Resensie: ’n Hunkering se grein (Johann de Lange)

Hunkering se grein

’n Hunkering se grein – Johann de Lange

Resensie deur Heilna du Plooy

Johann de Lange is ’n gevestigde en gerespekteerde digter in Afrikaans. Omdat sy werk meermalig bekroon is, met die Ingrid Jonker-prys in 1983, die Rapportprys vir poësie in 1990 en die Hertzogprys vir poësie in 2011 vir Die algebra van nood, en uit die lees van vorige bundels weet ’n mens vooraf dat jy ook in hierdie nuwe bundel, ’n Hunkering se grein, verse van gehalte kan verwag. Nogtans het die bundel my oorrompel vanweë die intens liriese aard en die verbluffende virtuositeit van vers na vers na vers.

Daar is ’n aantal deurlopende eienskappe en temas in die bundel wat onder meer deur die voorblad aangedui word. Op die buiteblad is ’n afbeelding van ’n skildery van Judith Mason getiteld Roman Africa.  Die titel van die werk is reeds ’n aanduiding daarvan dat die verhouding tussen Europa en Afrika aan die orde gestel word, hetsy in kontras of in aansluiting of albei. Die skildery beeld die boonste gedeelte van ’n pilaar of suil uit, ’n deel van die kolom sowel as die kapiteel en die balk of blad wat daarop rus. Waar so ’n kapiteel gewoonlik simmetries is, verskil hierdie een se twee kante. Aan die een kant is daar ’n klassieke krul maar aan die ander kant transformeer die krul tot die liggaam van ’n slang. Daar is nie ’n kop nie, maar die skubbe en die gekronkelde liggaam is onmiskenbaar. Die idee van ambivalensie, minstens ruimtelike en kulturele en psigologiese ambivalensie, word dus van die begin af gevestig.

Op die balk bokant die suil is daar ’n frase in Latyn gedeeltelik sigbaar. Dit is herkenbaar as ’n aanhaling uit die odes van Horatius, uit Boek IV, Ode vii, reël 16: “Pulvis et umbra sumus” wat beteken “Ons is bloot stof en skadu”. Daarin kan ’n verwysing na die spanning tussen die konkrete, die stoflike en materiële, en die ontasbare, die skadu, gesien word, maar ook die assosiasie met sterflikheid en tydelikheid en veral verganklikheid.

Reeds in hierdie bewuste keuse van ’n buiteblad word ’n verwagting geskep van ambivalensies en spanning tussen pole, tussen wat klassiek en wat gevaarlik en ongetemd – maar wel dinamies – is, tussen goed en kwaad (die slang dra nou eenmaal hierdie assosiasie), tussen die intellektuele (dit wat bewustelik gestileer en gevorm en simmetries, d.w.s. Apollinies, is) en die instinktiewe (dit wat natuurlik en onbeheerbaar en onvoorspelbaar is soos in die Dionisiese denke).

Hierdie tematiese aanduidings word verder versterk deur die titel van die eerste afdeling, naamlik “Die berggans het ’n veer laat val” en aanhalings van T.S. Eliot en David Hockney as motto’s. Die titel van die afdeling is afkomstig uit Boerneef se klassiek geworde liefdesvers wat in die slotreëls na die kwaliteit en intensiteit van liefde verwys: “mits dese wil ek vir jou sê/ hoe diep my liefde vir jou lê”.

Die aanhaling van T.S. Eliot verskerp die fokus op ambivalensie: “At the still point, there the dance is”, maar terselfdertyd dui hierdie uitspraak op die poësie en die werking van die denke onderliggend aan die poëtiese proses. Dit gaan om ’n geweldig intense aktiwiteit wat in oënskynlike stilte en onbeweeglikheid geskied. Van David Hockney, die rebelse postmodernistiese skilder kies De Lange die motto: “If your eyes stop moving, you’re dead”. Hockney is ’n skilder wat eksperimenteer en ook verskillende media kombineer – hy bring dus uiteenlopende dinge bymekaar in sy werk, maar het veral ’n oog vir die onverwagse en dramatiese moment in die kuns.

In al hierdie vooraf aanduidings van relevante betekenisdomeine word verskillende sake bymekaargebring en teenoor mekaar geplaas: die liefde en die poësie, lewe en dood, die poësie en die poëtiese aktiwiteit van ’n toegewyde poësieminnaar en ’n minnaar, ook ter wille van die poësie. Verder word die materiële dimensie van die menslike bestaan en die gelyktydige bestaan van ’n skaduwêreld van drome en gedagtes en denke en emosie, dit is die dimensie van verskuiwende betekenisse, vooropgestel. Hieruit volg ook die sintuiglike sensitiwiteit vir dinge in die werklikheid en die sensuele en selfs erotiese belewenis daarvan. Die erotiek van skryf word verderaan in die bundel ryklik ontgin.

Die eerste gedig in die bundel is dan ook inderdaad ’n samevoeging en ’n in-werking-stelling van hierdie komplekse tematiek. Die vers is reeds treffend as ’n beskrywing van ’n swerm voëls teen die laatmiddaglig, maar die intense en liriese beskrywing roep ’n ryke verskeidenheid van ander assosiasies op sodat die gedig ’n poëtikale stelling maak én in werking stel, dit as ’t ware waar maak en illustreer.

Die liriese kwaliteite van die gedig setel onder meer in die vindingryke en klankryke segging wat regdeur gehandhaaf word:

…uitgelate

morf die swerm in ’n swink van een vorm na die ander, soms ligter

of digter soos ’n gaasdoek

In die vorm van ’n sonnet (nie strak nie, maar wel herkenbaar) word die vrye vlug van die voëls beskryf sodat die vaste vorm van die vers en die vryheid van die tematiek met mekaar in spanning tree. In die gedig word woorde wat met die kunste geassosieer word, op virtuose wyse gebruik om die poëtikale implikasies na vore te bring. Die gaasdoek van die swerm voëls word ligter en “digter”, en later in die gedig “arseer” die stippels teen die lug die patroon “digter”. Die herhaling van “digter” val op sodat die digter en digwerk betrek word, terwyl “arseer” as ’n tekentegniek die estetiese ook visueel betrek: die gedig as kunswerk beskryf die werklikheid as ’n tekening én aktiveer die visuele referensiële voorkoms van die swerm teen die lug. Die voëls teen die lug is werklik iets moois, ’n gesig wat visueel opmerklik en merkwaardig is, maar dit word ’n kunswerk, iets wat transformeer (“morf”) en swewend en onvoorspelbaar is. Die prosesmatigheid van teken word ook betrek: die voëlswerm teken met arsering hulle eie beweging. Verderaan word hierdie voëlstippels ’n “energie” wat “dink en weef” sodat die energieke denke en die daaropvolgende “maak”-werk van skryf as die vervlegting van woord en klank en voltooide versvorm voorgestel word. Meer nog, die stippels styg van notebalke af op sodat die musiek, nog ’n kunsvorm, en dus ook die musikale aspek van die poësie ter sprake kom.

Die gedig handel netsoveel oor die swenkende voëlswerm as oor die liriek, oor die “verdigting” van die werklikheid, die digter-wordende proses van “verdigting” en gedigmaak, die “Dichtung” as sodanig.

Die gedig is ook merkwaardig daarin dat intertekstuele verwysings allerlei eggo’s by die leser oproep. “Dusketyd” kom ook van Boerneef, en die reël “Gisteraand om dusketyd/ is ons twee uitmekaar vir goed” bring die gedagte van afskeid en tydelikheid na die gesprek. Die “volstrekte blou seildoek” wys onmiskenbaar na T.T. Cloete se “Marilyn Monroe foto in blou”, ’n gedig waarin die populêre prikkelpopbeeld van Monroe gedekonstrueer word en die onderliggende leegheid van haar bestaan uit die foto in blou afgelees word. Die ambivalente aard van die skoonheid in die beeld van die voëls is dus inherent en van die begin af deel van die verbintenis tot die skoonheid en die kuns. Hierdie gedagte loop deur die gedig omdat die swerm voëls teen die lug mooi, maar volgehoue veranderlik is, dit “morf” nie net nie, maar is ook ’n “onwesenlike musiek”, ’n beeld wat dans, maar terselfdertyd ongrypbaar is.

Die slotkoeplet van die gedig is eweneens ryk aan verdigte betekenis: die voëls stryk in die nagbome neer, maar hulle doen dit as “swart sneeuvalle”. Hiermee word sowel die sagte geheimsinnigheid van ’n nagtelike sneeuval opgeroep as die feit dat die swewende gedagte inderdaad in swart letters neegeskryf word op papier (wat van hout gemaak is, as mens die beeld wil rek tot op ’n grens). Die beeld van die sagvallende voëls in die nagbome is sowel misterieus as somber: die vryheid van die denke, die onwesenlike musiek kom tot rus juis in die donker en in die nag. Dit slot sluit hiermee aan by die suggestie van praat en taal, wat in die titel “’n murmurasie” genoem word: alles kom tot taal, en dit is ’n bouwerk – ’n “murasie” – maar ook ’n murmurering, ’n klag en ’n preweling. Die tuiskoms van die “swart sneeuvalle” in die nagbome dui vir my daarop dat ook die woorde self nie klinkklaar helder is nie, maar sowel mooi as duister en ambivalent.

In die sterk poëtikale strekking van die gedig sluit dit aan by die hele tradisie van poëtikale gedigte, maar dalk juis by Nijhof se “De danser”, omdat die gedagte van die spanning tussen tussen energie en vryheid aan die een kant en artistieke vormgewing aan die ander kant hier tematies sowel tegnies manifesteer. Dit kan dus in hierdie sin as ’n ikoniese gedig beskou word, want die gedig doen wat hy sê. Hierdie gedig wat “swenk” tussen beweging en beheer, wat die swewende onbepaaldheid in taal “vang” en weergee, werk op al hierdie tematiese en tegniese vlakke gelyktydig. Tematiese lae en geraffineerde tegniek is volkome geïntegreer. Die ”murmurasie van spreeus” is werklik ’n merkwaardige vers.

Seker die sterkste deurlopende motief in die bundel is die bewustheid van ambivalensies. In “Lelieloper” (p.10) word die skoonheid van die langtoon beskryf, maar sy beeld word “geskaad” deur “die lang grys tone, knokkig en littig/ soos iets wat uit ’n modderige voortyd spruit”. Netso is die “Roadrunner” (p. 11) die vinnigste voël op twee pote, maar ook ’n dodelike jagter. In hierdie gedigte, soos ook in “Blink Stefaans” oor die bobaashaan, is daar ’n aantreklike eenvoud van segging en ’n speelsheid. In hierdie en vele ander gedigte word die taalverkennende vermoë van die vers ontgin. “Chevrons” en “Weerberigte” en “Lente is kwistig” (p. 13-15) is hiervan voorbeelde:

Naderby bak rotse bruinrug, & sonkant

 

waar eerstelig blink op blare van die oleander
brand op rotse loog-as-grys, & roes- & en vuurrooi ligeen.
Lente is ’n digter wat daglank palissander.

Dit is suiwer liriek en wat opvallend is, is dat mens ander digters hierin hoor saampraat, maar nie as voorgangers nie en ook nie in die sin dat die gedigte doelbewus terugpraat na Van Wyk Louw (se ondersoek van kleur) of Cloete (se natuurbewustheid en natuurverwondering) of Boerneef (se aardse sangerigheid) nie, maar juis in die sin van dat die ouer woorde en assosiasies hier nuut word in ’n nuwe figurasie en in ’n eie styl. In “By Sossusvlei” (p.20) voel die digter selfs agter die opgeefsels van weerkaatste bleshoenders iets groters aan:

droom ek oordag of is dié vlei

vanmiddag vol van Niet.

Die tweede afdeling in die bundel heet “Palissander”. Die Verklarende Afrikaansse Woordeboek omskryf palissander as “sangerig/gevoelvol in eenvoudige taal met ‘n ondergrond van weemoed dig” en dit sluit aan by die styl wat in die voorafgaande en volgende verse gebruik is. Die twee motto’s onder die titel van die afdeling bring egter onmiddellik ’n kwalifikasie aan in die verwagting van die leser. Volgens Robert Graves is die liefde “a universal migraine” en Stanley Kunitz beskryf ’n komplekse verhouding as ’n kwas in die hout van sy deurkosyn wat hy nie kan seël nie. Palissander is dan ook inderdaad die naam van Brasiliaanse rooshout, ’n houtsoort vol vlamme en kwaste.

Hierdie afdeling is meer sintuiglik en sensueel as die eerste. Daar is verse oor kersies eet in die nag, oor die ambivalensie van die voyeur wat “wens” én “grens” (p. 24), oor ruie seks en “blomme van die kwaad” (p. 31). Die verskillende kante van verhoudings, die verraad, die oorgawe, vriendskap en seksualiteit kom alles aan die orde.

Die skryfhandeling en die poëtiese lewe of die lewe as poësie en spesifiek die jouissance in Barthiaanse sin word in hierdie afdeling tot ’n hoogtepunt gevoer in die gedig opgedra aan Joan Hambidge, “Twee vryverse vir Joan op 60” (p. 39). In hierdie verse vind ’n volledige versmelting van taal en sensualiteit en seksualiteit plaas. Die gedig dra ’n motto van Stanley Kunitz “Words are so erotic, they never tire of their coupling” en dit is dan ook wat in die gedig uitgebeeld, nagestreef, waargemaak en uitgeleef word. Waar die eerste deel van die gedig gaan oor erotiese ervaring as taal en taal as erotiek omdat “[v]roeg reeds voor ek woorde gehad het vir dinge het taal/ my aan die lyf gevoel…”, is die tweede deel meer op lees, die lesers en die ontvangs van die digter se werk gerig. Die digter word in terme van sy reputasie gesien, maar hy self bly eenkant en voel alleen, want mense lees vir hulle eie doeleindes en volgens hulle eie behoeftes wat eintlik die poësie beperk en selfs verkleineer. Wanneer die digter “te vroeg” van ’n fees vertrek, wissel die ander “betekenisvolle blikke” en bespiegel agter sy rug oor hom.

Die gedig (p. 43) sluit soos volg af:

 

Dan gaan lê die wind,

die kole smeul onder ’n grys laag as.

Terwyl ek terug ry huis toe,

van kollig tot kollig met die lamppale langs,

flits Reve se woorde ritmies by my verby:

vir wié of wát, in godsnaam, skryf ek nog?

 

Die volgende afdeling “Vals bodems” kontinueer die tematiek van ambivalensies en die fokus op die sensuele aspekte van taal en skryf word selfs sterker, soos aangedui deur die (langer) aanhalings uit Roland Barthes, die oorspronklike outeur van die gedagte van die “jouissance” van die teks.

Taal alleen

maak my so kaal

ek kom altyd

tot verhaal

(p.55)

Die aanhalings uit Barthes is sterk rigtinggewers. Barthes sê onomwonde “[my] language trembles with desire” maar hy weet ook die beperkinge van taal bly nie uit nie: “… to know that writing compensates for nothing, sublimates nothing, that it is precisely there where you are not – this is the beginning of writing”. Daarom sal die digter in hierdie bundel, om hom te verweer teen die vernieling van die tyd “in ’n vers bly soek na asiel” (p.53), sal hy ’n meditasie of beswering nodig hê soos die titel van “Om mani padme hum” (p. 62) suggereer. Hierdie titel is inderdaad die presiese woorde van ’n misterieuse beswerende spreuk of gebed in Sanskrit. En deurentyd is hy ook besig om met ander digters te praat en saam te praat en terug te praat. De Lange integreer digterlik gelade frases en woorde uit die werk van mededigters so subtiel in sy verse dat veel daarvan waarskynlik nie altyd raakgelees sal word nie, maar as mens dit opmerk, eggo die gedig dadelik ’n wyer temporele en ruimtelike omgewing. Hy is speels saam met Van Wyk Louw in “Boutade” (p. 60) wat begin met ”My git, jy het ’n siel glo…” waarin meer as een vers uit Tristia duidelik meespreek; sy beswering (selfbeswering?) word gedoen in terme van Cussons (p.62) as “boerbokke met uiers uitgeswel by die lui van klokke/ meteens uitdagend soos Istar in ’n Cussons-slotreël staan”; hy mymer en ervaar opnuut met T.T. Cloete en Boerneef in gedagte.

Die gedigte in hierdie bundel is almal meerduidig in die volle sin van die woord, trouens meerdere lae van betekenis en meerdere velde van verwysing is in elke gedig aktief. Mens kan in bykans elke vers verskillende van die hoofmotiewe en temas wat die bundel saambind, uitwys, maar subtiele klemplasings is waarskynlik die aanleiding tot die indeling in afdelings. In die afdeling getiteld “Aansterflik”, ’n woord wat “onsterflik” oproep én sigself daartéén opstel, sentreer rondom sterflikheid, asof die mens onherroeplik ly aan sterflikheid. Hier kom die digter se metafisiese aanvoeling ook sterker na vore, miskien te meer omdat Cussons en Opperman en Cloete hier gespreksgenote is. Trouens, die titel van die bundel kom uit ‘n gedig van Sheila Cussons wat hier afgedruk staan as ’n motto by die afdeling:

God vindloos vir die teleskoop

gee Hom aan die vinger oor

wat saggies soek oor ’n okkerneut

of ’n hunkering se grein.

                                    (p. 69)

Die eerste vers in “Aansterflik” is “Pleroma” (p.71). Die Griekse woord pleroma dui op die omvattendheid van goddelikheid, die volheid van die goddelike, en dit is ’n woord wat belangrik is in die Nuwe Testament van die Bybel. Die metafisiese, of selfs religieuse dimensie word so met die poësie in verband gebring, ’n idee wat dikwels in gesprekke oor die poëtiese vorme van taal en die uitdyende betekenismoontlikhede van taal genoem word.

Vir lig wat só ambrosieus skyn,

só glansend dit maak jou lyf sereen

’n tong, moes dit tydsaam, eons lank,

stil gesyfer het deur heuningsteen.

                                                (p. 71)

Dit is inderdaad ’n beskrywing van volheid en rykheid: lig/insig/begrip/betekenis (soos Cussons dit ook by herhaling in haar poësie soek) so ryk en vol dat die lyf kan praat en in verbinding kom met tydelose lig deur ’n deursigtige rots wat tydloos oud is. In dieselfde toonaard is die “Kwatryne vir TT” (p. 73-74). Die kwatryne handel elegies en huldigend oor Cloete se dood in Cloete se eie woordeskat en verwysingsraamwerk (pp. 73-74). Cloete se berggedigte eggo hier asook sy verse oor kosmiese verskynsels:

Spoed jy verby kwasars, die Sewe Susters,
verby Orion se Juwelekissie?

Op ’n tyd was jy God se troetelvissie,
nou nael jy lustig tussen sy ligusters.

In “Die swaartekrag van as” skryf De Lange oor komtemporêre verskynsels en kultusfigure uit die relatief onlangse verlede, weer eens Marilyn Monroe, prinses Diana, Michael Jackson en Mandela. Die aanwesigheid van eindes en die dood en die konfrontasie daarmee is onontkombaar vir die digter wat homself al hoe ligter en minder dig voel word:

 

Ek beweeg skugtig, geheg aan al wat rank en bind,

voor ek blind in die stil luister van ’n kroonlugter stort.

                                                                        (p. 92)

Die laaste afdeling in die bundel dra as titel ’n dubbele verwysing na Hennie Aucamp wat ’n lewensvriend van De Lange was: “Rust-mijn-ziel: ’n hartseerwals”. Aucamp is gebore op die plaas Rust-mijn-ziel in die Stormberge, en een van sy bekendste verhale is die verhaal “Die hartseerwals”. Aucamp se bundel “Gewis is alles net ’n grap”, op sy beurt ’n aanhaling uit Eugène Marais se “Skoppensboer”, word ook as ’n gedigtitel gebruik. Ouerword was inderdaad vir Aucamp ’n sentrale tema in sy later werk en dit staan ook in hierdie afdeling vir De Lange voorop, veral die ouerword van die gay man. Die “teerheid” van liefde by en vir so ’n ouer man word herhaaldelik met groot deernis genoem soos in die “verleentheidsvers” (p.104) by ’n tagtigste verjaarsdag (waarskynlik dié van Aucamp) en “In memoriam: Graaff se poel” (p. 105). Die afdeling lees byna as ’n huldiging van Aucamp, ’n verlore vriend maar ook ’n steeds-gemiste gespreksgenoot oor die literatuur deur en via albei gespreksgenote se skryfwerk. Die gesprek met ander skrywers, meestal gestorwenes, gaan voort in gedigte opgedra aan Adam Small, Boerneef en Van Wyk Louw (“Twee blaaie geskeur uit Groot Verseboek”, p. 108). Leipoldt word opgeroep deur sy gedig “Wys my die plek” en Ernst van Heerden kom ook ter sprake in ’n gedig waarin Hennie Aucamp aangespreek word:

Jy verloor jou pa, jou ma, jou vriende, een vir een,

Ernst beide bene, jý vir hóm. Nou’t ek jóú moes groet.

                                                                                    (p. 117)

Elke enkele gedig in hierdie bundel is afgerond, geraffineerd, voltooi. Dit is asof die gedagte telkens die juiste versvorm, die juiste sinstruktuur en die juiste woord naatloos vind. Nou is dit sekerlik nie die enigste soort poësie wat geskryf kan word nie, hierdie verfynde, ingeligte, welbewuste en estetiese skryf in die tradisionele sin van die woord, hoewel mens dadelik moet bysê dat die kontemporêre tematiek en die losser omgaan met versvorm en woordkeuses steeds vernuwend is. Maar hierdie elegant ontstemmende verse is onontbeerlik vir enige taalgebied. Die grense van woorde word uitgeskuif, die betekenis teleskopeer en eggo, nie net deur middel van taaltegnieke soos klank en ritme en sintaksis en die verbluffend vindigryke beeldspraak nie, maar ook in die deur-eggo-ende gesprek met vroeëre en kontemporêre ander digters. Dit is asof die oerbetekenisse van die begrip “die estetiese”, wat “insig verkry” en ‘verlig” insluit, in hierdie soort poësie deurwerk: dit is gewoon strelend op die oog en die oor en dan slaan die betekenis ’n hou omdat die skoonheid juis die ambivalensie belig. Dit is intelligente en komplekse verse, maar die beloning vir ín-kykende leser is vérreikend en verrykend. En hierdie soort poësie kan en mag en moet ook in Afrika geskryf word.

Johann de Lange se jongste bundel is inderdaad soos lig deur heuningsteen, verryk deur vakmanskap en rypheid van insig en kennis. Die verse handel oor klassieke en nuwe temas, maar altyd weer is daar die eie unieke eie aanslag, die taal wat tintel van sintuiglikheid en erotiek en wat ingebed is in ’n literêre en kulturele verwysingsveld wat eggo’s van alle verre oorde af oproep. Verder is die gesprekke met skrywers, van Marais en Leipoldt tot by Van Wyk Louw en Opperman tot by Cloete en Hambidge en Alan Ginsberg asook al die ander skrywers en digters tussenin, een van die boeiende lae van betekenis wat regdeur die bundel vibreer en ’n uiters boeiende studieveld kan wees.

’n Hunkering se grein is ’n bundel vir herhaaldelike herlees, vir die vreugde van die woord en die navolg van gedagtegange, vir die leser aangebied deur ’n skrywer wat van krag tot krag gaan.

Heilna du Plooy

8 September 2016

Potchefstroom

Bookmark and Share

Comments are closed.