, digters hier is soms nogal geïsoleerd, en onbekend met wat in ander tale aangaan en aangegaan het. As ek begin met die vertaaloefeninge kies ek dikwels gedigte van bekende digters uit die Engelse kanon, soos byvoorbeeld Hughes, Larkin, Heaney, Elisabeth Bishop, Sylvia Plath, Eavan Boland, met ander woorde poësie wat nie te moeilik is nie, en met duidelike oriëntasie in tyd en ruimte en stabiliteit in die stem; ek gaan nie beginners dadelik postmoderne gedigte of werk van Language Poets laat vertaal nie. My plan met vertaling is drieërlei: om studente te dwing om buite Afrikaans om, goeie gedigte te lees; tweedens om ‘n gewoonte te skep van skrap – mens moet baie skrap as mens vertaal, gewoon omdat jou vertaalkeuses nog nie voldoende is nie. My derde plan daarmee is ‘n ouderwetse een, naamlik taalverbetering deur taalinspanning. Ek glo nie mens kan goeie gedigte skryf as mens nie jou moedertaal formeel baie goed ken en in al sy registers uitstekend kan besig nie, alleen dan kan jy interessante maniere vind om af te wyk van normale taalgebruik, daarmee kom jy dan by een soort definisie van poësie, naamlik dat poësie afwykend of “verhewigend” is, en daarom moeilik om geskryf te kry en op ‘n bepaalde manier moeilik om gelees te kry, en dit alles natuurlik ten einde bepaalde subtiele insigte te wen of moeilike sinnelike of serebrale plesiere te beleef.  

Daar is baie mense wat met my sal verskil hieroor, hulle sal sê dis ‘n uiters elitistiese opvatting wat ek het, en dat mens  as digter net oor ‘n kommunikatief gangbare graad van taalbeheersing hoef te beskik en nie daarvan hoef af te wyk as jy gedigte skryf nie. Dieselfde mense sou dalk aanvoer dat hoe nader jy aan spreektaal kan bly hoe beter jou gedigte sal wees. Vele sal meen dat gedigte veral nie moeilik moet wees om te skryf of te lees nie, dat almal dit moet kan skryf en dat almal dit moet kan lees. Hierdie gedemokratiseerde poësie sou dan ook, volgens sommige, die engiste goeie poësie wees, alles wat moeiliker is, langsamer tot stand kom en stadige, noukeurige lees verg, sou verwaarloosbaar wees en sou behoort tot die ryk van die troglodiete.

Sal ons dan maar sê daar is plek vir alle soorte poësie en  dit waarvan jy nie hou nie sit jy rustig terug in die rak en lees liewer iets wat tot jou spreek?

Met ander woorde, sal ons sê dis ‘n kwessie van smaak en ons vermy die kwessie van kwaliteit omdat dit slegte maniere is om daaroor te praat?

Of is juis die gesprek oor watter poësie goeie poësie en watter poësie swakker is, miskien ‘n essensiële deel van die algemene funksie van die veld van poësie? Sou debatte oor die kwaliteit van poësie die sosiale kohesie van die samelewing verstewig?

Miskien kan ‘n vergelyking met (ja) rugby verhelderend wees. Almal kan rugby speel soos hulle wil, dit het ‘n belangrike sosiale funksie dat almal dit kan doen op allerlei vlakke, maar deel van die funksie is ook dat daar soms uitmuntende rugby gespeel kan word op ‘n hoë vlak en dat mense dit daaroor eens kan wees of nie. Goeie rugby is trouens nie noodwendig rugby wat “wen” nie. ( Maar as mens aftjop omdat die Iere telkens die bal afvat as mens daarmee op die grond rondkruip dan is dit verloor sonder enige styl en dis erg, hoor.)

Ek hou self van rugby wat ‘n mooi stewige klassieke ritme bevat maar dan daaroorheen kan improviseer en speels, kansvatterig en vlugvoetig is en vol verrassings, en ek hou daarvan as die bal vinnig beweeg in die agterlyn en gou by die vleuel uitkom wat oor merkwaardige spoed en systappe moet beskik. Ek hou daarvan as die bal via kombinasies van fopskêrbewegings en skynuitgeeë  beweeg en ek hou daarvan as skoppers hulleself ongemerk posisioneer en onmoontlike skepskoppe waag. En as ek na sulke akrobatiese verbeeldingryke rugby kyk van uitmuntend geoefende spelers wat hulleself duidelik gate uit geniet, weet ek altyd twee dinge, ‘n bepaalde sensibiliteit is onder al die spelers vaardig en hulle wil die sensibiliteit uitleef en tweedens die spelers is fiks en lus en vol boontjies. Hulle kan in twee, drie minute in “flow” geraak, weet ek, en dis lekker. Rugby wat vasval in ‘n vrugtelose voorspelbare geskop, geen ritme het nie, en met konserwatiewe, vrugteloos-herhaalde binnetoemalery van die voorspelers werk, terwyl die agterlyn nie benut word nie, en laasgenoemde ook nie die savvy het om die bal uit te grawe tussen die dik dooie boude en daarmee te gaan hardloop nie, vind ek vreeslik om na te kyk. Geen lug en geen lewe, net jockstraps en doodsverlange.

En soms  is die kinders wat in die skemer op ‘n stowwerige veldjie touchies speel nog die heel mooiste, daardie kaalvoet-onderskeppertjie wat sy kans sien om deur die hande te kurktrekker en die bal tussen die twee ou bloekoms te gaan plant.

Nou weet almal dadelik van watter soort poësie ek hou! Maak dit saak? Solank iemand tog net ‘n glimlaggie kry en besluit om ons kursus te kom volg. Die groot “rugbybundel” (ahem) moet nog geskryf word en waar is ‘n beter plek as Stellenbosch? Daar kan jy elke middag, synde skuins of haaks of bloot net rugbyminnend, langs die veld sit en kyk na hoe lenige jongens in die blom van hul lendene hul bewegings polys.

Laat niemand sê ek het nie my bes probeer om studente te werf nie.

LE: Marlene, volgens jou antwoord hierbo blyk dit dat verskeidenheid, hetsy ten opsigte van tematiese aanbod én stem, waarskynlik die bloedlyn van ons digkuns is; beskeie soos dit is. Hoe slaag julle as aanbieders van skryfkunde daarin om hierdie diversiteit te handhaaf?

MvN: Wel, ons sien nou nie soveel digters dat ons ‘n direkte invloed kan hê op die verskeidenheid in die Afrikaanse verskuns nie … Ons probeer wel om verskeidenheid nie net aan te moedig tussen digters nie, maar ook in een en dieselfde digter. Wat al klaar baie help is dat Willem en ek soms heel verskillende dinge lees en ook soms oor aspekte van ‘n teks kan verskil. Ons dink dit is baie goed vir die studente om die soort meningsverskil waar te neem en om meer as een smaak en meer as een perspektief te kry. Maar niks help so goed soos lees nie.

Veelvuldige gebruike

Omslag

As ‘n mens deur die Norton Anthology blaai, sien jy daar is nie eintlik iets soos ‘n “algemene” poësie nie, elke digter maak sy eie persoonlike vingerafdruk. ‘n Mens probeer dus altyd agterkom wat die student se eie stem/styl en inhoudelike belangstelling is, mens probeer vasstel hoe wyd die studente oor bepaalde sake gelees of gedink het en probeer bronne van idees en kennisvelde oopdek wat hulle sal prikkel om verder te lees. ‘n Mens probeer ook om die student sy eie innerlike verskeidenheid te laat agterkom en te verken. Sommige studente het nog maar baie min ontdek van wat in hulleself skuilgaan en ook byvoorbeeld nog glad nie agtergekom dat hulle van moment tot moment van hulleself kan verskil nie. ‘n Mens probeer om hierdie dimensies te ontsluit deur bepaalde oefeninge, maar dit bly uiteindelik die digter se eie taak om te groei.

n Mens doen verder ook dikwels redigering om te wys hoe gedigte verskillend kan wees met slapper of meer styfgetrekte reëls. Daar is soms by digters ‘n neiging om informeel en praterig te skryf sonder dat hulle dit presies so bedoel en sonder dat hulle die informele taal presies en opsetlik kies en in besonderhede ontwerp. Ons probeer altyd sê: as jy ‘n lakonieke gedig skryf moet dit ‘n ontwerpte lakoniekheid wees en nie toeval nie. Op dié manier kan ons die student help om helderheid te kry oor watter soort gedig hy of sy skryf, en hom op die manier help om self verskeidenheid in sy of haar eie werk op te soek.

Dieselfde geld vir verskeidenheid in taalgebruik. Dikwels kry mens by beginnende digters ‘n onbewustheid van basiese dinge soos versritme (wat iets anders is as metrum), onsensitiwiteit vir vokaalverspreiding en konsonantverpreiding, onkunde oor die effekte van kwart- en halfryme, dikwels ‘n onhandigheid met sintaksis en korrekte voorsetsels, ensovoorts. Weereens: alles is moontlik. Indien iemand met opset en ter wille van ‘n bepaalde effek verkeerde voorsetsels en sintaksis wil gebruik, is dit wat my betref honderd persent in orde. Ek soek net altyd na opsetlike en doelbewuste patrone wat met enige vaardigheid neergesit is, en wel omdat ek dink dat ontwerpte patrone, onder andere, essensieel is indien ‘n mens iets as ‘n “werk” wil herken of beskryf.

Uiteraard sal daar baie mense wees wat sê mens moet juis nie probeer om ‘n “werk” te maak nie, mens moet eintlik net presies probeer registreer wat dit is wat in taal rondom jou gebeur (byvoorbeeld in gesprekke, nuusberigte en advertensies) en grepe daarvan so direk moontlik siteer sonder alteveel eie inbreng, dit alles om veral die vermeende “realiteitshonger” van lesers te bevredig. Baie digters dink dat “oorspronklikheid” en artifisialiteit (artifice) in die digkuns volledig verwerplik is en sien enige teken van ‘n bewustelik aangebragte patroon of “verhewigde taalgebruik” as die reinste reaksionêre konserwatisme. So be it. Onthou, die meeste kunstenaars is aandagvrate. Op die ou end probeer kunstenaars die grootste moontlike impak maak in die veld. Daarvoor moet hulle telkens met iets aandagtrekkends vorendag kom. Ten einde dit reg te probeer kry, probeer hulle baie verskillende en soms ook ongelooflike dinge, en dit kan insluit om so gereeld as klokslag herkenbaar dieselfde soort werk uit te stal net om op die kaart te bly, of dit kan wees om op skokkende wyse af te wyk van enige “aanvaarde norm” en verder alles tussen hierdie twee uiterstes. Die idee is by sommige om onthou te word na jou dood, hoe dan ook. Sommige maak selfs skandes en pleeg misdade, vandaar die nosie van die sg Herostratos-kompleks in die kuns. Die dood en die verganklikheid is vir sommige ‘n ysere aanmoediger en die hele skryfhandeling is een uitgesproke tematiese en vormlike toernooi met die dood en die “Niet”. Dit voel vir my erg negentiende–eeus, moet ek sê. Dikwels kry ‘n mens ook dat kunstenaars slegs in, vir en uit lewensbevestiging werk, dit is mense wat Basho se wyse uitspraak probeer uitleef: aan die sonbesie se lied hoor jy niks wat daarop dui dat hy sal doodgaan nie.

Dikwels beveel ons spesifieke digters aan, veral ook buite die Afrikaanse poësie, (Willem ken heelwat eietydse Amerikaanse skrywers en digters en ek ken weer ‘n paar Nederlandses) ten einde studente bewus te maak van wat alles moontlik is aan soorte gevoeligheid en soorte van omgaan met taal en gedagtegoed. Soms skryf ‘n student vanself  heel verskillende soorte tekste/gedigte en ons moedig dit aan sodat hulle verskeidenheid (byvoorbeeld van vorm en lengte om mee te begin) as ‘n deug kan ervaar en nie gaandeweg verval in eenselwigheid en herhaling van tema en woordeskat nie. Miskien kan mens met “verskeidenheidsopleiding” probeer voorkom dat ‘n jong digter aanvanklik met ‘n briljante nuwe styl kom en dit weer en weer sonder veel ontwikkeling herhaal, omdat dit aanvanklik so suksesvol was en nie agterkom dat dit  met verloop van tyd flouer en flouer word soos blousel wat uitwas nie.

LE: Wat sal jy sê as iemand van mening sou wees dat die idee van akademiese skryfkursusse eintlik onvanpas is om die kunstenaar en verskillende soorte kunstenaarskappe te stimuleer, dat kunstenaars so min as moontlik met akademici en universiteite te doen moet hê, dat hulle in feite so min as moontlik met literatore of kritici te make moet kry as hulle vry wil ontwikkel en hulle spesifieke talent en spesifieke artistieke temperament die vrye teuels wil gee, of daardie temperament nou geteken word deur ’n liefde vir verskil en verskeidenheid, en of dit geteken word deur heropname en herhaling van ‘n basisinhoud en -styl

MvN: Dis vrae wat baie mense stel en ek is bly ons kan hulle hier vra en bespreek. Wanneer Willem en ek oor ‘n rukkie hierdie onderhoud opvolg met ‘n verdere dialoog, sal daar waarskynlik nog ‘n hele klomp sake in hierdie verband te sprake kom. Hier solank net die volgende: my stelling hierbo oor eenselwigheid en herhaling is ‘n opvatting waarmee nie alle letterkundiges noodwendig sal saamstem nie, omdat, as hulle eenmaal ‘n digter of skrywer se styl en tema herken en omskryf het, hulle dit as ’n vorm van dislojaliteit, (van die digter aan sigself –  of aan die poësiekritiek), of as ‘n “gebrek aan eenheid” of ‘n soort “losheid” beskou as die digter in verskillende style skryf, uit verskillende tradisies put, en verskillende woordeskatte, registers en bestaande of ongebruiklike of volledig versonne taalvariante aanwend. Dit is ‘n rare verskynsel in die Afrikaanse literêre omgewing dat sommige lesers skynbaar ‘n hekel het aan verrassings, skokke, afwykings of ongewoonheid, byna asof ‘n skrywer/digter se gehegtheid aan sy eie verbruikersmerk (soos baked beans van Koo) die deurslaggewende kenmerk van gehalte sou wees.

Daar is trouens nie baie mense wat die enigsins teen-intuïtiewe insig sou hê dat ‘n volgehoue produksie juis van heel verskillende soorte werk dalk ook op ‘n betekenisvolle stryd met die eie ego kan dui nie. Ek dink Sybren Polet se interessante boek De creatieve factor is hierby van belang en ek beveel dit ook aan vir baie van ons studente sodat hulle iets kan begin verstaan van die narsisme wat alle kunstenaars (behalwe miskien outentieke Boeddhistiese haikudigters) dryf: byvoorbeeld die uitryg van eindelose alter ego’s tesame met die heropvoering van die een enkele dwingende onderliggende private mite wat taamlik onvermydelik elke werk besiel. Die kuns vir sommige skrywers is om hierdie eenheid van die gemoed direk en onverdund uit te speel in agtereenvolgende werke wat dan begin lyk na een lang totaalskepping. Sommige hou so iets vol verby alle grense, meestal uit ‘n misplaaste opvatting van die uitsonderlike waarde van hulle siel. Andere eksperimenteer met soveel as moontlik verskillende verpakkinge van hulle goedjie, waarskynlik uit ‘n misplaaste gevoel van skaamte. Albei is myns insiens ewe egosentries. (Let wel ek gebruik “egosentries” en “narsisme” hier deskriptief en nie veroordelend nie – Marcuse in One-Dimensional Man verduidelik mooi waarom ons geen estetiese kultuur sou hê sonder narsisme wat hy juis positief verstaan nie.)

Of dit goed of sleg is vir ‘n kunstenaar om te verstaan wat dit presies is wat hom/haar in wese besiel, is natuurlik  die vraag. So ‘n selfverstaan is in elk geval net altyd ten dele, en is binne bepaalde opvattings van selfbewussyn selfs grotendeels onmoontlik. ‘n Mens is ook bewus daarvan dat baie kritici dink dat kunstenaars slegs suksesvol kan wees indien hulle volledig blind vir hulle eie diepste dryfvere of oortuigings is. (Anders is daar byvoorbeeld nie genoeg werk vir die kritici nie….) Of dit nou die psigologies “blinde” kunstenaar is wat sigself sonder veel selfrefleksie tot satwordens toe herhaal en of dit die min of meer verligte en selfbewuste een is wat vanweë skaamte en verleentheid en beskaambaarheid of anders uit inhiberende perfeksionisme met weinig vorendag kom, of volledig stilval, die feit bly staan: an artist’s life is not an easy one om Gilbert en Sullivan se liedjie verkeerd aan te haal.

Staan in die algemeenEk dink die rol van teoretiese inbreng in die akademie en die verbreding van die skrywers en digters se leesagtergronde en die kritiese redaksie van hulle skryfwerk is maar eintlik om die maak-handeling te kontekstualiseer en te kompliseer. Die idee is om ‘n kritiese en self-refleksiewe skryfpraktyk te bevorder: vir wie skryf ek? Hoekom skryf ek in ‘n bepaalde taal? Wat is my opvatting oor taal en oor betekenis? Hoe is my verhouding met die idee van ‘n “mark”. Wie is my ideale leser? Skryf ek om te verduidelik wat ek dink of om uit te vind wat ek dink? Waarom en wanneer gebruik ek gewone funksionele taal en waarom en wanneer gebruik ek taal wat streng ontwerp en afwykend is van gewone taal? Waarom hou ek van bepaalde skrywers meer as ander? Hoe bepaal my klas, ras en geslag my skryfwerk? Wat is die materiële en ideologiese moontlikheidsvoorwaardes van my produksie as skrywer? Dink ek ek het ‘n “rol”? Dink ek ek het ‘n “verantwoordelikheid”? Wat sê ek vir politiek korrektes wat wil hê ek moet politiek korrekte gedigte skryf? Wat maak ek as mense my werk voor hulle politieke karretjie wil span? Is dit my taak om identiteit te bevestig en te omlyn of is dit my taak om alle identiteit te bevraagteken en te ondergrawe? Waarvoor is ek bang in die skryfbesigheid en waarom? Wat verskaf my vreugde in die skrywery? Kan ek dit vertrou?

Te veel selfkritiek is uiteraard nie goed nie. Dit moet gebalanseer word deur lewenslus en vitaliteit en robuuste waagmoed en veral die vermoë om jou te verwonder aan dinge, en veral die verdere vermoë om jouself in ‘n toestand te kry van invoelende partisipasie aan wat ook al, wind, wolke, skreeuende optogte. As gevoelige verbeeldingryke vereenselwiging ontbreek sal al die korrektheid en selfrefleksie in die wêreld nie help om van jou ‘n skrywer of digter te maak nie. Jy sal net ‘n prediker of ‘n profeet of ‘n moreel hovaardige boodskapper bly en dit maak almal op die ou end naar. Mens weet mos: beter wete, oordeel, doem, mens raak mos kotsmislik daarvan.

Oor kunstenaars wat selfkrities is omdat hulle hulle kan verbeel wat moontlik is nog die volgende: vergelyk die Russiese pianis Grigory Sokolov wat weinig opnames gemaak het en selde in die openbaar opgetree het, en aan die Duits-Argentynse dirigent Carlos Kleiber, ‘n geniale musikus wat  relatief min gedirigeer het en wat sigself vir lang tye afgesonder het. Maar as hierdie twee wel die keer uitgekruip het om in ‘n konsert te speel, of te dirigeer, was dit meestal ‘n gebeurtenis van elektrifiserende kwaliteit wat gespreek het van uitvoerige voorbereiding en konsentrasie, en wat dikwels nuwe interpretasies van komposisies gebied het. Kyk maar hier https://www.youtube.com/watch?v=vPNDjiem27M  en  luister na https://www.youtube.com/watch?v=zqdMlOhb3j0&index=42&list=RD2pb7-3K92bg

Let wel, ek maak bogaande opmerkings oor musiek slegs as belangstellende leek en nie as ideologiekritiese musiekkenner nie. Ek is doodseker dat sommige akademici beginselprobleme sal hê met enige kuns wat formeel bemark word, en met enige musiek, selfs van bogenoemde musici, wat in ‘n kommersiële konteks in konsertsale en op cd’s verkoop word. Vanaf die tyd van Adorno is sulke geleerdes beter in die verduideliking van hierdie gesigspunte as in dirigeer of klavierspeel voor ‘n klomp mense, maar so het elke diertjie sy plesiertjie.

Om te rekapituleer: sou ‘n omvangryke eenselwige artistieke ekspressie oor ‘n hele leeftyd lank beter wees as ‘n beperkte ekspressie oor ‘n kort leeftyd wemelend van wendinge en verskille? Ek dink daar is plek vir altwee. Dit hang maar net af, soos Spinoza sal sê, van ‘n spesifieke organisme (die conatus) se unieke maniere om te volhard in sy bestaan en op sy beste te probeer floreer in sy veld (“haar” veld ook, uiteraard hier bedoel).

LE: Daar bestaan verskeie skryfkursusse wat deur verskillende universiteite aangebied word. In welke mate bestaan daar onderlinge skakeling tussen julle, of loop elke kursus maar by die lig van eie oë?

MvN: Ja, ek dink daar is nogal verskille in vereistes en in aanbiedingswyses, maar dit is ook goed. Willem en ek bly min of meer op die hoogte deur soms as eksaminators op te tree vir MA’s in skryfkunde wat by ander universiteite soos Wits en Kaapstad geproduseer is en ons neem deel wanneer skryfkundedosente van ander universiteite vraelyste stuur om akademiese navorsing oor sulke kursusse te doen. Ek weet Henning Pieterse van UP (tans by UV) het al sulke navorsing gedoen en daar was ook al ‘n kongres by Rhodes en ook by Bloemfontein oor die onderwerp waar dosente verskillende aanpakke kon bespreek. Op die ou einde is wat saakmaak of die werk van studente publikasie haal. Die spesifieke pedagogiese tegnieke wat mense uitdink om studente te prikkel en te dril is vir my besonder interessant. Sommige mense glo dis volledig onnodig, mens moet net ‘n passiewe onoordelende leser wees wat ‘n bietjie kommentaar lewer. Ons eie ervaring is dat lewendige interaksie en gedetailleerde terugvoer uitstekend werk vir nuuskierige, leergrage studente. Dit hang natuurlik ook af van die karakter van die studente en die dinamiek in die klas.

LE: Uiteraard volg ‘n student hierdie kursus met die oog op publikasie. Wat is jou ervaring ten opsigte van uitgewers se ingesteldheid teenoor manuskripte wat as resultaat van jul kursus vir moontlike publikasie voorgelê word?  

MvN: Dit wissel. ‘n Student van ons het al werk voorgelê aan ‘n uitgewer wat dit afgewys het, en toe word dit binne enkele dae deur ‘n ander  uitgewer opgeraap en wen toe ook nog sommer ‘n debuutprys. Dit hang dikwels af van die menings van keurders. Ons is oor die algemeen strenger as uitgewers en hanteer ander soorte van maatstawwe as die kommersiële maatstawwe. Ons beleid is dat ons akademiese grade met die bes moontlike uitkomste afhandel. As die student na afloop van die studie met sy of haar manuskrip na die uitgewer gaan, is ons nie meer in die prentjie nie en dan is die uitgewer verder sy redakteur. En dit is hoe dit moet wees.

LE: Ter wille van voornemende studente: kan jy ‘n uiteensetting gee van die prosedure en/of vereistes waarvolgens ‘n voornemende student by julle vir ‘n Magister-graad kan registreer?

MvN: Ons toelatingsvereisteis is ‘n Honneursgraad in enige taal. Studente maak ‘n voorlegging wat ons elke jaar teen 1 Oktober moet ontvang. Dit moet bevat: veertig bladsye prosa of twintig bladsye poësie, ‘n opsomming van die voorgenome eindprojek, ‘n motiveringsbrief d.w.s. die redes waarom die aansoeker die kursus wil volg, plus ‘n volledige CV. Op grond van hierdie voorlegging besluit ons departementele keuringskomitee of ons die student gaan toelaat. Indien wel, doen hy of sy formeel aansoek by die universiteitsadministrasie. Studente wat nie oor ‘n Honneursgraad beskik nie, kan ook aansoek doen, en word op grond van hulle voorlegging gekeur en kan verder via ‘n spesiale toelatingprosedure toegang kry tot die kursus. Hiervoor moet hulle ‘n akademiese artikel oor ‘n literêre onderwerp saam met hulle skryfwerk voorlê, en/of eers ‘n jaar lank onder ons leiding werk aan ‘n tipiese groot Honneurs-navorsingsopstel waarvoor hulle ‘n goeie gemiddelde punt moet kry. Laasgenoemde akademiese inspanning moet hulle voorberei om uiteindelik die teoretiese en analitiese mini-tesis te skryf wat saam met die skryfprojek voltooi moet word. Die student kan binne bepaalde grense kies of die skeppende skryfwerk, of die akademiese tesis die swaarste moet weeg by die beoordeling. Dit doen ons om ten einde alle soorte van talent die beste kans te gee in die kursus.

Ter afsluiting: enigiemand wat die teks hierbo lees sal moet vasstel dat dit bepaalde Westerse (Eurosentriese en miskien selfs Romantiese) nosies van die kunstenaar as individu in die samelewing is wat hier deurspeel en dat dit ‘n enigsins klasgebonde verwysingsveld is wat hier bygehaal word. Bepaalde beperkte opvattings van die digkuns is daardeur ewenseer onvermydelik. Dit is egter hierdie tradisies en opvattings waaroor ek die meeste kon lees in my lewe en waaruit ek  kon leer, ek gee nie voor om meer as oppervlakkig op die hoogte te wees van selfs maar ‘n klein monster van ander waardevolle tradisies nie, en daar is vele waarby mens kan leer as jy jou wil verdiep in ander tale en kulture, soos byvoorbeeld: Japannese doodsgedigte, rituele gedigte van die sout-rapers van Tibet, en orale tradisies van Afrika met ‘n sterk gemeenskapsverworteldheid. Poësie kan op vele maniere sosiale kohesie dien, nie net in omgewings soos poësie”feeste” met sushi nie.

(Ek wag dus nog steeds op die griots van Orania om hulle verskyning te maak, en tot dusver het ek nog net gehoor van die Odusseus van Verwoerdburg.)

Maar daar is ‘n ander konteks van kohesie wat ek wil byhaal, een wat van altyd af bestaan, maar wat mens bewustelik kan begin kultiveer. Iewers het ek gelees van ‘n pigmeestam in Midde-Afrika wat slegs musiek maak as die reëntyd aanbreek en die paddas en krieke begin klink. Hulle maak dus hulle musiek slegs saam met ander lewende wesens, nooit alleen as mense nie. Dit klink my besonder gepas om  hierdie soort aansluiting te soek, en jouself as digter radikaal in ‘n wyer biosemiotiese konteks te begin verstaan.

http://www.jstor.org/stable/10.1086/661708?seq=1#page_scan_tab_contents. Vergelyk die Routledge Companion to Semiotics (red. Paul Cobley) as ‘n pragtige toeganklike inleiding. https://books.google.co.za/books?id=iduOAgAAQBAJ&pg=PA35&lpg=PA35&dq=biosemiosis+sebeok&source=bl&ots=qTEpR23caP&sig=k13-D1o5Y5Ch4r27ZL2DsQI3sbQ&hl=en&sa=X&ved=0ahUKEwi20fG3s6jNAhXMCMAKHTxuCzUQ6AEIOjAH#v=onepage&q=biosemiosis%20sebeok&f=false

In hierdie verband is ‘n “gepaste” etos, modus en stem vir die digter van die Antroposeen ‘n ander kwessie wat ondersoek kan word. En hiermee saam hang die vraag hoe mens energiek, krities en verbeeldingryk weerwerk kan lewer teen die verbruiksdwingelandy van die gevorderde kapitalisme, teen die onaflatende druk om steeds makliker verteerbare, hapklare, snelvoorbereide brokke op te dis as poësie in  “global English” wat die meeste mense verstaan. Miskien moet mens eerder praat van die Kapitaloseen en teruggryp na Orfiese en anargistiese wortels om die mensonterende gedonder van die konsumpsiemaatskappy in jou klein hoekie saam met jou subversiewe swerm mineur-mededigters te probeer beveg. ‘n Mens kan natuurlik ook as skrywer die heersende politieke diskoerse in ons vaderland probeer aanpak, die belangrike sal dan wees om die nuwe dekadente sosiale normatiwiteit wat die regering probeer afdwing te begin ondergrawe, (miskien deur graffiti van ministers se uitsprake op mure te skryf. Waar is die dae toe ons “P.W. Botha is not a lesbian” op The Mixer-koffieshop se muur in Melville geskryf het, ai.), hulle agenda is  immers nie los te dink van die mondiale finasiële kapitalisme nie. http://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2016-06-10-the-morphogenesis-of-a-post-apartheid-political-normativity/#.V19uxE2hfIU  

Hieronder is sommer ‘n gediggie wat onlangs in Engels uit my potoo geval het, waarom ook nie? Hier is die potoo en hoe sy in die werklikheid klink in Brasilië: https://www.youtube.com/watch?v=-lfSOa5hig4 Nee, dis nie ‘n truuk nie, luister maar hier: http://www.xeno-canto.org/species/Nyctibius-griseus en hier is moontlik haar Orfiese imitator in die Amasone, dis nou waarlik iemand by wie mens iets kan leer, vind ek, wat liefde en tegniek betref: https://www.youtube.com/watch?v=5nDCafqGnlA.

En van die os op die jas, hier is ‘n prentjie van ‘n tardigrade waarna in die poempie hieronder verwys word, ook geheet mosvarkie of waterbeertjie, sy beskik oor fantastiese oorlewingsmeganismes selfs in onuitstaanbare toestande.

 tardigrade

Wat ek maar wil sê met al hierdie voorbeelde en verbande tussen lewende wesens is die volgende: die aarde is nog steeds ons oester en al het ons haar skynbaar onherroeplik geskend, bestaan die geleentheid altyd om haar individueel en kollektief terwille te wees op die beste maniere wat ons kan uitdink.

 

First lecture on Gaia

 

Together with the claims

of the tardigrades and those

of rosy turtledoves, the laughing

doves, she reckons us as reasons

for changing her anatomy. 

New niches arise, old ones die

as something small needs moss

to crawl on and changes moss

that way, as those with wings

need trees to call from, and,

alighting with their roundalays,

precipitate her autumns, make

her waters deep down hum,

which is felt in turn by clams

on rocks and by the sands

as they sigh and shift like so many

pieces of silken underwear.

A ticklish goddess with trillions

of arms bearing various worlds

like gaudy hurdy gurdies

brimful of fates, each shape 

of animal providence, even

that of the little fly, gurgling

a tune that is dealt with singly,

precisely and in concert by her,

every croak and chirrup added

to ease and lift the shimmering,

breathable breast that we share.

Of all the earthbound critters

pinned against her spinning

bulk, of all who curb her space

to suit their wealth, we are the ones

who take to her flesh in sheerest

predator mode, scratching at bounds

and stretching them vastly.

We won’t get away with such

a fast, hot, competing economy,

forever digging up stuffs,

oiling our stomachs and shitting

in holes where we’ve riveted

piles into the crust or seeded

with rockets our rain-sucking

clouds. Itching from a dark

forgetfulness we start to smell

our acid interference, we blink

as she shows us her face

as in the beginning, when,

like Eros, born from Chaos,

she spouted ashes, spouted

blood, and screams uncoiled

from her cosmic scruff

like wires. We’ll  fight one

another with cudgels like Goya’s

giants and in the thinning

strip of atmosphere gasp

and cough until we grasp

it is only to force us to birth

her anew. When her green

and blue have almost gone,

we’ll vote as one to stop

being the plague and

parasite in residence,

to compose, on her rump, 

to the pulse still beating

between her heaving

clavicles, our new symbiont

behaviour and a difficult,

patient neo-ediacaran* peace,

like a fern, resilient and gently

undulating, for which

our wars would have been

entirely worth it.

*http://www.ucmp.berkeley.edu/vendian/ediacaran.php

 

(c) Marlene van Niekerk / Junie 2016

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Onderhoud met Marlene van Niekerk. Die aarde as oester en ander skryfkundes”

  1. Susan Smith :

    Wat ‘n skitterende onderhoud, Marlene en Louis! Dit is goed om weer te bevestig: dat uitnemende poësie sal bly staan, ongeag alle aanklagte van elitisme.

    Marlene, jou siening van verskeidenheid van tematiese aanbod, stem, styl en taalregister om “ongelooflike dinge” te laat gebeur,ook binne die grense van een bundel, is ‘n belangrike rigtingwyser vir enige digter, hetsy beginner of meesterdigter.

    Ten slotte: die mosvarkie (wat ‘n pragtige naam!)en sy gedig is voorwaar ‘n dubbeldoor “lesing” van die aarde – kyk nou net wat ontsluit die vertaalde woord hier!

    Ek sien uit na die opvolg.

  2. Marlene van Niekerk :

    Beste Susan,

    Dankie vir jou positiewe terugvoer, ook oor die lesing-poem, daaroor nog die volgende: die mosvarkie kan dalk oorleef in ekstreme toestande, maar hoe, nadat Elon Musk en Nick Boström met twaalf dissipels na Mars vertrek het om aldaar verder te evolueer tot interplanetêre Faustiane, sal die miljoene mense op hierdie ondermaanse vaar as die ekosisteme toenemend ingee? As daar maar pais en vree moontlik sou wees in ‘n gehoorsaambare, permanente onaanvegbare Staat van die Natuur waarin sommige “deep ecologists” hulle voorstel die utopiese groengesinde mens passief en harmonieus kan insmelt, maar nou is dit reeds orals oorlog, en die mensdiere het nog nie verstaan dat hulle ekonomiese kompetisie om en manipulasie van natuurlike hulpbronne die leefbaarheid van die aarde toenemend vernietig nie.

    Die vrede op aarde wat gemaak moet word van subtiel samehangende instabiele aardse middele (grond , water, lug) sal nie maklik gebeur nie, dis een wat moeisaam en in groot detail stukkie vir stukkie gestig sal moet word deur ysterharde onderhandelinge, want Gaia is nie ‘n homogene oorsigtelike bal nie, sy is eintlik maar ‘n paar kilometer asembare lug en ‘n beperkte aantal meters-diep beboubare grond waarvan die kwaliteite orals en op al haar plekke verskil. Die ekologie is hiperpolities, die politiek sal uiteindelik honderd persent ekologies wees.

    Maar wie sal dit die sogenaamde leiers van vandag se wêreld aan die verstand kan bring? Sal die kunstenaars dit miskien kan help doen met ‘n vorm van “verligte doemprofesie” (Jean-Pierre Dupuy) http://www.sup.org/books/title/?id=21129 of die opvoering van krities ingeligte scenario’s van apokalips? Nosies soos modernisme of post-modernisme of meta-modernisme verval in die lig van die hooplose horison waarteen ons reeds aanloop, die horison is nie ‘n relatiewe een nie maar die absolute grens van die aarde se draagvlak. Die tydskale van bogenoemde artistieke periodiserings en ook die gepaardgaaande soorte etos van (tegniese) emansipasie of onoordelende etiese relativisme of ‘n swaaibeweging daartussen is alreeds en finaal ingehaal deur die Groot Versnelling en die krisis van die Antroposeen – ‘n supra-temporele stratigrafiese ruimte wat eerder as ‘n moontlike keuse vir sogenaamde “betrokkenheid”, ‘n onvermydelike en radikale opdrag tot verantwoordelikheid inhou. Hoe sal skrywers daarmee omgaan as hulle nog altyd die instrumentalisering van literatuur vir die een of ander doel teengestaan het? Of is so ‘n posisie op die keper beskou die grootste skynheiligheid wat bestaan?

    Die alternatief vir die verbruiks-leefstyl waarmee ons almal min of meer van kindsbeen geïndoktrineer is, sal volgens vele gevind moet word in nuwe sosiale vorme van kollaborasie en aanvaardende onderlinge ondersteuning onder die leuse “enough is as good as a feast”, (Neville Alexander). Dit sal aanneemlik gemaak moet word in plaas van die idee van wedywering om luukse, wins en sogenaamde ekonomiese “groei”. Kapitalisme is nie ‘n feit van die natuur nie, sê vele. Ook nie van die mens se natuur nie, (of wil ons soms dink h/sy is van nature gewelddadig en mededingend) “Groei” is nie onbeperk moontlik op die kloot nie. Ons word deur baie van vandag se ekonome vertel ons het nie ‘n ander keuse as om ons te onderwerp aan die sogenaamde “vrye mark” nie. Dit is natuurlik twyfelagtig en ons sal ook alternatiewe denkers moet raadpleeg, en daar is baie van hulle wat konkrete en sinnige voorstelle het in die verband. Dit sal egter baie moeilik wees om hierdie alternatiewe soort gedagtegange tuis te bring in ‘n ongelyke wêreld met ontploffende suidelike halfrond-bevolkings wat tand en klou baklei om die middelklasse te betree. Die onpopulêre feit is dat indien die hele wêreld die vlak van “ontwikkeling” sou gehad het as lande in die Noordelike halfrond, die CO2 lesings in die atmosfeer nog veel hoër as 400 ppm sou gewees het. Vgl die Keeling-kurwe: http://www.esrl.noaa.gov/gmd/ccgg/trends/. Radikale ekologiese onderwys en opvoeding van jongs af is nodig.

    Die ekologiese ramp het lankal reeds gebeur, mens kan dit alleen maar nugter en eerlik konfronteer, die gevolge sal vinniger op ons afkom as wat ons dink en dit is reeds besig om die armes die swaarste te tref. Werk mense hier by ons al hard genoeg oor hierdie kwessies? Is die gegewe genoegsaam sentraal in leerplanne op skole en universiteit verteenwoordig? Is daar genoeg mense wat die politici van ons land probeer bereik oor hierdie sake?

    Onderstaande teks is maar eintlik ‘n uitnodiging aan iemand wat ‘n alternatiewe uitsig op die mens kan bied. Ek is geïnteresseerd in hoe so ‘n alternatief poëties verwoord sou kon word. Baie mense sal seker sê dat dit nie die taak van poësie is om “mensbeelde” te ondersoek of ‘n “nuwe mens” vermoedbaar te maak nie. Ek sal nie weet nie. Ek weet net daar is partykeer bepaalde soorte mans wat regeer en hulle maak daarvan ‘n moerse Rosatom matzoball.

    By die volgende skakel kan die toepaslike foto bekyk word.
    https://www.rt.com/news/russia-south-africa-cooperation-deals-903/

    Hierdie twee handskuddende presidente
    (Opgedra aan ‘n mededigter wat meen ons is almal ewe sondig en ons moenie ons owerstes spot of kritiseer nie)

    Hierdie twee handskuddende presidente van dik
    gestolde kerswas, byeengehou deur ‘n gedeelde
    binnelont van sluheid, omnaai deur ‘n dun
    diplomatieke skil, gebind in verweerde mannevel
    met in hul agterban verworde parlemente,
    en op die stoep miljoene onnosele armes,
    lydsaam voortstrompelend in ‘n moeras
    van illusie geheet “bevryding”,
    of “revolusie”, hierdie twee rooidasmaaiers
    genestel in konstitusies vol beloftes, hierdie hoogste
    primate, met hul onnoemlike schemes,
    wesens deur die humanisme beklee met vrye
    wil (om verstandig, rasioneel en sagmoedig
    te handel), hierdie kamtig volstrek verfyndes,
    die verligting blakend in hul tand en klou,
    hierdie mees komplekse organismes
    met ingebou, die selfwerksame organe van hart
    en lewer, ekstreem effektiewe longe, smoele,
    ore, plus saal- en setel-beklewende
    sitvlakke, hulle wat gas en goud laat
    koevoet uit die dieptes, wat warm lug
    van propaganda, diamante, elektrone
    in tonnels om die aarde blaas, en niks
    ontsien wat smokkel, kets, priem, klots,
    raas, ontmantel, hierdie stof- en rookmakers,
    vuur- en galstrooiers, koppesnellers, die plomp-
    liegendste permutasies van die mensesoort
    wat soos een man om sig heengryp met hulle honderd
    arms, blind en slim soos die tentakels van ‘n slymswam,
    na bronne van olie, kernkrag en koring –

    één mag is hulle, onverdeeld,
    die speerpunt van ons ondeurgrondelike
    chemiese strewe na persoonlike voordeel, die essensie
    van ons wil wat sy roekelose spore orals los: vervellings,
    eksoskelette van ‘n giftige geskiedenis van Wonderkoppe,
    Oekraïnes, Chernobyls, riviervervuiling, aardverwarming
    gedra in bandopnames, sms’e, fakse, tenks, raffinaderye,
    bomme en mynskagte. Hulle werk soos ’n sponsige
    fungus van frases en kodes, omkoopsomme, data,
    sinjale wat, beskou onder ‘n mikroskoop,
    dieselfde eienskappe dra as groen bakterieë
    op ‘n vrot spanspek, ‘n kil borrelende gom
    wat skif na bo en vreet na onder, vanaf die hoogste
    howe, tot in die bloedbedruipte onderwêreld
    van bunker, binnekring, territorium –

    hul bly aan die mag deur ons aangeleerde
    hulpelose swye, ons wat soos ‘n teef, te veel
    kere geskop as sy net uit haar hok durf kom,
    nou haar bakkie hondebrokke vreet met platgetrekte
    ore, verlam en neusloos agter oopgegooide
    hekke. Of is ons bloot die soet kollektiewe sot
    van ‘n morele bloudruk, waardeur ons hierdie uitwasse
    van magswellus in ons geledere verdra
    onder die sluier van Apollo, die geparfumeerde
    lap wat in christelike lande “naasteliefde”
    “skuldgevoel” en “vergifnis” heet?

    Want as ons hul onttroon, hierdie presidente,
    geestelik onthoof, of (ja, dis moontlik!), wegstem,
    of hul gewoon met eerbare kritiek en argumente
    uit hul sitplek probeer werk, of met spotprente
    tot die gulp en boudnaat vil, of, as ons vreesloos vervul
    van burgermoed hul reguit die waarheid vertel, as ons
    hulle met ons jambiese hamers tot ‘n pulp sou verpletter
    soos daardie girls van Pussy Riot, dan groei uit ons midde,
    uit ons eie vleis, kan jy maar sê, alleen maar die volgende
    volkome identiese leiersgeslag. Vanaf Jan van Riebeeck
    gaan dit al so en keer op keer is ons verbyster
    deur die vraatsigheid van ons eie werpsels.

    Geen wonder hierdie maters bely altyd kontak,
    intiem en eerstehands, met god, sy engele, sy altare.
    Hulle voel sy heil in hulle lieste stamp
    synde seismograwe van ons misplaaste drome
    van geregtigheid. Ons wat aanvanklik warm en nat
    uit broeiende magmapoele kruip en later ons aarde
    kakkerlaksgewys oorwoeker, ons beleef nou
    die tyd van hierdie reuse onder ons, ons eie staatmakers,
    kêrels met regop nekke, veldpense, glunder-oë, soepel
    bekke. Gespierd staan hulle tussen heraldiese
    wiele en vlerke in die onherbergsame ruimte
    van die heelal, gelouer en gelek deur falankse
    kohorte wat kap, sny, grawe, roof, steel, skiet,
    en die aarde, woud en see, tot die laaste
    tevergeefs saamgebalde ietermagô en krimp-
    vark, ja, tot in sy onderste sout maritieme huls
    verwoes.

    En hulle skúd glimlaggend, (jesus kyk
    die tande) hulle skúd en skúd, tot in die skoenpunte
    vergrynsd, mekaar se skoongewaste hande.
    Sal ons hulle vergewe omdat óns dink húlle
    dink ons weet hulle kán nie anders nie?
    Sal ons elke heersende bogger tolereer wat met
    ons medewete die aarde en haar armes
    deur die ore naai?

    Come on, sistah, let’s get a life,
    ons moet ons oefen in verset,
    ons moet at least ons lewe tráái
    verander, let’s go talk to Thuli,
    dis darem één voorbeeldige mensch
    in onse vaderland,
    of hoe?

    (c) Marlene van Niekerk / Julie 2016

  3. anton van der woude :

    Amen!

  4. Maria Snyman :

    Ek hoop die webmeester sal hierdie kommentaar toelaat want dis lank en geïnspireerd, maar Marlene se beskrywing van haar en Anker kreatiewe skywerskursus laat my dink aan die volgende afdeling in Gaston se boek The Concept of the World from Kant to Derrida (2012) – wat my weer laat dink aan die afdelingstitel “Start with the gaps” (“gap” is écart wat omgekeerd tracé (n. f.) is in Frans*) in Gaston pragtige en interessante The Impossible Mourning of Jacques Derrida (2006); Gaston (2012:143-145) skryf (die sterretjies is my voetnote):

    “Starting with the Thing

    Blanchot’s opening paragraph to his 1947 essay is remarkable, not least because it begins with a thing, the writer’s pen, which is addressed by the writer. It is worth concentrating on this paragraph in some detail. Blanchot writes:
    One can certainly write without asking why one writes. As a writer watches his pen form the letters, does he even have a right to lift it and say to it: “Stop! What do you know about yourself? Why are you moving forward? Why can’t you see that your ink isn’t making any marks, that although you may be moving ahead freely, you’re moving through a void, that the reason you never encounter any obstacles is that you never left the starting place? And yet you write – you write on and one, disclosing to me that I dictate to you, revealing to me what I know; as other read, they enrich you with what they take from you and give you what you teach them. Now you have done what you did not do; what you did not write has been written: you are condemned to be indelible.

    Blanchot starts with a writer speaking to a thing. This strange scene follows directly after the title, “The Spiritual Animal Kingdom” – a title, as we have seen, that is itself a citation from a section of the Phenomenology that describes the disappearance of the perceived thing as the Aufhebung of world. If we take Blanchot’s opening as a gesture to the Phenomenology, he is beginning before the Aufhebung of the thing and the articulation of world as spirit. There is, as yet, no actual world. This thing, this writer’s pen, is an active thing: it appears to have its own activity. It is a question here not of the activity of the literary man, but of the writer’s pen itself: “As a writers watches his pen form letters, does he even have a right to lift it and say to it: ‘Stop!’” Blanchot suggests that if the writer is watching the pen as it writes, then we must ask: who is writing – and what is writing?
    One could contrast Blanchot’s opening paragraph to Heidegger’s insistence in The Fundamental Concepts of Metaphysics that a working pen has a readiness (Fertigkeit) to write, but it does not have itself the capacity (Fähigkeit) to write. In the midst of struggling with the problem of the comparative world of humans and animals – and we can remind ourselves that we are in the midst of Hegel’s spiritual animal kingdom – Heidegger insists that the readiness of the pen indicates a distinctly human potentiality of “making something ready in and through production.” The pen, Heideggers assumes, is always “ready for writing.” For Blanchot, on the contrary, the writer’s pen appears itself to have a kind of capacity and may also not have a constant readiness for the writers. It is a thing that is not within the control of the consciousness or will of the writer. It is a thing that resists Hegel’s narrative from his very first designations of the thing in his opening chapters in the Phenomenology on sense certainty and perception to the spiritualization of the thing in the closing sections of reason.

    Blanchot begins his essay with an apostrophe to the writer’s pen. There is no sense that this pen has been personified of given anthropocentric mobility. The form of apostrophe suggests not only an address to a personified thing, but also an address to someone who is absent or dead. Blanchot’s final title for his essay will be “Literature and the Right to Death,”** and there is already a relation here to death as the possibility of language, of speaking and writing registering things that are not present before us. This address is also made in the French familiar tu: this is a familiar thing, an intimate thing; it is thing that has already moved throught the formality, hierarchy and distance of the vous, as if an address to what is absent can only be made in the intimacy of the tu.

    Of course, the questions addressed to the writer’s pen are absurd, and we should not overlook the possibility that the opening of Blanchot’s essay is an oblique satire on Kojève. These questions could be taken as a series of ridiculous philosophical questions, ridiculous because they are addressed to a thing, to a pen. “What do you know about yourself?” Why don’t you see where you are going or what you are doing? The pen does not answer any of these questions. It is silent and yet is writes: “And yet you write – you write on and on.”

    “Why can’t you see that your ink isn’t making any marks?” the writer asks. Blanchot links this blind forward momentum to a seemingly futile lesson: “The reason you never encounter any obstacles is that you never left your starting place.”*** This could be taken as a quasi-Hegelian lesson: recognizing the power of the negative is the only way that anything can move, can gain a forward momentum and a teleological assurance. One could counter this Hegelian interpretation of these questions about self-knowledge, orientation and direction with an unconscious, blind writing of a thing that writes without a world.****

    The last part of this opening paragraph offers three condensed stages that echo the discrete world-like spheres of the Phenomenology: the relation between the pen and the writer; the relation of the thing to the reader; and, finally, the relation to the published work. Between the pen and the writer there is a relation that could be described as that of master and slave (the section of the Phenomenology that Kojève famously privileges), but is is a very equivocal relation: “I dictate,” “I know” the writer insists. At the same time, it is only through the actions of the pen that this mastery is possible: “disclosing to me,” “revealing to me.” The mastery of the writer, of the world that his writing will create, is dependent on the capricious thing-as-pen.

    The relation between the thing-as-pen and the reader is also equivocal: “as other read, they enrich you with what they take from you and give you what you teach them.” Readers are enriched by the labour of the pen. This enrichment is a form of taking: the readers take and they gain. More enigmatically, they also give something back, but they only give back what the pen has taught them. The reader takes and adds to the labour of the pen and gives back, but only gives what he or she has already received. This contradictory and disorientating sense of taking as a giving and giving as receiving indicate that Blanchot is already straining and exceeding the inversions and reversals of the controlled negations that drive the Hegelian dialectic.

    In the final stage of this paragraph, which begins with a very Hegelian “now,”***** the writing of the pen has, despite itself, been fixed by the published work: “what you did not write has been written: you are condemned to be indelible.” This determination and dispossession of the thing is the equivocal advent of the literary work. Later in the essay, Blanchot will identify “the Thing itself” (la Chose même) as a key aspect of the idealization of the literary work. As he observes, for those who follow Hegel, the spiritualization of the thing announces “the spiritual truth” of the literary work and “the World as it is sketched out in the work.””

    * translate.google.co.za: “Dessin reprenant les lignes principales d’un plan. – ‘Le tracé d’un jardin.’”
    ** Ek sien hierdie titel van Blanchot natuurlik ook in die lig van daardie hoendervleisgeeënde krimpvarkie in Derrida se teks “What is poetry?”, d.w.s die krimpvarkie op ’n sekere kruisweg so besig om oor die snelweg (“autoroute”) te loop en wat, as hy die gevaar hoor nader kom, homself oprol en sy penne wys, oftewel soos Derrida (1995:299) dit o.a. stel, daardie “‘demon of the heart’ [that] never gathers itself together, rather it loses itself and gets off the track (delirium or mania), it exposes itself to chance, it would rather let itself be torn to pieces by what bears down upon it”. Dit is natuurlik een van Derrida se eindelose ‘metafore’, of voor-beelde, vir wat hy o.a. skrif (“writing”) in die algemeen noem, oftewel ‘wat plaas-vind’, d.w.s wat mens ‘wat daar staan’ of ‘om te wees’ kan noem, d.w.s. ook ’n sekere geheim … (wat jou in die gesig staar … sien dat dit nie gesien word nie … )
    *** Derrida se lesing van Husserl se oeuvre, en dus spesifiek ook Husserl “The Origin of Geometry”, plaas hierdie stelling natuurlik in ’n asemrowende lig. Derrida (2003:178) sluit sy verhandeling (mémoire in Frans) gedoen in 1953/54 en wat getiteld is “The Problem of Genesis in Husserl’s Philosophy” af deur Husserl aan te haal uit ʼn gesprek met sy suster vanaf sy siekbed kort voor sy dood: “Just when I am getting to the end and when everything is finished for me, I know that I must start everything again from the beginning […]”.
    **** Derrida (1989:12) dui in Of Spirit: Heidegger and the question op die drie “guiding theses” wat Heidegger se Fundamental Concepts of Metaphysics rig wat behels: “the stone is without world (weltlos), the animal is poor in world (weltarm), man is world-forming (weltbildend)”. Vergelyk ook Claire Colebrook se artikel “Archiviolithic: The Anthropocene and the Hetero-Archive” (2014). Sy (2014:37-38) skryf byvoorbeeld:
    ““In many ways this is what the concept of the anthropocene opens: how might this world (our world) be viewed without humans? First, our traces on the earth would be marks that there had been some event, but not what that event was or meant. All our traces (literary and otherwise) would remain but without human context or concept. The archive would be a dead letter (which is also to say that it would be maximally alive, not reduced to any given context or ethos). […]”
    Colebrook se 2016 artikel “The Play of the World: The End, the Great Outdoors, the Outside, Alterity and the Real” is ook baie goed ek aktueel.
    ***** Vergelyk Gaston (2007:130-133) se bespreking van Hegel wat geskryf het “To the question: ‘What is now [was ist das Jetzt?], let us answer, e.g. ‘Now is Night’ [das Jetzt ist die Nacht].” in die afdeling “Writing the truth” in sy boek Starting with Derrida: Plato, Aristotle and Hegel. Dit is baie snaaks. Die volgende afdeling is dus seker nie verniet getiteld “Language save us” nie.

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    O genade!