Resensie: Die singende hand (Breyten Breytenbach)

 die singende hand

‘voel-voel / na dood wat nie daar is nie’:

Breyten Breytenbach se Die singende hand

Versamelde gedigte 1984 – 2014

[Human & Rousseau, 2016. Prys : R400, Bladsye : 744, Formaat : 213 mm x 137 mm, Sagteband. ISBN-13 : 9780798172134]

Resensent: Desmond Painter

 

Die derde band van Breyten Breytenbach se versamelde gedigte het skaars verskyn, toe is dit alreeds weer verouderd: die digter het sedertdien nog ʼn lywige bundel gepubliseer, Die Na-dood, so daar is nog geen sprake van afrond en inpak nie; van ʼn voltooide en versamelde oeuvre nie. Maar wat het jy verwag? Hy het immers al in Katalekte (2012; in Die singende hand op p. 621; hierna is alle bladsyverwysings na lg. bundel) om verskoning gevra vir die lanklywigheid:

 

toe dit tyd geword het

vir die opstaan om dood te gaan

het ek my verslaap.

sorry

 

Breytenbach skryf sedert 1993 se Nege landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde (‘en nou pluk ons die sterre / en so begin my sterwe’, p. 191) al sy laaste bundel: Die singende hand is dan ook ʼn soort ‘long goodbye’ (om Raymond Chandler aan te haal), ʼn byeenbring van ʼn reeks bundels wat elkeen ‘voel-voel / na dood wat nie daar is nie’ (Papierblom, p. 297), wat in antwoord ontstaan op die vraag: ‘jy sterwe, / maar wat as die dood uit sou bly?’ (Nege landskappe, p. 115). Nou ja, geleende tyd kan verleentyd word… maar ʼn mens is hierdie digter ter wille. Jy wil trouens vir hom ʼn e-pos stuur, en aanhaal uit hierdie gedig:

 

ek is bly jy is hier /

ek is bly niks het gebeur nie /

dat jy my net wou laat skrik

met die skryf-skryf se mik na niks

deur te maak jy is dood

(uit ‘tuis’, Die beginsel van stof, p. 517)

 

En hierdie ook, as ʼn nagedagte, uit dieselfde gedig:

 

solank mens aanhou swerf

kan jy immers nie sterf nie

 

Waarop jy dan dalk ʼn antwoord soos hierdie sal kry (Breytenbach is immers bekend as ʼn koppige korrelspondent: en eisj, met hierdie opmerking van my dan ook ʼn demonstrasie van sy negatiewe invloed op beïnvloedbare amateurdigters… moet jou, jong digter, deur die man se woordspieletjies nie laat verlei nie!):

 

hy wat aanhou skryfel teen die dood

kry ʼn oumanslyf gevrug in die woord –

maar die voëltjies van verganklikheid

sit kwetter reeds in die gedigteboord

(Uit ‘drie kwatryne’, Die beginsel van stof, p. 518)

 

Hierdie poëtiese omgaan met eie sterflikheid en die dood is natuurlik geensins uniek tot Breytenbach se ‘laatwerk’ nie, maar dit bereik in die meer onlangse bundels wel ʼn verhoogde intensiteit; iets wat ʼn mens ook bemerk in die vele elegiese verse oor gestorwe geliefdes. Eerder as bloot ʼn literêre tema, word die doodsmotief sedert 1993 ʼn veel meer ontredderende eksistensiële gegewe. Die voëls van verganklikheid het met die verbygaande jare begin om dringender, ʼn bietjie hartseerder, maar ook met meer gelatenheid, met meer speelsheid selfs, oor die dood te sing. En hierdie aksentverskuiwing in Breytenbach se latere werk is een van die redes waarom jy hierdie boek moet koop.

 

Wat sal ʼn laaste gedagte tog wees? Wie sal dit dink?

Die ek is ʼn ineenstortende samestelling wat oopgaan op ʼn beierende

niet van waar ʼn gewaarwording gebore word wat afhanklik is van ‘ek’

om tot ʼn wete te kom.

 

Vir die dood is ek nie bang nie. En die lewe is net ʼn kort snik

in die keel.

Mens hoop net die tou se strik byt nie te seer nie.

(Uit ‘die laaste gedagte’, Die windvanger, p. 406)

 

Breytenbach se verkenning (wat ook ont-kenning is) van die ‘ek’ is nog ʼn deurlopende tema in sy werk: die ek as ʼn ‘ineenstortende samestelling’ is ʼn newe-effek van die verdubbeling waartoe taal ons verlei (soos ou Nietzsche iewers verduidelik), van die fiksie dat daar vir elke daad ʼn doener is – terwyl alles eintlik net doen en gedoente is. Breytenbach se relativering van die ‘ek’ – en die proses is altyd voorlopig; niemand staan bestand daarteen nie; ons is almal hardekkig – begin by ʼn ontginning van die daad-werklikheid van taal, van taal as wordingsruimte en ruimtewording, wat by die poësie in uitvergrote vorm uitdrukking kry (die idee van die ‘singende hand’ is hier van toepassing), maar nie tot die poësie beperk is nie.

 

taal is nie ʼn kleed van betekenis nie /

daar is geen diepkennis wat ingebind

met toegang oopgevlek en ontluister moet word /

misterie fluister in die oppervlak

se bewegings reeds

(uit ‘winterwerk’, Die Windvanger, p. 375)

 

In hierdie verband moet ʼn mens aandring daarop dat Breytenbach se poësie, of sy beskouing en beoefening van poëtiese taaldadigheid (taalaandadigheid?), ook die model vir sy taalpolitiek is. Nie net sy gedigte oor politieke temas nie, maar sy poësie as sodanig neem die vorm aan van verset – teen die verstarring van taal in die kommodifisering van kommunikasie of die verstaatliking van etno-nasionalistiese identiteite. Vir Breytenbach kan taal nie gereduseer word tot kommunikasie en identiteit nie; dit is nie bloot medium of merker nie. Hierdie oortuiging onderlê nie net ʼn manier van gedigmaak nie, maar ʼn taalpolitieke projek, en een wat net deur middel van wanvoorstelling as ‘konserwatief’ of ‘regs’ uitgebeeld kan word. Veel eerder is dit ʼn radikaal-demokratiese stellingname, ʼn anargo-kommunistiese beginsel selfs, gesentreer op taal as gedeelde weelde (die ‘commons’), herwinbare ruimte en voortdurende revolusie. Trouens, daar is geen werklike teenstrydigheid tussen Breytenbach se vroeër, bitter verse oor Afrikaans (bv. ‘taalstryd’ in Lewendood) en sy latere openbare bemoeienis met die toekoms van die taal nie. In beide gevalle kom hy in opstand teen ʼn beslaglegging en reïfisering van betekenisruimtes en produksiemiddele wat die kreatiewe en omvormende moontlikhede wat taal en taaldiversiteit bied, inkort en opskort.

 

Die singende hand: Versamelde gedigte 1984-2014 protesteer van die intrapslag teen die parameters wat dit definieer: die eerste 78 bladsye se gedigte dateer van vóór 1984, maar is eers in 1990 in die bundel Soos die so gepubliseer. Hierdie derde deel, wat volg op Ysterkoei- blues: Versamelde gedigte 1964-1983 en Die ongedanste dans: Gevangenisgedigte 1975-1983, is die mees omvangryke van die drie bande. Breytenbach se produktiwiteit die afgelope dekade word onderstreep deur die feit dat meer as die helfte van die ongeveer 750 bladsye beslaan word deur gedigte wat die afgelope 10 jaar, sedert 2007, gepubliseer is. Dit is die bundels Die windvanger (2007), Oorblyfsel / Voice over (2009), Die beginsel van stof (2011) Katalekte (2012), Vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte (2014), en Oorblyfsel (2014). Hierdie onlangse bundels, en tot ʼn mate ook Papierblom (1998), is nog geredelik beskikbaar in die handel, en dit is dus die vroegste bundels wat hier opgeneem is, Soos die so (1990) en verál Nege landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde (1993), wat dit veral die moeite werd maak om Die singende hand te koop.

 

Die laasgenoemde bundel, Nege landskappe, is destyds deur die klein uitgewer Hond gepubliseer, met die gevolg dat dit ten spyte van goeie resensies relatief obskuur gebly het; ʼn soort ondergrondse klassiek. Dit is myns insiens een van Breytenbach se mees oorrompelende bundels, en een van die werklik gróót digbundels in Afrikaans. Die enkelbundel behoort eintlik al lankal as heruitgawe beskikbaar gewees het… maar nou ja, dit is nie hoe dinge in ʼn klein literêre sisteem soos ons sʼn werk nie; ten minste is hierdie belangrike werk nou weer vir ʼn jonger generasie lesers beskikbaar. Die deurleefdheid en verweefdheid van die tematiese materiaal, die ambisie van die komposisie: dit is Breyten Breytenbach op sy heel beste. Nie eers Jan Blom of Jan Afrika sou hom dit kon nadoen nie.

 

Elkeen van hierdie boeke sou op sy eie genoeg gewees het om Breyten Breytenbach as een van Afrikaans se grootste digter te vestig. Sáám is die drie bande een van die groot literêre monumente in Afrikaans: ʼn halfeeu se poësie wat nie slegs die taal tot die uiterste ontgin het nie, maar etlike generasies lesers (en digters) se bewussyn en verbeelding beide esteties en polities verdiep en geïnternasionaliseer het soos geen ander Suid-Afrikaanse skrywer nie. Daar is gewoon niks in Afrikaans, in Suid-Afrika, dalk selfs in Afrika, wat naastenby met hierdie voortstuwende woordwerk vergelyk kan word nie.

 

Ten slotte, dus, ʼn gedig waarin die digter verkeerd is. Of skaamteloos skimp vir komplimente soos in die paragraaf hierbo…

 

Die goëltoertjie

 

Dis nie waar dat ʼn ou man

nog poësie kan skryf nie –

iets is daarmee heen –

miskien die soepelheid om

soos ʼn vars versreël te buig

en jou eie skoenveters vas te kan maak /

of die voortvarendheid

om kaalvuis ʼn verwronge metafoor

uit die hoed te pluk –

nog duiselig van die buk

sê jy dan die maan is ʼn gedagte

en die gedig al sedert jare

ʼn dooi oogverblinde haas

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie: Die singende hand (Breyten Breytenbach)”

  1. Grieta :

    Hy is my gunsteling skrywer.

  2. Francis Galloway :

    Dankie dat jy ons daarop wys Desmond:
    “Daar is gewoon niks in Afrikaans, in Suid-Afrika, dalk selfs in Afrika, wat naastenby met hierdie voortstuwende woordwerk vergelyk kan word nie.”

  3. Desmond, baie dankie ook vir jou uiters treffende insig ivm 50 jaar se digkuns
    “wat nie slegs die taal tot die uiterste ontgin het nie, maar etlike generasies
    lesers (en digters) se bewussyn en verbeelding beide esteties en polities verdiep en geinternasionaliseer het soos geen ander Suid-Afrikaanse skrywer
    nie.” Is meer moontlik?