Carina van der Walt. Beelde en poësie in Oos-Vlaandere

In Vlaandere

In Oos-Vlaandere is daar ’n klein dorpie met die naam Lebbeke. Dit lê in die sentrum van die driehoek Antwerpen – Brussel – Gent. Lebbeke is ook suid van Dendermonde. Gedurende Augustus 2016 word die nikserigheid van hierdie dorpie ’n bietjie opgehef deur die dubbel tentoonstelling van die beeldhouer en plastiese kunstenaar MaRf en die skilder André Callebaut. Die naam MaRf is ’n pseudoniem wat sedert sy studiejare saam met die kunstenaar kom. Sy beelde bestaan hoofsaaklik uit vrou-agtige figure in brons of keramiek. MaRf is behalwe kunstenaar ook ’n groot poësieleser. Dit is natuurlik iets waarvan elke digter droom: om gelees te word. By MaRf bly dit egter nie net by lees nie. Hy vra dikwels digters om gedigte by sy beeldhouwerk te skryf. Sy kontak met digters strek wyd.

Verlede jaar het die aand van 23 Oktober tot iets moois vir my gelei. Dit was na die bekendstelling van AMALGAAM aan die Universiteit van Gent. Ek het uitnodigings van twee bekende Belgiese kunstenaars gekry om saam met hulle te werk.

Eén projek was dié van die fotokunstenaar Marie-Thérèse de Clercq: ’n reeks wat uit tien abstrakte swart-wit foto’s bestaan het met die naam I will write peace. Daarby het ek (na baie heen en weer e-pos) tien Homeriese vergelykings geskryf. Dit is reeds in Eindhoven ten toon gestel saam met die Afrikaanse klankopnames van hierdie vergelykings. Die vergelykings is nog nie gepubliseer nie.

Die ander kunstenaar was MaRf. Hy het vir my gevra om ’n gedig by een van sy bronsbeelde – een heilige mislukking – te skryf. Die naam het my dadelik aangespreek. Ek moes egter eers die beeld sien om te kan besluit of ek iets daarmee kon doen. Dit was gelukkig wél die geval. Hierdie beeld sou saam met my gedig en saam met MaRf se ander beelde plus gedigte van verskeie ander digters ten toon gestel word in die tuin van Galerie de Fontein in Lebbeke. Sy vraag was dus vir tien maande vooruit bedoel. Goeie beplanning. Wat my verder verras het, is die deelname van twee ander Afrikaanse digteresse aan hierdie selfde tentoonstelling. Riana Scheepers. Christine Brakhuizen le Roux. Sonder die breë belang van Afrikaanse poësie op die Oos-Vlaamse platteland tydens die huidige Belgiese somer sou ek waarskynlik nie dié blog vir versindaba geskryf het nie.

Dit was heerlik om nie net my eie Afrikaanse gedig nie, maar ook die gedigte van Scheepers en Barkhuizen le Roux te kon voorlees. Daar was so ’n paar besoekers wat nader gestaan het om beter die vreemd bekende tongval van Afrikaans op te kon vang. Ek het ’n enkelstaande beeld gekry om oor te skryf, terwyl beide Scheepers en Barkhuizen le Roux se beelde uit ’n stel bestaan het. Ons benaderings, met ander woorde hóé ons na die beelde gekyk het, was baie uiteenlopend. Miskien het MaRf  ook soos Breytenbach gedink: “Soveel tale soos jy kan / Zoveel male ben je man” – veral as Afrikaanse digteresse so soet oor sy skeppings koer! By Scheepers se tweelingbeelde genaamd Absurde droom wys MaRf vir my op die sprong wat sy na haar gedig se titel toe gemaak het. Hy grinnik so bietjie daaroor. Is elke vrou nie immers elke man se absurde droom nie?

rsz_1marf-gedig_&_beeld_014

Vrou

 

Wie is sy?

Hierdie deurskouende vrou

wat so puntig paraat

trots getros

wind en weer

trotseer?

 

Ek.

 

’n Digter vra verwonderd:

Wie het die rondings van jou vlees

so soepel om jou been gedraai

en watter heuwels en vallei

die wit mis van jou tabberd toegewaai?

 

Wie kan haar keer?

Hierdie deurwinterde vrou

wat so digtend dromend

weerloos verwonderd

wind en weer

trotseer?

 

Alleenlik

Ek.

 

Dit lyk asof Scheepers met die vroulikheid van die beelde en wáár hulle in die buitelug staan, kon identifiseer. Ook ek het met my beeld geïdentifiseer, maar nie met betrekking tot die fisiek vroulike kant daarvan nie. Wat het met my beeld gebeur? Hoekom lyk sy soos sy lyk? Wat het met mý gebeur? In hierdie vroeë stadium van my eie ontwikkeling kan ek net skryf dat my gedig eintlik a-tipies is. Van alles wat daar bestaan om oor te dig, is ekself die minste interessant. Kennelik het MaRf se beeld tog iets by my losgemaak.

rsz_marf-gedig_&_beeld_031

’n heilige mislukking

 

onder die Voortrekkerkappie

was haar gedagtes altyd half leeg

– is ek ’n Martha of ’n Maria –

 

maar iets het haar soos ’n klapperhaar-

matras in haar slaap aanhou steek

iets het stukkies geskiedenis uit haar

liggaam laat val     ’n bars is geslaan

deur haar lyf – haar arms is afgekap

 

tot sy met ’n gepluimde helm

haar keel op ’n stemvurk af kon stem

& haar gedagtes half vol kon sing

 

Barkhuizen le Roux het MaRf se tweelingbeelde anders geïnterpreteer. Die eie ek of die vroulike kant het geen rol gespeel nie. Sy het in die kunstenaar se vel probeer kruip. Die aanleiding daarvoor was waarskynlik MaRf se aanhaling van Willem Kloos wat hy as titel vir sy tweelingbeelde gebruik het: “Ik ben een God in’t diepst van mijn gedachten”.

rsz_4marf-gedig_&_beeld_016

kunstenaar

 

met woord en daad en brein

kon hy dit seker beter klink

tot annerlike mens van stof

geskep deur alchemis en smid

iets beter as die sienlike en sin –

 

’n beeld waaraan hy beitel

’n vorm gaaf om te onthul

iets meerder as versinsels

raaisels in spieëls gedoem

verhul as grootsheid droom en hoop

 

sy hande kap knie prutsel skaaf

pogings geplet in rou metaal

ledemaatloos oë gespleet ore verdig

longe waarin sy eie asem faal

om slegs  één hart tot klop te bring

 

soggens neem hy die taak weer op

sy harsings brand en spook en dring

om metafisiese verbeeldings nuut

tot jy oplaas tot ewebeeld verwring

ontdaan van redding rus en roem

newels in skynglas sien rinkink

: ’n prul weerkaats bly prul helaas

 

Nou staan ons drie Afrikaanses tussen drie Belgiese vrouestemme en sing. Yerna Van Den Driessche (Zottegem) en Patricia Lasoen (Brugge) is tydgenote, maar Lasoen het al in 1968 gedebuteer met Ontwerp voor een Japanse houtgravure. Van Den Driessche het eers in 2010 met die bundel Reconstructie gedebuteer. Sy is tans nogal in aanvraag vir optredes en het gedurende Juliemaand haar stem by die poësiefees in die Poëziecentrum van Gent laat hoor. Patricia De Landtsheer kom uit Dendermonde in die direkte omgewing. Sy is eintlik ’n jeugboekskrywer. Haar gedig dra net soos myne dieselfde titel as die beeld. Sy het ook ’n tweelingbeeld gehad waaroor sy geskryf het net soos Scheepers en Barkhuizen le Roux.

Natuurlik ontbreek daar nie mannestemme bij MaRf se tentoonstelling nie. Benno Barnard. Willie Verhegghe. By die beeld Icarus het Victor Vroomkoning uit Nijmegen (Nederland) die gedig Vrije val geskryf. Dit is één van die min beelde wat nie borsies het nie, maar met uitstekende manlike genitalië onderstebo hang.  Die dubbelsinnigheid van ‘uitstekende’ ontgaan my natuurlik nie. Ek haal graag strofe een aan:

 

Vrije val

 

Als giervalk hing ik in de ijle lucht aan

de vlerken van mijn vindingrijke vader.

Ontstegen aan zijn dwaaltuin raakte ik

buite mijzelf. Al maar hoger vogel

kreeg ik weidser zich. Naar de hemel

streefde ik, naar het zonneklare licht.

Godzucht bracht me in extase, lang-

zaamaan smolt alles wat ik was.

 

Danksy die kunstenaar MaRf, ons “vindingrijke vader”, mag die digters ook saamspeel en in mekaar se woorde verdwaal in hierdie beeldetuintjie half weggesteek tussen baksteenmure en struike. En kom jy as digter ooit in Gent? Vergeet dan nie om by die Poëziecentrum te vra na die poësieroete nie. Gaan stap dit gerus. Dis permanent ingerig en ook een van die Gentenaar MaRf se breinbabas.

rsz_marf-gedig_&_beeld_006

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Carina van der Walt. Beelde en poësie in Oos-Vlaandere”

  1. carina :

    Ek besef no eers nadat ek dit gepos het, dis Vrouedag in Suid-Afrika! Miskien gepas?

  2. MaRf :

    Mooi!
    Voor ons zo sappig.