Wicus Luwes. ‘n Taal op die Aardsdrempel

aardsdrempel2

Ek het uiteindelik die dokumentêre film, Boere op die Aardsdrempel / The Boers at the End of the World, hierdie maand te siene gekry. Dit is puik gemaak, skep dikwels balans in sy stellings / gewaarwording en laat net genoeg onbeantwoorde vrae vir die kyker wat oor die saak wil nadink. Dit neem die kyker na die Afrikaanse gemeenskap in Patagonië, Argentinië. Honderde ‘Boere’- gesinne het na afloop van die Anglo-Boereoorlog tussen 1902 en 1908 besluit om Argentinië toe te verhuis. Die destydse Argentynse regering het plase aan belangstellendes gegee. Die Afrikaans wat die nasate van die oorspronklike ‘Boere’ praat, het min verander van die taal wat ‘n honderd jaar gelede gepraat is. Dit gee die kyker / navorser eintlik ‘n soort voorbeeld of deursnit-kykie na hoe die taal verander of dieselfde gebly het.

Die grense van my taal is die grense van my wêreld

– Ludwig Wittgenstein

 

O Land van Sonlig en van Sterre

O land van sonlig en van sterre,
van onbegrensde, wye velde –
o wilde wêreld van natuur,
o dierb’re grond van Afrika,

waar twee geweldige oseane,
hul branders op die rotse donder,
en langs die breedgerekte kuste
die witte seesand bruis en sketter!

deur Gustav Preller

Preller het geskryf in ‘n oorgangstyd vir Suid-Afrika – 1896 tot 1904. Dit was ‘n tyd toe Afrikaanse digkuns die sprong van blote rymelary tot vers met dieper insig beleef het. Dit is dus moontlik dat die oorspronklike reisigers na Argentinië hierdie gedig deur Preller kon gelees het. Dit gee miskien iets weg van die manier hoe die Afrikaners van 1900 gevoel het (en miskien steeds voel).

 

Universiteite word dikwels vergelyk met ‘n soort mikrokosmos. Universiteite verteenwoordig ‘n deursnit van die samelewing waarin dit staan. By implikasie kan ‘n mens dus verwag dat die dinge wat in so ‘n mikrokosmos gebeur, ook in die res van kosmos kan of sal gebeur. ‘n Verdere implikasie van die mikrokosmos-model, is dat oplossings vir die probleme van so ‘n mikrokosmos ook oplossings vir die res kan wees. Dit is die ideale model of implikasie van die mikrokosmos. Die ander interessantheid van die mikrokosmos, is dat gebeure op kleiner skaal sou plaasvind. Die grense van die universiteitkampus, is redelik afgebaken. Die groter kosmos het baie meer ingange en uitgange. Die grense word ook baie moeiliker bepaal en beskerm. Onstabiliteit of chaos in die universiteitkosmos laat ook gewoonlik ander kollaterale skade. Diegene wat dink dat fooie vir universiteit die enigste teiken is, hoef maar net te kyk na die slagspreuke wat deur die protesteerders gebruik word.

Aan die begin van die Aardsdrempel-film staar twee neefs oor die oseaan uit – een in Suid-Afrika, een in Argentinië. Die seegrens is wyd en lank. Hulle het mekaar nog nooit gesien nie. Afrikaans word deur ongeveer dertig van die nasate gepraat, maar word nie meer geskryf nie. Hul het ook nooit formele opleiding in Afrikaans gehad nie. Die taal sal na alle verwagting uitsterf saam met die praters/gebruikers daarvan. Die kinders van hierdie mense praat slegs Spaans. Die ontdekking van olie het die ekonomie van Argentinië verander. (Die Afrikaanse gemeenskap het bygedra tot die ontdekking van die olie.) Die kinders van die huidige plaasbewoners het stad toe getrek en bewerk en bewoon nie meer die grond nie. Dit dra deels by tot die verminderde getalle mense wat die taal praat.

Daar is ooreenkomste met die Afrikaanse mikrokosmos in Argentinië en die Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika. Die ontvolking van die platteland is een van die punte wat my opval. Miskien is dit meer ‘n geneigdheid tot verstedeliking. ‘n Verskil is dat niemand in Argentinië die Afrikaanse gemeenskap van hul taal probeer ontneem nie, maar die integrasie by die omgewing vind natuurlik plaas. Dit help natuurlik nie dat ‘n groot groep Afrikaans-sprekendes in 1938 teruggekeer het na Suid-Afrika toe nie. Dit het die getalle wat die taal praat aansienlik minder gemaak. Die seer van die konsentrasiekampe en oorlog het miskien ‘n bietjie vervaag. Die oud-Afrikaners het maar net te veel na Afrika verlang.

Die dinge wat ons as Suid-Afrikaanse Afrikaners / Afrikaanses aan die Argentynse Afrikaners koppel, is natuurlik die taal. Daar is ook ‘n paar familiebande. Miskien speel daar dalk ‘n Argentynse Van Der Merwe een van die dae vir die Argentynse Nasionale Rugbyspan. Die vraag is verder of die Argentynse mikrokosmos ons iets kan leer oor Afrikaans as taal. ‘n Professor in Taal, Prof Andries Coetzee van die Universiteit van Michigan, het as deel van die dokumentêr ook ondersoek na die taal kom instel. Sy studie verwys spesifiek na die taal en dit lyk nie vir my of dit ander politieke of filosofiese invalshoeke gaan opvolg nie.
Hier is ‘n skakel na sy eerste bevindings: https://www.internationalphoneticassociation.org/icphs-proceedings/ICPhS2015/Papers/ICPHS0911.pdf

Ek het as deel van my navorsing vir die rubriek probeer uitvind of die Afrikaanse gemeenskap enige gunsteling digkuns of verskuns, oud of nuut, het. Die gebrek aan mense wat Afrikaans kan lees speel natuurlik ‘n rol in so ‘n vraag. Die mense in die film sing tradisionele liedjies soos ‘Sarie Marais’ en ‘Tannie met die Rooi Rokkie’. Dit wil voorkom of die tradisionele liedjies ongelukig die somtotaal van ‘n enige vorm van digkuns / verskuns blyk te wees. Aan die een kant is dit ongelukkig, maar aan die anderkant wys dit hoe belangrik projekte is, wat wysies aan bekende gedigte gee. Toonsetting en digkuns behoort meer dikwels te ontmoet.

Die huidige onstabiliteit in die tersiêre onderwys, sal natuurlik ook ‘n dwaalkoeël na Afrikaans as taal skiet. Miskien sal daar ook direk daarop geskiet word, deur te sê dat befondsing nie beskikbaar daarvoor gemaak sal (kan) word nie. Die mense sê dikwels dat Afrikaans veilig is as sy mense nog die taal praat. Die Argentynse mikrokosmos wys miskien die kortsigtigheid van so ‘n stelling uit.

‘n Taal is nie net ‘n werktuig nie – nie net kleingeld om mee te koop en te verkoop nie. Dit is ook ‘n naelstring.
– NP van Wyk Louw uit “Werktuig of naelstring”, Standpunte, Okt. 1963

 

Eer jou taal

Friese, eer jou taal
erfstuk wat voorvaders nagelaat het;
kinders van haar liefde en haar trou
beeld van haar deug en krag;
afdruk van haar siel en haar sin
dan standvastig soos ‘n eik uit die Woude
dan weer soos gras langs die poel
buigbaar en lieflik en sag.

Laat sy klink, jou taal
soos ‘n vrye geluid om jou heen;
as ‘n mens in leed wegsink
soek dan in jou taal weer troos;
wees lief vir jou taal soos vir ‘n moeder
wat jou gevoed het met bloed uit haar are;
hy, wat homself vry noem as ‘n Fries
bly veral Fries in sy taal!

deur Carina van der Walt

 

*** Baie dankie vir Kelly Scott van ‘Good Work Pictures’ vir die hulp by die insamel van inligting vir die rubriek

Bronne:
* Martin W & Van der Walt C. Amalgaam. Uitgeverij IJzer, Utrecht. 2015
* Nienaber PJ. Digters en Digkuns. Afrikaanse Pers-Boekhandel. 1962

Bookmark and Share

Comments are closed.