Resensie: Vloeibare middelpunt. (Martjie Bosman)

Vloeibare middelpunt – Martjie Bosman (Protea Boekhuis, 2016; R160.00 (BTW ingesluit), ISBN 978-1-4853-0584-2, Sagteband, BLADSYE: 80)

Resensent: Heilna du Plooy

Omslag

Omslag

Vloeibare middelpunt is Martjie Bosman se derde digbundel. Op die buiteblad is daar ’n afdruk van ’n skildery van Ryan Loubser wat een van daardie gelukkige ingewings of voorbeelde van sinchronisiteit is waarin twee kunstenaars ’n soortgelyke aanvoeling openbaar. Die skildery pas uitsonderlik goed aan en in by die bundel of andersom: ’n reëntoneel by ’n kruising van strate, ’n bekende plek in Pretoria met die ou Erasmuswoning (-kasteel) wat bekend staan as die spookhuis, teen die lug op die heuwel en motors met reflekterende ligte op die nat teer. ’n Stylvoller verlede en die geskiedenis van die stad word opgeroep met die ou statige huis, die hede is aanwesig in die drukke verkeer in die kruising met motors wat in verskillende rigtings beweeg en mense agter motorruite afgesonder van mekaar, maar die vloeibaarheid en vervloeiendheid van alles, die voertuie se ligte op die nat straat, die huis teen die lug en die lig deur die wolke, is die sterkste indruk wat die skildery oordra. En al hierdie temas kom later in die bundel aan die orde.

Die verse in die bundel is in ongetitelde groepe geplaas sodat elke groepie wel ’n samehang vertoon maar ook oor die grens van die groep heen resoneer. Die eerste gedig sluit dan ook direk aan by die titel en die uitbeelding op die buiteblad:

Oidipus

By die knooppunt van die paaie
word sekerhede opgeskort:
Wie is die rower? Wie die vreemdeling?
Die een wat uit die struikgewas kom kruip
en opdoem om jou reis te stuit?
Die een in sy beskutte binneruim
met ligte wat die nag deurpriem
en vrae stel waarop die maer donker
geen antwoord weet?

Die bemoeienis met eietydse kwessies, soos bedreiging, geweld en moderne stadsverkeer, word hier in verband gebring met die onsekerheid en onwetendheid van Oidipus wat sy vader as ’n vreemdeling by die kruispad teëkom. En doodmaak. En die betekenis van al die dinge is op die oomblik van waarneming en belewenis nie duidelik nie, daar bly altyd ’n onbeantwoorde  vraag.

In die groep wat op hierdie “programgedig “ volg, is drie baie mooi musiekgedigte saamgegroepeer. Die twee gedigte oor impromptu’s van Schubert het ’n soortgelyke struktuur deurdat daar eers ’n beskrywing van die musiek gegee word in terme van die assosiasies wat dit by die digter oproep, die eerste een sterk sintuiglik met sonlig en blomme en vlinders en die tweede meer besinnend omdat die musiek vrae oproep. Daarna volg daar dan ’n strofe waarin die digter die wêreld waaruit die musiek kom, oproep maar dit ook in verband bring met die digter se eie ruimtelike plasing: die musiek kom uit ’n wêreld waar jy “vlugtig tuis kan voel”, maar waarvandaan “jy onvermydelik na die grondtoon terug moet keer”. Die finale strofe sluit dan in beide gevalle weer by die eerste strofe aan. Die tweede gedig sluit daarom af met ’n terugkeer na die eindelose soektog en vraagstelling:

’n Vraag bly huiwer in die lug,
herhalend, soekend na ’n brug
oor donker dinge, reik tastend
na die troos van ’n wederwoord.

Gelate hang ’n vraag nog in die lug.

In hierdie gedigte en ook in vele ander in die bundel – dit is vir my trouens ’n sterk en deurlopende ondertoon in die hele bundel – speel kulturele spanning ’n belangrike rol. Hoe luister jy na die musiek van Schubert vanuit Suid-Afrika aan die begin van die een-en-twintigste eeu? Hoe beleef jy jou eie omgewing, Pretoria in hierdie geval, in die lig van jou kennis en begrip van ander wêreldstede en die mense wat daardie stede bewoon het? Hoe vertolk jou eie tyd in verhouding tot jou waardering vir die kunswerke wat deur mense in verwante kulture nagelaat is en wat jou steeds aangryp?

               Oor die digter se verbintenis en identifikasie met Suid-Afrika, geografies en wat die fisiese en abstrakte omstandighede betref, kan daar geen twyfel wees nie. Daar is ’n aantal herinneringsgedigte wat almal sterk ingebed is in die bekende omgewing; jeugherinneringe (“Draadheining” en “Vlermuis”) en vakansie-ervarings (“Vakansie” en “Rots en see”). Daar is ook momentopnames van alledaagse situasies in die digter se direkte omgewing (bv. “ Blok myself” en die reeks seisoengedigte oor Pretoria). In die gedig “Verkeer” kom die band met die omslag ook weer sterk na vore. Die digter is egter deurgaans bewus van die ambivalensie inherent aan die daaglikse bestaan en dit hou ook verband met die spesifieke plekke en omstandighede van haar bestaan of dit nou gaan oor die slaghuis (“Foxtrot van die vleiseters”) of die doodgewone gang van elke dag (“Woelige Woensdag” en “Wagters langs die mure”). Sy skryf dus, met ’n intertekstuele kopknik na Van Wyk Louw:

In so ’n oomblik, my stad, het ek jou lief
soos ’n hen haar kuikens lief durf hê.

Maar Bosman skryf ook oor ’n wyer wêreld as net haar direkte omgewing en die leser is heeltyd bewus daarvan dat sy die plaaslike in terme van die wyer skopus bekyk en die ander wêrelde wat bereis word of kultureel bekend is, vanuit die eie plasing benader. Die verse oor Elizabeth de Valois, Traviata en Maria Stuart gee telkens ’n inlewing in die posisie van hierdie historiese figure sodat daar vanuit elkeen se eie perspektief ’n visie op haar lewe gegee word. Die gedig “Les liaisons dangereuses” is opgedra aan Richard Strauss en eindig met die refrein in Strauss se eerste lied, “Zueignung” (in 1885) wat gebaseer is op ’n gedig van Hermann von Gilm. Die gedig gaan oor ouerwordende vroue wat met grasie afskeid neem van hulle jeug en gewildheid maar nogtans dankbaar is vir klein blyk van waardering. In hierdie gedig versmelt historiese gegewens en tydgenootlike sensitiwiteit en dit gebeur nog sterker in die gedig “Bebosde landskap” wat handel oor ‘n skildery van die sewentiende-eeuse Nederlandse skilder Meindert Hobbema. Dit is ’n ekfrastiese gedig wat die skildery beskryf en interpreteer, maar aan die slot kom die ware belewenis van die digter na vore: “Ná byna vierhonderd jaar/ roer iets nog in die gemoed”.  Die gedig neem die leser dus weg na ’n ander tyd en ’n ander kulturele omgewing, maar via die ervaring van die digter word daar tog ’n band gelê met die ver wêreld en die lank gestorwe skilder. In “The evening star” wat gaan oor JMW Turner se gelyknamige skildery, identifiseer die digter met die klein seunsfiguur in die skildery en spreek haar verwondering uit oor die kind wat uitsonderlik word omdat hy gekies is om hierdie bymekaarkoms van aand en see en hond en ster in hom saam te trek in die skildery. Hierdie ekfrastiese gedigte word dan weer gevolg deur verse oor die Transvaalse lig in ’n skildery en Frans Oerder en ’n werklike “Sonsondergang teen straatlig” wat afsluit met die frase: “Die sublieme is subliminaal”.

Die laaste groep gedigte in die bundel gaan oor plekke in die noordelike halfrond, Lindisfarne, Cambridge, Oxford, Edinburgh, Heidelberg, die Skandinawiese lande, Ysland en Denemarke. Die ondertoon van die gedigte is besinnend en weer eens versmelt optekening en persoonlike ervaring: ”sal ek weer gaan kyk/ of die dominee in die galery/ nog steeds vlugvoetig/ gly oor die verysde loch” en “En meteens is daar die verlange na familie,/ na iets ruimer en warmer, en ons word stil/ en draai terug”.

As mens ’n digbundel bespreek, is ’n weergawe van die onderwerpe en temas die logiese plek om te begin, maar dit is uiteraard nie genoeg nie. Wanneer jy egter oor die digstyl en die geslaagdheid van die poësie wil praat, is jy dadelik gekonfronteer met die invloed van poëtikale opvattings, jou eie en dié van die digter. Wat moet die poēsie doen? Hoef die poësie hoegenaamd iets te doen? Waar pas die verse in ’n  tradisie? Of moet dit juis die tradisie verbreek? Wat is die belangrikste of selfs net geldig, ’n poëtika van opposisie of ’n poëtika van identiteit? En waarteen word dit gemeet, teen wat gister en eergister geskryf is of teen dit wat drie of vier dekades of eeue gelede geskryf is?

Nou wil dit vir my voorkom as mens genoeg poësie in jou lewe gelees het (maar wat is genoeg?  – waarskynlik gaan dit eerder maar net oor ’n redelike hoeveelheid), jy gemakliker oor hierdie vrae begin voel. Die bundel bied sigself aan op ’n bepaalde wyse en is dan ook geregtig daarop om met inagname van daardie aanbieding bekyk te word. Alle poësie kan nie ’n roue uitroep wees nie, hoewel ons nie sonder die roue uitroepe mag wees nie. Alle poësie kan nie oor misstande handel nie, alle poësie kan nie in die diepste individuele sielskamers rondsluip nie. Alle poësie kan nie oorvereenvoudig wees nie, alles ook nie barokryk nie. Die huis van die poësie het baie wonings en kan ook deur baie vensters gelees word.

Martjie Bosman skryf helder, skynbaar eenvoudige verse. Maar hierdie verse verskuil veel diepte, sowel tematies as tegnies. Die versmelting van persoonlike belewenis en beskrywing of optekening is vir my een van die bates van die bundel en dit word telkens bewerkstellig deur ’n slim woordspel, ’n subtiele knak wat die betekenis van konkrete dinge soos ’n plek of gebeurtenis plek na ’n lewensuitkyk  verskuif.

Lindisfarne

Die Noordsee het ver teruggetrek
en oor die velyn van die modderbank
skryf die skerpgemaakte snawelpunt
van ’n toegewyde bontstrandloper
die evangelie van die wind.

Kommentaar op tydgenootlike kwessies kom ook so indirek en subtiel aan die orde.

Nóú is dit tyd vir die Tranvaalse lig van ’n Oerder-doek,
stellig en direk, bevestigend van dié gebied
wat ons dwing om onbelas deur ou boeke
na betekenis in klip en stam en grond te soek.

Dadelik is die hele gekompliseerde verhouding met hede en verlede in Suid-Afirka ter sprake en sluit aan by die roeringe van herinneringe by Hobbema se skildery, by “die blik/ wat die motorruit my daagliks bied/ op my stad” en by die vrae wat die digter teister soos

Sal ek ooit kan vlug
vir die vrae die eise

sal ek kan wegkruip

vir die nood vir die honger

vir die winter?”

Tegnies is die verse goed afgerond, gaaf geslyp tot die essensiële sonder om ooit strak te raak. Daar is deurlopend ’n goeie aanvoeling vir struktuur en ontwikkeling. In die gedig “By twee impromptu’s van Franz Peter Schubert” word die gedagte van die impromptu, ’n kort stuk met die aard van ’n spontane momentele gedagte in ’n vrye vorm, iets ligs en liefliks, ook in die gedig uitgewerk deur gebruik te maak van ’n opnoemtegniek en vrae. Die stuk word genoem: “’n vlugge verposing van sy sonnedroom”. Maar die werking van die poëtiese tegniek word ook ontgin: aan die einde van die eerste strofe word die gedagtegang saamgevat in : “die soete lewe/ die korte vlug” maar aan die einde van die laaste strofe word dit omgeruil “die korte lewe/ die soete vlug”. So word die soet lewe wat tot ’n kort vlug aanleiding gee, ’n kort lewe wat in ’n soet vlug ontvlugting vind. Daar is meerdere voorbeelde van vernuftige taal wat betekenis laat uitkring. As die gemeente in uit die “Evensong” weggaan na ander plekke is dit soos “’n  brewwe ligmoment/ wat die gewyde dag in duisend/ splinters loodglas breek” en as die digter afskeid neem van Reykjavik, waar die vulkaniese as en swawelreuk aan onheil herinner, sleep sy haar tas in die donker “voor die winter/ soos ’n grys wolk uit ysige pieke stort”.

               Vloeibare middelpunt is ’n rustige oorwoë bundel wat vir die aandagtige leser baie stof tot nadenke en veel plesier sal verskaf. Dit is nie poësie wat werk met skoktaktiek en grafiese detail oor die grusaamheid van ons bestaan nie, maar ten spyte van die stiller en meer besinnende aanpak en uitpak, skram dit nie weg van die ellende en smart en weemoed in ons lewens nie. Hierdie verse is geskryf in ’n spesifieke toonaard en vanuit ’n spesifieke soort lewensaanvoeling wat net so geldig is as enige ander.

Bookmark and Share

Comments are closed.