Resensie: Waar die oog van stil word. (Ilse van Staden)

Omslag

Omslag

Ilse van Staden. Waar die oog van stil word. 2016. Protea boekhuis. ISBN: 978-1-4853-0605-4. 57 bladsye. Prys: R150.

Resensent: Zandra Bezuidenhout

 

STILTE WAT “GOËLEND ONTGOGEL”

In die bundeltitel op die omslag staan die woord “stil” uit in wit letterwerk; dit skep alreeds ’n bepaalde verwagting, soos ook die sagte, stil agtergrond in skakerings van blou. Die leser se oog word hierdeur “stilgesit” en die gees (en die sintuie) wil die begrip bedink en oordink; en vra na gewaarwordings en situasies wat daardeur wakkergemaak word.

Om hierdie gegewe voorlopig binne konteks van die Afrikaanse digkuns te plaas, dink mens aan enkele ander bundeltitels waarin die woord “stilte” voorkom – Pirow Bekker se Stillerlewe ( 2002); Ina Rousseau se Die stil middelpunt (2003); Johann de Lange se Stil punt van die aarde (2014) en Heilna du Plooy se Die stilte opgeskort (2014). Daarby doop Daniel Hugo sy vertaalde verse van die Vlaamse Miriam Van hee (by uitstek ‘n “stil” digter) In plaas van die stilte (2012). Dan is daar nog talle individuele gedigte soos Van Staden se eie “Stil” uit haar pryswennende debuut Watervlerk (2003), Breyten Breytenbach se “En skielik is dit stil” (Versindaba 2015), en om ’n terugwaartse sprong in die tyd te maak, Boerneef se ikoniese “Hoe stil kan dit word as sedoos gaan lê”; laasgenoemde met sy besondere “stil” beelding, gerugsteen deur trefseker klank- en taalgebruik – ’n toonbeeld van  inhoud en vorm wat versmelt om die stilte uit te beeld. En hoe “stil” is die toonsetting daarvan deur Hubert du Plessis ook nie. Die Boerneef-gedig word hier in sy geheel aangehaal omdat daar in sekere opsigte parallelle met Van Staden se nuwe korpus verse voorkom. Maar eers, Boerneef:

Hoe stil kan dit word as Sedoos gaan lê wie kan dit mooier as die tortel sê wie roerender assie bladstil bome assie skewe verwaaide damwalbome innie stil vroemôre as Sedoos gaan lê hoe om ‘n stilte in die hart te vind genadig soos wanneer Sedoos gaan lê”

Om die net nog wyer te gooi, en in ’n heel ander idioom, dink ’n mens buite die plaaslike konteks ook aan die gedig “Silence” van die Amerikaanse digter en eertydse “poet laureate” Billy Collins, met sy verwysings na o.a. “the silence of the orchid” en “the silence of a falling vase/ before it strikes the floor” – ’n gedig waarin die woord “silence” telkemale herhaal word (‘n procédé wat ook, soos dit later sal blyk, by Ilse van Staden nie vreemd is nie). En dan is daar nog Collins se onthutsende reëls uit “Picnic, lightning”: “the click/ of the sundial/ as one hour sweeps into the next”.

Wat is die leser se algemene gewaarwording as die aandag vir hierdie verskynsel of toestand gevra word? Dit mag meditasie wees, of doofheid, of die oomblikke van rus, verposing en afwagting wanneer gehoorimpulse met die eerste gedagte uitgesluit word, ongeag of die stilte verlossend, bevreemdend of onheilspellend is; die stralende stilte van ’n objek, of die stil misterie van die dood en die graf. Dit kan ook ’n beeld van die durende kyk of verwondering veronderstel, of die verstarring, “waar die oog van stil word” soos Ilse van Staden dit in haar nuwe versameling verse treffend benoem. Knap reeds, hierdie titel, met sy byna ouderwetse poëtiese woordinversie wat ’n mens ’n sfeer van stille verrukking laat vermoed.

Wat sou Ilse van Staden dus met hierdie bundel bring, ná haar waardige voorganger-digters, en as vervolg op haar bundel Fluisterklip van 2008 en Watervlerk van 2003?

By die inhoudsopgawe roep etlike van die gedigtitels moontlike situasies van stilte op, meer opvallend in “patrone van stilte” (30) en “stille oseaan” (43). Maar mens verstout jou om moontlik ook gedigte soos o.a “oggendgedig” (8), “middernag” (10), “berg” (12) en “gedig teen skemer” (41) hierby in te sluit, veral omdat hulle saam in bundelverband voorkom en ’n moontlike tematiese uitbou van die gegewe verklap. Daar is meer sulke titels, soos “pacificum oceanus” (45), “brief op die strand” (46), “minimalis” (50), “abstrakte skildery” (56), waarvan nie een noodwendig “stil” hoef te wees nie, maar wat jou tog verlei om, miskien voortydig, een of ander instansie van stilte te veronderstel. Die interessante is dan om met die lees van hierdie en ander tekste in die bundel te ontdek of die lesersverwagtings wel gerealiseer word. Want daar staan in die bundeltitel, soos ook in sommige gedigtitels en -inhoude, ook ander begrippe wat as skarnierpunte mag dien: “oog” “blou”, “lig”, “snags” en “oggend”.

Reeds met die inset (“oopmaakgedig”, 7) waar die digter na die skryfhandeling verwys as iets wat in die oomblik van “wakkerword” vervlugtig as “mompelings wat op die lippe stol”, word ’n situasie van stilte opgeroep – beide deur die genoemde beeld en die pertinente gebruik van die woord “stil”. Hier bieg die spreker oor die onvermoë om die impuls van die droom in ’n gedig te laat gestalte kry. Hierdie spesifiek selfrefleksiewe poëtikale uiting is weliswaar nie nuut of oorspronklik nie, maar gepas ten opsigte van die plasing in die bundel, te wete om die bundel te open as “’n stip stil oopmaakgedig” en tegelykertyd die tematiek van “stilte” aan die orde te stel.

Een vir een kom gedigte van stilte aan bod, enersyds deur die woordverwysing(s), en andersyds deur die oproep van situasies waardeur die stilte algaande getematiseer word. Die kwatryn “afspraak” (51) is een voorbeeld: kort, maar veelseggend, weereens met die woord “stil” as versterking van die gegewe deur die beeld van die gebedshandeling en daarmee saam die gevoude (stil) hande in die slotreël:

eendag, see,

sal ek stil word in jou

met my hande soos ’n vis s’n

in ’n gebed gevou.

Soos in vele ander gedigte, val in “sikloon” (52) die verwysing na die “oog”, die “kyk” en die “blik” op. Die bundeltitel Waar die oog van stil word verwys dus ook na die gesuspendeerde kyk-aksie. ’n Mens vra jou af of die bewuste herhaling (vyf maal) van “oog”, “kyk” (twee maal) en “blik” (twee maal) binne een gedig nie ’n oorbeklemtoning is nie – afgesien van die feit dat beide herhaling en beklemtoning twee tradisionele digterlike tegnieke is. Of is hierdie sirkulerende motiewe binne een gedig juis die krag daarvan? Om ’n antwoord hierop te kry, moet dit in samehang met die ander gedigte gelees word. Die vermoede ontstaan dat die digter doelbewus ’n patroon wil vestig, moontlik as ’n eenheidskeppende tegniek om die gedigte saam te bind, maar ook om as ’n soort sirkelgang van woord en gedagte te dien, ’n spiraal, labirint, of ‘n mantra selfs, om die stilte van die Groot Niet binne te gaan.

Maar interessant genoeg, bied Van Staden ook die teendeel. In “vier-en-twintig swart voëls” (53) kom sit die voëls o.a. “lawaaierig” (twee maal) en “lawaaiend”, “kakelend” , “skel” (drie maal), “skellend” (twee maal), “krakend” (twee maal”) en “luid”. Weer begin ’n mens wonder of die keuse van hierdie tegniek wys is, ten spyte daarvan dat die digter die geraas daardeur wil simuleer.

Dit bring ’n mens by die gedagte of die stilte self nie ook as ’n tipe geluid gehoor moet of kan word nie: soos daardie “sounds of silence” waarvan Simon en Garfunkel in die sewentigerjare gesing het, m.a.w. wanneer die stilte “hoorbaar” word, soos hierdie reeds geykte uitdrukking lui. Van Staden praat in dié verband van “die stilte eggo terug” (“as”, 11). Maar om na die saambestaan of selfs die eenheid van stilte en geluid terug te keer, word ook ‘n sikloon se oog by haar die vindplaas van die stilte, naas of binne die tierende, vernietigende geraas en die “ratel van die reën”. Kyk maar weer na die aangehaalde gedig van Boerneef: word die stilte nie ook hier verwerklik deur die roep van die tortel nie? Hierdie jukstaponering, voorspelbaar of nie, is sinvol en nodig in sy relativering. ’n Uitsluitlike fokus op die stilte sou eendimensioneel wees en maklik kon verveel as digters hul boustof nie op hierdie wyse verryk nie.

Maar om tot die kraai-motief terug te keer: die gedig wat volg (“Dertien kraaie”, 54) sit weer vol met die “kraai”-woord. Sommige lesers mag hierdie reïterasie funksioneel vind, of slim, soos die manier waarop Wallace Stevens se gedig “Thirteen ways of looking at a blackbird”, met van Staden se erkenning aan die digter, gehersirkuleer word. Tog hou mens asem op as jy hierdie beginsel herhaaldelik teëkom, omdat die effek oordoen of oorwerk kan voorkom. Bowendien is daar ook intratekstuele verbande, soos byvoorbeeld tussen die bogenoemde “dertien kraaie wat ook woord-, beeld- en klankgewys herinner aan die gedig “kraaie” (39) met hul “skellende tonge” wat “skel in ’n voëlvreemde taal”.

Ander voorbeelde van berekende herhaling kom voor in “vlieg die duiwe” (38) met sy terugkerende vlieg, duiwe, lig, skaduwees en wolke, tesame met die verwisseling van middag, laterige middag en laatmiddag. Dit alles binne ’n gedig van nege reëls kan sfeerskeppend wees, maar die poging tot konsentrasie dreig by die eerste lees om die verse te eenselwig te maak, en selfs die bundel te verongeluk. Hierdie tegniek is so opvallend dat dit mag veroorsaak die boustof, taal en tegniese hulpmiddels nie in balans is nie, afgesien daarvan dat die potensiële verrassingswaarde van die onderskeie gedigte ondermyn word. Wil die digter doelbewus hierdie truuk invoer? Is dit ’n spel, of ’n vergryp wat in ’n hebbelikheid ontaard? Hieroor sou mens kon ooreenkom om te verskil, of ’n finale oordeel voorlopig op te skort.
Nog ’n tersaaklike vraag wentel om die moontlikheid om ’n werklik “stil” gedig te skryf. Die digter raak self hierdie kwessie aan in haar slotgedig “Slotsom” (57):

die see probeer ek met woorde weergee

en die stilte ook

hoe pervers –

daar’s geen woorde in die see nie

en geen stilte in ’n vers!

Die uitroepteken waarmee hierdie gedig afsluit, aksentueer die anomalie, nl. die naasbestaan van stilte en (hier) die oorweldigende geluid, ’n knap stylgreep waardeur die skryf van ’n gedig oor die stilte deur ‘n leesteken geproblematiseer word. Want tereg vra die spreker by implikasie: hoe skep jy stilte deur taal?

Hierdie spel met teenstrydighede is ’n interessante oefening. Maar ook hierin lê die gevaar op loer: is ook ‘n bepaalde tegniek genoeg om, op die duur, die bundel boeiend te maak? Is die reikwydte van die boustof voldoende, en is die taalaanwending van so ’n aard dat dit die algemene segswyse deurbreek? Van die verbeeldingryke reëls met vindingryke taalgebruik staan in die slot van “abstrakte skildery” (51):

soos stillewes stil is, is landskappe

tasbaar soos land en landelik onabsurd

substans ’n substitusie vir stilte.

Dieselfde gedagte word uitgebrei in die gedig “Kraaie”, met sy verwysing na “die oumensblou vel van die lug”, wat weer op die skryfproses slaan as dit eindig met:

om te skel in ’n voëlvreemde taal

om die tong te verruil vir vlerke

en saans die snawel in swart vere te steek

en vir eers van woorde te vergeet.

My gunsteling in hierdie bundel is die tweeluik bestaande uit “die blink reis van slakke” en sy gelyknamige pendant wat daarop volg. Hierin bedink die digter die slak en die slakspoor – ook nie nuut in die poësie nie – dink maar aan Ernst van Heerden se woorde in “Slak”: “’n Slymspoor oor die grys verlate sandsee/wat swenk – enorm en aards vertraag –/’n mondinglose aar van dooie spraak”, of dié van Antjie Krog: “Soos ’n slak uitskedig besmeer jy my/met nattigheid en slym”. ’n Mens sou talle ander voorbeelde, ook uit die anderstalige literatuur, oor hierdie tema kon aanhaal, wat nie beteken dat Van Staden dit nie nuut kan aanwend nie, maar dat sy hierby aansluit en die tema verruim. Hier skryf sy in die eerste van die twee genoemde gedigte oor die “blink spoorloosheid van slakke […] maar dis die reisjoernaal van slakke/wat so skitterend oor my paadjies blink”.

Die teenhanger van die bogenoemde lui in die geheel soos volg (ook hier met die herbenutting van haar eie woorde uit die eerste gedeelte):

dit vat meer as ’n padkaart of ’n reisigersgids,

meer as ’n stuursatelliet of reisjoernalis

om die skitterende bane van slakke te dokumenteer,

die silwer slym teen mure of plaveisel

en die fyner, spoorlose verblyf tussen blare,

soos wanneer drome weer in hul dop kruip

die blink reis van slakke is soos tonge

wat struikel oor woorde,

geprisma, gespiraal, gedop

soos ’n heilige se hart so breekbaar

die slakke maak ’n skitterende parabool

’n helderblink reis

as jy hulle ver oor ’n heining gooi.

Is stilte ook hier ter sprake? Ek dink tog dat dit by implikasie en by wyse van suggestie ’n eiesoortige beeld van die stilte skep deur dit as ’t ware sigbaar te maak, meer treffend as om alles uit te spel of iets oor die stilte te konstateer. Lees gerus maar die volledige weergawes van beide gedigte, aangedui as I en II; vir my is dit wonderlik stil in hierdie “wêreld in silwer toegespin”, in hierdie silwer slymskrif wat in stilte geskryf word. Die toepassingsmoontlikhede hiervan is groot.

In die gedig “as” maak die ietwat voorspelbare kruisrym tesame met die vaste versvorm en metrum, anders as in die meeste ander gedigte, ’n enigsins ouderwetse indruk, maar tog kom daar ’n treffende beeld aan die einde, nl. “op die maag van die rivier/dryf die oggend stil soos as” – en daarbenewens word die woord “as” se dubbele betekenis uitgebuit. Maar ook hier is die woordherhaling van stil/stilte; oggend, water en lig ’n vooruitwysing na wat verder in die bundel gevind word. Lesers kan verskil hieroor, maar vir my was dit aanvanklik onduidelik waarom hierdie tegniek so mildelik ingespan word. Is dit funksioneel? ’n Stylgreep? Maar let op hoe die herhalingseffek in “wat weet die tong” (16) tog aanvaarbaar is, omdat dit presies is waarom die gedig (en bundel) gebou is – herhaling as spilpunt, dus. Dit mond uit in ‘n ironiese slotreël wat al die vorige gedagtes en identiese vorms van vraagstelling ophef met “daar’s niks wat die tong nie weet nie”, en met sy verlossende humor ook ’n ander tintjie aan die bundel gee.

Van Staden is ’n vernuftige eksponent van woordspel (“woestuin”, 13). In “ogiesdraad” (28) word “heelal” weer met “geheel en al” verbind; in “tyd as die oog van ’n naald” (29) staan “beginne” en “beginner” naas mekaar, en in die titelgedig “waar die oog van stil word” (31) word die klank- en woordspel heel vermaaklik tot ‘n uiterste gevoer, en suksesvol beëindig met die “stilgevriesde stilte”. Soms is die woordaanwending tog vir my gevoel te geforseerd, soos “sal ek/my oorvloedigheid laat poel”  (is “spoel” dalk bedoel?) en “drome, die fyn muskietnet van beloftes” (“kamers van die wind, 18), of is die alliterasie te bedag, bv. “knielende knieë (“psalm”, 15). Aan die ander kant is “miljoene trillende torre” fassinerend, hoewel die oordadige gebruik van die i-klank in die res van die gedig hinder. Oor die algemeen lyk dit egter of hierdie digter van haar mooi klankvondste, soos die oënskynlik terloopse assonansie, net te veel inspan en daardeur die gedig verswak. Een voorbeeld is “Borsharnas” (23): treffend ten opsigte van die inhoud, maar met die a-klank wat te ver gevoer word – asof “harnas” op sigself nie welluidend genoeg is nie, kom daar nog pantsers, harnasse, klank, karapakse, borskas, bladbene, ontsnap, blaartjies, saad, wanskapig, weer karapaks en harnas (alles binne elf reëls). Miskien is al die a’s bedoel om klankmatig die hardheid van die “harnas” te beklemtoon en te versterk, maar die slot bring ‘n gelukkige afwisseling, en wat inhoud betref ’n verrassende en roerende kontras wanneer die geharnaste spreker erken: “binne bloei dit/binne bloei dit spierspierwit”, waar die herhalingselement tog doeltreffend ingespan word.

Die slot van ’n gedig is in die meeste gevalle trefseker, soos “ek maak die hekkie toe/en trek die winterbaadjie dig om my” in die genoemde “Woestyn”, ’n gedig wat ook ’n geslaagde onreëlmatige ritme vertoon.

Betekenisvol is dat Van Staden agtien jaar lank ’n veearts was en dankbaar put uit hierdie denk- en ervaringsveld wanneer sy etlike kere ‘n diersoort as fokuspunt vir ’n gedig gebruik. Die slak-motief kom twee maal voor, en dan ook die selakant en verwysings na visse, voëls, honde, die reeds genoemde kraaie, duiwe en kraaie, en meer. In “bou jou skip” (27) verskyn ’n hele opstapeling van ander interessante dierename, selfs van ’n prehistoriese aard, met die mooi beeld “gerugte van eenhorings”. Baie raak ook is die reël wat ek lees as ‘n metafoor vir die digter en die gedig, naamlik “bou jou boot van beenwit woorde/ laat sak jou hoek vir die droomvis/ wat jy van nou af daagliks op moet dis”.

As ’n mens die gedig “patrone van stilte” (30) lees, word die vermoedens bevestig dat die digter parallelle wou trek tussen situasies van stiltes, en dat sy verbete (wil) volhou om sekere woorde binne een of meer gedigte te herhaal, om, soos reeds gesê, op sigself ’n patroon te word; die woordkunswerk as kolk wat die leser intrek, meevoer en laat stil word. Is dit nie wat goeie poësie doen nie?

Ek kan nie nalaat om nog een van my gunstelinge te noem nie, naamlik die filosofiese “die oog is onskuldig” (36), met die slotsom dat die oog slegs ’n lens is:

die oog is neutraal en objektief

dit vel geen oordeel, haat niks,

het niks lief behalwe die lig nie

selfs in die donker droom die oog nie

dit boekstaaf slegs weerkaatsings

vir die brein se brandende verbeelding.

Hierdie bundel gedigte is sonder opsmuk, sonder sentimentaliteit, sonder cliché-taal, sonder ’n oormatige ek-gerigtheid. Dit alleen getuig van ’n gevorderde digtershand. Die deurlopende stilte-tema waaier uit in ’n groot verskeidenheid subtemas, en die gedigte, hoofsaaklik in die vryeversvorm is goed gestileer en gestruktureer. Dit raak die leser op ‘n “stil” manier, en hoe meer jy lees en herlees, hoe meer verbaas jy jou aan die fyn maar seker aanslag. ’n Mens sou die werk as (oorwegend) natuurgedigte kon klassifiseer, maar soos dit by ’n goeie digter hoort, reik dit dieper, wyer as blote beskrywings. Dit gaan ook oor die mens as belewende, denkende, skrywende spikkel in die natuur, wat al digtende die uiteenlopende momente van stilte probeer omlyn en deurdring, en deur die poësie wil intensifieer. Hierdeur word die reikwydte vergroot, en besweer dit die leser se aanvanklike bedenkinge oor variasie en spanning.

Dit sal sowel die fynproewer as die algemene leser loon om self verder te ontdek, te verken en te geniet, nie alleen die inhoud nie, maar ook die boekontwerp met sy treffende, byna roerlose omslag en die ewe esteties bevredigende en duidelik leesbare tipografiese uitleg. Die eindproduk is ’n veer in die hoed van almal wat hierdie boek help maak het.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Resensie: Waar die oog van stil word. (Ilse van Staden)”

  1. Louis Esterhuizen :

    Baie mense het al probeer om die magiese krag van die poësie te beskryf. Volgens my het Zandra Bezuidenhout in hierdie resensie in haar slotopmerkings waarskynlik van die mees akkurate beskrywings van die digter se taak as woordomvormer gegee: “Dit gaan ook oor die mens as belewende, denkende, skrywende spikkel in die natuur, wat al digtende die uiteenlopende momente van stilte probeer omlyn en deurdring, en deur die poësie wil intensifieer. Hierdeur word die reikwydte vergroot, en besweer dit die leser se aanvanklike bedenkinge oor variasie en spanning.” Welgedaan, Zandra.

  2. Zandra Bezuidenhout :

    Dankie, Louis, jou woorde inspireer.

  3. Charl-Pierre Naude :

    Dis nie so maklik nie om leesbaarheid, en selfs ‘n element van narratiewe spanning, in ‘n resensie in te bou en dit te kombineer met nougesette ontleding. Maar Zandra Bezuidnhout doen dit werklik baie bevredigend.

  4. Waldemar Gouws :

    Baie dankie vir hierdie resensie. Ek wonder tog oor die paradoksale verband tussen die bundeltitel en die reël “dit [d.w.s.die oog] boekstaaf slegs weerkaatsings…” Dit wat die oog laat stil word, bring dus die beëindiging van hierdie boekstawende aktiwiteit mee.

    Nog ‘n bundel wat met stilte werk (al die verbalisasie daaromheen) is Breytenbach se “Met ander woorde vrugte van die droom van stilte” (1973).

  5. Zandra Bezuidenhout :

    Dankie vir aanvullende kommentaar, Charl-Pierre en Waldemar. ‘n Bron vir navorsing, hierdie stil gedruis. Dalk uitgebrei na ander genres ook; J.M. (Rita) Gilfillan se kortverhaalbundel Van Stiltes en Stemme om mee weg te spring? Aan Stille Waters vir ‘n sprongetjie in trurat? Sjuut, laat ek liewer stilbly en die werk vir julle los!