Onderhoud met Ilse van Staden

ilse v staden

Ilse van Staden gesels oor haar nuwe bundel

Waar die oog van stil word, met Gisela Ullyatt

Ilse, hartlik geluk met jou vierde digbundel. Jou roman, Goeie dood wat saggies byt, het pas verskyn en het positiewe reaksies uit die resensie-wêreld ontlok. Het jy gedurende dieselfde tydgleuf aan bundel én roman geskryf en hoe het dit gebeur dat beide in dieselfde jaar op die rak verskyn?

Dit is bloot toevallig dat bundel en roman so saam verskyn. Ek werk al donkiejare aan die roman en dit het regtig sukkel-sukkel gegaan. Boonop het die hele proses van keuring en terugvoer en herskryf en publikasiebesluite dit baie vertraag. Die bundel bevat gedigte van die afgelope ses of sewe jaar, maar daar was ’n lang stil tyd rondom ons migrasie, toe ek vir seker ’n jaar lank omtrent geen poësie geskryf het nie. Terwyl die roman in die ry gewag het vir publikasie, het ek begin timmer aan my versameling gedigte en besef dis genoeg (in getal en omvang) vir ’n bundel.

Vertel ons meer oor die voorbladkuns van waar die oog van stil word?

Ons het besluit op ’n see-tema vir die omslag en natuurlik ’n stil see. Wat ek van die foto hou, is dat die horison wegraak, dus nog meer “stil word”. Daar was ook op ’n stadium ’n kraaimotief by…

In die inhoudsopgawe word sekere herhalende woorde aangetref: “lig”, “oog”, “stil(le)”, “gedig” asook sinonieme vir “see”: “oseaan”, “oceanus”. Het hierdie motiewe en/of beelde hulleself organies by jou aangemeld of het jy hulle eers later in die siftingsproses ontdek?

Gedigte skryf geskied vir my op verskillende vlakke en as dit kom by ’n bundel daarvan maak, des te meer. Eers is daar die beeld of impuls. Iets duik op, of meld aan soos jy dit stel – ’n idee, ’n gevoel, ’n klank of woordspeling – en vra om verwoord te word. Maar dikwels is een gedig nie voldoende om al die fasette van so ’n impuls te ontgin nie en dan sal ek nog skryf en moontlik later weer uitdun. Seker maar soos ’n fotograaf ook talle foto’s van een onderwerp neem en later besluit wat bly.

Wanneer gedigte begin saamdrom om gekraal te word, maak ek ’n “mind map” en soek na verwantskappe en aanknopingspunte en woordwisselinge. Daaruit volg dan hopelik nog ’n paar kandidate.

Ek is veral gefassineer deur die titel van “die blink reis van slakke 1” (20) (en ii:21). Behalwe die beeldskone titel, val ’n weldeurdagte woordspel ook op: “toegespin”/”toegespits”, “spitsvondig”; “skering”, “wering”/”verweer”. Hoe het hierdie gedig(te) ontstaan en waarom juis die slak as onderwerp?

Hierdie gedigte het ontstaan uit iets so alledaags soos slakke in my tuin (in Cullinan). Ek het baie oggende uitgegaan en letterlik “die blink reis van slakke” gesien waar hulle deur die nag oor plaveisel en kleimure gesluip het. Die slym het ’n lintspoor gelos wat silwer blink, asof dit my huis en tuin wou toespin. Dit het my wel ’n rukkie geneem om te besef dat dit slakke is wat so mooi weef.

“wat het geword van Ikarus?” (26) hou vele betekenisvlakke in:

ek skryf nie graag met vere nie

maar dit is al wat oor is

en inkvisse raak al duurder

maar dit is al wat hier is

dié nat plek waar ek nou verrot

n has-been bedremmelde mite-mot

dis al wat oor is

van Ikarus

Hier dink ek byvoorbeeld nie net aan die mitologiese Ikarus wat te na aan die son gevlieg het nie, maar ook die verheerliking van “high-flyers” soos byvoorbeeld Oscar Pistorius wat dan “has-beens” afgeskiet word en na benede tuimel. Het jy spesifiek net met mite gewerk of lê daar ander lae van betekenis in die gedig vir jou as digter?

Hierdie het ’n baie persoonlike toepassing gehad, na die minder gunstige ontvangs van en bohaai rondom my tweede bundel Fluisterklip. Watervlerk het dalk te hoog probeer vlieg. Vir ’n lang ruk het dit gevoel asof ek my skryfstem kwyt was en moes skryf met nat vere en skaars inkvisink, bedremmeld soos ’n nat mot. waar die oog van stil word is eintlik my vierde bundel. Daar is ‘n ongepubliseerde bundel, Die dood is ’n mooi blou blom, wat ek in 2009 saamgestel het en waarvan ek die “reuse” oplaag van twaalf eksemplare met die hand gebind het en net onder vriende versprei het, omdat ek nie kans gesien het vir die trauma van publikasie nie.

“patrone van stilte” (30) sou ook as program-gedig kon werk. So ook die bundel se gelyknamige gedig (31):

so word ’n oog stil alomstillend,

uit gedistilleerde stilte gefortifiseer

soos brandewyn die brandende lig

en stil-geleerd

oog-omstillend is die stilte ontstellend,

stilte gestel soos ’n wip,

verstelling veronderstel

n kyker vanoggend goëlend ontgogel

onoog die eenoog

bekyk soos ’n kikkerende kikvors

padda-oog

se bekykende kilte

stilgevriesde stilte

Twee van die bundel se leitmotiewe, “oog” (wat onder meer transformeer na ’n “kyker” en “kikvors”) en “stilte” (wat “ontstellend” is en soos ’n “wip” gestel word) figureer in hierdie gedig. Wat beteken hierdie twee motiewe vir jou as digter en waarom is hulle so prominent in hierdie bundel?

Stilte is ’n motief wat al lank aan my knaag. Die manuskrip vir Watervlerk het ek oorspronklik genoem “Woordstilte” en daarin is reeds gedigte soos “stil” en “kern”. Ek dink stilte is vir my die buidel waarin ek kan skuil wanneer dinge te deurmekaar en dreigend word. Dis steeds ’n vloeibare stilte, selfs ’n dinamiese stilte, waarin dinge groei en beweeg en “patrone maak”. Dis ’n oplettende stilte, waardeur indrukke gefokus word en “gedistilleer”. Die oog is natuurlik getuie of lens waardeur inligting gekanaliseer word na binne. Dit is ook dié sintuig vir ’n visuele kunstenaar. Maar party dinge – dood, verlies, skoonheid – laat selfs die oog stil word.

Stilte word in die bundel deur die see opgeskort; ironies verwys “pacificum oceanus” na die Stille Oseaan wat nie haar naam gestand hou nie:

(i)

mens kan jou taalkundig met dié see misgis

en dink dat dit ’n oseaan van vrede is

maar waar storms en siklone woed

word stilte as lingua franca uitgewis.

Het jy as digter/skrywer stilte nodig om optimaal te funksioneer of word jóú lingua franca deur alledaagse geraas, storms en siklone uitgelig?

Prosa kan ek skryf in storms en siklone, maar vir gedigte het ek stilte nodig.

“Dertien kraaie” neem “Thirteen Ways of Looking at a Blackbird” van Wallace Stevens as vertrekpunt.

Daar is byvoorbeeld die Neo-Klassieke komponis, Louise Talma, wat ook Wallace se gedig as vertrekpunt neem in haar Variations on 13 Ways of Looking at a Blackbird for Tenor, Oboe and Piano (1979). Wallace se gedig bestaan uit dertien, haikoe-agtige strofes waarvan ek 1, 2, 6 en 8 aanhaal:

1

Among the twenty snowy mountains,

The only moving thing

Was the eye of the blackbird.

2

I was of three minds,

Like a tree

In which there are three blackbirds.

6

Icicles filled the long windows

With barbaric glass.

The shadow of the blackbird

Crossed it to and fro.

The mood

Traced in the shadow

An indecipherable cause.

8

I know noble accents

And lucid, inescapable rhythms;

But I know too,

That the blackbird is involved

In what I know.

Wat omtrent Stevens se gedig het jou aangegryp en tot watter mate beïnvloed sy digkuns jou eie? Enige gunsteling gedeeltes van “Thirteen Ways of Looking at a Blackbird”?

Wat het jou opgeval omtrent hierdie gedig en is Wallace Stevens ’n digter wat jy gereeld lees?

Ek moet bieg dat ek glad nie Stevens se digkuns ken nie. Ek het “toevallig” op hierdie gedig afgekom in ’n bloemlesing juis op die stadium toe ek ’n paar kraaigedigte geskryf het en besluit om iets soortgelyks te probeer. Dit is seker hoe alle poësie werk – daar is dertien maal dertien (en meer) maniere om na enigiets te kyk en daaroor te skryf. En ek hou van die skerp en byna surrealistiese beskrywings, kort en dig. My gunstelinge is nr. 6 en nr. 13. “It was evening all afternoon” – so mooi!

13

It was evening all afternoon.

It was snowing

And it was going to snow.

The blackbird sat

In the cedar-limbs.

In “buidel” (17) skryf jy:

voor ek boedel oorgee

kruip ek klein kangaroekuiken terug

na die buidel

van my eerste, my verste verlangse gedig

(a) Was die kangaroebuidel ’n bewustelike gebruik maak van die Australiese kontinent waar jy tans woon of is die gedig voor dit geskryf?

Nee, die gedig is geskryf lank voor ons nog aan emigrasie gedink het.

(b) Waarom “kangaroekuiken”?

Daar is nie ’n lekker Afrikaanse woord vir “joey” of baba kangaroe nie, toe maak ek maar my eie variasie, so al op die klanke langs.

(c) Kan die laaste versreël letterlik gelees word? Indien wel, wat is Ilse van Staden se “verste verlangse gedig” en kan jy dit vir Versindaba-lesers aanhaal of beskryf waarop dit gegrond is?

Dit kan beide konsepsueel en letterlik gelees word. My verste verlangse gedig is geskryf toe ek so ses was en aan my ma gesê het ek gaan eendag ’n “digteres” word. Dit is ook in Watervlerk aangehaal, by die gedig “Variasie op ’n tema” en lui so:

Eendjie, eendjie, plattepoot,

sy loop daar in die watersloot.

Sy sien ’n vis

en kyk gou of dit ene is.

Ilse, ten laaste, watter gedig in waar die oog van stil word wil jy graag met lesers deel as lusmaker vir jou bundel?

Jy het reeds soveel aangehaal! Miskien nog hierdie een – “kom ons gaan stap op die see”.

kan jy dit hoor,

die stilte as mens die see sou stop?

skuim wat in klein borrels bars.

hoe loer die sklera van branders

uit die skitterende see-oog tot stil-sand gebring.

noudat die see gestrand het

kan mens stap op die skyn

waar water was

voordat die spieëling flikker

en alles verdwyn in ‘n oogknip,

een wink van die gedig.

1. Ilse van Staden se webwerf heet www.colourandquill.com . Dit kan ook as “colour and quill” op facebook gelike word: https://www.facebook.com/colourandquill/?fref=ts

2. Die dood is ’n mooi blou blom (Pandora Books) kan as e-boek afgelaai word by: https://www.amazon.com/dood-mooi-blou-blom-Afrikaans-ebook/dp/B00Y2RRMHG?ie=UTF8&*Version*=1&*entries*=0

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Ilse van Staden”

  1. Marlise :

    Geluk met die publikasie van die mooi bundel, Ilse. Net die omslag stem ‘n mens al rustig vir daardie ‘stilte’. En ja, dankie dat ek een van die 12 eksemplare van ‘blou blom’ gekry het destyds!