Breyten Breytenbach huldig die ontslape digter Adam Small

Adam Small. Tuin van digters

In die kuberruim vergaan mense nie. Hulle bly aanwesig en word aangespreek asof daardie gees na willekeur vergestalt kan word. Byvoorbeeld, die gedigte wat Pieter Odendaal en Bibi Slippers reeds enkele jare gelede vir Adam Small geskryf het is vandag nog net so ‘oop’ en polsend as wat hulle toe was. Dit is asof Adam op hierdie moment aangespreek word. (Twee gedagtes breek weg, asof hulle splinters is: klippe, het ek onlangs eers geleer, vergaan ook – verkrummel tot sand; en selfs in die hedendaagse Japanse estetika word ‘n skryfstuk struktureel ‘onaf’ of ‘oop’ of selfs ‘wankelrig’ gehou. Is dit om klem te lê op die onmoontlike van volledige uiting, om ‘n resonansie of ‘n ruimte te skep wat slegs deur die leser ‘voltooi’ kan word? Of is dit ‘n etiese posisionering voor die ondenkbare om voor te gee jy kan uiting gee aan dit wat buite jou is?)

Vandag, 25 Junie 2016, begin ‘n korrespondent sy kommentaar op die beriggewing oor die afsterwe van Adam Small so: “Adam, jy sal my dalk nie onthou nie, maar…”
Sover my wete strek het ek (ons – my vrou en ek) eers omtrent drie jaar gelede kennis gemaak, in lewende lywe, met Adam en Rosalie Small. Dit was by die Sentrum in Wellington en ons was daardie aand in ‘n openbare gesprek saam met Danie Marais en Bettina Wyngaard. Dit was ‘n soel aand in die Boland. Adam was keurig geklee, die kwintessensiële jintelman (sou Joan Hambidge sê). Hy was tengeriger as wat ek verwag het. ‘n Man van natuurlike waardigheid, maar ook van diep stilte. Ek kan nie onthou dat hy gelag het nie. My broer, Cloete, het ‘n foto geneem van die twee van ons op ‘n bankie voor die engelfiguur in die Digterstuin. Adam se fynbesneë gelaat en sy silwer hare het my opgeval. Hy het swaar geloop – Rosalie was altyd byderhand. Iets omtrent die bene of die voete wat sy gang onseker gemaak het. Ons het gemaklik gesels, asof ons mekaar lankal ken. En miskien was dit ook so dat ons mekaar lankal geken het. Dit kan dalk selfs wees dat ons ontmoet het danksy Daantjie Saayman, die mees natuurlike passeur wat ek ooit meegemaak het, tydens ‘n 1973 besoek aan die land. Dan sou dit in dieselfde bôrdienghuis, Grevilleas, waar die gesprek plaasvind, gewees het.
Ek onthou nie veel van die gesprek nie. Behalwe dat ek, soos gewoonlik, te veel gepraat het. En dat Adam by oomblikke baie aangedaan was. Ek weet ook nie of hy net so bewus was as ek van ons gedeelde Wellington agtergrond nie. Miskien was ek te verleë om hom te vra waar hy gebly het. Ons maak mos maar nou asof alles ‘normaal’ is. Ons beoefen die fyner (en skrynender) kuns van vergeet. Met die totsiens sê het ons mekaar belowe dat ons weer sou ontmoet. Dit het toe nie gebeur nie; nie hierdie kant van die Stiltetyd nie.
En vandag is daar die nuus van sy afsterwe. (My pa is ook oorlede aan hartversaking nadat daar aan sy been geopereer is. So ook Chris Barnard. Sonder bene kan ‘n engel nie vlieg nie.)
Murray La Vita stuur vir my die kopie van ‘n brief wat ek vir hom geskryf het. Dit was in antwoord op ‘n versoek van hom of ek iets aan die hand sou kon doen as vraag aan Adam vir ‘n beplande onderhoud. Die onderhoud was kort nadat Adam se Klawerjas verskyn het. Trouens, Murray het vir my die bundel as aanhegsel saam met die versoek gestuur. Met sy toestemming wil ek die brief sonder enige wysiging hierby aangee. En dan daarmee volstaan.
Dit gaan nie sin maak vir my om ‘n oorsig te probeer gee van Adam Small se werk en die belang van sy lewe nie. Ander is veel meer bevoeg daarvoor en te veel mense verbeel hulle hulle kan daaroor praat, miskien selfs namens hom. Maar wat vir my vas staan en weer glashelder geword het by die lees van Klawerjas, is hoe ‘n groot digter Adam Small was. Of is! En sal bly. Natuurlik was ek vertroud met sy werk, meer so die gedigte as die toneelwerk – en tot ‘n mate het ek sy denke geken en gevolg. Ek het geweet dat hy in gesprek was met inspirerende en verontrustende voorgangers, veral met Van Wyk Louw. Ek het ook geweet dat hy die werklike troebadoer was van die afgryslikhede wat so lank al teen die bruin mense gepleeg is, dat hy deur die skynheilige mombakkies van die selftevrede wittes met die kort geheuens en die baie statistieke en die plaaslik ontwikkelde fascisme van ‘bestuur’ gesien het. En dat die mens se vraatsug na magsmisbruik hom geknak het. Ek het aan hom gedink as ons Lorca…
.
Sent: 07 September 2013 01:43 PM
To: Murray La Vita
Subject: Re: ”soos Piet Retief en Breyten Breytenbach”
.
Beste Murray,
Waar sou mens begin? Dis so ‘n oorstelpende ervaring, dis so ‘n wonderlike geskenk – hierdie bundel, hierdie meestersklas van Adam Small – dat mens in alle ootmoed en bewondering en dank spraakloos is. Hoe werklik fantasties is dit nie dat ons dit nog kon belewe nie, hierdie glansende ontplooiing en die groothartige medeliefde en vrygewigheid waarvan dit spreek? Ek beny jou (en julle) wat die kans gaan hê om na hom te luister, om in lewe vir hom dankie te kan sê.
Waar sou mens begin? Vrae het ek nie. Vrae sou sinneloos wees. En alles wat mens ooit kon wou weet is in hierdie bundel en juis daarom wil mens dit met agting en met skroom benader want ook die sluiers is deel van die tot woorde bring, helder en lewegewend soos water, van komplekse gevoelens en waarnemings en geskiedenisse – net soos ook dit wat geen mens kan sê of kan oordra nie. Mens se reaksie sou, letterlik, oorbodig wees. Ek dink mens moet stil bly, en luister, en bly wees.
Met die ‘meesterklas’ hierbo bedoel ek natuurlik die wyses waarop hy ikone en begrippe en geskiedenisse herbesoek en duidelik maak en, veral, aangee. Meester Adam Small. Maar ook dat ons almal wat skrywe en sukkel om die water helder te maak by sy vanselfsprekende maar tog meervlakkige eenvoud sal bly leer.
Sê vir Rosalie dankie namens ons almal. Ek wens ek kon daar wees om dit self te doen. Haar naam is nou deel van ons erfenis, haar skoonheid en gevoeligheid vasgeweef in die tapisserie van Adam se skrywe. En vir Adam: “dankie” is nie voldoende nie; “welkom terug” sou aanmatigend wees; om te wil uitdruk hoe diep hierdie verse aan mens vat sou byna vermetel wees. Sê maar tog vir hom dat daar momente is wanneer mens maar net erkentlik op “stywe knieë” eer wil betoon, en hierdie is een daarvan.
Ek is so bly dat hy van Wellington sy Ithaka gemaak het en ek hoop van harte daar is ‘n mate van begrip by die Sentrum vir die eer wat hy die dorp besorg met hierdie eenmalige gebeurtenis. Dis nie vir my om te sê nie – van Piet Retief sal ek nie weet nie, en vir my was dit net die grootword-dorp, alhoewel beslissend so – behalwe dan slegs, en ek bedoel dit werklik: “My huis is jou huis.”
Tussen al die ander opmerkings wat mens wil maak – te veel om op te noem (daar gaan nog baie lank en met verwondering in hierdie bundel gelees word) – en nie omdat hulle van belang is nie, maar miskien vul dit jou agtergrond so ‘n bietjie aan: “ertappel”… so ‘n tipiese Robertsense streekwoord, dit roep my pa Oubaas voor my gees op; “Goree” – ek veronderstel die pleknaam verwys oorspronklik na ‘n watergat, ‘n gôrra, maar dalk is dit insiggewend (sou Adam dit weet?) dat dit ook die naam van die slawe-eiland aan die Wes-Afrika kus is, en dat dit daar verwys na die Hollandse “goede reede”, die veilige baai of ankerplek of “vlek” soos die ou matrose daarvan gepraat het; en laastens, die ortolaan (wat ‘n lieflike sinoniem, die gryspatrys tog, waarvan ek nie geweet het nie) was ook Mitterrand se geliefde dis, en aan die einde van sy lewe het hy dit met ‘n servet oor sy kop getrek geëet, eenkant, seker maar om die lyfwagte en sy tafelgaste nie te ontstig nie.
Murray – ek wens ek kon jou help (maar waarmee sou ek ook kon? en jy doen jou skryfontmoetings reeds so goed): dra asseblief my innige dank en bewondering aan Meester Adam oor. Ek is daarvan oortuig dat die digters-voorgangers, Leipoldt en Oom Wyk en Eybers en Petersen en Piet Philander en Ingrid Jonker en Uys en Pieter Blum… almal met groot waardering net buite die vuurkring se lig sit en luister, net soos die watersoekers way nog in lewe is mekaar met verbasing sal aankyk en sê: “Kan dit waar wees?” En mag die jong outjies wat dit gewaag het om hulle aan hom te wil meet nou tjoepstil en stert tussen die bene hulle ore uitwas en luister, en aan die lawwigheid van hulle dom tonge suig.
Dankie dat jy die bundel met my gedeel het.
Baie sterkte toegewens,
Breyten
.
En toe tog ‘n voetnoot:
 .
Sent: Sunday, September 08, 2013 10:13 AM
To: Murray La Vita
Subject: Re: ”soos Piet Retief en Breyten Breytenbach”
.

Murray,

Daar is tog ‘n aspek van Adam se werk (‘n implikasie) wat jy miskien vir hom die kans wil gee om meer te eksplisiteer – as hy so sou voel. In die ruim gesien, en ek vereenvoudig nou liederlik, verwys Adam na sy persoonlike trajek – die geskiedenis van sy denke en belangstellings, die figure wat vir hom dien as verwysings, sy intieme lewe met Rosalie (‘n wonderlike huldebetuiging en erkenning van haar rol en ontwikkeling), sy afskeid- of weggaanpad met sy pak kaarte – en daarnaas die gemeenskaplike. Hy was lank ‘weg’ gewees, stil, dalk in onttrekking (vir watter redes dan ook), en miskien was hy tog meer aktief en betrokke as wat mense van weet. Voor dit was hy ‘n verwysingspunt, sy stryd en sy idees was emblematies en het invloed gehad (al was dit dan ook grotendeels deur sy skryfwerk en binne ‘n herkenbare veld van godsdiens en filosofie) – trouens, in sy verwysings na ontmoetings of gesprekke met openbare figure kry mens ‘n insae in die mate waartoe hy ‘n deelnemer was in die ontplooiing van die veranderinge, of dan in die helder-maak van die implikasies. Mens lees ook raak in hierdie gedigte dat hy voel (ek praat nou van die gemeenskaplike) dat ons ten minste so ver gekom het. M.a.w., die gemeenskap(pe) het verander, daar was vooruitgang, die ergste is vermy (maar laat ons nie die aandadigheid sommer so onder die mat vee nie – die geskiedenis is ‘n motgevrete mat – en laat ons nie wegkyk van bitterheid wat daar nog is nie)… Enersyds is dit ‘n niveau, ‘n ooreenkoms, ‘n blaaskans – en dit hef nie die persoonlike en enkele klaarmaak met die lewe op nie – ek verwys nou bv. na die gedig geskryf vir Madiba. Andersyds is dit ‘n interregnum, nie net ‘n halwegstasie nie maar ook ‘n teleurstelling. My vraag aan Adam sou wees of hy nog ‘n utopie van dinamiese verandering vorentoe kan verbeel, van vrede en geregtigheid? Is daar ‘n gemene deler of ‘n gedeelde ruimte (van begrip en van versugting) in ons kollektiewe bewussyn(e) en ons gedragspatrone wat so ‘n droom (sommige sou sê ‘noodsaaklikheid’) kan dra? Sien hy elemente daarvan raak?
Miskien is dit tere sake wat hy nie wil hanteer nie. Ek sou hom nie druk as daar ontreddering of teësinnigheid is nie. Maar ek weet ook mos jy sal hom nie ‘druk’ nie!
Groete en sterkte – en blydskap dat daar nog digters soos Adam Small en Wilma Stockenström is vir ons om te belewe.
Breyten
klawerjas

Omslag

 

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Breyten Breytenbach huldig die ontslape digter Adam Small”

  1. Maria Snyman :

    Pragtige en belangrike vraag, of daar “nog ‘n utopie van dinamiese verandering vorentoe […] VERBEEL [kan word], van vrede en geregtigheid?” (My hoofletters.)