Wicus Luwes. Rubber

Jy knoop ‘n lint om jou vinger, sodat jy ‘n afspraak kan onthou. Jy leer jou kinders hoe om hul skoenveters of dasse te knoop. Metaforiese knope is seker ‘n bietjie moeiliker om te knoop, maar ons doen dit eintlik daagliks. Ek het ‘n stelling raakgelees wat beweer dat die lied wat jy uit jou jeug onthou, dalk net daar is omdat dit aan ‘n sekere emosionele reaksie vasgemaak/vasgeknoop is. Die gevoel van nostalgie ontknoop dalk ‘n string herinneringe wat aan daardie emosie vasgemaak is. Emosie en langtermyngeheue is moontlik op ‘n spesiale manier aan mekaar vasgeknoop. Ek wonder verder hoe emosie en kuns aan mekaar vasgeknoop is.

 

Ek het Hannalie Taute uitgevra oor die verband van emosie in haar kuns. Hannalie is bekend vir haar rubber-kunswerke – sy borduur op rubber/binnebande. Ek wou spesifiek by haar weet watter emosies tydens die skeppende proses ge-aktiveer word:

 

Hannalie Taute (HT) aan die woord:

Woede / Anger: wanneer ek myself raaksteek

Vrees / Fear: dat my werk nie goed genoeg is nie

Vreugde / Happiness: wanneer ek die vordering sien

Liefde / Love: die liefde daarvoor om te kan skep

Verrassing / Surprise: Wanneer ek voel dat ek ʼn deurbraak gemaak het

Afsku / Disgust: dit gebeur soms dat ek nie tevrede is met van my werke

Hartseer / Sadness: Wanneer my verse die oorhand kry.

 

‘Abstrakte knope’ is miskien ‘n ander beskrywing vir die emosionele knope. Wat sou kuns sonder emosie wees? Wat sou emosie sonder kuns wees? Waar kan die twee konsepte aan mekaar vasgeknoop word? Die ervaring van die kreatiewe proses is soveel meer as bloot die naald en gare deur die rubber. Ek begin dink aan die steke / knope van die naald en garing wat Hannalie gebruik om die idee aan die rubber was te werk. Die kreatiewe proses / die idee wat in die kunstenaar se gedagtes vorm aanneem.

What is essential is invisible to the eye

What is essential is invisible to the eyes, 2015

 

HT: Die konsep van iets wat nie sigbaar vir die oë is nie, is baie toepaslik vir die kreatiewe proses, want gewoonlik sien mense net die eindresultaat en nie die proses in n kunstenaar se studio nie. Soms kuier die muse by my terwyl ek huis skoonmaak en soms blaai ek deur my ou dagboeke/sketsboeke en herbesoek/herbeleef/verwerk emosies wat ek daar vind.

Stink AFrikaner gedagtes

Stink gedagtes, 2016

 

WL:Is daar dalk ‘n kunswerk / uitstalling van jou wat sterk emosies by jou laat opkom?

 

HT: Daar het heelwat emosies om my ingewerk tydens my uitstalling by die KKNK 2011. Die titel van die uitstalling was ‘Skeidingsangs’.

Dit was ʼn rowwe tydperk in my loopbaan. ʼn Oorgangstydperk want net daarna het ek met rubber begin werk, so daardie uitstalling was basies n ‘retrospective’ van al die werke wat ek gedoen het tot en met hierdie uitstalling. My seuntjie was ook bitterlik klein en wanneer ek hom by die skooltjie in die oggende afgelaai het, het hy verskriklik gehuil – blykbaar staan daardie stadium ook bekend as skeidingsangs. Tydens hierdie uitstalling was dit ook die eerste keer wat ek die uitvoerende gedeelte in my kuns begin beoefen het.

se18

By die Skeidingsangs uitstalling, 2011

Dit was ook die eerste keer wat my uitstallings benoem is vir ʼn prys, want in 2012 is dit benoem vir ’n KykNet fiesta toekenning

 

WL: Watter soort emosies merk jy op by mense se gesigte as hul jou kunswerk by ‘n uitstalling sien?

 

HT: Meeste van die tyd kry mens nie te doen met die besoekers nie, behalwe op openings -aande en kunstefeeste. Wat ek al wel opgemerk het, is dat sommige mense verbaas is wanneer hulle uitvind dat dit binnebande is waarop ek borduur, en soms merk ek op dat hulle die titels amusant vind.

 

WL: Is daar enige emosies wat jy in die toekoms sou wou gebruik om ‘n kunswerk saam te stel?

 

HT: Dit sal gaaf wees indien ek eendag emosie en denke kan laat harmoniseer.

‘Self awareness’ is belangrik…ek het êrens gelees dat so ‘n bewustheid van jouself “is an ongoing attention to one’s internal states, which observes and investigates experience itself”…en dit lei dan tot emosie…

So ja, ek sal ook eendag graag wil terugstaan en sê ek lei nou aan die Stendahl syndrome:

Definisie: Stendhal’s syndrome, hyperkulturemia, or Florencesyndrome is a psychosomatic disorder that causes rapid heartbeat, dizziness, fainting, confusion and even hallucinations when an individual is exposed to an experience of great personal significance, particularly viewing art.

Terloops: Ek ondersoek ’vrees’ vir my volgende uitstalling. Die uitstalling gaan in September by Fried Contemporary in Pretoria plaasvind.

remember to sleep with your eyes open

Remember to sleep with your eyes open, 2016

 

WL:Watter soort emosies het mense ervaar met die slaansak / boks-kunswerk? Het mense anders gevoel oor kuns waaraan hul self kon deelneem?

HT: Ek kan nie namens ander mense hier praat nie, maar ek moet sê dat dit ’n aangename verassing was toe ek ’n foto ontvang van René Bohnen waar sy speels interaktief was met my slaansak tydens die uitstalling PLAY by die Nirox sculpture park. So mens sal eintlik vir haar moet vra hoe sy gevoel het toe sy kon deel wees van die kunswerk 😉

Wat ek wel kan noem is dat ek self daarvan hou om deel te wees van my uitstallings, daarom hou ek daarvan om op te dress tydens n fees…sodat dit vir my voel of ek self n lopende kunswerk is….en dit voel asof die gehoor dan meer vrymoedigheid het om met my te kom praat. Die ys is gebreek.

rene bohnen

René Bohnen saam met my werk getiteld: I dare you.

 

WL: ‘n Emosionele reaksie het ook tot die kunswerk oor die Vrouemonument gelei.

HT: Ek self het so n sterk reaksie gehad toe ek Anton van Wouw se beeld van die Vrouemonument sien. Ek het nie gehou van hoe hy die boeremeisie uitbeeld met haar hangskouers en kop gesak. Ek sien nie Afrikaner vrouens so nie…my ouma was n formidabele vrou , so toe maak ek die kunswerk A monumental moment, waar ek op die monument se stoep naak en met my rug na haar gedraai sit.

a monumental moment

A Monumental moment

 

Ek dink dat emosie pragtig in Hannalie se werke vasgeknoop is. Die volgende stelling bly my al ‘n rukkie by: waarom gedigte skryf as dit nie jou siel aanraak nie. Poësie en ander vorme van kuns is vasgeknoop aan emosie omdat dit deel daarvan is. Elke emosie is miskien ‘n soort kunswerk. Dit is nie verf of gare of woorde wat aan die papier, materiaal of rubber vasgeknoop word nie – dit is emosie wat manifesteer en resoneer in die wêreld wat ons ‘n tuiste noem.

‘n Saak van gevoel

die liefde ken geen logika nie – net
so is die taal: klank en betekenis
gaan selde ‘n egte verbintenis
aan – daarom is el nie die elfde nie
maar twaalde letter van die alfabet

en tog is taal en liefde nie dieselfde nie:
die een is ‘n weefsel van die verstand
die ander – wel, hoofsaaklik – van die hand
maar beide bewaar ‘n gedagtenis
aan die sinne-nes van die liefdesbed

liefde is nie blote sensasie nie
sê jy, dit is ‘n saak van die hart dié
van intense emosie
maar, hartjie
het ek dan nie gevra om jou hand nie?
ek begryp dat jy bedenkinge het
maar ons sal ons van harte moet berus
dat die liefde totaal onlogies is

– deur Daniel Hugo uit ‘die twaalfde letter’ (Protea Boekhuis)

*** My opregte dank gaan aan Hannelie Taute vir die deel van haar emosies en kunswerke. Mag sy altyd die emosies in ons en haarself op so ‘n besonderse manier uitbeeld.***

kknk foto geneem deur dstraat

Foto geneem deur dstraat tydens ‘n KKNK-uitstalling

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Wicus Luwes. Rubber”

  1. Ek sê vir jou dankie, Wicus! Gepraat van emosie en kuns: ʼn Rukkie na ons gesprek het ek die volgende aanhaling op die internet gesien, en wou dit nog met jou deel:
    “Painting is poetry that is seen rather than felt, and poetry is painting that is felt rather than seen.”
    ― Leonardo da Vinci
    Wonder of jy sou saamstem?

  2. Wicus Luwes :

    Stem definitief saam, Hannalie. Dis goed gestel!