Onderhoud met Martjie Bosman (Vloeibare middelpunt)

martjie bosman vloeibare middelpunt_b-horz

Johann Lodewyk Marais in gesprek met Martjie Bosman

oor haar nuwe digbundel, Vloeibare middelpunt

*

Martjie Bosman se derde digbundel, Vloeibare middelpunt (2016), het onlangs by Protea Boekhuis verskyn en volg op Landelik (2002) en Toevallige tekens (2010). Sy is met die Ingrid Jonker-prys vir haar debuutbundel bekroon.

Marais: In jou eerste twee digbundels handel heelparty van die gedigte oor ervarings in landelike gebiede. Dit sluit Groblersdal in waar jy gebore is en skoolgegaan het; asook ervarings as sosiaal-wetenskaplike in die Laeveld en KwaZulu-Natal. Aangesien ek tussen 1991 en 2000 saam met jou aan navorsingsprojekte in landelike gebiede gewerk het, was die agtergrond van baie van die gedigte bekend. Waarom was landelike ervarings en die omgewing vir jou “eerste prikkels” om oor te skryf?

Bosman: Die Bosveld waar ek grootgeword het en waarmee ek nog lank kontak gehad het, was uiteraard ’n belangrike verwysingswêreld en ook die inset van die gedigte in Landelik soos “Aand, Sendingstasie”, “Dorpsbegrafnis” en “Reisvaardig”. My kinder- en jeugjare was bevolk met plante, diere, voëls en mense wat nou nog iewers in die bewuste en onderbewuste sluimer. Die sprong van daardie Bosveld na die Laeveld was wat die ruimte betref nie so groot nie, en ek kon van die ervaringe aanhaak aan die bekende. Ander ervarings tydens veldwerk was egter volkome vreemd – nie soseer die subtropiese plantegroei of die diep vallei van die Tugelarivier nie, as die afgesonderheid van die klein dorpies, die bestaanswyse en soms bestaansnood van mense ten tye van die groot droogte van 1991–1992, die armoede, die kommunikasieprobleme in gemeenskappe waar mense nie Afrikaans of Engels kan praat nie. Ek was ook diep onder die indruk van my eie onvermoë om werklik te verstaan hoe dit moet wees om in daardie plekke en omstandighede te woon, en daarby ook die onvermoë om iets daarvan aan ander mense, kollegas, vriende en familie, oor te dra. Toe het ek maar daaroor gedigte geskryf. Die gedig oor Nkandla, wat toe nog uit nie veel meer as ’n landdroshof en ’n stamkantoor bestaan het nie, gee iets weer van die afstand tussen die stedelike besoekers en die nkosi wat die behoeftes van sy mense wil oordra. Die omgewing het van ander belangstellings gekom, onder andere die kursusse in voël- en roofdieridentifikasie wat ek by die Pretoriase Dieretuin gevolg het, en ’n baie besondere dagseminaar oor omgewingsvraagstukke wat ook by die Pretoriase Dieretuin aangebied is.

Marais: Ek het jou as navorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) leer ken toe die klem in die organisasie sterk op sosiaal-relevante navorsing geval het. Sedertdien was jy ’n SAUK-klankargivaris en tans ’n redakteur by Protea Boekhuis in Pretoria waar jy digbundels en ander Afrikaanse en Engelse publikasies (onder andere van Karel Schoeman) redaksioneel versorg en hanteer. Het jou werk en werksomgewing bygedra tot die verruiming van die onderwerpe waaroor jy skryf?

Bosman: Die fisiese, ruimtelike omgewing waarin ek werk het sekerlik ’n bydrae gelewer tot my skryfwerk, maar ek dink nie die aard van my werk self nie. Vier jaar se heen en weer ry na die SAUK in Johannesburg het aanleiding gegee tot die skryf van die gedig “Pendelaar, N1” in Toevallige tekens en die drie gedigte vir Aucklandpark het weer ontstaan as uitvloeisel van my stappery oor etenstye buite die SAUK-gebou, maar ek dink nie enige gedigte het hulle ontstaan direk te danke aan my werk as argivaris vir Afrikaans nie, al was programme oor die letterkunde en radiohoorspele ’n belangrike deel van my werk. Ook die werk as redakteur is nie regtig bevorderlik vir eie skeppende skryfwerk nie. Om as poësieredakteur die beste moontlike bemoeienis met ander digters se tekste te maak, vra dat ek eintlik my eie styl en my eie skryfwerk moet opskort of tussen hakies plaas: Ek probeer my indink, inlééf in die digter voor my se werk en as ek enige aanbevelings maak, moet dit in lyn wees met hierdie digter se werk. Dit gee soms ure se geworstel af met enkele woorde of enkele reëls, veral met digters soos jy en Daniel Hugo wat lettergrepe tel! Enigiets wat ’n mens dan wil voorstel, mag nie die perk van agt of tien lettergrepe per reël van daardie betrokke gedig oorskry nie of te min wees nie, en dis nogal ’n groot uitdaging vir die redakteur. Ook Jacobus van der Riet se sonnette was besonder moeilik. En soms het digters ’n eie ritme wat ek nie noodwendig kan peil nie, en dan praat ons maklik by mekaar verby.

Marais: Vloeibare middelpunt se eerste motto is die beroemde Duitse liriese digter Friedrich Hölderlin (1770–1843) se woorde “… dichterisch/ wohnet der Mensch auf dieser Erde”. Hölderlin se woorde het sterk neerslag in die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889–1976) se werk gevind. Wat het jy met die motto beoog?

Bosman: Die begrip “woon” is een van die temas wat in hierdie bundel ter sprake kom. In ’n tyd waarin baie Afrikaanssprekendes toenemend vervreemd voel, emigrasie oorweeg, onseker is oor ’n toekoms in Afrika, was die vraag oor my hierwees in Suid-Afrika oor die afgelope paar jare dringender as tevore, en al het ek dit nie noodwendig so beplan nie, handel heelwat van die gedigte in die bundel oor tuiswees teenoor ontheemd voel. Daar is ook die dubbelslagtigheid wat ’n Westerling in Afrika voel: Ek het my land diep lief, maar daar is ook die vreemde gewaarwording van tuis wees in Wes-Europa en met die Europese waardes en kultuurgoedere waarsonder ek nie my lewe kan leef nie. Miskien was Heidegger se lesing “Bauen Wohnen Denken” (5 Augustus 1951), waarmee ek in my derde jaar in die Wysbegeerteklas kennis gemaak het, maar altyd in die agterkop. Vir Heidegger lê die begrip Schonen aan die basis van outentiek woon: Dit beteken dat ’n verhouding van ontsien, bewaar, spaar, in orde hou, bestaan tussen die mens of die sterflikes, soos hy dit noem, en das Geviert, of die Viervoud. Daaroor het ek die reeksie “Viervoud” geskryf wat in Landelik opgeneem is.

In 1951, toe Heidegger hierdie lesing gelewer het, was die woningnood in Duitsland letterlik ’n tekort aan geboue waarin mense kan woon; in 2016 in Suid-Afrika bestaan dié nood ook, maar vir my behels dit ook die vraag na ’n sinvolle bestaan hier; dus nie noodwendig wáár of waarin ’n mens woon nie, maar hóé.

Die begrip woon kom weer aan die orde in die lesing “… dichterisch wohnet der Mensch …” (6 Oktober 1951) waarin Heidegger die Hölderlin-gedig bespreek waaruit die aanhaling kom:

.

Darf, wenn lauter Mühe das Leben, ein Mensch

aufschauen und sagen: so will ich auch sein

Ja. So lange die Freundlichkeit noch am Herzen, die Reine,

dauer, misset nicht unglücklich der Mensch sich

mit der Gottheit.

Ist unbekannt Gott? Ist er offenbar wie die Himmel?

dieses glaub’ ich eher. Des Menschen Maaß ist’s.

 Voll Verdienst, doch dichterisch,

wohnet der Mensch auf dieser Erde. Doch reiner

ist nicht der Schatten der Nacht mit den Sternen,

wenn ich so sagen könnte,

als der Mensch, der heißet ein Bild der Gottheit.

.

Volgens Heidegger beteken dié “digterlike woon” nie net die oomblikke van poëtiese aktiwiteite wat digters soms beleef nie; dit is “die mens” wat digterlik lewe, en dit nie in ’n fantasiewêreld nie, maar “auf dieser Erde”. Die mens moet op digterlike wyse sy maat neem aan die goddelike, onder die hemel maar op die aarde leef, wat weer verband hou met die Schonen-konsep. Die digterlike hou vir my ook in dat dit wat verborge is, te voorskyn gebring moet word, moontlik deur dit te “ver-taal”, uit te spreek. Die estetiese, sê Heidegger in “Die oorsprong van die kunswerk”, is een manier waarop die waarheid as onverborgenheid gebeur. Maar dalk is digterlik lewe om ironies te lewe, in N.P. van Wyk Louw se woorde.

Marais: Die titel Vloeibare middelpunt suggereer ’n ervarende subjek wat sowel in tyd as ruimte bestaan en veelsoortige ervarings beleef. Wat is vir jou die middelpunt of “knooppunt van die paaie” waar sekerhede opgeskort word soos dit in die eerste gedig, “Oidipus”, lui? Wat behels hierdie bewustheid van verskillende werklikhede?

Bosman: Die kruispad of knooppunt van paaie is ’n plek waar verskillende moontlikhede bymekaar kom, waar keuses gemaak moet word. Die gedig vra wie die skuldige is: Oidipus wat koning Laios van Thebe by die kruispad doodmaak, onbewus daarvan dat dit sy eie vader is, of Laios, wat jare tevore ná die voorspelling van ’n orakel opdrag gegee het dat sy pasgebore seun doodgemaak moet word juis om sy eie moord te voorkom. Die implikasie is, hoop ek, dat skuld nie so maklik toegeken kan word nie. Die bedoeling is nie soseer dat hier ’n ongemak met verskillende werklikhede is nie, maar wel ’n bewussyn daarvan, ’n bevraagtekening van die voor die hand liggende en algemeen aanvaarde wanneer van ’n ander hoek af na die kruispad gekyk word.

Marais: In Vloeibare middelpunt merk ek ’n verskuiwing na stedelike temas, wat jou gedigte ’n ander “karakter” gee en as ’t ware in Ryan Loubser se skildery, “Spookhuis in die reën”, op die voorplat weerspieël word. Jy skryf met deernis oor jou stad Pretoria in gedigte soos “September”, “Voëlvlug” en “Woelige Woensdag”. Is jou landelike ervarings nou afgehandel en het jy meer tuis (en ontuis?) in die stad begin voel?

Bosman: Die ruimtes waarin ek my bevind is belangrike stimuli vir my gedigte. Ek kom nie meer so baie in landelike omgewings nie, en probeer ook om meer bewustelik te leef in die stad – om teenwoordig te wees, werklik te ervaar daar waar ek is. Ek het dit as ’n uitdaging aan myself gestel om meer op te let na wat om my aangaan en waar te neem wanneer ek agter my motor se stuurwiel inskuif, en nie die hele tyd te beplan of te dink oor wat aan die einde van die rit voorlê of wat ek oor die radio hoor nie. Die gevolg was meer gedigte oor Pretoria.

Marais: Vloeibare middelpunt het ’n sterk ruimtelike karakter. Benewens Pretoria kom ook verwysings na Cambridge, Oxford, Edinburgh, Heidelberg in Duitsland en Reykjavik in die bundel voor. In al hierdie gedigte is die fisieke daarwees op ’n plek opvallend. Waarom wek vreemde plekke jou belangstelling?

Bosman: J.H. van den Berg het iewers geskryf dat ’n mens skerper herinneringe aan vakansies op ander plekke het omdat jy dan los is van alledaagse kwellinge. Wanneer ’n mens in die buiteland is, plaas jy regtig groot afstand tussen die gewone lewe en die vreemde plek waar jy jou bevind en kan jy konsentreer met al jou sintuie en jou bewussyn. Jy moet ook konsentreer, anders verdwaal jy! Maar dit het waarskynlik ook te maak met jou instelling teenoor die nuwe ervaring: Moontlik gaan jy nooit weer op hierdie plek kom nie, dus moet jy soveel as moontlik inneem. Waarom ek daarin belangstel om plekke in die buiteland te besoek? Baie dikwels beplan ek om ’n plek te besoek omdat my belangstelling in dié plekke geprikkel deur wat ek tevore gelees het (soos Lindisfarne), maar soms duik ’n geleentheid op wat ek net nie deur die vingers kan laat glip nie.

Marais: Jy openbaar wel in gedigte soos “Kanna hy kô hystoe”, “Blok myself” en “The powers that be” ’n betrokkenheid by sosiale kwessies in Suid-Afrika, maar daar is minder as in die vorige bundels.

Bosman: In die vorige twee bundels was daar meer gedigte oor die aktualiteit, maar op hierdie stadium van ons geskiedenis beleef ek die Afrikaner as gemarginaliseer, sonder inspraak, selfs sonder taal. Poësie in Afrikaans oor landsvraagstukke is nie veel meer as ’n binnegesprek oor sake wat al in talle forums opgehaal is en werklik nie veel nuut gaan bydra nie. Dit beteken nie dat ek my terugtrek in die vermaledyde ivoortoring nie, net dat ek totaal ontmagtig voel.

Marais: Hoe regverdig jy dat jy in hierdie bundel andersins, byvoorbeeld in “By twee impromptu’s van Franz Peter Schubert”, “Vir die vroeggestorwenes”, “Traviata, “Les liaisons dangereuses”, “Sole survivor” en “Steenhouer” oor die estetiese in plaas van plaaslike probleme of ʼn problematiserende ingesteldheid skryf?

Bosman: Bedoel jy nie dalk hier dat die gedigte nie handel oor probleme van ’n sosiaal-politieke aard nie? Dis die ou vraag van die private ache teenoor litterature engagée wat in die 1980’s nogal tot debatvoering in Afrikaanse literêre kringe gelei het, nie waar nie? Die gedigte wat jy noem, wentel myns insiens nie om die estetiese nie, al is ’n estetiese objek die aanset of oënskynlike onderwerp van die gedigte. Party van hierdie estetiese objekte het juis hul status in die musiek-, beeldende kunste- of literêre wêreld verwerf vanweë die groot menslike vraagstukke wat daarin aan die bod kom. Ek voel my nie verplig om net oor die aktuele vraagstukke van Suid-Afrika te skryf nie. Ek is ’n mens, alles mensliks raak my.

Marais: Jy het tot in Ysland gereis en gedigte oor dié ervaring geskryf. Vertel asseblief meer en haal een van die gedigte aan.

Bosman: Ek het lank gelede ’n bietjie kennis in verband met Ysland se geskiedenis en taal opgedoen toe ek ’n semesterkursus in Oud-Noors by prof. Heinrich Ohlhoff bygewoon het. Daar was ook drie bundels met Engelse vertalings van Yslandse sagas op my boekrak. Toe die geleentheid dus opduik om in Oktober 2014 na Ysland te gaan, het ek en my reisgenote dit met albei hande aangegryp. Ons het van Gatwick in Engeland met Ysland se goedkoper lugdiens na Keflavik-lughawe gevlieg, van daar met ’n bus na Reykjavik gereis en toe te voet by ons kelderwoonstelletjie redelik sentraal in die stad gekom. Alles in Ysland is vreeslik duur, veral vir Suid-Afrikaners, natuurlik, maar ons het kos by die supermark Bonus (slagspreuk Bigur Beður – groter en beter!) gekoop en onsself net nou en dan met ’n lekker warm koppie Latte beloon terwyl ons die stad te voet verken het. Een dag het ek saam met my broer Phlip ’n kongres by die Universiteit bygewoon terwyl my vriendin Annemarie die munisipale swembaddens en saunas en my broerskind Phlippie jr. die warmwatermeer ’n end buite die stad gaan beproef het. Hy het ook met ’n toerbus staduit gery om die noorderligte te sien, terwyl die ouer lede van die geselskap so gelukkig was om ’n simfoniekonsert met Vladimir Ashkenazy op die podium van die Yslandse simfonie-orkes en Yevgeny Kissin agter die klavier te kon meemaak. Op die laaste dag het ons met ’n bustoer die primordiale landskap met sy sneeubedekte berge, lawavelde en pioniersplante en ’n paar van die belangrike natuurverskynsels gaan besigtig: twee groot watervalle, die geotermiese terrein met die geysirs Strokkur en Geysir wat kokende water en stoom die lug in skiet, en die skeurvallei Þingvellir waar die Noord-Amerikaanse en die Europese kontinentale plate steeds verder uitmekaar beweeg. Dit klink miskien na ’n toeriste-advertensie, maar dit was werklik ’n besonder intense en buitengewone belewenis. Die gedig hier onder probeer iets daarvan weergee:

REYKJAVIK

Ash happens (Yslandse T-hemp)

.

In Reykjavik, in Reykjavik

in ’n smal steeg met runetekens in sy naam,

stoot ons die deur oop van ’n kelderwoonstel.

’n Kat so rooi soos ’n vos kom kuier vriendelik,

vertrek weer doekvoet toe die blonde kinders

bo stommelend begin met hulle spel.

In Oðinsgata staan ’n huis met lang gras

op die spits dak soos in ’n sprokiesboek.

In Reykjavik, in Reykjavik

hang die reuk van swael altyd in die lug,

tril die aarde skaars merkbaar ondervoets,

In Reykjavik praat die goedige mense

’n isolerende taal grinterig soos lawaklip,

eet ons smjörvi en rabarbarasulta op brood,

bak ons salm en fiskibollur in ’n oond

uit onderaardse hekseketels aangevuur.

In ’n winkelvenster wag ’n trollevrou

gestol en toornig op die donker nag ná joel

wanneer sy en haar genote geniepsig

sal toeslaan op afvalliges van die ou geloof.

In Reykjavik, in Reykjavik

lê ná elke kouer bui meer goue blare

van die berk en esp in vlak poele,

verloor elke dag nog kwartiere lig

en word dit haas tyd om te groet,

jou tas op ’n donker môre dreunend

te sleep na die terminus, voor die winter

soos ’n grys wolk uit ysige pieke stort.

.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Onderhoud met Martjie Bosman (Vloeibare middelpunt)”

  1. Ek vind sterk aanklank by die reeks oor Pretoria. “Meibrief uit Pretoria” is veral mooi. Dankie vir die onderhoud.

  2. Martjie :

    Dit stem my treurig dat die stad vandag brand.