Resensie: Indeks (Joan Hambidge)

Indeks

 

Indeks deur Joan Hambidge. (Human & Rousseau, 2016, ISBN: 978-0-7981-7296-7, Formaat: Sagteband, 129p.)

Resensent: dr Amanda Lourens

I

Indeks is Joan Hambidge se ses-en-twintigste bundel, en daarmee is haar status as die mees produktiewe digter in die Afrikaanse literêre wêreld stellig onbetwisbaar. Met hierdie feit in gedagte, is ’n leser se eerste vraag oor Indeks moontlik die volgende: Wat het ’n digter nog te sê ná soveel poëtiese produksie, en dit binne die bestek van ’n relatief kort 31 jaar?

Die leser se vrees dat Indeks dalk net ’n her-digting van bekende temas in die Hambidge-oeuvre mag wees en dat die digter se werk dalk besig is om te verval in ’n té gemaklike, selfs meganiese produksieproses, word egter vinnig besweer. Reeds die eerste paar gedigte in die bundel val op vanweë die tegniese afronding, die inhoudelike digtheid en die emosionele reikwydte daarvan. Alhoewel die nuwe bundel op ’n manier ’n bevestiging en terselfdertyd ’n heroorweging is van temas waaroor Hambidge reeds herhaaldelik gedig het – onder meer verlies op verskillende vlakke, die pyn van die liefde, nabye familie, die reismotief, populêre ikone en ars poëtikale besinning – neem Indeks die oeuvre na ’n nuwe harmonie wat in sowel die digterlike psige as die tegniek waarneembaar is. Wanneer die bundel neergesit word, is die leser deeglik bewus van die fyn balans wat op alle vlakke sigbaar is – dit is poësie wat van ’n ryk voedingsbodem van intertekste en ervarings getuig, maar wat terselfdertyd gewis nie ontoeganklik is nie.

Om die bundel teen die agtergrond van die hele oeuvre te lees, is ’n taak wat nie binne die bestek van ’n resensie afgehandel kan word nie. Ten spyte van die talle bewuste spore en tekens van die digter se vroeëre werk (reeds die eerste gedig verwys eksplisiet na vorige bundels), sal dit dalk vir voornemende lesers meer waardevol wees indien hierdie resensie eerder die tekens van “vernuwing” daarin probeer naspeur. Terselfdertyd is dit dalk eerder ’n taak vir ’n nagraadse student om die heen-en-weer-gesprek binne die oeuvre te probeer karteer en sistematiseer.

Die bundel spreek naamlik duidelik van ’n fase in die digter se lewe waar daar besin word oor hede en verlede; daar word op ’n manier bestek opgeneem en na ewewig gesoek. In “Drie maniere om die Andes te beleef” (p.19) orden die spreker die verskillende fases in haar lewe aan die hand van haar belewenis van die bergreeks: eers as jongmens vir wie die berg ’n gedagtebeeld aan die hand van ander tekste is, dan as toeris wie se belewenis minder persoonlik is, en daarna as nadenkende volwassene vir wie die berg ’n metafoor word vir die skeiding tussen die driftige jeugjare en middeljarige tempering:

Die Andes-gebergte nou die breuk

vir dit wat heers in my gemoed:

eens die najaag van liefde se belewing;

nou die sobere soeke na heling.

Dit is dan hierdie “sobere soeke na heling” wat die vernaamste dryfkrag in die bundel is. Ek wonder ook of die laaste van die vier motto’s (naamlik dié van Ibsen oor selfaflegging: “To be oneself is: to slay oneself”) nie ook met hierdie soeke verband hou nie: heling en sluiting noodsaak ook verlies, veral van dié dinge wat in die pad van heling staan. En in “Nadraai” (p.125) in die laaste afdeling wat op verskillende vlakke ’n bestekopname van Pablo Neruda en sy werk is, staan die wens om sluiting en harmonie sentraal. Alhoewel dit in die betrokke gedig veral handel oor die saamsnoer van twee wêrelde, onder meer deur die bemiddeling van vertaling, is die groter implikasies daarvan nie te ontken nie – Neruda se eie sterwe bring ook sluiting:

Nederig versoek jy dat jou kamerade

jou op die Isla Negra moet begrawe,

daar waar die aarde en die hemel sluit.

Om twee wêrelde, twee kontinente soomloos

saam te snoer: ’n Spaanse ode in Afrikaans.

 “Ars poetica” (p.11) is die openingsgedig. En ten spyte van die moontlike vooroordeel wat ’n leser teen so ’n redelik oorgebruikte titel kan hê, is dit ’n helder en eerlike aftasting van die eie digtersloopbaan. So, vertel die digter, was sy eens meester van verskeie digvorme en tegnieke wat moeiteloos uit haar pen gevloei het, maar was sy die slagoffer van ’n onvermoë om op onbevange wyse na die self te kyk:

Daar was ’n tyd

toe ek sonder slag of stoot

’n versreël of inval

netjies kon ómtower in ’n aanklag

of ’n neulerige neuriesang.

Dit was die tyd van palinodes

en verlore simbole

met matelose selfbedrog.

Ironies genoeg word juis hierdie verklaring in besonder knap versreëls verwoord. Die digter se belewenis van die skeppingsproses in die hede word vervolgens verwoord aan die hand van die gedig se motto “Thy words are like a cloud of winged snakes” (Shelley):

Nou is dit helaas beurtkrag

met die digterlike proses.

’n Gedig word onderbreek:

bly broeiend ónafgerond,

nes reptieleiers in ’n rivierbedding

waar mummelende mulvisse

eens vertoef het néffens muisvalke.

Dié gedwonge beelde stip alreeds

die onmag en frustrasie woordeloos aan.

Miskien, miskien sal my beelde

weer eendag helder skyn.

Soos ’n wolk van gevlerkte slange?

Weer eens val die knap versbou en vindingryke beelde (allermins “gedwonge”) op, sodat die leser moet wonder of die digter nie hier met ’n slinkse spel besig is nie – om ’n versugting oor verlore digterlike vaardighede in sulke vaardige reëls te verwoord, moet immers ’n vorm van bedrog wees? (Die leser vermoed later dieselfde soort ironiese spel in “Jamais”, p.102-103, met die lees van die versugting “o waar sal my gedig vandaan kom?” aan die einde van ’n knap gedig.)

Die reismotief en die digkuns word in die vaardig verwoorde “Die anatomie van reis” (p.17) aan mekaar geskakel, en met die titel in verband gebring:

Elke digter het ’n indeks,

’n plattegrond of kaart.

In elke stad is daar ’n katedraal,

’n kerkhof, bushaltes, soms ’n hawe,

hotelle – en ander merkers

vir die besoeker voor ’n monument

van ’n vryheidsvegter, insurgent

of ter-dood-veroordeelde, bekend.

Elke bundel het ’n inhoudsopgawe

met verse oor die liefde of die dood.

Selfs ongeskryfde verse, ’n stilpunt,

word die subte of die ondergrond

wat die reisiger nog mag neem;

vereers wagtend by ’n bushalte

of taxihalte op pad na ’n baken,

immer op pad tussen hier én daar.

Partykeer is die reis vooruit beplan

met koepons oorhandig aan ’n gids;

telkemale is dit die onverwagse koers

van Frost se the road less traveled

of ’n indraai na ’n holte vir die voet,

’n klein boetiekhotel of ’n kroeg

wat iets oopmaak, openbaar:

Mi gruwelt dat ic leve? Of eerder

Dank God ek is uiteindelik hier?

“Indeks” volgens die HAT is onder meer “’n opgawe van die inhoud van iets, ook die alfabetiese lys name/onderwerpe ens. agter in ’n boek met die nommers van die bladsye waar dit gevind kan word; register”. Indeks hier is veral die gids wat toegang gee en die roete aandui, soos ’n inhoudsopgawe ten opsigte van die teks; dus die gelykstelling aan ’n “plattegrond” of “kaart”. Vir elke digter is daar dus ’n kaart tot sy/haar digkuns: die fyn ingestelde leser kan die roete deur die oeuvre heen volg en die belangrike merkers oplet, en algaande daarmee vertroud raak. Maar terselfdertyd is daar ’n waarskuwing ingebou vir die lesers wat mag reken dat die digterlike roete geen verrassings meer sal oplewer nie. Soos werklike reise nie altyd deur planmatigheid beheer word nie, is dit die onbeplande koersafwyking wat soms tot die grootste winste lei, soos hier in die slot verwoord word: naas die wete van die ondraaglikheid van die lewe, is daar dankbaarheid by die moment van aankoms: “Dank God ek is uiteindelik hier”.

II

Op die stilistiese vlak word veral die eerste twee afdelings in die bundel (die ongemerkte eerste asook “Reiskaart: Tarjeta Embarque”) gekenmerk deur ’n nugter trant wat terselfdertyd ironies gelaai is, en vir van die beste verse in die bundel sorg.

Die twee gedigte onder die titel “Argentynse blik”(pp.22-23) werk onder meer met die kontras tussen hede en verlede – nie net ten opsigte van die manier waarop reise onderneem word nie, maar ook wat die digterlike werkswyse betref”. Waar reise (en by implikasie digwerk) vantevore sonder veel beplanning en voorbehoude onderneem is, is die digter in die hede meer nougeset; alles word “haarfyn beplan” en die reisgedigte self is die gevolg van ’n bewuste maakproses na aanleiding van versamelde indrukke. Tog kom die korrektief op hierdie versigtige proses (en gevolglik futlose gedig) in die slot, en wel in die stem van Johann de Lange, wanneer dié vra vir ’n gedig “as kladpapier wat die hele Iguassu / met een diep intrek van asem omskep tot ’n waterwoestyn”. In die tweede en ewe vaardige “Épater la bourgeoisie”, word die nagevolge van jeugdige misstappe teenoor die lewenslange worsteling met die ouerfiguur gestel, en daar word gevra waarom eersgenoemde soms ’n veel groter indruk maak as die durende pyn en poëtikale produksie wat die gevolg van laasgenoemde is:

Waarom, wonder ek, word ons onthou om die onbedoelde,

die jeugvergrype, die San Andreas-fout

van die lyf, die onvergeeflike vloek-in-die-vers

eerder as die onverwoordbare pyn wat voortslinger

in gebreekte sonnet na gebreekte sonnet?

Die “lykdigte” in die derde afdeling – na aanleiding van die dood van uiteenlopende figure soos die bejaarde digter T.T. Cloete en die jong akteur Heath Ledger – is oor die algemeen minder treffend as die gedigte in die eerste twee afdelings, alhoewel die openingsreël van “Inge Lotz” (p.27) die spesifieke soort verwonding in die afwesigheid van afsluiting haarfyn verwoord: “Tyd vermenigvuldig alle wonde in die indeks van verdriet.” Die woord indeks word dan hier ook in een van sy ander betekenismoontlikhede gebruik, naamlik ’n “verhouding afgelei van ’n reeks opnames, gebruik as aanduiding van ‘n bepaalde toestand; verhouding (of die formule of syfer wat ‘n sodanige verhouding weergee) van een meetbare tot ’n ander, moeiliker meetbare waarde” (vergelyk die WAT).

Die vierde afdeling (“Inventaris”) is ook nie so onthoubaar nie, alhoewel die laaste vyf reëls van “Silwervis” (p.38) ’n uiters vaardig berymde gesprek met die Eybers-teks is:

Eybers meen dat angs

tydelik kwel; dis berou

waaroor jy en ek

ewigdurend

kajuitraad hou.

Die vyfde afdeling (“Vinger in die lug”) aktiveer die betekenis van “indeks” as die wys- of voorvinger, en dit is ook in hierdie afdeling wat Hambidge se poëtiese aanvoeling sigbaar raak wanneer sy die bekende spel met “die weduwee Viljee / in swart geklee” verder voer. Sy wys die tipiese stilistiese kenmerke (en hebbelikhede) van verskeie bekende Afrikaanse digters vernuftig uit, soos byvoorbeeld in die volgende pastiche van Cloete (p.52):

Die honde en die weduwee

in jukstaposisie

met die see

.

twee honde een weduwee

die hoek van my oog in presisie

’n wiskundige boog.

In die sewende afdeling (“Tweede indeks”) is daar gedigte oor bekende vrouefigure uit die wêrelde van literatuur, filosofie en kuns, onder meer Simone de Beauvoir wie se bekende aanhaling “Jy word nie ’n vrou gebore nie; jy word een gemaak”, ironies saamklink wanneer daar oor die verwonding en aftakeling van onder meer Amy Winehouse en Ingrid Jonker gedig word. Veral die gedig oor Ingrid Jonker (p.75) – met sy verwysings na die onlangs verskene Vlam in die sneeu ­– bied ’n veel meer komplekse perspektief op Jonker as wat normaalweg gevind word, en word op ’n manier ’n vingerwysing na die Afrikaanse sisteem wat dikwels van die gestorwe digter ’n kommoditeit maak.

Die reismotief en die verband met die digkuns kom veral na vore in die negende afdeling “Woordelikse register”, met sterk gedigte soos “Jamais”, “Tyd” en “Andes” waarin die Suid-Amerikaanse reiservaring sterk figureer. “Jamais” werk met ’n element van vervreemding (na aanleiding van die term jamais vu wat op ’n ervaring van nie-herkenning van bekende dinge dui – ’n soort teenpool van deja vu), maar wat terselfdertyd tot die ontdekking van die nuwe in die bekende lei. In hierdie gedig vertel die digter hoe sy haar na die bestaande literatuur wend om inspirasie vir haar eie gedigte te vind – onder meer lees sy gedigte oor reise na eksotiese bestemmings, byna in ’n soort ironiese ontkenning van haar eie bekende reisgedigte. Die onverwagte insig meld hom aan in die gedaante van eenvoudige mense wie se lewens deur ’n wete van die groter harmonie van dinge bepaal word:

[…]

My drome pleeg winkeldiefstal

in al die bloemlesings oor reise

.

na verre, eksotiese plekke

’n sabbatsreis ver met name

.

soos Puerto Montt en Isla Negra

waar houthakkers en waterdraers

.

leef met ’n lewe vol nou

en geboorte en dood die siklus

.

wat alles voltooi en nooit

is daar verwyt oor wat kon wees

.

of verspeelde kanse of onmin

oor ’n verlore liefde of verbintenis

.

nooit nooit nooit onvergenoegd

nee tevree met die siesta

[…]

Aan die einde, nadat verskillende poëtikale invloede verwerk en mee in gesprek getree is, is daar ’n laaste afdeling met ’n reeks van twaalf gedigte oor Pablo Neruda en sy werk. In die “Neruda: Identikit” (p.124) word die Chileense digter gehuldig as die ware digterlike meester:

Dit is alles so:

in jou komplekse lewe

’n afgeskilde ui,

dat jy, Pablo Neruda,

gebore Neftalí Ricardo Reyes Basoalto,

die President is en bly

van hierdie okkupasie

genaamd, die Poësie.

Die aard van die digterlike lewe word veral verken, en dit is veral die verwonding van die digter – hetsy deur verlatenheid, teleurstelling of rugstekers – wat sentraal geplaas word.

Die bestekopname in hierdie afdeling bly egter nie vassteek in die gegewe van pyn nie, en in “El Cóndor Pasa”(p.123) word ook Indeks se basiese stellingname oor selfaflegging en die harmonie van dinge via Neruda verwoord:

Klim op, hoër na selfloosheid

– na stilte volledig.

Die kosmiese plan hier aanwesig,

argetipies in die roerlose rotse afgedruk – ontdaan

van nuttelose oordaad of menslike verdelging.

So ook die reis na die self: ’n smagting

na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.

Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.

Uiteindelik is Indeks dan die neerslag van die volwasse digterlike belewenis, en dit is die belangrikste wins van die bundel: om te sien hoe daar teruggekyk word op vorige gesprekke en reise, en die vernaamste reis – na die self – nou onderneem word. Die indeks-gegewe word geskakeerd verken en aangebied, en uiteindelik word van die leser verwag om self ’n roetekaart tot die bundel te teken en op die proef te stel.

Indeks is gewis meer as die moeite werd en behoort sy plek in die Hambidge-oeuvre in te neem as ’n bundel wat ’n goeie en selfs verrassende leeservaring waarborg.

*

Bookmark and Share

Comments are closed.