‘n Klein reis deur die wêreld se kwyning aan die hand van woorde

‘n Klein reis deur die wêreld se kwyning aan die hand van woorde

(« so lewe-lewe deur die lewe sal jy wel by die dood uitkom » – Sancho Panza se raad aan ‘n oorhaastige reisiger)

(« die dood is soos die son : as jy direk daarna kyk word jy blind » – Le Rochefoucauld)

Jy vra my, vriend, wat die aard van die mens se lewe mag wees ? Is dit ‘n onveranderlike gegewe ten spyte van die variante ? Dan het dit nie eintlik ‘n temporele dimensie nie. Ons weet die elemente wat daardie aard bepaal is nog altyd dieselfde vandat ons met ‘n klip as werktuig op ander klippe begin kap het om bruikbare of mooi dinge te maak. (‘Mooi’ het besweringspotensiaal omdat dit uitreik na wat ons nie verstaan nie.) Die vrees. Die verbeelding. Die poging om te onthou wat nie net instinktiewe oorlewing is nie en dan vormend word wanneer mens probeer wees soos jy dink jy onthou hoe jy is. Selektief, al verdwyn niks en word sommige uitinge en drifte slegs onderdruk om vanuit die ondergrond ‘n rigtingwysigende of verwoestende invloed te hê.

Wat is die aard van bewussyn dan ? ‘n Projeksie ? ‘n Skerm ? ‘n Beskerming ? Wat jy wel weet is dat dit aan- en ineenvloeiend te doen het met lewe wat voortdurend vergestalt word in insek en grashalm en dolfyn en wind en klank en droom. Die droom. Wie droom ? Wat word gedroom ?

Wat is die sin van ‘n mens se lewe, vra jy ? A, dis nou waar jy kom by hoe ‘n lewe behoort te wees. Wat is die impak van jou optrede of jou gelatenheid ? Hoe interageer jy met die ander klankvurke of klipkappers ? Of behoort  « die lewe » ‘n groter sin te hê – wat miskien nie vir jou vertel is nie ? Dink jy daar is ‘n stygende lyn, iets soos ‘n suiwering deur te kies vir die goeie ? Maar dan moet jy glo dat daar ‘n doel sou wees. Beginsels. ‘n Uiteindelike betekenis (waarde ?) waarteen jou handelinge gelees en geëvalueer kan word.

Kom ons sê voorlopig : dit gaan oor die groei van bewuswording.

A, my medemens – dis ‘n vermoeiende storie en daar is baie klippers op die pad…

‘Calzots’ is die Katalaanse woord vir die sagte en soeterige winteruie wat, wanneer hulle begin uitloop, onder ‘n ekstra lagie grond bedek en verder gekweek word sodat die lelle of blare met die uithaal lank en wit en sappig sal wees. Daar is ‘n spesiale fees, dikwels in die wingerde, waar hierdie uie liggies oor kole gerooster word. Enige verskoning vir ‘n fees, la fiesta, is goed. Saterdag word na verwys as fiesta.

Dis van die aantekeninge wat Jek in sy notaboekie vind en agterna, soos nou, aanmekaar probeer ryg met die draadjie van herplasing. Die draadjie bly breek.

Ons is vroeg reeds weg uit Barcelona saam met die Anguerra gesin. Bestemming Madrid vir twee dae om na die oorsigtelike Bosch uitstalling in die Prado te gaan kyk. Dis ‘n eenmalige bymekaarbring van Jeroen Bosch se altaarstukke, drieluike, skilderye, tekeninge en grafiese werk van oral in die wêreld waar hulle ook al via duistere handelstransaksies in privaatversamelings of in museums beland het. So ‘n omvattende uitstalling sal nie weer in ons leeftyd gebeur nie.

Joan (uitgespreek Djohan) Anguerra, teaterman en ou vriend, bestuur. Lotus, Canelle en Vigata sit agter. Die lugverkoeling werk nie sterk genoeg nie ; ons sal die ruite moet afdraai. Die roete neem ons eers deur die industriële gebied rondom Barcelona. Die getande spitsereeks van Montserrat wink blou op die einder. Baie stede in die suide van Europa word soortgelyk ontsier deur handelsareas met hulle konsentrasie van opslaangeboue, pakloodse, uitstallingslokale, advertensieborde, winkelkomplekse en internasionale kitskosrestaurante net buite die stadsmure. Die kontras met die historiese kern is skril.

« La Barça o Barzakh » is die gewilde mantra onder migrante uit Afrika – vlugtelinge, swerwers, party doodgewoon avontuurlustiges op soek na ‘n verdienste in Europa om terug te stuur na die familie in die land van oorsprong, maar almal gee voor dis ‘n kwessie van lewe of dood. La Barça, die stad se kampioensokkerspan, staan in vir Barcelona, die hemel wat ten alle koste bereik moet word ; Al-Barzakh, ‘n Arabierse woord, beteken ‘obstakel’ of ‘versperring’ of ‘grens’ : die oorgang tussen hierbenede en hiernamaals, ‘wagkamer’ of newewêreld waar dooies ontvlees en nie meer vasgekeer kan word deur tyd of ruimte nie en die siel vertoef tot by heropstanding se oordeelsdag. Nou is hulle bloot teenwoordigheid. Die verdoemenis.

  

die verskriklike gelaat van my land

sê jy, jy sê

selfs wanneer ek die tyd

van skaduwees en stilte binnegaan

sal die woord bly

hierdie of iets

wat die naklank is

.

en selfs wanneer die vlees

tot verby die stank

van ‘n laaste naklank

vergaan het, sê jy

en ophou stotter

sodat die eentongbaas

ongestoord in sy herehuis mag slaap

asof hoor en sien

maar net ‘n waan was

.

ook dan sal die woord

bly lewe, hierdie

of iets wat daaraan herinner

solank die aarde

bewerk onder die maan

die silwerhemp arbeiders toekom

sodat amandels soos klinkers

kan blink in die bome

Ons ry verby wingerde bekend vir die cava en die witwyne wat hulle oplewer. Teen die skuinstes pryk kelders breed. Dan deur ‘n wêreld van olyfboorde waar die Borges olyfolie vandaan kom. Wat mooi is aan Katalonie is die streke met ‘n eie aard en dikwels ‘n eie dialek van Katalaans, elk ‘n eie Boland. Empurias. Priorat. Valleie tussen bergreekse, sommiges gebluste vulkane. ‘n Handvol jare gelede het ons ook hierlangs gery saam met Van Zyl Slabbert en Jane, dit was die laaste fase van sy lewe en ons het dit nie geweet nie, om in die Priorat te oornag in ‘n osbloedrooi dorpie waar die landarbeiders glo hulle messe en sekels sommer so teen die mure kon slyp. Toe ook heeldag landskappe met aan die kim draaktand spitse wat ‘n swye uit die blou uitspansel kam. Naby Lleida strek sagtevrugteboorde weerskante so ver soos die oog kan sien. Vorentoe gaan dit swart en bar wees, die hoë woestyn, Monegros, nou hier en daar bewerk danksy die aanlê van water. Land van struikrowers en geharde pagters. Rympies wat gesing word staan bekend as ‘jotas’ – met iets van dieselfde funksie as die coplas verder suid gewroeg deur flamencosangers eweseer uit die volk gegroei, maar hier is die strekking meer bitter en met ‘n angel in die stert.

Joan vertel die mooi verhaal van Barcelona se geliefde oud-burgemeester, Pasqual Maragall. In 2007 kondig hy aan dat hy Alzheimers het en spot nog dat hy nie sy naam sal kan vergeet nie want almal ken en herken hom tog. (Wanneer dit my beurt is sal ek ‘n bordjie met ‘Jek’ daarop geskryf moet saamdra.) Waar hy ook gaan en wat hy ook belewe neem hy ‘n foto van om dan agterna te onthou. In ‘n teaterstuk waarin Joan gespeel het was hy so meegevoer dat hy hard vanuit die gehoor begin saampraat het om repliek te lewer. ‘n Stigting na hom vernoem doen navorsing om beter insigte te bring in die wegraaksyn.

Een uit elke tien mense ouer as vyf-en-sestig is aangetas deur Alzheimers se slakkegang van genade. Vroeër het ons dit kênsheid genoem, senielsiekte, ‘n weggaan in vergeetkunde en ingedagtenis. Of is dit iets anders ? Dat wat die mens aan die wêreld en die lewe doen te veel geword het vir die voorlopige groei van bewustenissigheid ? Na vyf-en-tagtig word die helfte van ons met die stomafgryse geslaan.

binnelandsreis (‘n trekseltjie onthou)

(oneindig in sy verbuigings is die brein

kronkels en krake en gaping en verbystering :

‘n ontplooiende heelal nestel in die holte van been :

soms landskap dit oneindig helder in tydlose

verduistering van grense as berge

afgeteken met ‘n dynserige lig van aanvoeling)

.

wit is die aarde van Bujalaroz

oor Castejon de Monegros verby Alfajarin

met die witte van room en die gryse van verlede

in die leegtes van sien –

onvrugbaar soos ‘n vervloekte see van sand

waar branders lankal uitgebrand het

.

regs tuimel die vaal berge – lewende

lawa van die maan of ‘n tong

se heidense kontorsies om te sê

wat nie gesê kan word nie – en bewende

links al langs die Ebro die lawende

soom van groen genade

.

op die oorkantste oewer in Zaragoza

in iets wat lyk soos ‘n posbus van steen –

Martin Miquel de Goicoechea se familiekelder –

is die helder doodsiener

en uitryger van die sombere lotsbeskikking

Francisco Goya y Lucientes

se lyk die 17de April 1828 toegebeen

(eers later sou die asse Madrid toe verhuis)

.

vrouehoofde is in die grafklip gebeitel

hulle wat die dood beween met blinde oë

soos slakke wat die week herinneringe

aan liefdesbeweging uitdop na die reën

.

en hoog op sy voetstuk soos ‘n geniale gogga

kort van draad en van been gegiet in brons

staan en frons die skilder oor die stad

.

(o, om in dood se mond te wees

soos ‘n ou woord met die smaak

van bloed en van droom

‘n klippie onder die tong

teen die moeg van hardloop

glad gesuig

gedoop in spoeg

vaag en presies soos ‘n klank van die gepeupel

en uiteindelik geborge

kind in die kissie

geraamte in die krip)

Ons steek die grens oor tussen Katalonie en Aragon. Goya en Bunuel die filmer was albei Aragonese. Koppige, eiesinnige mense met baie skadu’s in die kyk. Bujaraloz (Boegalarôthz – die j in Kastiliaans is ‘n keelklank wat jy agter die kleintongetjie gaan haal, ‘n jota, sodat jy eintlik gij word en jek ‘n gek) is die eerste dorp net binne die Aragonese grondgebied. Die gerug word onder jong en gretige Katalaanse manne versprei dat die beste en veral die goedkoopste bordeel in die hele Iberiê in Bujaraloz gevestig is. Bowendien, word gesê, die gesellige gesellinne daar is vlot in beide Spaans én Katalaans. Menige kultuurvraat het al gaan soek na die plek wat, by wyse van spreke, uit die duim van ‘n fabulista in Barcelona gesuig is. Dit word ook vertel dat toe daar enkele eeue gelede wedywering was tussen die hertog van Katalonie en sy neef die hertog van Aragon oor wie voorrang behoort te geniet, ‘n tweegeveg die beslissing moes vel. Die Katalaan het die Aragonees kon omdop – elk toktokkielomp in die harnas ! – en sou gewen het as dit nie was vir die Aragonees se lyfkneg wat die Katalaan op strategiese wyse van agter aan die knaters beetgekry het nie. « Ek het nie besluit wie koning moet wees nie, ek het maar net my baas gehelp, » het hy agterna verduidelik. (Ni quito ni pongo el rey / solo ayudo a mi señor. »)

Oor die radio kom van die jotas deur Joaquin Sabina gesing. Later ook Manuel Serrat se sterk stem wanneer hy met getoonsette gedigte van Hernandez en Machado die harde en diep werklikhede in hierdie klowe en valleie se stof en kluite begrawe onder die rotse oopgrawe in woorde.

bb1

Goya, jy daar op jou voetstuk voor die Prado met die wulpse maja in marmer verewig aan jou voete, Jek wil vir jou ‘n brief skryf om te vertel ek en my vrou en vriende is hier om te kom kyk na die werke van Jheronimus van Aken, die laelander wat julle El Bosco noem.  Moenie dink Jek weet nie dat jy oor hierdie museum troon, dat jou donker visie hierdie ruimte oorvloei nie.

« La memoria como sedimento de la libertad… » skryf Sergio Ramirez in El Pais van 22 Mei. Want om die toekoms te verbeel moet die verlede wat verdwyn het weer opgegrawe en neergeskryf word. Die oppervlakke van jou doeke is inderdaad ‘n neerslag van die verskriklike vryheid van gestalte gee aan menswees se skreeuende angs. Ek kan my kwalik ‘n vryer vertelling voorstel as hierdie visioene en verbeelding gefigureer teen die mure van jou huis waartoe min mense in jou tyd ooit toegang sou gehad het. Daarom was dit net reg om eers weer deur die sale te loop waar jou swart skilderye hang, oorweldig deur die onuitstaanbare aanwesigheid van die doeke, al is die hekse en bedelaars en flenteraars ook hoe vreemd vir iemand wat nie die versukkeling van jou Spanje kon ken nie. Jy het ook geen publiek in gedagte gehad by die maak en die oor-maak, elke keer nog somberder en meer gestroop as die toegeskilderde vorige weergawes van hierdie werke in die kamers, elk ‘n goeie 10×5 jaart ruim, van jou Quinta del Sordo nie. Jy was in gesprek met jouself, jou eie angsfigure en jou wrang kommentaar op mag en bygelowigheid en populisme. Selfs die narratief was bysaak en jy sou jou min steur aan die ‘lesings’ van jou werk sedertdien.

Jek is ‘n afloerder. Die skrywe is ‘n afloer al is dit ook in ‘n put sonder bodem op soek na maan. Iemand wat op morbiede wyse gefassineer is deur hoe mens die onsêbare oopvlek, want dis belangrik om te glo dat die onnoembare tog aangemeld kan word al is dit onvermydellik dat jy bewerig en koorsig soos ‘n brandsiek hond onder sou gaan en half begrawe sou word in die proses. Veral onder woorde.

Die glorie en die wanhoop, afgryse en ekstase. Dik kwashale aangewend met pensele swaar van verf om in enkele strepe ‘n mond van aakligheid of ‘n glinsterende oog vas te lê. Die hand moet kots. Dit moet seker die langwerpige formaat van die doeke wees wat maak dat so baie van die figure swewend uitgebeeld word bo landskappe van verlatenheid, so asof ‘n bose wind hulle oor jou bewussynsveld gewaai het. En oral die onaardse silwerwit gloed. Die bruine wat by plekke van ougeel oorgaan na byna goudkleurig.

Drie skilderye bly my by. Die Duelo a garrotazos – twee pagters tot by hul dye versink in ‘n moeras wat mekaar met knoetse doodmoker in ‘n tweegeveg tot die ewigheid toe ; die Perro semihundido, halfbegraafde hond waarvan net die kop bo die wal uitsteek – sou dit die werklike laaste selfportret wees ? Jek weet dat baie van jou werke kommentaar wou lewer, ‘n gedagte of ‘n oortuiging of ‘n stellingname wou vasvang – maar hierdie een dan ? En die derde skildery wat net buite een van die sale vol van jou eie werke hang, die een wat Vicente Lopez van jou geskilder het : ‘n nors ou man van oor die tagtig, grys baadjie, palet rustende op die voorarm, kwas in die hand, mond wat geen geduld meer het met vrotwoorde nie, oë wat nie wyk en stip staar na die afloerder.

Madrid toe en weer na Bordeaux, Burdeos, die plek van ballingskap. Jy het nooit Frans geleer nie. In Spanje word daar by koning Fernando V11 namens jou gepleit vir ‘n pensioen. Jy word gediagnoseer met verlamming van die blaas en ‘n groot kwaadaardige gewas aan die been. Die koning steur hom nie meer an jou nie, sit nie sy spioene op jou nie. Nog ‘n laaste skildery, Die melkmeisie van Bordeaux, waarskynlik Rosario die dogter van Leocadia, jou bywyf.  Begin April 1828 kry jy ‘n beroerte, gaan in ‘n koma, en twee weke later om twee-uur in die oggend, dis die 16de April, beur jy regop om met asem soos ‘n halfbegraafde hond wie se tong tas na verligting van versmoring die dood in ‘n roggel te herken.

bb2

Want dis vir Bosch dat ons die reis onderneem het en kyk nou net hoe koninklik is die ontvangs ! Skielik is mens sprakeloos. Jek probeer sin maak van haastige gedagtes/indrukke in my notaboekie. Elkeen verdien om herwin, uitgespel en uitgespeel te word. Maar dit sou wees soos om jou vingers te verbrand en dalk met ‘n halfduim as iets by te wil voeg tot die indeks wat die die maan se intieme vreemdheid probeer beskrywe. Jou mou sou leeg wees.

Is dit waarna mens kyk ‘n ‘taal’ wat tegelyk tergend bekend is en tog verwys na ‘n ‘werklikheid’ wat net-net buite bereik van die verstand onder die glans van die lae verf lê ? Wat lê daaragter ? Konkreet : met elektroniese ontledingsapparate, X-strale wat dieper as die vliese van kleur en vormgewing kan vors, weet mens nou van die kragtige tekeninge wat die ‘stemtoon’ van die werke aanhef (maar dit het mens tog instinktief gehoor ?) – die underdrawings wat Jek interpreteer as die onderbroeke, soms tekeninge met ‘n kwas gestoppel-en-veeg om die sintaksis te plaas. Van die ‘bobroeke’ het verdwyn of vervaag of is oorgeverf, soos die baard van Wilgefortis, die gekruisigde maagd wat die gode gevra het om haar onaantreklik te maak vir die man aan wie haar pa haar wou gee as vrou. Soos : die narratiewe samehang van verwysings en betekenisse, indien dit ooit so bedoel was, sodat elke ‘teken’ nou ‘n fenomeen is, foneme wat onderling met mekaar kommunikeer in ‘n taal wat miskien nie bedoel was om ontsyfer te word nie maar waarvan spore en klanke terugkeer in patrone waarin die toeskouer verstrik raak. Patrone : Die man het ‘n totale visie – met die glansstrepie wit van ‘n draad, die notisie van ‘n aktiwiteit tussen mense ver in die afstand, die delikate uitwerk van ‘n motief op ‘n kleed – is sy agtergronde nooit dood of van minder belang nie / niks is ‘leeg’ nie /daar gebeur altyd iets, soveel so dat dit ‘n onophoudelike gemurmel of gekwetter afgee wat netsowel ‘n stilte mag wees. Skaal is nie ter sake nie / jy kom nie eens agter dat dit wat in die natuur ‘klein’ sou wees (skulpe, insekte) hier groter as lewensgroot aktief onderhandel met mense en bome en diere nie / die ‘gesprekke’ het tot gevolg dat hiërargie wegval, alles praat op gelyke voet met mekaar, kanselleer die uniekheid sodat die saambinding van krioelende en getekstureerde lewe die ‘beeld’ is wat die werk verboodskap. Hier ‘n beer opgehang aan ‘n boom, daar ‘n kruisboog in die takke. Die ontstellende word vanselfsprekend / mense word ingesluk of uitgespoeg, verorber, gevierendeel / van naderby bekyk is daar straaltjies bloed. Die skerp kontraste tussen lig en donker / oral nag, onheilspellend en apokalipties. En die vure, sommer so maar oral, of wat deur vensters spuit in ‘n sproeireën van vonke / fonteintjies van verskroeiing. Hy het glo as kind belewe hoe die stadjie Hertogenbosch in vlamme opgaan in die nag. En, soos aantekeninge, note eindeloos herhaal, ‘n gerusstellende deuntjie, die alledaagse / ‘n hondjie drink water in die onderste hoek van ‘n doek, kruike, tregters, visse, implemente, voëls / nie net uile nie maar ook gewone of gewonde dagvoëltjies / kraaie smul aan die lyke. Maar dan word die visse lugballonne waarop ‘n vet dronkgat en sy squeeza hemel toe vlieg / of kroeg toe. Waar sou hy die olifante en kameelperde gesien het ? En wie is die enkele swart figure wat van werk tot werk uit Afrika hier opduik ? Howelinge ? Lyfknegte ? Reisigers uit ‘n ander wêreld ? Vignette van huislike tonele / pagters en ambagsmense besig met hulle dinge / iemand wat op die hurke sit en hengel. Kyk hoe maak hy gebruik van rooi. Vir Bosch is die verleidelike besoekers nie soos by Goya naggestaltes as sosiale wesens nie / sy verbeelding is vry alhoewel verbonde aan opdragte en noukeurig deur notarisse ge-itemiseer en opgeskryf / wat ons sien as duiwelstonele was vir hulle ‘motiewe’ / en van die onderbroeke wat onder ‘n vergeetlagie verf toegeskilder is was portrette van die borge of opdraggewers. Die Hooiwa Triptiek (Triptico del carro de heno) wys hoe hy die modernisme  antisipeer / hoe gewaag in die middelpaneel is die mied / ‘n leegte maar tegelyk met die ‘gevoel’ van strooi / en daarbo byna ewe groot die wolk waarbinne Jesus ‘n opwagting maak / melkgesig / die mied en die wolk groot kontrasterende en ook aanvullende vlekke / abstrakte artikulering van bladspieël. Hy is ‘n miniaturis ! Met eenhaarkwassies stippel hy hier ‘n oog of daar ‘n gil en skielik is dit wat andersins ‘n leë wêreld sou wees nou ‘n gelaaide ruimte. Het hy oorloë belewe ? Die gepantserde soldate is soos krapgeledinge van één gevegsmeganisme / aanvalsmasjiene word verwar met skulpe. In die Visiones de la Mas Alla (Gesigte van die Hiernamaals) is die laaste paneel ‘n ware strokiesprent met ‘n tydgeleide ontwikkeling. Die tonele wat op die panele afspeel is salig onbewus van afloerders of toeskouers / hulle is in intense onderlinge interaksie / die oppervlakke lewe met gesprekke, verduidelikings, fragmentariese verwysings, die gekoggel van eggo’s. En altyd die argitektuur van die werk self, die reguit lyne, leers en spiese en toue en takke / die verbeelding van ruimte gegeometriseer deur die imitasie van illusie sodat die elemente wat saam bestaan op die oppervlak mag rym.

 

in die stad waar die mense

nie arms het nie en alle oë

verlei word na die wieënde heupstap

                                                     van vroue,

in die stad waar die mense

nie arms het nie en wind soms

die leë moue van die mans

                                                   op die banke

elegant laat vou

terwyl swaeltjies geluidloos duik

                                           in die wolke,

in die stad waar die mense

nie arms het nie is dit onbeskof

om kersies te eet uit kardoese

en te vinnig op ‘n motorfiets deur die verbeelding

van mense te ry

Skielik is die afwesigheid van mense oorweldigend. Dis asof al die afwesiges, die skimme van eeue en eeue, elk met ‘n eie lewe nou eensklaps teenwoordig is, soos hulle waarskynlik nog altyd was. Dit het iets te doen met die stilte van wind in bome wanneer daar nie die minste beweging is nie. Daar is dan niks anders as aanwesigheid nie. Teenwoordig : hoe verskriklik is die woord. Dat die ewige hierwees van die afwesiges slegs in die woorde sigbaar word. Of juis dat hulle daardie ruimte vergestalt wat woorde nie kan dek of oppervlak aan kan gee nie. Dat dit téén woord is. Nooit verwoord kan word nie. Die dooies leef in die moedertaal.

Ek lees die boekie van Marcel Cohen, Sur la scène intérieur. In my ervaring daarvan is dit ‘n ‘boekie’ en nie ‘n boek nie – miskien omrede die nederigee formaat in die Gallimard Folio reeks, presies so groot soos die handholte, maar meer nog omdat dit die pogings van ‘n vyfjarige kind uitbeeld om met woorde iets terug te kry van die wesens wat van hom weggeruk is.

(Miskien gebeur alles tussen hakies of aan die rand van die gesigveld in daardie wêreld van stilte waar alles ewig meeklink. Marcel Cohen is ‘n genoot van Lettres sur Cour – die groep skrywers en digters en filmers en kunstenaars en musici wat al sedert ‘n kwarteeu eens per jaar tydens die internasionale jazzfees byeenkom in Vienne om in binneplase te luister na voorgeleesde tekste, gesprekke en klanke. Alles word deur vrywilligers georganiseer. Die pianis wat vanjaar se voorlesings begelei se van is Sauvage. Hy is ingedagtig, ken Abdullah Ibrahim se wysies, en dra ‘n strooihoed soos ‘n donkie s’n by ‘n dorpskarnaval. Ons ontmoet vir Cohen in die jaart van ‘n laerskool. Dis warm. Jek het so pas die gesprek waaraan hy moes deelneem voltooi, het stotterend aan die groep uitgelese luisteraars probeer verduidelik wat Afrikaans is en hoe dit nou beweeg na die ruimtes van vergeet waar daar niks meer is nie om tot in die verskiet te dein. Inderdaad, hoe dit keel-af gesny word deur groepies swart studente wat dink hulle is revolusionêre en hoe die messe geslyp en die bloed agterna afgespoel word deur mak wit Afferkaners wat dan sommer hulle hande ook in dieselfde water was. Jek weet dit nog nie, maar onder die aanwesiges wat so aandagtig luister is daar ou anargiste en kommuniste, mense vir wie die Suid-Afrikaanse oorgang in versoening, so het ons gedink, ‘n mirakel was. Vir so baie oral in die wêreld was die Suid-Afrikaanse narratief dié voorbeeld van die gemeenskaplike goeie waartoe die mensegeskiedenis onverwags tog in staat is… Cohen sit eenkant op ‘n bank, sy hoof slank soos dié van ‘n eensame roofvoël, die oë diep in hulle kaste. Hy is ‘n beleefde iemand uit ‘n ander, meer beskaafde era, met die diskresie van ‘n oorlewende wat viool speel wanneer dit donker word. Natuurlik gee hy ook uiting aan ‘n soort Mandelamania, die uitsonderlikheid van die figuur wat op die regte tydswerweling daar was. ‘n Trapsoetjies versigtig gedra op die wêreld se gewrig. Met oë wat alkant toe draai ? En nee, hy dink tog dat die utopie van Suid-Afrika ‘n deurslaggewende moment in die mensegeskiedenis was, daarna kan die mensdom nie weer dieselfde wees nie, net so belangrik as die Revolusie, en dat alles nie verlore is nie, dat dit die land van die toekoms is. Waarom sal Jek ook daardie skyntransendensie wil vernietig ? En sal al sy ontledings van wat toe van die bevrydingsbeweging geword het, hoe verword dit is, tog enigsins help ? Is dit nie beter om liewer die hakies te sluit nie ?)

Ons reis deur vreemde tye om by ons bestemming te kom. Dit het skielik versengend warm geword oor die afgelope paar dae nadat die lente vir lank koel en matig was met milde reënbuie sodat die plantegroei laat groen gebly het en die rose nog aanhou bloei en blom. Die lig bly tot laataand, daar is warm wind uit die berge wat aldag sterker gaan waai en oor enkele dae sal die seisoen se veldbrande soos vuurspuwende krake in die kors van die nag oor dele van Noord-Katalonie soos ook die suide van Frankryk begin slang. Die snelweë is vol voertuie. Kuddes in families is onderweg na waar hulle vakansie gaan hou. Soms ry ons deur rooksuile. Die verkoeling in die motorkar werk nie en ons is genoodsaak om die ruite af te draai.

Dit is ook die tyd van tweelinge. Verwantskappe waarvan ek vroeër nie bewus was nie word by Jek ingeskerp. In Krakow, ‘n paar weke gelede op besoek aan Auschwitz-Birkenau, het ‘n gids met donkerbril en ‘n sambreel en ‘n grillerige Amerikaansagtige aksent uit ‘n mond so verbitterd soos ‘n stomp skeermes (die vasvatsinoniem vir ‘aksent’ in Sterftaal is ‘tongval’) met afgemete frases vertel van die afgryslike eksperimente (ons staan voor die grys barak in die son) uitgevoer o.a. op tweelinge. Deur Mengele. Die dodemeester. Hy wie die kuddes mense by hulle aankoms in beestetrokke in die kamp met die geoefende oog van ‘n skerpregter daardie kant toe na ‘n langsamer dood of diékant toe vir onmiddellike uitwissing geskei het. Poef. Vetterige as en rook. Terwyl ‘n orkessie speel. Ook Joods. Sodat die mense nie paniekerig moet word nie. En Mengele het op rype ouderdom vredig aan sy hart beswyk in die plek van sy Suid-Amerikaanse asiel. Soos ‘n doodgewone mens aan die einde van die lewe…

bb3

Birkenau… Jek kan nie daaroor skryf nie, nie oor die skuifelende hordes besoekers met die woorde in hulle oorfone asof dit uit ‘n verre wêreld kom, nie oor die sieldooie ruimtes agter glas vol klosse hare afgeskeer om gebruik te word, verwerk in viltmatte en muurbehangsels en om matrasse mee op te stop, nie oor die stapels en stapels brille, nie oor die berge geskifte koffers, en die name…, nie oor die martelselle en nie oor die hokke in die kelders net groot genoeg vir ‘n mens om regopstaande in dood te gaan van verhongering en nie oor die galge skielik soos ‘n roep aan die eindpunt van ‘n gang of soos ‘n herinnering in ‘n binneplaas nie. No se puede mirar. (Beverly Hills. Singende stemme gang-af op pad na die galgkamer, dood toe, nog voor die dag breek.)

Nie eens die onder woorde probeer bring tussen hakies gaan hier help nie. Net flardes bly oor. Want waar daar vir ander dalk die laaste regop beur is wanneer dood in die keel roggel, bly die hand van die een wat kyk aanhou spasmodies beweeg. Ook al is daar niks om aan te teken of oor te dra of net te merk nie. Selfs al het julle net één mens doodgemaak dan was dit nog altyd die pleeg van ‘n onuitwisbare daad, vir altyd ‘n vergryp teen die lewe… so ‘n plek – beenboord, asheuwel, stilte van uitwissing – is waar taal en besinning verstom… ‘n onteenwoordigheid van lewe wat nooit weer onderbreek kan word nie – waar geskiedenis as die verflentering van sin se oorlewe ophou… in die dorpie Osywicu (Pools vir Auschwitz) ‘n groot advertensiebord met KEBAB TOURUS, vleis vir honger toeriste… Droga Smierci (the Road of Death)… al wat (ek) weet is dat (ek) nie mens wou gewees het nie, nie nou nie, nie toe nie, nie in die toekoms nie. Nooit. (ek) weet ek het geen keuse gehad nie maar om dan te moet wéét die dood hou nooit op nie… dit kan nie vertel word nie, dit moét vertel word… the mind born in chaos / aborted on the page / and you made it light / and gentle, oh reader… don’t put your heart / in the poem, dear poet – / the reader will eat it / and wipe her lips / and where will you then find the throbbing to keen and to keep / alive the illusion of life… die ongeneesbare wond van gebore te wees… en nou om verby die einde / van die gedig te skrywe… hoe kom ons

(jy leser, ek vleser) / uit hierdie genadelose / voortbeweeg van woorde ?

jy is nog ek – Jek –

maar in die uitreik na jou

maak ek van my die eie gek –

maar in die uitreik na jou gegalg

hou ek jou as eie vir die geksalige

asemritmeruimtes

Was dit nie die onderliggende etos van die Nazis (die Duitsers) dat alles herwin en weer gebruik word nie ? Mens is gemaak om te produseer, om vooruit te beur, dis immers die doel van die skepping en die dryfveer van ontwikkeling, en slegs op dié manier kan jy inpas en dalk aanvaar word. Arbeit macht frei… Dat die Jode (en homoseksuele, kommuniste,  sigeuners, swartes, Sowjet-krygsgevangenes, gebreklikes) uitgeroei moes word –  dis ‘n gegewe. Maar éérs benut as slawe-arbeid…

In Berlyn op ‘n onlangse besoek lees ek ‘n laaste onderhoud met ‘n kerkleier wat kort vantevore ontslaap het, in lewe was hy ‘n groot kampvegter vir die integrasie van migrante. Hulle is mense net soos ons, sê hy. Al manier, volgens sy testamentgetuienis, is dat hulle so gou moontlik in die werk gesteek word. Dis die enigste redding. Dis hoe hulle hul voete kan vind in die Weste.

Tale het weggeraak in Krakow. Jek was daar om deel te neem aan die Milosz Poësiefees. Die afgestorwe digter, Czeslaw Milosz, was vir ‘n goeie gedeelte van sy lewe ‘n balling in Amerika waar hy ook in Engels geskryf het voordat hy teruggekom het Pole toe om te sterwe, 2004, juis in Krakow. Sy seun is nou aanwesig. Hy ook reeds ‘n ou man uit ‘n ander wêreld, so oud soos sy vaar sou word, die plegstatigheid wat saamgaan met ‘n sakdoek waarvan net die punt uitsteek by die baadjie se bo-sak, en miskien eweneens ‘n bietjie ironies. Hy trek op sy pa. Maar sy wenkbroue is minder intimiderend, minder rusperagtig oor die slaaiblaar van die gesig. Die bewegende mens vul die skimvorm van die afwesiges, die vlees is ‘n herhaling en die lyf maak oorgeërfde gebare waarvan die aandag nie bewus is nie. Hy lees ‘n gedig van die ou man voor. Ruimtes waar verrigtinge plaasvind roep afwesigheid en ontheiliging op – ‘n sinagoge, ‘n kerk. Versierings is oordadig, dit druip van weelde. En jy wonder hoe die stadkern behoue gebly het en waarom die Nazis nie hierdie rykdom ook gestroop het nie. ‘n Milosz voorfamilielid (Oscar Vladislas de Lubiez Milosz) het in Frans gedig : « Tous les morts sont ivres de pluie veille et froide » – die dooies is almal dronk van ‘n ou en koue reën.

Metaphysics

 

It’s been and gone.

It’s been, so it’s gone.

In the same irreversible order

for such is the rule of this foregone game.

A trite conclusion, not worth writing,

if it weren’t an unquestionable fact,

a fact for ever and ever,

for the whole cosmos, as it is and will be,

that something really was,

until it was gone,

even the fact

that today you had a side of fries.

Bogaande vertaal deur Clare Cavanagh is die finale gedig in die laaste gepubliseerde bundel (Tutaj / Here) van daardie Swart Moedermaagd van Poolse poësie, ons boegbeeld, Wislawa Szymborska. Met die aand se voorlesing in die sinagoge het Jerzy Ilg  (Vaderkrismis) ‘n helderrooi baadjie sonder sakdoek aan. Hy sê Szymborska het dit vir hom gegee en laat aantrek toe hulle vir oulaas saam voorgelees het en hy wil hê sy moet dit nou sien, waar sy haar ook mag bevind.

Tale het weggeraak in Krakow. Die organiseerders van die fees, so aanvaar mens, ‘n ‘struktuur’ van die stadsregering, is duidelik daarop ingestel as eerste prioriteit om die stad te bemark en internasionaal te situeer. Vir hulle het dit nie gegaan om die onderlinge verstaanbillikheid van die deelnemers nie. Hulle het hul pligte uitgevoer, die nodige substansie vir verslae gegenereer, die toegestaande begroting benut soos apparatchiks uit ‘n vroeëre totalitêre bedeling sou doen maar nou sonder die inkleding van ‘n ideologie. Poësie as niche vir ‘n ambisieuse burokrasie ; niks meer nie. En tog was ons bewus van die onderliggende dichotomie tussen staat en kultuur. Of dan, die intellektuele se verset teen die nuwe nasionalistiese party aan bewind se pogings om die geskiedenis te herskryf. In Gdansk befonds die Ministerie van Kultuur die oprig van ‘n herdenkingsmuseum wat die vervolging en slagofferskap van Pole voorop stel ten koste van die Jode se uitdelging. Net buite Birkenau se poorte is ‘n gedenkteken staangemaak deur inwoners van Osywicu en omliggende dorpies wat sweer dat hulle van niks geweet het nie. Daar was nou wel ‘n pesreuk in die lug…

Die internasionale deelnemers sit en luister dikwels met dowe ore. Adonis, vroeë Siriese modernis en sekularis vir wie monoteïsme die oorsaak van alle kwaad is, probeer vertel by monde van ‘n Arabiese kollega ons moet bly glo in die Utopie van gelykheid. Maar later het hy teenoor my beken dat hy moeg is van al die gepiekel na byeenkomste van onbegrip. Hy het probeer glimlag. In sy oë was die medelydende kyk van ‘n melankoliese harlekyn.

Michael Ondaatje verwys in sy voorlesing oor die belang van poësie – so het Jek dit verstaan – na ‘n Japannese estetiese vormbegrip waar die geheel met opset wankelrig of ‘oop’ gelaat word. Wanneer hy sy gedigte voorlees lê hy baie klem daarop dat hy beïnvloed is deur die orale poësie van Sri Lanka, sy geboorteland, waarvan hy die taal verloor het en slegs die oë van ‘n melankoliese nar oorgehou het.

Die ou stad se strate is smal en loop dan byna almal uit op ‘n groot sentrale plein wat sekerlik reeds in die Middeleeue aangelê is. Uit die venster van ‘n gebou in ‘n verlate systraat, dit mag ‘n klooster wees, spoel onverwags die soet fuga-klanke van ‘n koor wat ‘n Bach lied oefen. Die moment is gewyd, it’s the hour for washing the gods, dink jy, dit is tog waarmee die sangers besig is. Mens bly staan in vervoering en tas instinktief na die maan geryg aan ‘n kerktoringspits.

In die Bernadynse Kerk beeld ‘n tafereel die Dans van die Dood uit, met die onderskrif (soos vertaal) : « It is, alas, a sorry chance / When Death asks us to dance » Soos skimme, wanneer tot die ou skuifelgebare van die dans verleer is, sien mens dan oral die verwese dronkaards een-een, al loop hulle dikwels twee-twee sonder om ‘n woord te wissel in geselskap van koning vodka. Miskien help dit hulle om te glo hulle sien nie dubbel nie.

En in die skemeruur ontmoet mens onverwags vir Olga Sedakova op pad iewers heen. Haar oë is treurig. « And I will walk down a familiar road, / At last, going where I am bidden to go. » { – } « Each of us wants to be recognized, known, / For birds to fly down in greeting, / For the dead to stand up as if living, / For the beasts to bring their young // And for time, slowly to unfold / Like lightning remembered from long ago. » (From Old Songs – THE JOURNEY, vertaal deur Stepfanie Sandler)

bb4

 

van val en vergeteling

.

om in die diepte die lewe te verloor

waar gevindes met oë wyd oop op duisternis

deur die einde en einderlose blou ruim

dartel en swenk en tuimel en vlerk

in arabeske van vlieg en vlug en vind en verandering

.

hoe moet dit wees

om eindeloos verorber te word

en weer te woord

begrawe in as

langs flanke van bergreekse koraal

onder gordyne sneeuende saad

hoe moet dit wees om te waterwees

Vorentoe van waar jy in die verlede was, terug in die teks. Patrone en motiewe dryf rond soos broodkorsies in ‘n kommetjie melk – berge, tweelinge, die nagmerrie van mens te wees, die doodgaan in die mond, dat Bosch al eintlik die swelgpartye vir die voorvarke en dodekampe vir die res geverf het, soos in Dachau en Auschwitz. Was/is dit dan altyd so ?

Van Van Gogh is gesê dat hy baie duisternis verorber het om ‘n bietjie lig uit te kan skei al het sy doeke gebrand van vuur. Wat sou mens dan sê van Bosch se werke waar alles tot glans omtower word, selfs die nagtonele met vlammetjies in die verte ? Is dit omdat sy beeldeskat so vanselfsprekend is, onbevraagteken soos ‘n moedertaal ? Wat sê dit dan van die nodige ontwrigting tussen oppervlak en suggestie wat dit moontlik gaan maak vir die kyker om in die prentjie te kom ?

Chronologies was daar eers die besoek aan Krakow en die rou wonde van die uitwissingskampe. Jek onthou nou dat die poësiefees ‘n tema gehad het, Road-side dog (na aanleiding van ‘n skryfstuk van Milosz), en dat hierdie droomknoop ‘n voorafskadu was van die halfversuipte hond, Goya se vergestalting van suiwer angs wat ek later in die Prado sou sien. Daarna kom die reis Madrid toe om onder die swart toesigoog van Goya te gaan kyk na die werke van Jheronimus Bosch.

Was al die werke deur hom geskilder ? Sekerlik nie (en dit maak nie saak nie) want leerlinge het tema’s oorgeneem, nageskilder. Goya se werke is eweneens van die mure waarop dit geskilder was verwyder, skoongemaak, gerestoureer, hier en daar kleiner getrim om in die oog van die afloerder te pas. Buitendien, Bosch behoort aan ‘n gilde, hy kom uit ‘n familie van skilders, ambagsmanne, en die werke is die produkte van ‘n gemeenskaplike ateljee. Tog bespeur jy die bewegings van die hand en die onrustige gees van die historiese mens wat van 1450 tot 1516 gelewe het met vrou en sorge en die plegtige plesier van ‘n gesiene stadsburger, gereis het, die sotlikhede van die mensdom met wrangheid gadegeslaan het. Hy het geweet van kadawers en rotte. Dis veral opvallend omdat jy kan sien hoe die impasto dikker en die penseelhale losser word in die laatwerk. Dis in die doodgaan dat die mens ‘n individu word. Skilder was sy vryheid – hier is ek, ek kan nie anders nie.

Daarna eers kom die reis na Vienne. Jy is nog nie klaar daarmee nie. Ook nie met Cohen se boek nie.

Ons is vroeg weg uit Poble Gran. Die landskap was lieflik soos oopvoue van die oog na die Pirenneë se kant toe. Daar was in die vroeë ure nog nie te veel lorries op die pad nie en die lug was so skoon soos water voor die dynserigheid van melk bykom.

Teen twee-uur was ons in Vienne, ons plek van aankoms – ‘n Gallo-Romeinse nedersetting aan die oewers van die Rhône. Vroeër was dit ‘n handelsplek met skure waar allerlei produkte uit die Romeinse Ryk en van naburige state verder noord opgegaar is om daarvandaan na Rome verskeep te word. Groot dele van die oorspronklike stad is opgegrawe en kan besoek word. Die luukse, die gemak, die ontwikkelde rioolstelsels wat nog te sien is, is verbysterend.

van mense in toga’s

wat op die linkersy gevly

in die nabyheid van watervywers

en fonteinklanke in binnehowe

onder prieels

eet met die regterhand –

en ‘n bietjie verder die latrines

want hier het mense toe lankal

binnenshuis begin kak

en dalk selfs in diepe bepeinsing

gestoei met die binnemens –

anders as in Afrika

waar mense neusoptrekkerig

buite op die hurke sit en eet

uit één bak

met die regterhand

Later die aand onder die maan ‘n goue skuit wat oor die donkerwordende heuwels vaar, tot kreun-en-kraak vol drome versteen as herinneringe, en met enkele sterre se helder weerkaatsings in die rooi hemel van sterfte, het ons deur die verdwaalstegies geloop na die Romeinse arena wat al vir so baie eeue teen die bergwand bo die stadjie lê om saam met ten minste seweduisend mense – ‘n see van mense in die nag – te luister na uitvoerings tydens die jaarlikse jazzfees. ‘n Yoruba tweeling meisies, baie lig van kleur, het gesing. Hulle krete het mekaar aangevul en teruggebons as eggo’s van die halfmaan volgepakte sitplekke in die arena. Soms het hulle gesing in ‘n taal wat net hulle ken. Die een met die boskasie hare het vertel hoe die geboorte van ‘n tweeling in die Afrika van hulle herkoms as ‘n onheil gesien word. Dat die een moet sterf sodat die ander kan lewe. Hulle was aangetrek in rooi werkersoorpakke – so asof hulle dalk lede sou kon wees van Djuliaas Malema se fascistiese party.

Jek moes dink : om te skryf is ‘n tweeling van lewe en elke uiting word instinktief die insae en weerklank van die ander.

bb5

Op pad terug probeer vang Lotus die maan. In die verbygaan voor ‘n winkel wat goëlgoed verkoop sien ek hoe wink Jek vir my tussen bric-à-brac van agter die glas. Hy dra glad das ! Die hotel is op ‘n haar na presies dieselfde een as dié van Madrid – funksioneel, minimaal, van plastiek, ‘n skakel in ‘n anonieme ketting. (In Madrid was die naasliggende arena egter bedoel vir bulgevegte.) In die verlate  foyer sit twee werknemers met fluitjies en veelkleurige hane van vilt op die koppe voor ‘n televisiestel om te kyk na die eindwedstryd tussen Portugal en Frankryk in die wêreldsokkertoernooi. Portugal sou wen.

Cohen – dit is die stamnaam, verstaan ek, van hulle wat toegelaat word om in die tempel te sing, die priesters dus – skryf volgens sy bibliografie ook in Judeo-Spaans. Oftewel Ladino. Nog ‘n taal wat weggeraak het. Met die wegraak bly slegs die woorde en die geure wat werklikhede en aanwesighede oproep oor. Wie sou weet of die een die ander voortbring ? Of verduister ? Hy skryf dat die mens in staat is om te onderskei tussen drieduisend verskillende reuke. Die geheue aan reuk is in die mees argaïese gedeelte van die brein gesetel, daardie weef-sel-herinnering wat ons in gemeen het met die amfibiese tweeslagtigheid aan die kern van ons evolusie. Elke stap vorentoe is ‘n verlies. Sy familie kom oorspronklik uit Turkye, Konstantinopel. Iedere hoofstuk van die klein, intens skrynende memoir wat ek nie wil lees nie want die afwesighede word ondraaglik, dra die titel van ‘n nabye familielid. Benewens Marie die ma en Jacques die pa kom die evokatiewe name van ‘n vervloë tyd aan bod : Sultana en Mercado en Rebecca Chaki en David Salem… elk afsonderlik verbind aan ‘n geurboeket. Leer en kleedstof en naskeermiddels en parfuum en sakdoeke en seep en kookolie en dit wat jy ruik wanneer jy jou neus in die geliefde se nek druk. Sy ma, Marie, se liprooisel. Nooit sou sy uie skil nie want die reuk bly kleef aan mens se hande vir dae. Onder die hoofstuktitels is daar die nommer en die datum van die konvooie wat hulle weggeneem het dodekampe toe om op te gaan in rook en as. Daarna niks. Soms wel ‘n asem van wat gebeur het. David, byvoorbeeld, was sy ma se jongste broer. Saam met Perla, sy vrou, word hy gedeporteer Birkenau toe. Hy probeer ontsnap uit die kamp vir mans om by sy vrou uit te kom. Sterf soos ‘n trekvoël wat verblind teen die geëlektrifiseerde heining vasgevlieg het. Die SS hang die lyk op bo die sentrale laan waarlangs die ander ingehoktes moet loop om te gaan werk. Vir dae. As afskrikmiddel. Hy was ses-en-dertig jaar oud. Saam met ander besoekers het Jek ook in daardie laan geloop. Die stank van ontbinding bly kleef aan mens se hande. Besprinkel die Nazi grootkokkedore dan nie ook hulself met oliekolonie nie ? In feite verkies hulle meer viriele reuke, soos Cuir de Russie. Selfs hulle eie Echt Kölnisch Wasser het hulle te veel herinner aan die swakheid van die Weimar Republiek.

Marcel ken die storie want Perla het oorleef al het sy nooit weer daaroor gepraat nie.

Skrywe is ‘n herwinning van daardie tweeling – die bewussyn, die geborgenheid, die onskuld, die ritmes – wat verlore gegaan het. Mens skryf al agter die beweging aan. Die skrywe is ‘n naspoor van die reuke wat lewe genoem word, wat soos die tweeslagtigheid van lewe-en-dood aan woorde bly kleef. Aan die hand van melkvaal kiekies probeer onthou hy wat hy moes geweet het nog voor hy bewus was van enige onthou. Hy ‘lees’ deur ‘n vergrootglas en elke foto word die ingang tot daardie vergane wêreld wat nooit ophou bestaan het nie.

Die groot wegraakherinnering begin die dag toe hy terugkom van die speelpark waarnatoe die oppaster hom geneem het, sy is ook in die boek en verdwyn ook, en toe van ‘n afstand moes sien hoe sy naasbestaandes uit die familiehuis geboender word – sy oupa Mercado het in alle statigheid en gekrenkte eer probeer vasklou aan sy geliefde leunstoel – en weggevoer word in lorries. Dit was altyd die Franse polisie wat die arresteerwerk gedoen het. Die Gestapo het die feit dat hulle in ‘n besette land is gerespekteer. Marie het nie dadelik in ‘n konvooi beland nie. Sy had ‘n jonggebore dogtertjie, Monique, Marcel se sussie. Die beleid was dat kinders onder ses maande nie gedeporteer word nie. Marie en die babatjie was dus aangehou in die Rotschild Hospitaal saam met ander in dieselfde geval totdat die kind oud genoeg was om doodgemaak te word. Marcel kom staan gereeld op die sypaadjie langs die hospitaal. Sy ma maak gebare maar geen geluide nie, ‘n engel in die oond, en later eers sal hy verstaan dis omdat sy nie die aandag wou trek na haar seun oorkant die pad nie. Totdat sy vir hom laat verstaan dat dit te gevaarlik sou wees om weer te kom.

Hy was vyf jaar oud toe die dood begin het. Hy haal aan : « Om oud te word – watter vreemde avontuur is dit tog vir ‘n klein seuntjie. »

bb6

Jek Breytenbach

Can Ocells, Augustus 2016

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “‘n Klein reis deur die wêreld se kwyning aan die hand van woorde”

  1. Waldemar Gouws :

    ‘n Meditatiewe manifes oor leeftye. Dit lees soos die uitspeel van ‘n nuwe concerto teen die oerbelhamel.

    ‘n Leeftyd. Om die dood op ‘n afstand te kry soos wat in Goya (1746-1828) se geval genoem kan word, is uitsonderlik. Robert Hughes skryf ((2003): “To live to the age of eighty-two, as Goya did, was a great stroke of biological luck. To do so while staying sane and working right up to the end – for there is no evidence of senile decay or dementia in Goya’s last years, although physical infirmities did, of course, take their toll [bv. sy doofheid later] – was well-nigh miraculous.”