Breyten Breytenbach. weer en verweer : maanpoen vir die 16de September 2016

weer en verweer : maanpoen vir die 16de September 2016

                                       as monoloog vir twee monde

 

« In the evening I finished reading a book, and because I was feeling so alone,

   I buried the book on the edge of the forest with a borrowed spade »

Werner Herzog, Conquest of the Useless

 

« We live in order to remember that we know »

Imre Kertész, Kaddish for an unborn child

 

« kyk maan

   eet pampoen

   breek wind »

Basjô

 

ou Woordnar het vir hom ‘n maan probeer pluk

vir sy verjaardag die sestiende septimmer

by ontstentenis aan die immer ontwykende pampoen

wat tog alleen die versoening is

tussen metafoor en ondergaan

want al swel die vrug hoe boepensboer

bly blink die skedel in die moer

 

het hy gedog, gedagtig aan Dogen –

ook maar ‘n goddog – wat beaam

dat maan alle verstand is en alle verstand maan

terwyl hy met ‘n kwas donker ink

die glans van denke in die water laat sink

 

nie weer-gee nie, maan hy hom toe,

beklink eerder saam-wees

en bedink dat daar sand in die ink is

en musiek in die sand

en musiek is beweging

van stilte tot stilte

 

al verg die soeke na die tekens van betekenisse

in die nag ook die kromme note

van ‘n volgehoue kontsentrasie

 

gaan plant liewers jou woorde soos klippe

dat die maan op mag kom

brom sy Vrou –

kyk, die pampoen het haar lankal versoen

met die vrotword van alle vesel

verby die ontvlesing, vergeet en verdwyning

van gedagtes,

waar net die wéérsaam en gééwees van die hand

soos krapspore oor die land van papier

om die maan se opkom en ondergaan

in lig te verduister

nog bestaan van stilte tot stank

 

wat gaan in godesnaam met jou aan ? vra sy –

mens sou sweer jy is met die maan gepla

 

so ‘n selfhandige vertoning terwyl die land brand ?

sit neer, sit neer jou seersaam woorde !

dis waar dat jy so lank gesoek het

maar dit beteken nie dat jy sal kry nie :

kyk, daar is musiek in die sand en ritme in die hand

en woorde bring wel die verskuiwing van ‘n diereriem

maar die swye van ligword hol ons uit

tot die vergaanskil van ‘n gedig

 

en om die patroon van maanpoen in die hemel

van aanhou skryf te soek

waar sy verslete soos ‘n skoen van seisoen

tot seisoen se verdwyning verslof –

om daardie versinde besinning,

die uit- en inkring van ‘n duisternis woorde

te wil binnesingsoen met lippe en tong –

daarvan kry jy tog net ‘n mond vol grond ?

 

wat se binnensmondiggeitheid is dit nog met jou ?

 

sit neer ! smyt weg ! gooi toe !

of gaan hang die woorde ten minste

aan die wasgoeddraad sodat son

die muwwe saadvlekke uit mag bleik !

 

as aas vir die sterre ?

pleit ou Woordnar –

ek kan die vingers nie laat ophou bewe

al is ek ook ‘n demokraat

en my mense skuldig

skuldig

skuldig…

 

o die maklike rymelary

sê sy

 

om die hand mak te maak

sê hy

 

maar dit gaan al so lankal aan

van maan tot maan

hierdie onderploeg van drome –

is dit dan verbeelding

of ‘n onthoude lewe ?

 

die tweetandvurk

van alleswetenheid

en weet van niks :

sou dit presies die skepding wees

om die ewige lewe

mee te eet ?

 

dit bly my immers by

tussen die twee uiterstes

van niks te weet nie

en alles te verstaan :

die middeweg

voetjie vir voetjie

in vryval

 

weer op reis deur die dag

waar afstande dans dat die stof so staan :

verlede en toekoms één dynserige

lugspieëling van lig en lafenis

as bymekaarkombestemming

net-net nooit bereik

 

o reisigervoëls

julle wat ‘n streep trek deur die hemel

met julle hoë vreugdeklief suide toe :

vlieg stadiger

sodat ek ‘n kiekie kan neem

om te onthou

niemand vergeet vir altyd

die geboortegrond nie

 

en daardie trosse ligte in die vallei –

lamppale, stoep, leë kantoor, liefdeskamer –

sjjjtt…

maak donker

sodat ons kan luister

na die helder vlerkgeklap van sterre

 

ek wéét ek moet begrawe :

skerwe spieëls, slagtersmesse, blinde oë, verstarde

voëls, windrose se haanrigting-dui

na liefdesfluistering se utopie, roubriewe,

die gewig van Boeddha se kesa, dooie

koeie in die sloot en bestaanskrete uit die skoot…

tot selfs die onthou aan jou, Vrou

 

maar herken ook die gesig van glas –

hoe kan dit anders ?

ons is dan gedeelde goed –

proe self die uitspreek op die tong –

ons is dan familiebloed ?

 

ek kan tog nie meer as om te wil lewe nie

al is ek ook ’n demokraat

en my mense skuldig

skuldig

skuldig

 

om uit die rommel en drek en reste van vergaan

weer met die woorde op te staan

 

pietsnot, t’neitjie, sporrie, varkiesknol,

vygiebos, gousblom, bokbaaivygies, sandsonate,

sterretjie, botterblom, bittergousblom, perdebos,

dassiegousgesig, Namakwalandse madeliefie…

 

en niks ween so soos

‘n olyfboom

wanneer die wind waai nie

 

jy sê my binnensmondsemompels

is om van pampoen ‘n maan te maak

en dat die mond te geheim is

om pyn nie te voel nie ?

 

dat woorde

beeldbeweging bring

 

maar

 

stilte

hol

ons

in

?

 

luister dan :

om terug te keer na middernag

die hele wêreld wyd verskuil

die ganse hemel ene maan

sodat wolke die einders soom

met ‘n versilwering van as

oor die ruimtekleed

en die sterreveld ‘n kouevuur

se knetterende kole

 

die leë huis vol soet musiek

van ‘n beurtsang oor die radio

wat jy vergeet het om af te sit

 

en besluit om aan te los

wanneer jy nou verder slaap

sodat jy, Vrou, wat hierdie trajek

êrens op reis in koue papier

so lank hierna sal lees en deel

jou die klanke mag verbeel

as na-geur van die nag vol maan

 

luister : skemeroggend effense klammigheid

as boom en struik die nag

uit asem

maan bo die heuwel die wakende

oog

alles verstaan

 

moenie vingerwys nie

sit kruisbeen op die balkon

om die werf se geure in te adem

‘n trilling frases met ritme te vang

lyf ‘n stapeltjie bene gegleuf

in vleis

met vel omspin

 

herinnering is ‘n vreemde ding

daar was nagte se jakkalsroep

in die verte

en watter stiltes maak nou ‘n lushof

van nagtegale se sang

en vroeër het sonbesies selfs in die donker

hul ligdeurleefde sutras geneurie

dit was die geritsel

van kreukels in biddendes se klede

 

luister :

onder in die vallei ‘n hond se blaf

ook die oomblik van rillende

sterwe is goed

om in die moment van lewe

weer te mag vergaan

 

is dit verbeelding of onthoude lewe ?

 

buig diep                                  prewel

uit die onsigbare sal die lig daag

stadig soos asemhaling

 

die maan is pampoen en pens en parool

in die blou bodemloosheid

op

gegaan

 

 

Breyten Breytenbach

Katalonie

 

 

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Breyten Breytenbach. weer en verweer : maanpoen vir die 16de September 2016”

  1. Baie geluk met die hoge verjaardag! mag daar nog vele wees…
    As klein cadeau, ‘n “Afrika”-vers, vertaal en verwerk uit Celan se laatwerk:

    Met klein klipwerke volgestopte
    skenkend-verskenkte
    hande.

    Die gesprek spin
    van punt na punt,
    geskroei van
    sproeiende brandlug.

    ‘n Teken
    kam dit bymekaar
    as antwoord op ‘n
    broeiende rotskuns.

    (vert. HvV – Paul Celan “Mit Mikrolithen”, Lichtzwang, 1970)

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    Liewe Helize: Dankie vir die kosbare cadeautjie (soos die Nederlanders sê). Ek het hierdie vers glad nie geken nie. Miskien sou die ongelukkige Celan woestyn toe moes gegaan het…Die brandlug sou dalk kon help met die heimwee na waterdood!

    En aan Engela en Leon en Waldemar (ek spring nou van een kroniek na die ander): baie dankie vir die goeie wense. Ek neem dit ter harte, berg dit op, en probeer keer dat die ander verwante (jy het hulle genoem, Waldemar) nie alles tegelyk opeet nie. Want waar sal ons koets vandaan kom as ons die pampoen sou verslind?

    gisteraand het die maan oopgeskulp
    en nou glim ‘n perel stilte
    in die donker see
    as rigtingboei vir dolfyne

    (Daar moet natuurlik ‘n kappie op die eerste (skie)e van die peren wees, maar die toetsbord wil nie. So ons sal maar kaalkop gaan boete doen.)

  3. Vroeg vanoggend was die ondergaande
    maan oor Berlyn donkeroranjepam-
    poenrooi – veels te mooi om ooit te kon
    eet!

  4. Charles Tait :

    Pampoenresep

    ʼn Anderman het gaan soek na ʼn pampoen wat ʼn man sou koop vir sy verjaardag die sestiende September. Die tyd was nou hier en hy was honger. Wat jy waar gaan kry? brom Anderman se vrou. “Die pampoen is nou president.” Dit was waar. Al wat naby die pampoen kon kom was die vlieë of soms ʼn swaeltjie om aan sy pitte te pik. Was dit dan te veel gevra om die president te besoek op pampoendag, die sestiende September? Die maan was vol en later in die dag het dit voor die son verby gegly. Die anderman het op die balkon gaan staan om te sien of die maan nog in die lug sou hang. Meneer die president! Wat soek jy hier? Verbaas om te sien dat die pampoen op ʼn plastiek tuinstoel sit. Hy wou sy vrou roep om tee en beskuit te bring, maar sy sou haar nie steur nie. Die pampoen het begin huil en die man het geweet dis omdat sy kabinetslede hom wil vermoor. Soos ʼn samaritaan druk anderman die pampoen onder sy arm en begin hol. Ek neem jou na die man op sy verjaardag die sestiende September. Met ʼn langbeen trap die dogtertjie van die maan tot die aarde. Sy is weer vol eise soos skoene vir haar kaal voete en gratis toegang tot universiteit. #pampoenmustfall. Wat het jy daar teen jou blad? Voor ʼn antwoord soos ʼn voël uit anderman se mond kon spat begin die pampoen te grom. Dis’n bom.Dis ‘n bom! Alles was skielik blou, toe rooi, toe weer blou. Soldate het gekom sonder ʼn geloei en die pampoen teen die straat stukkend gesmyt. Met ʼn glimlag het hulle anderman beboet en sonder skuldgevoel die nag ingery. Running with pampoen. R300. Anderman het sy kop vas gehou en gekreun wat gaan die man nou maak vir sy verjaardag die sestiende September? Hoe maak ek ʼn feesmaal op ʼn sypaadjie terwyl al die pampoenkenners vir ons loer. Jy maak nou so sê die maandogterjie aan niemand spesifiek nie:
    Halwe boerpampoen, ontpit en met skil en al in dik wiggies gesny; Olyfolie; kaneel; fyn gemmer; heuning (100ml.); Water. Sout na Smaak op die sestiende September.

    16 September 2016

    ‘n Onvolmaakte huldeblyk. Baie geluk met jou verjaardag, emeritus pampoensmous.

  5. Louis Esterhuizen :

    Van harte geluk, Breyten! Mag die nuwe lewensjaar ‘n stroom onverdunde vreugde wees. En dankie vir al die geskenke wat jy aan soveel mense op soveel terreine uitdeel … Bostaande gedig is ‘n voorbeeld daarvan.