Resensie: In die grot van die sibille. (Juanita Louw)

In die grot van die sibille  – Juanita Louw

(Quellerie, 2016; ISBN: 978 0 7958 0123 5, Slapband: 92bl.)

 

Resensent: Marius Crous

I

Die titel van Juanita Louw se debuutbundel, In die grot van die sibille, asook Daniel Hugo se opmerking in die flapteks dat hy beïndruk is deur die “wye verwysingsraamwerk” van Louw se digbundel, verklaar die volgende inleiding tot my resensie.

Juanita Louw het in 2014 haar MA in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Kaapstad voltooi onder leiding van Joan Hambidge met ’n ondersoek, Mythopoeia in Marina Tswetajewa’s After Russia – en die digbundel Toorlelies.  In die openingsgedeelte van dié tesis[1] noem Louw dat sy aanvanklik in Engels wou skryf, maar na die dood van Stephen Watson het Joan Hambidge haar mentor geword en het opgemerk dat Louw mag dalk nog eendag gedigte in Afrikaans ook skryf.

Die Russiese digter Marina Tswetajewa (1892- 1941) het veral tot Louw gespreek omdat sy veral geïnspireer is deur figure uit die Klassieke tyd en het hierdie mites omvorm en by haar eie temas aangepas. In After Russia (1928) formuleer Tswetajewa ook meeste van haar opvattings oor die digter en digterskap en ondersoek die verwantskap tussen Eros en die poësie. Drie van die belangrikste mitiese figure wat in Tswetajewa se bundel figureer is Orfeus, Euridike en die Sibille van Cumae. Orfeus word immers beskou as die argetipiese digter en die vier kernaspekte van sy digterskap kom volgens Louw op die volgende neer: die transformering van die natuurlike wêreld; afdaling of katabasis; die terugkeer of anabasis en die soektog na die geliefde wat onsuksesvol was en die uitmekaarskeur van sy liggaam of sparagmos.

Orfeus se aantrekkingskrag vir Tswetajewa verwoord sy soos volg:

I heard about Orpheus for the first time with the ears of my soul rather than of my head from the person who, as I then decided, was my first love. (aangehaal in Louw, 2014: 80).

In haar eie lewe sou sy Nilander, die filoloog en persoon wat haar aan Orfeus bekend gestel het, soos ’n eietydse Euridike verwerp. Alexandr Blok was egter vir haar die groot Orfeus in haar lewe. Orfeus, met sy preokkupasie met Euridike se dood aktiveer die ander twee groot temas in Tswetajewa se werk, te wete Eros en die poësie. Die doodstematiek is deurlopend in Tswetajewa se outobiografiese werk en kom tot ’n konklusie as sy op 31 Augustus 1941 haarself ophang.

Die Sibille van Cumae, die profetes van onder meer die Aeneas, word tradisioneel met Hades geassosieer. Nie net kon die Sibille beweeg tussen die wêreld van die lewe en die dood nie, maar word ook, nes Orfeus, as ’n digterskapsmetafoor bestempel. In van haar latere verse koppel Tswetajewa ook die Sibille aan die Maagd Maria om die binêre sterflikheid/onsterflikheid te verwoord.

Die titel van Juanita Louw se debuut, In die grot van die sibille, sluit aan by Marina Tswetajewa se besluit om die Sibille in ’n grot te laat woon vanwaar sy nader aan die natuur kan wees, maar ook byna metafories tussen die aardse en hemelse sfere lewe. Louw dui in haar tesis aan dat die berg deurlopend ’n belangrike motief is in Tswetajewa se werk, synde ’n skakeling met haar persoonlike lyding. Haar Sibille-siklus ondersoek ook die transformering van ’n gewone mens tot profetes en mitopoëties tot digter. Anders as Orfeus word die Sibille se liggaam nie aan repe geskeur nie, maar krimp sy stelselmatig weg en bly net haar stem oor. In die onderhoud met Rene Bohnen (Versindaba) verwys Juanita Louw  ook na die keuse vir die gebruik van die grot:

Die argetipiese vorm van die grot behels o.a. insluiting, omsluiting, verberging. Dit is simbool van die mitiese onderwêreld. Dis ook aardskoot. In mites en feëverhale die skuilplek van drake, bergplek van skatte. Dis ʼn geheime plek, waarvan die ingang dikwels versteek is deur ʼn doolhof of bewaak word deur ʼn monster. Dit is ook die kopgrot, die hartgrot, en Tswetajewa se lyfgrot. Dis die plek van die Sibille, wat nie net waarsegster is nie, maar ook die een wat die lewende Aeneas begelei het na Hades om die skadu van sy vader te besoek.[2]

Die bundeltitel kom voor in die gedig “Fantoom” (87) wat deel uitmaak van die Kontrapuntaal-siklus. As vertrekpunt vir hierdie gedig dien ’n foto van Jackson Pollock voor die doek vir sy “Mural”.  Aarselend begin die skilder sy doek bedrup en dan:

begin ’n donker kol bot

in die vesels van die leë skilderdoek:

kleure stu en bruis soos bloed

of die stem in die sibille se grot.

 

II

In die gedig “Op soek na Tswetajeva” (75-77) verwoord Juanita Louw haar soektog en speurtog na die lewe en werk van Marina Tswetajewa. Daar word verwys ba “’n boek in ’n vreemde skrif”, asook na die “sibille op die berg” – wat aansluit by die res van die bundel. Louw haal byvoorbeeld aan in die Cirilliese alfabet, wat net weer illustreer dat ons as lesers altyd op vertalings moet staat maak, wanneer die Russiese meesters gelees word. Tswetajeva word direk in hierdie gedig aangespreek en as ’n tipe waarsegster moet sy vir die spreker in haar “holte van vrae” antwoorde probeer verstrek.

In die siklus, “Die wurm in ons hart” (82-83) word gebeurtenisse uit Tswetajewa se tragiese lewe belig, tot en met haar selfdood in Elabuga:

In Elabuga

ontsnap jy nie aan die hel nie

of die wolwe van die markplein.

In Elabuga drink jy swart hars.

Daar is niks vir jou

in Elabuga nie –

behalwe uiteindelik

’n houtbalk.

 

Die wolf staan sentraal in Tswetajewa se werk en in “Wolf” word hy selfs as ’n broer aangespreek. [3] Die verwysing na die markplein skakel met die reël uit “ O tears that in eyes freeze” :

Yes, I refuse to be

In Bedlam of non-men.

Yes, I refuse to see

How wolves of squares do slain.

 

In ’n bundel wat so ingestem is op die digterskap, verwag die leser inderdaad ook verse waarin die kunsteorie verwoord word. Twee ars poetica-gedigte (36 en 55) word ingesluit. Vergelyk laasgenoemde:

 

Digter en gedig smee ’n ooreenkoms:

gedig bly onsigbaar, kry vorm en klank,

deur woorde beliggaam – die digter van liggaam verlos,

word nét stem, die sibille in die fles aan ’n tak.

 

Die Sibille van Cumae het haar laaste dae in ’n fles of ampulla deurgebring.[4] Die digter se stem leef dus voort in die vers en die teks word ontliggaam van die digter – ’n letterlike vergestalting van Barthes se die dood van die outeur.

III

Die programgedig van die bundel heet “Berk en been” (13) met as onderskrif, “’n fabel”. In die holte van die boom vind die digter “”n ring: band van been”. Vervolgens word die bundel in vier afdelings rubriseer en voorsien van enkele eindnotas. Reeds in die eerste afdeling word die Klassieke betrek in die Gif-siklus (21-23) en word elk van die onderskeie gedigte gekoppel aan ’n rivier soos die Acheron, die Cocytus, die Phlegethon, die Lethe en die Styx. Die verslag van ’n relasie en reise word aan die hand van hierdie riviere (elk geassosieer met onder meer smart, rou, vuur, vergetelheid, haat) ondersoek.

Die tweede afdeling open met “Voedoelelie” waarin die digter die lelie, tradisioneel simbool van skoonheid en verganklikheid, nou geassosieer met “swartkuns” en word ’n grimoire. Die verwysing na die berk in die titelgedig het reeds die boomkode in die bundel aktiveer, wat ook aansluit by Tswetajewa en haar gebruik van bome en boommotiewe. Die oorspronklike manuskrip het Toorlelies geheet en dit verklaar waarskynlik hoekom in hierdie afdeling so baie na hierdie tipe blom verwys word. Ook in hierdie afdeling kom die gedig “Orfeus” (48) voor en word “sy klanklose lied” en sy soektog na skyndooies verwoord. “Dertien dae in Kaapstad” (45-47) is soortgelyk aan Tswetajewa se Poems about Moscow. Ook die gedig “Spoetnik-blues”( 30) het as subtitel: Na ’n satelietfoto van Moskou in die nag.

Die derde afdeling word ingelei met ’n sitaat (Cirillies en al) uit Tswetajewa: Jou lyf is die grot / van jou stem. In hierdie afdeling word heelwat knap metafore aangetref en ondersoek die verhouding van die ek in die verse met die familie wat agter bly terwyl sy na Londen verhuis. Die gedig “insomnia” (68) is Louw se antwoord op Tswetajewa se “Insomnia Cycle”.

Die vierde afdeling word ingelei met ’n motto van Sylvia Plath – The Bell Jar, haar outobiografiese teks, speel ook in op die Sibille in die fles. Hier word verse oor die soektog na Tswetajewa aangetref, ekfratiese verse gebaseer op skilderye en foto’s en word die bundel afgesluit met die gedig”Metamorfose” – ’n toespeling op Ovidius wat die verhaal van die Sibille en haar metamorfose beskryf het:

 

Die nagkoei lek elke aand

die soutkristal van die maan.

In die holheid van slaap

word ons nagtelik oorgemaak.

 

IV

So nou moet ek Sibille speel na dié snuffeltog deur Juanita Louw se debuutbundel: daar is goeie eksperimentering met poëtiese vorms (selfs al is die villanelle verdraai), knap metafore en beeldspraak. Al val die skadu van die Rus soos die gehangde man van die Tarot oor die bundel, laat Louw nie toe dat sy daardeur oordonder word nie. Gelukkig gee sy min eindnotas, so die leser moet steeds gaan naspoor en vergelyk. Ek sou wou sien hoe sy met langer versreëls werk – want sy kan.

In die grot van die sibille is ’n besondere knap debuut.

 

© Marius Crous / 2016

 

[1] https://open.uct.ac.za/bitstream/item/6879/thesis_hum_2014_louw_j.pdf?sequence=1  Ek het net in breë trekke na die inhoud verwys, maar lesers sal beslis baat oor die hele tekstuele proses te lees. Ek is veral bly dat die sentimentele Toorlelies vervang is met In die grot van die sibille.

[2] http://versindaba.co.za/2016/07/18/onderhoud-met-juanita-louw-in-die-grot-van-die-sibille/

[3] http://www.lib.ru/POEZIQ/CWETAEWA/sbornik_engl.txt

[4] Naas Rilke se gedigte oor die Sibille, is die bekende seker die aanhaling in Eliot se “The Waste Land” : Nam Sibyllam quidem Cumis ego ipse oculis meis vidi in ampulla pendere, et cum illi pueri dicerent: ((“For I indeed once saw with my own eyes the Sibyl at Cumae hanging in her jar, and when the boys asked her, ‘Sibyl, what do you want?’ she answered ‘I want to die’.”)

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: In die grot van die sibille. (Juanita Louw)”

  1. Waldemar Gouws :

    Net terloops, in die gedig “Die wurm in ons hart” word ‘n houtbalk genoem waaraan Marina Tswetajewa haar sou opgehang het. Maar Elaine Feinstein (1989) skryf dat die henneptou om ‘n groot spyker – waaraan perde se leisels gehaak kon word – vasgemaak was.