Resensie: By die nag se wit kant in. (Etienne Terblanche)

32332490

 By die nag se witkant in – Etienne Terblanche

(Protea Boekhuis, 2016; ISBN 9781485306016, Sagteband, Bladsye: 104)

Resensent: Marlies Taljard

“In my vingers vonkel ʼn miljoen beginne”.

Hierdie reël uit die gedig Gloed verwoord een van die vernaamste temas wat Etienne Terblanche in sy debuutbundel By die nag se wit kant in ontgin, naamlik die voortdurende proses van verandering en beliggaming, die dinamiese interaksie tussen lewende en sogenaamd nie-lewende materie. Maar natuurlik is hierby inbegrepe ook ʼn verwysing na die skeppingskrag van die digter – in hierdie bundel ʼn digter wat daarvan bewus bly dat verskillende liggame in die heelal mekaar beïnvloed en in intieme interaksie met mekaar saamleef en selfs déúr mekaar leef, mekaar moontlik maak, mekaar skep en ten gronde rig.

ʼn Mens sou Terblanche se bundel binne twee verskillende raamwerke kon lees wat sterk ooreenkoms met mekaar vertoon en mekaar onderling aanvul, naamlik die nuwe materialisme en die ekokritiek, sowel as ʼn spirituele raamwerk gebaseer in Oosterse (veral Zen-Boeddhistiese) praktyke. Laasgenoemde is ʼn eties-kulturele raamwerk, terwyl eersgenoemde teorieë hier spesifiek op die letterkunde van toepassing gemaak word. Ek wil begin deur enkele opmerkings oor die openingsgedig van die bundel te maak.

Oggendbrief

.

Beminde, uit suiwer hemelaarde gemaak,

vir jou skryf ek die stilte wat sing

en die sang wat stil is. Die agtergrond skyn

deur die reëls, nes die son deur takke kom.

Jy laat my sien dat alles meer

as ek is (en dit is wat ek is).

.

Luister, jou seker oë en liefde

maak my die ronde fluitlyf

waardeur die asem bewe en styg.

En dat ek alles vergeet en deel

van alles word (en dit is wat ek is).

.

Ek moet jou so goed leer ken

soos die heldersagte blaar die plek

waar dit ophou en die lug begin.

Dit is veelseggend dat die eerste gedig in die bundel begin met ʼn koan-agtige stelling: “vir jou skryf ek die stilte wat sing / en die sang wat stil is.” Die koan is – veral in die Zen-Boeddhisme – ʼn bondige paradoksale stelling wat as meditasiedissipline vir monnike gebruik word. Die inspeling op die meditasiepraktyk en gepaardgaande stilword, luister na die klanklose lied van die sfere, aflegging van die ego en die bewuswording van die eenheid van alle dinge soos verwoord in die reëls “En dat ek alles vergeet en deel / van alles word …” mag hier wel daarop dui dat die digter die bundel as ʼn soort meditasie bedoel. “Jy laat my sien dat alles meer / as ek is (en dit is wat ek is)” dui op die aflegging van die ego – dit dui ook, in terme van die nuwe materialisme, op die bewustheid van die mens se nietigheid ten opsigte van die natuurlike wêreld waarvan hy deel uitmaak. Die reëls “Die agtergrond skyn / deur die reëls, nes die son deur takke kom” dui op die vloei van materie, op die deurlaatbaarheid van grense en die nie-soliede aard van alle dinge, want materiële dinge bestaan nie afsonderlik van mekaar nie. Die grootste deel van materie is immers leë ruimte en as mense bestaan ons uit verskillende elemente wat gedurig aangevul en vervang word; ons word beïnvloed deur wat ons eet, inasem, deur ons vel inneem, ensovoorts. Ook op spirituele vlak is die besef van die interverbondenheid van alle dinge in die heelal belangrik, aangesien dit deernis, ontferming en mededoë met die diere-, plante- en minerale ryke aanwakker. Dat die spreker in die gedig homself identifiseer met ʼn fluit – ʼn nielewende objek – onderskryf hierdie siening en dui selfs op transliggaamlike uitruiling deur klemlegging op die kontaksones van die menslike liggaam en materiële objekte. Die slotstrofe dui daarop dat die mens homself deelnemend in die liggaam van plante kan indink of, anders gestel, die bewustheid van die mens dat hy sogenaamd menslike eienskappe met plante (en diere) deel.

Hierdie pragtige liefdeslied kan inderdaad dien as rigsnoer aan die hand waarvan die bundel gelees wil word. In die daaropvolgende gedigte in die eerste afdeling van die bundel word daar tematies op dié gedig uitgebrei. Deurlaatbaarheid, herkonfigurasie van strukture en grense, die opgaan van die ego in die oneindige, asook die relatiwiteit van ons tydskonsep word verwoord in die kort gedig “Eerste sien”:

Die see skulp in jou oor,

huiwer in jou skouerkuil,

kolk ferm in jou lies.

Na miljoene jare, meerbeminde,

sien ek haar eers skugter

en toe oral in jou skuil.

ʼn Onderwerp wat by herhaling in die tersaaklike bundel voorkom, is die meet van die mens aan die byna oneindige – die sogenaamde hiper-objekte – wat die mens se begrip te buite gaan. Die son, die maan, die sterrekonstellasies en die oerknal is dinge waarmee die mens gejukstaponeer word en wat soms selfs betrek word om die beminde te beskryf. In “In die begin” word die hemelliggame eers met menslike eienskappe bedeel, maar dan word die personifikasie omgedraai en word die eienskappe van die maan op die vrou van toepassing gemaak om die uitruilbaarheid van materie en die denkfout dat vaste identiteitseienskappe kan bestaan, te ondermyn.

Die gedig “Die digter sing vir sy beminde” fokus op vloeibaarheid met gepaardgaande opheffing van grense en klem op die diffuse aard van materie en die relatiewe aard van konkrete dinge, veral in reëls soos “Ons vlieg deur die land van melk en heuning / en heuning en room in die flesse op die spens se rak / en my lied word solied en dis heuningroom”; ook: “Ons vind die woorde ‘eenkant’ en ‘elkeen’ gaan smelt.”

Die bekende konsep dat die kleine in sigself die grote bevat (en omgekeerd), word verwoord in ”Taoïs se lied”: “Sien in ʼn druppel slym / die heelal rym.” Hierdie (etiese) beginsel dui op oneindigheid (die Koninkryk van God is in ons), maar herinner die mens ook daaraan dat die heelal ons almal bevat en dat alles aan vervloeiing, verandering en vervorming onderworpe is:

… en ek gaan

in dié oomblik oop vir die bewende

niks waarin alles plaasvind,

en wortel skiet, blom verwelk en verder

in die hoë woestynwind

en eg soos die hemel se pad

weer die vormlose uit die vorm vind.

Hierdie beeld roep die Zen-beginsel op dat alle vorme altyd vormloos is en dat dié insig die soeker tot verligting (satori) kan lei.

Die beginsel van onderlinge verbondenheid waarna “Taoïs se lied” verwys, is natuurlik ook die basiese beginsel van die ekokritiek, wat by herhaling in Terblanche se bundel aan die orde kom, soos in die gedig Die Mzimvubu waarin die spreker die oseaan as lewende mede-organisme eien: “Jou toegemesselde / plattelandse oog gaan blou oop / vir en in die oseaan.” Verskeie ander gedigte in die bundel spreek ook van die spreker/digter se bewustheid van eko-kwessies en identifikasie met die natuur.

Ander temas wat in die bundel ontgin word, is byvoorbeeld die digter se bewustheid van woorde, hulle betekenisse en morfologiese bou. Om maar een voorbeeld te noem (uit “Afstand”):

Toe ek later teen die Gariep langs ry, kom haal

woorde my een vir een. Woorde soos Fluitjiesrietkraal,

ʼn fantastiese woord vol skerfies en rondings. Sy dans

tussen tande en kieste voor sy tonglangs daal.

In gedigte soos “Vlie” en “Henry Gelant se lied” word onbekende woorde en streekstaal gebruik om ʼn (verlore) tyd op te roep en/of dié tipe taalgebruik te dokumenteer. Dit is egter jammer dat in hierdie en verskeie ander gedigte, (soos “In die stad”, “In die sirkels lig”, “Anekdote van die wurm” en vele ander – veral langer – gedigte) die teks nie beter afgewerk is nie. Wat die keuse van rymwoorde betref, neem die digter nie die potensiële poëtiese krag wat in die rymwoord geleë is, in ag nie. In baie gevalle voel dit asof die eerste beste rymwoord gekies is, byvoorbeeld in “Blyplek” in die reëls “Ja, hulle sê vensters, slotte, hêndels / kry mens by, als verniet, gʼn verdriet.” Die bundel wemel letterlik van sulke voorbeelde. Nog ʼn steurnis by veral langer gedigte is die ondeurdagte woordgebruik en veral die gebruik van oorvloedige woorde wat geen bydrae ten opsigte van die gedig se betekenis lewer nie. Gedigte funksioneer veral by wyse van minimalisme, suggestie en implikasie en “betekenislose” woorde en frases doen afbreuk aan die kwaliteit van ʼn gedig. Ek dink hier aan woorde soos “Ja”, “O”, “sommer”, “maar net”, “tog”, “verskriklik” en “net so” en aan die herhalingstegniek waarvan die digter graag gebruik maak. Hoewel dié tegniek in die Europese Romantiek gewild was, vind moderne gehore nie meer aanklank by die deklamatoriese styl nie. Ek wil dié gedigte nie summier afkraak nie, maar in hierdie bundel moes hulle beter afgewerk wees – ek verkwalik die teksredakteur vir die feit dat daar in hierdie bundel oor die algemeen nie streng genoeg weggesnoei is nie.

Nog ʼn tema wat verskeie kere in die bundel opduik, is die dood, in gedigte soos “Tand, Ikoniese swanesang”, “Ywer” en “Hy bid om versoening met die dood”. In laasgenoemde gedig gaan dit onder andere oor die eenwordingsproses met die Groot Niet (of Alles, want alles = niks in die Zen-praktyk) deur ontbinding in die faktore waaruit ons materialiteit bestaan en klemlegging op die interaktiewe bestaan van alle materie:

Eendag sal ek kom lê, geliefde

Jy wat uit gemaalde klip, leem en humus

se nonsens irisse boontoe bou

totdat die blom bewus is van die sien.

.

Sal ek my kom oorgee aan alles en aan niks,

om so alleen te word met jou.

In “Hy sing ʼn lied vir die eindelose Wildtuin” identifiseer die spreker met die jakkals: “Een oggend is jy die jakkals.” Veral in die dood word die ooreenkoms tussen die spreker, die jakkals en die natuur duidelik, soos ook in die bostaande sitaat:

Stelselmatig, Kalahariseker word jou pels,

vlees, murg, en been weer silwerskoon poeier

en keer jy sonder meer na jou eerste sand terug.

.

Een oggend sal hy ook wegraak in die wind,

nes jy. Saam sink julle net so in die einste-einste baan

wat hom tot hier kon swaai, terug.

Dit is opvallend hoe dikwels die tema lewe-dood in die bundel voorkom, dikwels as aanvulling tot mekaar en as deel van die vloeibaarheid van alle dinge. In gedigte soos die bostaande blyk die digter se vaardigheid om poësie te maak van alledaagse gebeure. Die gebruik van die persoonlike voornaamwoorde “hy” en “jy” in die gedig, op so ʼn wyse dat daar nie presies gesê kan word na wie verwys word nie, ondermyn (soos dikwels ook elders in die bundel) die beginsel van afsonderlikheid en lê klem op interverbondenheid.

Verder is daar in die bundel ook gedigte oor die spreker se belewenis van (en in) Indië, gedigte waarin die natuur ʼn rol speel, gedigte oor plante en diere en gedigte wat op mitologiese inhoude gebaseer is. Myns insiens is die uiteenlopende temas egter nie ʼn aanwins nie, veral omdat daar in die bundel, waarin gedigte op ʼn redelik losse basis in 4 afdelings verdeel is, ʼn sogenaamde “goue draad” ontbreek. Hoewel – soos aangetoon – daar heelwat gedigte is wat binne die Oosterse filosofie, die nuwe materialisme of die ekokritiek gelees kan word, is dié gedigte egter redelik dun gesaai en bind nie die bundel tot ʼn eenheid nie. Die rede hiervoor is onder andere die groot aantal gedigte wat opgeneem is – verskeie gedigte kon inderdaad weggelaat gewees het sonder om afbreuk aan die bundel te doen, veral enkele gedigte met ʼn narratiewe bou waarin die poëtiese aard deur onnodige woorde, frases en gebeurtenisse of gedagtes en ʼn losse samehang gekenmerk word.

Die Zen-Boeddhisme lê veral klem op stilte en die totale stilword van die mens wat mediteer. Behoefte aan stilte is dan ook ʼn belangrike kenmerk van die onderhawige bundel:

En wie is ek? Wie is ek in hierdie heilige plek?

Ek is net ʼn opening waardeur die vorms reis

en woon in die baie wonings.

Alle mure is ver en stil en deurlatend naby.

Want volledig, volledig drumpel

ek hier waar die wolke woon.

Wat egter ironies is, is dat die stilte wat in vele gedigte as ideaal gestel word, deur die digter se eie woordrykheid en betogende styl weerspreek word. Oor die algemeen sou die bundel heelwat kon baat deur selfbeheersing, deur die gedig self te laat praat in plaas van die digter wat konstant aan die woord is, deur klem op poëtiese praktyke en afskaling van narratiewe praktyke.

Daar kort myns insiens nog heelwat afrondingswerk aan die bundel. Ten einde ʼn goed afgewerkte teks te produseer, moet die redakteur met ʼn streng en ferm hand wegsny en die digter moet besef die kern van ʼn goeie gedig lê in die beginsel “Kill your darlings!”

Wat opvallend en verblydend is, is dat die digter beslis ʼn oog en ʼn oor het vir poëtiese beeldgebruik, soos uit die voorafgaande besprekings van enkele gedigte afgelei kan word. Ongelukkig is daar egter ewe dikwels ondeurdagte reëls soos “en die kruin teken ʼn simfoniese lyn / oor die baspsalm van die berg / se swaar ondervorm.”

Samevattend: Die bundel bied beslis baie stof tot nadenke. Daar is verrassende insigte en vele vreugdes vir die aandagtige leser. Die digter beskik oor die nodige kennis van poëtiese praktyke, aanleg en die vermoë om geslaagde, treffende poësie te skryf. ʼn Indringende lees van die bundel is nodig om subtiele verbande, beelde en inspelings wat met ʼn eerste, vinnige lees ongesiens kan verbygaan, bloot te lê. Dit is ʼn bundel wat vir die blote plesier gelees kan word, maar ook as meditasie, en as kommentaar op die mens se ingesteldheid ten opsigte van dié dinge wat so lank as afsonderlike dinge “buite ons” beleef en afgemaak is.

Bookmark and Share

Comments are closed.