Marlies Taljard: Fragmentering en rekonstruksie

 turkey-troy-ruins-1

Wanneer die bejaarde monnik Adso van Melk aan die einde van The name of the rose ʼn tweede besoek bring aan die klooster wat hy as jongeling saam met William van Ockham besoek het, soek hy in vertwyfeling tussen die ruïnes van die mure na iets van dit wat hy gehoop het om te vind, maar hy kry slegs fragmente van die vele kosbare manuskripte wat die biblioteek van die klooster eens gehuisves het. Hy maak die stukkies bymekaar, stop dit in sy reissak en herlees dit keer op keer, hopende dat dit tot hom sal spreek. Uiteindelik verbeel hy hom dat die fragmente a kind of lesser library verteenwoordig – mens sou dalk kon sê dat hy daarin ʼn essensie van die groter geheel vind: a library made up of fragments, quotations, unfinished sentences, amputated stumps of books.

Ons weet dat hierdie slot onder andere as ʼn heenwysing na die postmodernistiese versplinterde werklikheid gelees kan word, die twyfel oor die vermoë van die narratief om die werklikheid getrou weer te gee en die twyfel aan die betekenisvolheid van die teks. Bertens en D’Haen sê oor gefragmenteerde tekste dat dit die leser uiteraard vry staan om ʼn verband te ontdek tussen die verskillende fragmente en om dit ʼn tematiese sin te gee, maar dat daar geen waarborg bestaan dat daar wel ʼn sodanige verband bestaan of bedoel is of dat dit op een of ander wyse nuttig sou kon wees nie.

My vraag is – in terme van Cas Vos se werkwyse in Fragmente van die Ilias (Protea Boekhuis, 2014) – welke teoretiese verantwoording daar is vir die fragmentering van ʼn lang narratiewe teks wat 24 hoofstukke beslaan (in die Ilias is dit Boeke), tot 24 gedigte. Die doel van my artikel is nie om ʼn waardebepaling van Vos se poëtiese teks te onderneem nie, maar bloot om ʼn bepaalde vertalingspraktyk te ondersoek en die sinvolheid, al dan nie, van so ʼn praktyk te verreken in terme van die vertaling van antieke tekste soos die Ilias en die Odusseia.

Sun Kyoung Yoon is een van verskeie skrywers wat daarop wys dat wanneer klassieke tekste vertaal word, is dit dikwels die doel van die vertaler om dié tekste ʼn nuwe lewe te gee deur dit te transformeer en dit sodoende meer toeganklik te maak vir lesers wat nie die Grieks of Latyn (of ander taal) verstaan nie. ʼn Mens moet onthou dat vertaling altyd die herskryf van ʼn bepaalde teks behels en dat dit plaasvind binne ʼn bepaalde konteks en gerig word op ʼn bepaalde teikengehoor. Wat vertalers verkies om te vertaal en hoe hulle vertaal word beïnvloed deur sowel die sosio-kulturele konteks waarbinne die vertaling plaasvind as die behoeftes van die doelgroep waarvoor die vertaling gemaak word. Daarom verskil vertalings van klassieke werke dikwels ingrypend van die brontekste én van ander vertalings van dieselfde werk. Die eindproduk van die vertaling dra altyd, aldus Frances Jones, die tekens van die vertaler se ingesteldheid ten opsigte van die bronteks en sy siening van sy rol as medieërder wat op sy beurt die aard van die literêre kommunikasie, m.a.w. die styl en poëtiese vormgewing, asook die graad van vereenvoudiging en die mate van ekwivalensie met die oorspronklike teks beïnvloed. Die keuse wat die vertaler maak wanneer hy ʼn teks assimileer om aan te pas by ʼn ideologiese raamwerk wat deur sy teikengehoor verstaan en aanvaar sal word, is beslis nie neutraal of onskuldig nie.

Die diskoers van hervertelling en herskrywing bied myns insiens ʼn besonder stewige raamwerk waarbinne die vertaling van gemarginaliseerde tekste gelees kan word, dus tekste wat nie algemeen beskou word as deel van die kanon van ʼn bepaalde letterkunde nie. Ek dink ʼn mens sou met reg kon beweer dat werke soos die Ilias en die Odusseia nie werklik deel is van die Afrikaanse kanon nie, of dan dat sulke werke redelik ver op die buitewyke van die kanon lê.

Wat die vertaling van sulke werk bemoeilik, is aspekte soos geskiedkundige plasing, waardes en etiek wat in die oerteks ter sprake kom, asook die vreemde wêreldbeskouings wat in baie van dié tekste voorkom. Maar ook suiwer literêre aspekte van die oorspronklike teks kan die vertaling bemoeilik, soos genre, vorm en poëtiese konvensies. Dit is byvoorbeeld onmoontlik om die versvorm van die Ilias na Afrikaans te transponeer, want (onder andere) werk die Griekse heksameter glad nie in Afrikaans nie. Dit is ook problematies om die totale dieptestruktuur van antieke tekste ten volle – of selfs gedeeltelik – in moderne weergawes van die teks weer te gee.

Omdat die vorm en die intertekstuele raamwerk van die bronteks dikwels aan die leser onbekend is, is dit moontlik dat probleme met die resepsie kan ontstaan wanneer sulke werke vertaal word. Die informasielading wat deel van die vertaling moet wees sodat die teikengehoor die teks verstaan, raak naamlik so groot dat dit die hele vertaalde teks in gevaar kan stel. Om hierdie slaggat te vermy, het dit gebruiklik geword om in begeleidende paratekste soos ʼn Inleiding, ʼn Agtergrond, voetnote of ʼn kort opsomming van die verhaalgegewe die belangrikste inligting te verskaf wat nodig is om die werk te verstaan. Dit doen Vos in sy vertaling van dele van die Ilias ook. So is dit dan moontlik om ʼn meer vaartbelynde vertaling te maak – dikwels deur aan dié dele van die teks te snoei wat die narratiewe gang belemmer of wat vir die leser oninteressant is en daartoe kan lei dat hy belangstelling in die teks verloor.

Kognitiewe wetenskaplikes wys daarop dat ons geneig is om nuwe en onbekende inligting te assimileer tot patrone wat reeds aan ons bekend is. Volgens die teorie van Dekonstruksie is alle verhale immers net ʼn hervertelling van verhale wat dit voorafgegaan het en waarvan die narratiewe struktuur reeds in die onbewuste van lesers ingebed is – veral mitiese verhale. Mites is argetipiese verhale waarin meerduidige simbole voorkom en wat godsdienstige of spitituele betekenis het vir dié wat dit vertel. Mites kan ook bydra tot beter begrip van ʼn samelewing se kulturele sisteme of waardestelsels.

Maria Tymoczko wys daarop dat die meeste hervertellings en herskrywings van antieke verhale fokus op die mitiese inhoude van die ou verhale. Dit is verhale wat – in Jungiaanse terme – waarskynlik uit die Kollektiewe Onbewuste stam en waarvan die struktuur inderdaad blykbaar aan die meeste luisteraars of lesers bekend is. ʼn Mens sou mites inderdaad as argetipiese verhaalstrukture kon beskou. Mites is ook verhale waarvan daar geen oorspronklike weergawes bestaan nie, maar die simboliese en etiese beginsels wat daarin vervat is, is in tallose nuwe of antieke verhale en mites ingebed. Kortom: mites vorm die grondstof van die meeste goeie letterkundige werke en word blykbaar algemeen deur lesers verstaan en die simboliese inhoude word selfs by die lees van verhale geantisipeer.

Tymoczko wys dan verder daarop dat wanneer ʼn tradisionele verhaal vertel (of dan: neergeskryf) word, is die hervertelling metonimies van aard, omdat dit verwys na al die vorige vertellings van dieselfde verhaal wat aan die leser bekend is. Selfs wanneer net dele van die oorspronklike verhaal vertel word, word die hele verhaal by implikasie deur die leser opgeroep. Daarom verduur moderne gehore verwerkings, aanpassings of verkortings van tradisionele verhale. Dit bied die leser dikwels die moontlikheid om die nuwe met die saamresonerende oorspronklike te vergelyk en die rede vir weglatings of “foute” te bedink, om die leë plekke in te vul of om doodgewoon die korter weergawe wat soms in een sitting gelees kan word, te geniet. Maar dan is dit noodsaaklik dat die lesersgehoor ook die gekanoniseerde weergawe van die bronteks ken, sodat die keuse wat die digter maak ten opsigte van wat hy vertaal en hoe hy vertaal, die nodige impak op die gehoor kan hê.

Ek wil dan argumenteer dat Cas Vos in sy vertaling van fragmente uit die Ilias, soos ook in sy vroeër werk soms, die fokus laat val op bepaalde mitologiese aspekte van antieke tekste waarmee moderne lesers sal kan identifiseer. Vos se bundel Die afdruk van ons hande bevat 11 vertalings van die Uruk-fragmente. Dié fragmente vorm deel van die verhaal van Gilgamesj en Enkidu en is deel van ʼn teks wat in die elfde eeu voor Christus op 12 kleitablette in die biblioteek van Ninivé neergeskryf is. Vos se poëtiese weergawe van dié mite verloop min of meer soos dit op die Sumeriese kleitablette verskyn. Hoewel sy teks baie korter as die oerteks is, slaag hy daarin om ʼn bepaalde essensie van die oorspronklike verhaal weer te gee. Die Gilgamesj-epos is primêr gerig op die beskrywing van die helde se merkwaardige avonture, maar kan ook op ʼn dieper vlak gelees word as lewensiklus vanaf die ongeskakeerde geveg om lewe en dood tot die uiteindelike soeke na onsterflikheid. Dit is hierdie dimensie wat Vos in sy gedigsiklus ontgin deur klemlegging op spiritualiteit. In die openingsreëls van die siklus word ‘n mistieke handeling opgeroep

Skep teen skemer suutjies asem

en doop julle voete in olie

voordat julle na Uruk vertrek.

Dat een van die belangrikste verhale, nl. dié waarin Gilgamesj en Enkidu die monster Huwawa dood, nie in Vos se siklus opgeneem word nie, asook sy onderbeklemtoning van Gilgamesj se handelingspatroon, illustreer die digter se klemlegging op mitiese verhaalinhoude met ʼn argetipiese karakter en sy doelbewuste vermyding van sogenaamde heldedade en oppervlakkige menslike konflik.

Ek dink byvoorbeeld ook aan die gedig Zeus swig uit ʼn latere bundel wat saamgestel is uit enkele grepe uit Boek XIV van die Ilias. In die bronteks is dit die gedeelte waar Hera wraak neem op Zeus. Wanneer sy hom by die hoogste spits van Ida met die baie fonteine sien sit, staan daar in Van Rensburg se letterlike vertaling: maar hy was haatlik vir haar hart. In Vos se gedig word egter min melding daarvan gemaak. Die klem val eerder op die liefde en die romantiek. Die gedig eindig met die reëls:

Vir hulle laat die aarde die veld bot

en groei die dounat lotus, die saffraan

en die hiasint bankvas vir die god.

 

“Kom, laat ons ons in die liefde verlustig,

nog nooit het die liefde vir ʼn vrou

my hart só oorstroom en versadig nie.”

Hierdie voorbeelde behoort ʼn aanduiding te gee van ʼn bepaalde tradisie waarbinne Cas Vos se Fragmente uit die Ilias gelees moet word – ʼn tradisie wat natuurlik redelik algemeen in die letterkunde voorkom. Wat Vos in die bundel onder bespreking doen, is reeds ʼn gevestigde praktyk in sy oeuvre.

Net soos die verwerking van tekste vir TV of film, is vertaling in wese ook ʼn redelik radikale vorm van oorvertelling. Soos ʼn film of ‘n kinderweergawe van ʼn verhaal, word vertalings ook aangepas vir bepaalde gehore en bevat dit in sigself getuienis van die skrywer se ideologiese intensie, sy teikengehoor en sy lesing van die bronteks.

Veral wanneer slegs dele van ʼn teks vertaal word, gee dié dele wat gekies word ʼn aanduiding van watter aspek van die teks vir die vertaler die swaarste weeg. Wanneer Vos by die vertaling van dele van die Uruk-fragmente kies om die heldedade te verswyg en op die spirituele aspekte van die verhaal te fokus, herskryf hy dus die mite op so ʼn wyse dat dit die tyd en die spesifieke handelingsmomente oorskry en dat dit wat durend is in die mens se lewe, die kernverhaal van sy vertaling uitmaak.

Ook in die Fragmente uit die Ilias word met ʼn baie spesifieke doel ingefokus op die lang verhaal. Ons het hier beslis te make met ʼn vertaling wat op ʼn meer akademiese gehoor gerig is, in ag genome die beduidende persentasie van die boek wat uit paratekste bestaan. Die digter is beslis bewus daarvan dat die lees van die vertaalde teksfragmente nie metonimies die hele teks kan laat saamresoneer sonder dat die leser kennis dra van die verhaalverloop van die oerteks, die agtergrond waarteen die narratief afspeel, die Griekse godedom en selfs die vele herskrywings van die teks nie. Hoe minder kennis die leser het van die bronteks, hoe geringer sal die impak van die vertaling op die teikengehoor wees. Daarom sluit die digter/vertaler die volgende aspekte as inleidende deel van die teks in:

1 Wat die Ilias en die Odusseia is; 2 Die invloed van Homeros se werk op die kultuur van die Griekse Oudheid; 3 Die komposisie en die outeurskap van die Ilias; 4 Die Homeriese versmaat en die invloed van die Ilias op die poësie as sodanig; 6 Verwerkings en vertalings van die Ilias in Afrikaans; 7 Besinning oor vertaling as sulks en motivering van die digter se vertaalstrategie. Hierdie gedeelte het 109 bronverwysings. Daarna volg ʼn afdeling Die Ilias op die weegskaal van die tyd waarin die sentrale konflik en die tematiek van die Ilias in oënskou geneem word en hoe dit tot vandag toe nog tersaaklik is deurdat dit steeds die mens en sy strewes versinnebeeld. Vervolgens volg ʼn kontekstualisering en ʼn opsomming van die inhoud van elk van die 24 boeke van die Ilias. Die slotgedeelte bevat bibliografiese verwysings en verklarings van persoonsname wat in die teks voorkom.

Hieruit behoort dit duidelik te wees dat die vertaler wil sorg dra dat die fragmente van die Ilias-teks wat die hoofdeel van die teks uitmaak, wel genoegsaam sal resoneer met die vele weergawes van die Ilias wat deur die eeue en die millenia vertel en neergeskryf is wanneer die Afrikaanse leser dit lees.

Die mitologiese aspek van die Ilias waarop Vos in hierdie vertaling infokus, blyk reeds uit die motto: “ʼn Siel … walg van ons stryd om net te seëvier en van ons wapengekletter.” In sy bespreking van die Ilias in die inleidende deel van die bundel skryf hy: “Dit is ʼn treurspel van gekrenkte trots, haat en wrok, wraak en vergelding, twis en versoening, viendskap en liefde, en van alle menslike emosies. Dit is die soort treurspel wat ook in ons tyd en lewe sou kon afspeel.” En in sy bespreking van die invloed van die Ilias op digters van alle tye, skryf hy: “Elkeen [elke digter] soek die groter prentjie van sy tyd en reise binne die klein landskap van die groot kosmos waarin hy leef.” Lees ʼn mens nou Vos se poëtiese verwerkings van fragmente van die Ilias, is dit presies wat hy doen. In sy kontekstualisering van Boek VIII van die Ilias vergelyk die digter byvoorbeeld eksplisiet die antieke oorlogvoering met moderne taktieke en verwys hy spesifiek na die ooreenkoms tussen die Eerste Wêreldoorlog en die Trojaanse Oorlog.

Kyk ʼn mens dan na wat Lotman die “sintagmatiese organisasie” van die teks noem, dus na Vos se poëtiese teks, is dit met die eerste oogopslag duidelik waar die digter die klem laat val:

Boek I is byna woordeliks vertaal uit die bronteks en beslaan 8 bladsye . – omtrent ʼn agtste van die teks van 24 boeke. Daarin word die agtergrond vir die stryd tussen die Trojane en die Achajers vertel. Lotman heg groot waarde aan die raam of die grense wat die kunswerk skei van alles wat daarbuite lê – dus die begin en die einde van die teks. Hy wys daarop dat die meeste mites begin met ʼn ontstaansverklaring waarin oorsaaklikheid geïmpliseer word. Wat Cas Vos se vertaling van fragmente van die Ilias betref, dui die klem op die begin van die teks (en die byna terloopse einde) daarop dat in sy teks – soos in ʼn mitiese verhaal – die klem val op oorsaaklikheid: hier gierigheid, wraak en weerwraak, verraad, liefde, liefdestwis en hegte vriendskap. Indien die leser weet wat die dryfvere agter die bloedige Trojaanse oorlog was, val die handelingsmomente wat uitgebeeld word, maklik in die groter prentjie in en behoort die leser dié grepe waarskynlik as metonimiese verwysings na die geheel te ervaar.

Kyk mens nou kortliks na wat vertaal word, blyk dit dat ten minste een kort fragment uit elk van die 24 boeke vertaal word om kontinuïteit te behou en om die teks as geheel op te roep, maar dat sekere handelingsmomente meer volledig uitgebeeld word as ander. Dit is duidelik dat dié verhale waarin die klem val op aspekte soos verraad, stryd, wraak, liefde, vriendskapstrou en verlies die uitvoerigste aandag geniet – alles menslike eienskappe waarmee die moderne leser kan identifiseer: Boek 6 – waar Hektor vir Alexandros verwyt dat hy die stryd begin het en nou in die stad bly in plaas van te veg. Baie klem word geplaas op Hektor se afskeid van sy geliefdes. Boek 16 – Achilles se weiering om te veg omdat Agamemnon hom beledig het, asook Patroklos (Achilles se geliefde vriend) se einde. Boek 22 – Achilles se wraak op Hektor omdat hy Patroklos se lewe geneem het en die dood en vernedering van Hektor. Weer eens word ʼn redelike groot deel van die gedig gewy aan die leed van Hektor se vrou, Andromache en haar klaagsang oor haar gestorwe eggenoot.

Oorkoepelend sou ʼn mens waarskynlik kon beweer dat die digter daarmee reken dat sy poëtiese fragmente van die oerteks metonimies by die lees sal funksioneer en sal resoneer met die moderne leser se ervaring of kennis van oorlogvoering. Klem op die begin van die teks en die algemeen-menslike eienskappe wat die tematiese lyn in die poëtiese weergawe van die teks vorm, aktiveer argetipiese, mitologiese waardes waarmee die moderne leser kan identifiseer: die universele verskrikking van oorlog wat dikwels deur die strewes van enkelinge gedryf word, verlies, rou en die hele spektrum van liefhê. Dié keuses en vertaaltegniek het uiteraard ook implikasies vir die interpretasie of herinterpretasie van die oorspronklike teks deur die teikengehoor. Die skrapsheid van die narratiewe elemente en die sterk liriese bou van ʼn groot aantal van die fragmente, maak van hierdie teks ʼn oop teks met baie leë plekke (lacunae) wat op kreatiewe wyse deur die leser ingevul kan word … of nié!

 

Wat die ou monnik aan die einde van The name of the rose oor sy vertelling en die fragmente wat hy in die ruïne gevind het dink, is dalk ook op hierdie teks van toepassing:

The more I reread this list the more I am convinced it is the result of chance and contains no message (…)  And it is a hard thing for this old monk […] not to know whether the letter he has written contains some hidden meaning, or more than one, or many, or none at all.

 

(Hierdie artikel is verwerk uit ʼn referaat wat ek op 1 September 2016 by die ALV-kongres in Potchefstroom gelewer het).

Bronverwysings

Jones, Francis R. 2006. ‘Geldshark Ares god of War’: Ideology and time in literary translation. The Yearbook of English Studies, 36(1):191-203.

Lotman, Yuri. 1981. Die Struktur literarischer Texte. München: Wilhelm Finck Verlag.

Tymoczko, Maria. 1995. The metonymics of translating marginalized texts. Comaparative Literature, 47(1):11-24.

Yoon, Sun Kyoung. 2014. Popularising Homer. The Translator, 20(2):178-193.

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Marlies Taljard: Fragmentering en rekonstruksie”

  1. Maria Snyman :

    Marlies, “Fragmente en Rekonstruksie” herinner my aan Anne Carson se woorde in die afdeling “SPILL” in Decreation (2005), naamlik “you will have been thrilled by its documentation” en “each enjoys it quote by quote” soos dit in die onderstaande dele verskyn en waarin die woorde “transposes violence of fists into violence of syntax” vir my dan ook die ‘morele’/dekonstruktiewe/pardon de ne pas vouloir dire/“pardon for not meaning (to say)”/de-onto-teleo-teo-logiese punt is van ‘n smaak vir vertaling/ver-taling/skryf/lees/leef/hoe-om-te-wees:

    “The Sublime is a documentary technique. “[…]; objective, factual” (Oxford English Dictionary). Take Longinus’ treatise On the Sublime. This work is an aggregation of quotes. It has muddled arguments, little organization, no paraphrasable conclusion. Its attempts at definition are incoherent and tautological. Its key topic (passion) is deferred to another treatise (which does not exist). You will come away from reading its (unfinished) forty chapters with no clear idea what the Sublime actually is. But you will have been thrilled by its documentation.

    […]

    Longinus’ point is that, by brutal juxtaposition of coordinate nouns or noun clauses, Demosthenes transposes violence of fists into violence of syntax. His facts spill over the frame of their original context and pummel the judges’ minds. Watch this spillage, which moves from the man who hits, to the words of Demosthenes describing him, to the judges hearing these words, to Longinus analyzing the whole process, to me recalling Longinus’ discussion of it and finally to you reading my account. The passionate moment echoes from soul to soul. Each controls it temporarily, each enjoys it quote by quote.”

    Alle tekste/sisteme het oop plekke, logies voorgeskryfde momente van self-separasie – daar sal altyd ‘n sin/versameling van sinne/versamelings oorbly – gesien hoe “hervertelling metonimies van aard [is], omdat dit verwys na al die vorige vertellings van dieselfde verhaal wat aan die leser bekend is”, oftewel neerkom op ‘n spel van spore/traces van spore/traces (van wat moet/sou moes) gebeur (het), dit wil sê, van spore/traces van ‘n sekere arche-separasie.

    Ons word dus inderdaad – letterlik en figuurlik – gekonfronteer met “ʼn oop teks met baie leë plekke (lacunae) wat op kreatiewe wyse deur die leser ingevul kan word … of nié!”

    “Kom, laat ons ons in die liefde verlustig,
    […].”

  2. marlies taljard :

    Jy som dit skitterend op, Maria. Baie dankie vir die deel van hierdie besonder sprekende fragment!

  3. Maria Snyman :

    My plesier, Marlies. Ek is mal oor Carson se sin vir humor (en haar smaak vir die Grieke – word ons wêreld nie immers by die dag meer Grieks nie, letterlik en figuurlik; ek dink byvoorbeeld aan die akademie, aan #feesmustfall?)

    Jammer vir die ‘vertaling’ van jou titel (van “Fragmentering” na “Fragmente”) sowel as die verkeerde plasing van die hakie om (van wat moet/sou moes) – dit moes gewees het: van wat (moet/sou moes).

    Wikipedie vertel (heel vermaaklik) oor Longinus:
    “Longinus, sometimes referred to as Pseudo-Longinus because his real name is unknown, was a Greek teacher of rhetoric or a literary critic who may have lived in the 1st or 3rd century AD. Longinus is known only for On the Sublime. Longinus was greatly influenced by the large amount of traveling he completed in his youth. He journeyed to countless cities such as Athens, Rome and Alexandria. While on these trips, he attended lectures about philosophy, undoubtedly shaping his own beliefs. One of Longinus’ favorite philosophers was Plato.”

    En ons onthou, soos Derrida (1995:123) mens in “Khōra” in sy boekie On the Name daaraan herinner, dat die Grieke nie net meer oor die “origin of Athens: according to Egyptian scriptures” by ‘n Egiptiese priester moes leer nie, maar ook van hul “‘marvelous exploits […]’” en waarvan één daarvan “must have been real, or else it would not have been” “‘the greatest of all”’ (Timeaus 17a-20e).

    Vos (en Protea Boekhuis, 2014) doen Afrikaans dus ‘n groot guns met sy Fragmente van die Ilias, en jou artikel gee ons dus ‘n lekker voet in die deur vir die trippie waarop hierdie teks mens plaas – mens “nodig [dalk] verskriklik drank” (Krog) “voordat [mens] na Uruk vertrek” (Vos)?!

  4. marlies taljard :

    En natuurlik is die “Ilias” ook maar ‘n fragement, want daar is ‘n hele korpus verale wat oor die begin van die Trojaanse Oorlog handel en wat Homerus nie in sy vertelling insluit (wat begin in die 9e jaar van die oorlog). ‘n Mens kan eintlik ook nie die “Ilias” werklik verstaan as mens dié verhale nie ken nie.