Onderhoud met Juanita Louw (in die grot van die sibille)

Juanita Louw. RBohnen

Juanita Louw gesels oor haar debuutbundel

‘In die grot van die sibille’ met René Bohnen

.

Juanita, baie geluk met hierdie mooi debuut. Op die laaste bladsye lees ons dat dit grootliks gespruit het uit ʼn M.A. studie in kreatiewe skryfkuns wat jy aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het. Ter inleiding wil ek jou dus vra om ʼn bietjie meer oor die aanloop tot die debuut te sê.

Wanneer en hoe het jy begin skryf? Kan jy jou eerste gedig onthou?

Baie dankie, René. Net voor my twaalfde verjaarsdag is twee klasmaats, tesame met die een se familie, in ʼn motorongeluk oorlede op die langpad see toe. Die familie-begrafnis, wat ons as klas bygewoon het, het my geruk: die kinderkiste bo-op die ouers s’n laat sak. Later daardie dag het ek probeer om met woorde te voel. Dit het die deur oopgemaak vir skryf as manier om te probeer sin maak. Om die leemte te transformeer tot iets anders. Die bladsy het my geheime plek geword.

In die bundel kom die leser baie name teë, soos Manderley van Daphne du Maurier, asook verwysings na en aanhalings uit Brel, Bachelard, Kopland, Susan Mitchell en Sylvia Plath, onder andere. Wat is a) jou gunsteling leesstof en b) wie is jou gunsteling digters?

My kinsmen of the shelf is velerlei. Ek hou van ʼn verskeidenheid en lees gewoonlik meer as een boek op ʼn slag. Boeke praat met mekaar, soms uit vreemde oorde. Ek is gaande oor tweedehandse boekwinkels waar mens nie altyd vind wat jy soek nie, maar soms deur boeke gevind word op presies die regte tydstip.

My gunsteling digters verander gedurig, maar altyd iewers op die lys is Cussons en Cloete, Petra Müller, Tswetajewa en Dickinson, Margaret Atwood, Seamus Heaney, D. H. Lawrence. Die laaste ruk is ek verslaaf aan John Burnside en Michael Donaghy.

Uit hierdie debuut blyk dit dat jy gefassineer en waarskynlik beïnvloed is deur die Russiese digter Marina Tswetajewa. Hoe en wanneer het jy van haar bewus geword en hoe het sy neerslag gevind in jou eie werk? Voorsien jy dat dit ʼn langdurige agtergrondstem vir jou sal wees, of is dít ʼn onregverdige, ope vraag?

Ek het op Tswetajewa afgekom tydens my navorsing vir die verhandeling wat ek geskryf het as deel van die meestersgraad onder Joan Hambidge. Deur na Tswetajewa se gedigte in Russies te luister het ek meer bewus geword van klank en ritme, van die beweging en energie van taal. Aangaande my pad met Tswetajewa: dit strek voor my uit…

Die bundeltitel kom uit die gedig “Fantoom” op bladsye 87 en 88. Die gedig is geskryf na ʼn foto van ʼn skilder voor ʼn skilderdoek – afbeelding van afbeelding van afbeelding, as’t ware. Dit wil voorkom of die profetiese stem as muse of inspirasie uitgebeeld word. Watter ars poëtiese prosesse vind in hierdie gedig plaas?

Die skilder voor die wit doek, die beeldhouer voor die klipblok, die digter voor die leë bladsy: soms moet mens luister na wat reeds daar is. Die onsigbare sigbaar maak. Michaelangelo wat die beeld uit die marmer vrylaat, Nabokov se woorde wat onsienlik reeds wemel op die blad. Tswetajewa sê jou lyf is die grot van jou stem. Om die sibille van die self te vra, en te luister vir die antwoord—dít is die profetiese stem.

Ons kan na verdere ars poëtiese fasette kyk in die gedigte “Ars poetica I” op bladsy 37, “Ars poetica II” op bladsy 56, asook waarskynlik “Orpheus” op bladsy 49 en “Wat die rivier gee” op bladsy 90. Veral in “Orpheus” kom die digter as liminale figuur sterk na vore – dié een wat tussen wêrelde beweeg, maar aan geeneen behoort nie. Wil jy meer hieroor vertel? Ons vind ook besoeke oor en weer tussen lewendes en dooies, soos in “Die dooies” op bladsy 57 en “Die verraad van beelde” op bladsy 60, waar ons lees die siel van die dooies / besoek snags hul besittings. Wat kan die digter hoop om terug te bring uit onderskeie besoeke?

Orfeus is die argitipiese digter, wat teenstrydighede versoen: lewe en dood, vleeslike en onstoflike, verganklikheid en die durende. Om te skryf is ʼn Orfiese reis: ons sak af in die onderwêreld van ons binneste en bring die gedig terug, asook ʼn nuwe blik op die wêreld. Ons herskep onsself. Deur taal versoen ons ons eie teenstrydighede, asook die binne- en buite-ruimte, self en wêreld. Die katábasis as metafoor vir die beweging tussen die sigbare en onsigbare…

ʼn Deel van skryf is om te onthou. Om te onthou is ook ʼn Orfiese reis. Ons kan nie die dooies terugbring nie, maar deur te onthou (die Engelse woord wys dit goed: re-member) herskep ons hulle in ons geheue, gee aan hulle vorm.

Ons vind die sirkelmotief weer en weer in die verse. Ek haal graag die eerste gedig volledig aan:

. 

Berk en been

ʼn Fabel

 

In die holte van ʼn berk

vind ek ʼn ring: band van been,

maanwit juweel uit hout gekerf.

 

Ek glip dit aan my vinger:

die beenband omvorm tot mondkring,

juweel tot oogalbaster.

 

Ek voel dit begin by my oorskulp:

arms word takke; bene, wortels.

In die mik hang ʼn blink vrug.

 

Wyer en wyer rek my kake:

my verhemelte is die nagkoepel,

tande verander in gesternte.

 

Ek sluk die maanvrug in:

my maag swel en swel, maak ʼn dop

en breek oop: in die holte vind ek ʼn ring.

. 

Verder in die bundel vind ons die wiel, ouroboros, sirkel, band, kringweb, seintuur en wentelvlug. Myns insiens word die sirkelgang ook versterk en ondersteun deur jou gebruik van die rondeau, die villanelle en selfs ʼn ‘verdraaide villanelle’. Watter tematiese rol speel die kringe in die bundel? Ek wonder ook oor die argetipiese vorm van ʼn grot. Kan jy meer daaroor sê?

Nóú sien ek die sirkels orals, maar ek het nie die sirkelmotief doelbewus gekies nie.  Ek het wel opsetlik ʼn sirkelgang gekies in die uitleg van die bundel, deur “Metamorfose” as die laaste gedig te plaas om terug te lei na die programgedig. As ʼn sydelingse antwoord op jou vraag, ʼn reël uit die gedig “Sirkel”: “die sirkel [is] my laaste sinjatuur.”

Die argetipiese vorm van die grot behels o.a. insluiting, omsluiting, verberging. Dit is simbool van die mitiese onderwêreld. Dis ook aardskoot. In mites en feëverhale die skuilplek van drake, bergplek van skatte. Dis ʼn geheime plek, waarvan die ingang dikwels versteek is deur ʼn doolhof of bewaak word deur ʼn monster. Dit is ook die kopgrot, die hartgrot, en Tswetajewa se lyfgrot. Dis die plek van die Sibille, wat nie net waarsegster is nie, maar ook die een wat die lewende Aeneas begelei het na Hades om die skadu van sy vader te besoek.

Aansluitend by die vorige vraag, kom die proses van soek-en-vind ook as tema voor. Maskers, kamoeflerings en goëltoertjies maak oral hul verskyning. Die draak in Eden (bladsye 36 en 44) kom ook as iguanas en verkleurmannetjies voor, net soos besweerders, hipnotiseurs, voedoe en figure soos Raspoetin verskyn. Hoe vorm die verskeidenheid ʼn geheel?

Dit klink soos ʼn ou-wêreldse karnaval! Dié goed bekoor my van kleins af—ek het selfs drome gehad van ʼn sirkusbestaan as koordloper of sweefstokarties. Oor reptiele: Ek het ʼn sagte plek vir salamanders, draakagtiges. Van die piepklein dwergverkleurmannetjie van Madagaskar tot die Fantastiese (of Sataniese) blaarstert geitjie. Die see-iguanas op die Galapagos-eilande (Darwin het nie saamgestem nie en het hulle die “imps of darkness” genoem!) en die Tuatara wag nog vir my in ʼn gedig.

In Marlies Taljard se artikel “Ons is die mitemakers” (Versindaba, 27 Junie 2016, http://versindaba.co.za/2016/06/27/marlies-taljard-ons-is-die-mitemakers/) lees ons kom ʼn funksie van die mite aan die orde wat deur Eliade beskryf word, naamlik die mite as openbaarmakende verhaal, as die manifestasie van syn. Mitemaking (en mite-ontknoping) staan sentraal tot jou bundel. Watter keuses moes jy uitoefen om invalshoeke te distilleer en kernbetekenis te ontgin?

Dit was ʼn organiese proses en het merendeels groepering behels. Deur die gedigte om my uit te pak, het ek skryftemas raakgesien. Invalshoeke het ontwikkel deur die gedigte saam te gooi en rond te skuif totdat hulle hul lê gekry het.

Die eerste motto in die bundel is ʼn vertaling van Tswetajewa en lui: Die digter se taak – om die verborge te ontbloot / Elke gedig is ʼn uiting van die sibille. Dink jy dat verskillende digters verskillende take het en meen jy dat ʼn digter se taak deurgaans morf of verander? Het die digter ʼn maatskaplike plig? Hoe sien jy jou spesifieke taak?

Ek dink wel so, nes elke mens ʼn verskillende taak het. Die taak mag verander soos ons verander, maar die essensie bly gewoonlik dieselfde. En ʼn sosiale taak, reken ek, in die sin dat die digter, soos elke mens, sy eie waarheid moet vind en dan die moed moet hê om daarvolgens te lewe.

As “jong” digter, voel ek my grootste taak is om my eie stem te ontgin, my eie woordpad te vind, en om te leer hoe om die onsigbare te verwoord.

Die laaste afdeling van die bundel tree op die mees direkte manier met Tswetajewa in gesprek en aan die hand daarvan, ook met selfdood en verskillende psigologiese toestande, hetsy patologies of nie. Tswetajewa se blik op die Orpheus-mite, die digter as anderwêreldse besoeker en die ek-spreker se onmoontlikheid van my oogmerk kom aan die bod. Die afdeling begin met ʼn Plath aanhaling as motto: By the roots of my hair some god got hold of me./ I sizzled in the blue volts like a desert prophet. Kan die digter “escape hell”, of is daar vensters in die grot, wonder ek op metaforiese (of mitiese!) vlak. Ek dink hier byvoorbeeld aan die bundelomslag, waar geskeurde papier, dalk ʼn bladsy, loerplek verskaf (Jy kan gerus iets oor die omslag sê). Is die soeke na Tswetajewa, asook die problematiek van vertalings uiteindelik ook mitologisering van die digterskap, metafoor vir die ars poëtiese soeke? Ek haal die gedig gedeeltelik aan:

Jy is die skaduwee van Euridike,

in die onderwêreld kom ek jou haal.

 

Ek hardloop in die voetspore van jou verse,

volg die naat van jou gedagtestreep.

Ek soek jou in die spasies     

tussen die punte op ʼn stippellyn,

wag in geel notaboeke en rooi ink,

tussen my elmboë

op die blad van my lessenaar.

 

Ek staar na jou

deur die doringdraad van jou taal.

Daar is nie vensters in die grot nie. Ons moet die duisternis laat weerklink—in Heaney se woorde, “set the darkness ringing”.

Die mooi voorblad is te danke aan die span by Quellerie. Ek en Carolyn Meads, my redakteur, het albei gehou van die afbeelding van die Antro della Sibilla in Cumae, die antieke Griekse nedersetting naby vandag se Napels. Dit was die beginpunt. Die geskeurde papier wat die donker grot blootlê is die eindresultaat van die ontwerperspan se insig en verbeelding. “Om te dig is om te vertaal”, sê Tswetajewa. “Geen taal is die moedertaal nie.”  Miskien ook translātĭo: ʼn oordrag, ʼn ruimtelike transportering.  Op soek na Tswetajewa is op soek na myself is op soek na die gedig.

Juanita, dankie vir die interessante onderhoud, baie sterkte met hierdie bundel. Watter gedig wil jy volledig plaas om die lesers verder te prikkel?

Dankie, René, vir die noulettende lees en diepgaande vrae.

.

Die dooies

At night the dead come down to the river to drink.

Susan Mitchell

.

Die dooies kom saans

na die rivier om te drink,

hul kele droog en hees

van heeldag fluister in ons ore.

Hulle lawe hul voete, vuil en seer

van ons agternaloop.

Die dooies gooi hul geheime op die wind,

ons hoor hul stories in die bloekomboomlanings.

Die dooies neem wraak op hul verraderlike mans.

Sommiges leer nooit om te vergeef nie.

Hulle gee nie meer om vir foto’s in koekblikke gebêre

of die porselein-teestel in kartonbokse gestoor nie.

Die dooies loop en neurie alewig Jacques Brel.

Ons kinders stap rond met die dooies se oë.

Die dooies het geen tasse om te pak nie,

hulle het ons reeds verlaat.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Juanita Louw (in die grot van die sibille)”

  1. carina :

    Dit lyk asof Juanita Louw se debuut interessante argitipes in die kollektiewe onderbewuste van die menslike bestaan oopskryf. My nuuskierigheid is geprikkel.