Resensie: Fragmente uit die Odusseia. Homeros (vert. deur Cas Vos)

Fragmente uit die Odusseia deur Cas Vos 

Homeros. Fragmente uit die Odusseia

Vert. deur Cas Vos. Cordis Trust, 2016

Resensent: Gisela Ullyatt.

 

Die naam Homeros is onlosmaaklik verweef met die Westerse literatuur en -kanon; hy word immers as die vader daarvan beskou. Steeds ontlok beide sy eposse, die Ilias en die Odusseia, talle kontroversiële debatte. Die eerste hiervan is gesentreerd rondom Homeros as geskiedkundige figuur; dus of hy werklik bestaan het. ’n Tweede kwessie hou verband met gender: was Homeros eintlik ’n vrou? Die derde strydpunt tussen akademici en skrywers (mét of sonder klassieke credentials) betrek die vraag of Homeros beide eposse geskryf het. Miskien som Aldous Huxley se sarkastiese opmerking die ewige kringloop van debattering die beste op: “The author of the Iliad is either Homer or, if not Homer, somebody with the same name”. Touché, Aldous Huxley.

Tog word bogenoemde (pseudo-) akademiese gekorswel deur die volgende punt verenig: dat Homeros steeds op die moderne leser betrekking het. ’n Voorbeeld hiervan is Adam Nicolson se teks, The Mighty Dead (2015), wat die klassieke digter se hedendaagse pertinensie beklemtoon. Tog skyn hierdie beredenering paradoksaal te wees, want die eposse is allesbehalwe toeganklik vir die deursneeleser. Een van die redes is sekerlik die lengte van die eposse: die Ilias is 15 693 reëls lank teenoor die 12 110 versreëls van die Odusseia. Helaas is die aandagafleibare era van die e-pos teenstrydig met dié van die uitgerekte epos.

Uiteraard is daar geen gebrek aan Engelse vertalings van beide eposse nie. T.E. Lawrence – die einste Lawrence of Arabia – publiseer sy vertaling van die Odusseia in 1932 en noem dit die “twenty-eighth English rendering of The Odyssey“. Sedert 2000 was daar ten minste sewe Engelse vertalings van die Ilias en agt van die Odusseia.

Wanneer Afrikaanse vertalings van die Homeriese eposse onder die loep kom, is dit slegs J.P.J. van Rensburg (1911-1980) wat albei in hulle geheel uit die oorspronklike Grieks vertaal het. Van Rensburg was professor in Klassieke Tale (1947-1951) en Grieks (1951-1970). Die Ilias se Afrikaanse vertaling word in 1952 gepubliseer en 1963, dié van die Odusseia.

Gelukkig kan Afrikaanse lesers ook Homeros in ’n moderner Afrikaans te lese kry, danksy Cas Vos se Fragmente uit die Ilias (Protea, 2013). Alhoewel Vos slegs gedeeltes daarvan vertaal het, het hy dit ook uit die brontaal, Homeriese Grieks, vertaal. Dieselfde geld vir Fragmente uit die Odusseia.

Vos se teks is gemik op die intelligente deursneeleser en soos Fragmente uit die Ilias, is die inleiding substantief (52 bladsye waarvan 5½ onder “Verwysings” gegroepeer word) en weldeurdag. Die taalgebruik is van so ’n aard dat selfs lesers wat redelik onbekend is met Homeriese Grieks, daktiliese heksameter of in dier voege, nie té afgeskrik behoort te voel nie. Die “Verhaallyn” van die epos se 24 boeke beslaan bladsye 56 tot 62. Die omdigting neem ’n honderd bladsye in beslag. Die leser kan ook blaai na bladsye 172 tot 179 vir ’n lys van naamverklarings.

Meer oor die inleiding: Vos groepeer dié in agt afdelings wat elk nuttige agtergrondinligting oor die teks verskaf. So bied Afdeling 2 byvoorbeeld ’n oorsig van die tipe Grieks waarin Homeros geskryf het terwyl die daaropvolgende afdeling op ’n meer gedetailleerde bespreking van die komposisie en outeurskap van die Odusseia fokus. Daarbenewens bied Afdeling 4 ’n interessante oorsig van skrywers en digters wat met dié epos as interteks in hulle eie werk omgegaan het. Veral lesers wat in wêreldletterkunde belangstel, sal hierdie afdeling verruimend vind. Onder andere sluit die oorsig James Joyce se A Portrait of the Artist as a Young Man asook sy Ulysses in. Verder word die volgende digters onder die loep gebring: Odysseus Elytis, Ted Hughes, Yannis Ritsos, Rainer Maria Rilke, Federico García Lorca, Konstantinos Kavafis en Anne Carson asook ’n paar ander wat lesers sal opval. ’n Naam wat egter hier ontbreek is die Amerikaanse digter, Ezra Pound, wat die Odusseia se beginreëls van Boek 11 (Odysseus’s journey to the underworld) as interteks in sy Canto 1 gebruik om sy eie verwikkelde reis in The Cantos uit te beeld. ’n Interessante feit is dat Pound se vader se naam Homer was. Op bladsy 29 word ’n Afrikaanse vertaling van Alfred, Lord Tennyson se “Odysseus” aangebied. Iewers het die proefleesproses ontspoor, want na Tennyson kom die naam Tennysee voor.

Afrikaanse digters sluit onder andere Breyten Breytenbach, Marius Crous asook Dolf van Niekerk in. Verder word A.G. Visser se “Lotus-land” en N.P. van Wyk Louw se “Groot ode” genoem asook Sheila Cussons se “Die brons Poseidon”. D.J. Opperman se Komas uit ’n bamboesstok word ook uitgelig as een van die waterskeidende Afrikaanse bundels wat Odysseus se reismotief ontgin. Verdere name van digters word verskaf en bespreek, waarvan Adam Small (1936-2016) veral pertinent is omdat die Afrikaanse literatuurgemeenskap tans in rou is oor hierdie digter se baie onlangse afsterwe. Vos haal “Leonardo – Michaelangelo” en “Skottelgoed (sikloop)” aan (Klawerjas, 2013: 16, 109).

Laasgenoemde is ’n treffende vers veral omdat dit ’n daaglikse sleurtaak soos skottelgoedwas met die sikloop en Odusseus en dan laastens, die terugkeer na die geliefde, verbind:

Terwyl ek vaneffe skottelgoed

staan en was, kom daar

die ou Griekse storie van die eenoog,

die sikloop, by my op. Dis ’n aangrypende,

wrede vertelling: Odysseus het in sy

lang omswerwinge nog tyd gevind

om ’n sikloop by te kom en te verblind.

Die koppige eenoog was in sy grot

toe Odysseus hom daar teëkom

en sy oog met die vlammende skerp

punt van ’n paal takel. Daar kom

toe ’n geskreeu van buite: Polyphemus,

wie maak jou seer?

Die sikloop het, ylend, teruggeskreeu:

Niemand! Want Odysseus het vir hom

gesê, toe die sikloop sy naam wou hê:

My naam is Niemand. Slim nè.

.

Dít afgehandel het Odysseus eindelik op sy

terugtog sóveel ompaaie en -weë,

halt geroep, huis gehaal en tuisgekom by

sy geliefde

Penelope.

Literêre vertalers sal veral Afdeling vyf vernuftig vind waarin Vos die problematiek van omdigting aanraak. Hier neem hy die ou motto, “traduttore, traditore” (vertaler, verraaier) as uitgangspunt. Vos maak ook ’n belangrike opmerking ten opsigte van die J.P.J. van Rensburg-vertaling (40): “Sy [Van Rensburg] se letterlike vertaling is egter soms hinderlik, veral die herhaaldelike gebruik van “mos”, “tog”, “dan”, “toe”, ensovoorts wat soos trosse meulstene om lesers se nekke hang. Dis egter ’n poging om die Griekse partikels getrou te vertaal”. Vervolgens besin Vos oor die kwessie van prosa wat in plaas van daktiliese heksameter gebruik word (44): “J.P.J. van Rensburg waarsku sy lesers in die voorwoord dat pogings om die versmaat van die oorspronklike Griekse teks ‘in moderne tale na te boots, meestal volslae mislukkings is’ en vervolg dan byna verskonend-beskeie: ‘Daarom het ek maar in prosa probeer vertaal'”.

Ten einde die leser ’n voorsmaak van Vos se omdigting-styl te bied, word Van Rensburg (44) se letterlike vertaling van die eerste tien versreëls van Boek I geplaas, waarna dieselfde versreëls wat deur Vos vertaal is, aangehaal word(63).

Vertel my, o Muse, van die veelervare man wat ver en wyd moes

omdwaal nadat hy die heilige vesting van Troje verwoes het. En

baie mense se stede het hy gesien, en hulle denke leer ken, maar

baie was ook die smarte wat hy in sy eie hart ter see gely het in

sy pogings om sy eie lewe te behou en sy makkers tuis te bring.

Maar selfs daarmee het hy sy eie makkers nie gered nie, al was

dit sy strewe: deur hulle eie hovaardigheid het hulle omgekom,

die stommerike, wat die Songod, Huperion, se  koeie wou opeet.

Ja, Hy het hulle die dag van terugkeer ontneem. Begin tog êrens

in hierdie verhaal, o Godin, o Dogter van Zeus en vertel dit vir

ons ook.

.

Cas Vos se omdigting lui soos volg:

.

Vertel my Muse, van die gevierde Odusseus voor roosvinger

Daeraad die see rooiwyn kleur. Hy het die heilige stad Troje

tot ruïne uitgewis, daarna het hy kruis en dwarsoor die woeste

see gevaar. Odusseus het talle stede gesien en hy is met wysheid

beloon. Hy het ontberings gely om sy kamerade en sy hart veilig

aan wal te kry en dáár in Ithaka vir die gode lofsange te sing.

Maar dood het op sy manskappe gewag toe hulle Huperion,

die songod, se koeie wou afslag. Mag die son vir hom ’n tapyt

van suiwer goud oopsprei. O heilige, dogter van Zeus, begin tog

êrens met hierdie verhaal en vertel dit meesleurend aan ons.

Dit is inderdaad moeilik om ’n oordeel te fel of die prosa-aanslag die beste vertaalroete was, omdat Homeriese Grieks min lesers, insluitend hierdie leser, beskore is. Die enigste manier om in ’n mate hiervoor te vergoed is om Vos se omdigting met Van Rensburg s’n te vergelyk asook met sommige van die Engelse vertalings. Hoewel Vos se vertaalde fragmente meestal vlot lees, sou ’n paar aanpassings met betrekking tot ’n varser taalgebruik oorweeg kon word ten einde die lees te vergemaklik. Voorbeelde hiervan is “Vadertjie!” (138) of “Hy leun teen die lang pilaar en wag op haar liefdevolle stem” (165).

Bogenoemde besware is egter dungesaai. Al het Vos, soos Van Rensburg, die roete van omdigting in prosa gevolg ten einde die  “mislukking” van ’n letterlike vertaling in daktiliese heksameter te voorkom, is Vos se omdigtings, op die keper beskou, beslis meer geslaagd. Een van die redes is dat hy meer kreatief omgaan met die omdigtings en talle slaggate vermy waarin talle vertalers hulleself begewe het. John H. Timmerman (2002:58) waarsku immers dat digters “the chugging engine of strict metrics and rhyme patterns” moet vermy. Dieselfde geld vir literêre vertalers.

Die publikasie self is aantreklik uitgegee deur Cordis Trust en die illustrasies op die voor- en agterplat asook in die teks is uiters gepas. Dis beslis ’n publikasie wat ’n pluspunt vir die Afrikaanse literatuur is in ’n era waarin die verwatering van dié taal afgedwing word, veral op akademiese gebied. Dit is van enorme belang dat omdigtings uit veral antieke tale in die Afrikaans geskied. Die volgende aanhaling van J.P. Sullivan uit Ezra Pound & Sextus Propertius (1965:22) is hier van toepassing: “If a dead poet is to become a living poet, if a dead tradition is to become part of a living poetic tradition, it must first have something vital to offer to re-create it in living terms by whatever method is appropriate. As living poetry the classics can only exist in translation”.

Bronnelys

Nicolson, A. (2015). The Mighty Dead: Why Homer Matters. Londen: Collins.

Pound, E. (1972). The Cantos. Londen:  New York: New Directions.

Sullivan, J.P. (1965). Ezra Pound & Sextus Propertius: A Study in Creative Translation. Londen: Faber.

Timmerman, J.H. (2002). Jane Kenyon: A Literary Life. Grand Rapids, Michigan: William B. Eerdmans Publishing Company.

Vos, C. (2014). Fragmente uit die Ilias. Pretoria: Protea Boekhuis.

Vos, C. (2016). Fragmente uit die Odusseia. Lynnwoodrif, Pretoria: Cordis Trust.

.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Fragmente uit die Odusseia. Homeros (vert. deur Cas Vos)”

  1. Louis Pienaar :

    Vos se vertaling van Homeros se eposse is meesterlik gedoen. Dit is nie ‘n geringe taak om Grieks aan te pak nie en veral nie Homeros nie. Ek’s seker Homeros sou Vos ‘n klop op die skouer gegee het.

  2. carina :

    Baie dankie, Gisela, vir hierdie insiggewende resensie. Ek het pas “Fragmente uit die Odusseia” huis toe gebring om grondig te lees. Dit was ‘n persentjie van Cas Vos nadat ek vir hom vertel het dat ek my ook vergryp het aan Homeriese vergelykings in Afrikaans. Tien stuks, eintlik geskryf as ‘variasies op Homeros se vergelykings’. Ek’s “skuldig skuldig / en belowe om dit nooit weer te doen nie”. Hoewel… As ‘n mens die kans kry om op die Griekse Eilande in die Ioniese see te gaan kuier (waaronder Ithaka) dan gebeur sulke dinge half vanself. Die lug daar is nog swanger van klassieke verhale. Is dit nie ‘n besondere uitdaging om Grieks aan een van die jongste tale in die wêreld – Afrikaans – te vertaal, te hertaal of te “re-create in living terms by whatever method is appropriate” nie?