Andries Bezuidenhout. ʼn Boekery in gemeen

1.

Hierdie is ʼn blog oor boeke en ʼn man. Sy storie is deel van my gesin se oorlewerings, deels omdat ʼn hele aantal van die boeke wat op ons studeerkamer se rakke was, uit sy biblioteek gekom het. Die boeke se teenwoordigheid moes deur my ouers aan ons kinders verduidelik word, omdat sy naam voorin soveel daarvan geskryf gestaan het: “Ulrich”, soms “Ulrich Verster” – in ʼn kenmerkende handskrif.

20161025_135459

Ek weet nie hoe my ouers hom geken het nie. Dalk was hy net ʼn vriend van ʼn vriend, of só iets. Nietemin, volgens oorlewering sou Ulrich Verster Suid-Afrika verlaat om by ʼn monnikeorde in Frankryk aan te sluit. Hy het al sy boeke agtergelaat en eerder as om daarvan ontslae te raak (ek dink een weergawe van die oorlewering wil dit hê dat die boeke verbrand sou word), het my ouers en ʼn ander persoon aangebied om die versameling oor te neem. Die boeke is gevolglik in twee gedeel en ons het die helfte van die Verster-biblioteek ontvang. Ek weet Ulrich Verster het later ʼn aantal boeke oor filosofie gepubliseer, maar nie veel meer as dít nie.

20161025_135714

Ons huis is in die 1950s gebou en is deur die modernistiese argitek Norman Eaton ontwerp. Dis oorspronklik vir ʼn akademikus (dink ek – Dr. Hoffman, of só iets) en sy vrou gebou en was heeltemal te klein vir óns gesin – twee ouers en vyf kinders. Op hoërskool het ek en my oudste broer in die buitekamers gaan woon. Die huis is teen een van Pretoria se koppies staangemaak en moes, weens die helling en rotse, op verskillende vlakke ontwerp word. ʼn Somerstorm het ʼn vloed veroorsaak, wat teen die koppie afgespoel het en reg deur die huis gestroom het. Die parkethoutblokkies het op die grasperk uitgespoel en is, helaas, deur my ouers met keramiekteëls vervang.

Die studeerkamer en die boeke het egter oorleef. Dit was een van die mooiste vertrekke en was op ʼn hoër vlak as die sitkamer gebou. Dit het deur ʼn groot opening aan die een kant van die vertrek op die sit- en eetkamer neergekyk. Twee van die studeerkamer se mure het pragtige hout boekrakke gehad. Dis dalk om hierdie rakke vol te maak dat my ouers aangebied het om die boeke te neem.

Ulrich Verster, te oordeel aan die boeke, het ʼn diep belangstelling in klassieke letterkunde en filosofie gehad. Op hoërskool het ek Nietzsche (Engelse vertaling van “Also sprach Zarathustra”) en Kierkegaard (Engelse vertaling van “Enten-Eller”) probeer lees. Die “probeer” hier is belangrik. Sonder sukses. Dis dalk die verkeerde twee filosowe om op ʼn vroeë ouderdom en sonder ʼn sistematiese bekendstelling te kombineer. Marx se “Das Kapital” was ook daar, die Everyman’s Library se Engelse vertaling, maar my pa het dit in ʼn kas weggesteek, saam met baie ander verbode boeke (Mao, Guevara, Engels, Stalin, ens). Ook dít moes aan die kinders verduidelik word – dat daar sekere boeke was wat ʼn mens nie mog besit nie.

Toe my pa dood is en my ma besluit het om na ʼn kleiner woonplek te verhuis, het ek en Irma ʼn hele aantal van die boeke gekry. (Twee van die vyf kinders woon op ander kontinente en ʼn ander een het ʼn klavier gekry. Laat ek nou nie uitbrei en familievetes oor boeke en musiekinstrumente ontketen nie.) As ek nou so na ons boekrakke kyk, is die grootste deel van ons versameling klassieke werke steeds aan Ulrich Verster te danke.

DIE WOORD ARGITEK

Norman Eaton, van kleins af ken ek jou naam
en die woord Argitek. Dis ons wat onder jou skuinsdak woon –
die een in Pretoria wat teen ʼn koppie staan
in ʼn rotstuin met aalwyn, stamvrug, mispelboom.

Norman Eaton, jou huis van klippe, hout en glas,
vlakke, terrasse, biblioteek en buffet
staangemaak in Hoëveldse rant en gras.
– Mense met kinders laat ruimtes ander mates kry –

Norman Eaton, jy’t vir tralievensters nie beplan,
nog vloede wat die vloere breek,
teëls wat blokkies kil vervang,
prieel wat vrot, korrels hael wat verf afsteek.

Norman Eaton, al lê die tipuana op ʼn motorwrak,
sypel water deur mure en skinder die bure,
verdor die rose, versuip die geute, lek die dak,
kon ons darem betekenisvol sê: óns woon in ʼn Eaton.

2.

Nou die dag besoek iemand ons woonstel om afmetings te neem vir een of ander kwotasie. Hy steek op die drumpel vas, beduie na die boekrakke en sê: “Het julle nog nie van die internet gehoor nie?” Ek dink nie ek het ʼn volledige antwoord gegee nie, eerder iets gemompel: “Ons is albei dosente”. Dit was ʼn fout, want toe moes ons die studente-opstande bespreek – die lááste onderwerp waaroor ek op die oomblik ligte geselsies wil aanknoop.

BLACK HISTORY MONTH

sê die man se T-hemp
wat op kampus by my verbystap.
Gewapen met latté en croissant
gee ek die glimlag, daardie skinny decaf een
wat sê: “ons is nie almal so nie”
maar weet dat ons eintlik almal so is
al dink nie ek of hy so nie –
ek en die man met die T-hemp
wat op kampus by my verbystap.

3.

Ek sukkel om te slaap. In die kamer wat ek in ʼn ateljee omskep het, staan die boekrak met Engelse en ander nie-Afrikaanse poësie, asook dramatekste. Ek haal ʼn Penguin kopie van die Aeneïs van die rak af. Daar is twee kopieë van presies dieselfde uitgawe. Die een kom van Irma se kant van die familie en die ander kom van Ulrich Verster.

In die boek vind ek ʼn klein papiertjie. Dis ʼn faktuur van ʼn sportwinkel: Logan’s Sports, van Burgstraat in Kaapstad. Die faktuur is op 18 Augustus 1966 uitgemaak vir ʼn paar van iets wat soos “Dunlop” lyk – waarskynlik tennisskoene teen ʼn koste van R3.20. Dis egter die sketse op die faktuur wat my aandag trek, als met ʼn inkpen aangebring:

Die syaansig van ʼn vrou se gesig, haarstyl ʼn bob – diep uit die 1960s. ʼn Vrou wat by ʼn balkon se muur staan, moontlik in tennisdrag. Dalk is dit Seepunt se promenade. Nietemin, sy het ʼn kort minirok aan. Op die papiertjie se agterkant is ook ʼn aantal sketse. Weer ʼn vrou se gesig, maar omring deur geometriese partone van ʼn meer abstrakte aard. Die woord “knus” of “kuns” vorm deel van die skets. Langsaan ʼn rowwe figuurstudie van ʼn vrou in ʼn meer formele rok – moontlik ʼn aandrok, of dalk ʼn dagrok, met ʼn strik.

Daar staan ook geskryf:

MARGA

Dan, in ʼn reghoekige raam:

Greenpoint
Busstop 10
Mainhill
205

Dít als uit 1966 – twee jaar voor die Franse studente se opstande. Ek wonder wanneer het Ulrich Verster Frankryk toe vertrek. Van die boeke in ons rak kom nog uit 1969, so dalk was dit eers later. Nietemin, die sketse is vaardig en die handskrif op die faktuur lyk vir my soos dié van Ulrich Verster. Of dalk is dit Marga wat die Dunlop tennistekkies gekoop het en haar adres op die faktuur neergeskryf het.

20161025_13555220161025_135601

4.

Wat het van Ulrich Verster geword? Jare gelede, toe ek ʼn vorige keer wou uitvind, was die internet nog nie so ensiklopedies nie. Dalk weer probeer. Van sy vele publikasies het ek geweet, maar van die feit dat Verster ook ʼn visuele kunstenaars is, was ek onbewus. As skilder staan hy bekend as Ulrich de Balbian. In ʼn onderhoud beskryf hy homself soos volg:

“I am in my sixties, born of a German mother and Dutch-French father… I lived and studied in a number of countries, including Great Britain, France, Germany and Spain. I have doctorates in Philosophy and Theology and qualifications in Social Science and Fine Art. When I was young I did sociological research in South Africa, so I know certain areas, of this vast and very diverse (culturally and geographically) country. I worked as an academic (philosophy, art and world religions) so that I did not have to be dependent on the Art Industry for a living… Through philosophy I reflected deeply on many aspects of existence, including culture and more specially art, and the Western painting genre […] As social scientist and philosopher (I published fifteen books in that discipline, two in theology and others) researched socio-cultural aspects of art, for example the code of the discourse or socio-cultural; practice of Western Painting […] Too many artists, similar to the rest of the popular entertainment industry, felt the need to produce sensational work, so as to be noticed. I never was dependent on the art industry as I had other spruces of income as academic. I retired at forty from that so as to work full time on my art, and writing… I have studios in South Africa, Spain and France.”

Sy werk het ʼn sterk modernistiese inslag, amper soos ʼn nostalgiese hunkering na die tipe modernisme van die draai van die vorige eeu. Dis abstrak, maar met ekspressionistiese elemente. Verster beskyf dit self soos volg:

“I intentionally choose to paint, in the Western tradition, instead of working in the so-called New Media, creating installations, performance art, ready made, etc. I think and hope that there still is mileage in the Western tradition of painting… I see my work as totally experimental and a kind of serious research. Not merely in a cerebral or rational manner, but first of all on a sub-conscious level, exploring how we think about objects, how we perceive them, etc. […] The only other artist I have come across who works in this manner is the German Gerhard Richter. If someone wishes to understand my work better they should study his work (as well as Paul Klee, Kandinsky and the ideas of the Bauhaus) as he is my predecessor. I do not follow or copy him, but work in the same tradition as he, and they, did.”

Lees die volledige onderhoud hier. Daar is ook foto’s van ʼn hele aantal van sy werke. Dan is daar ʼn werf met nog meer foto’s van sy werk – dit is hier beskikbaar. Die onderhoud waaruit ek aanhaal is in 2012 gepubliseer. In Augustus hierdie jaar lewer Ulrich Verster kommentaar op die aantal kommentaarinskrywings:

“Thanks for the MANY kind remarks emailed to me… I literally paint 24/7 and ALL the time, while writing in between (philosophy), apart from feeding the many homeless who come to my place. I spend all my money on the latter.”

Die onderhoud het verwysings na ʼn Facebook-bladsy, maar dié bestaan nie meer nie. Van die ander skakels met kontakbesonderhede eindig ook in kuberdoodloopstraat.

5.

Uncanny in Engels. Seker “onthutsend” in Afrikaans. Ulrich Verster het ʼn agtergrond in sosiologie, alhoewel sy versameling boeke in ons rak eerder filosofie se kant toe gestaan het. Ek onthou ʼn paar boeke, onder ander Daniel Bell se “The End of Ideology” en miskien iets van Alvin Gouldner, wat as sosiologiese literatuur beskou sou kon word. Marx is een van die vaders van sosiologie, maar die twee ander belangrike figure (Max Weber en Emile Durkheim) was nie op ons rakke verteenwoordig nie. Ek dink daardie drie is in die 1960s reeds as die hoofkanon beskou. Dalk was dit deel van die ander helfte van die versameling.

Verder was Verster ook ʼn akademikus wat as kunstenaar gemoonlight het. Vir hom is daar ook ʼn wisselwerking tussen wetenskap en kuns. Die twee voed mekaar. Ek kan met daardie benadering identifiseer. Indien hy op die ouderdom van veertig kon aftree en die instandhouding van ateljees in drie lande kan behartig, moet hy op kommersiële vlak ook uitstekend vaar. Hy praat afwysend oor die besigheidskant van die kunsmark, maar hy doen dit waarskynlik as iemand wat reeds aansienlike kommersiële sukses behaal het. In die onderhoud praat hy byvoorbeeld oor die verskuiwing van die Weste na die Ooste en persoonlike kunsversamelings in die Ooste wat sekere openbare museums in die Weste ewenaar. Sy publikasieuitsette as akademikus laat blyk dat hy dit nie net om den brode gedoen het nie.

Ek weet nie mooi hoe om hierdie nuwe inligting te verwerk nie. As kunstenaar laat Verster my ʼn bietjie aan Karel Schoeman dink. Ek verwys hier na die feit dat Verster, soos Schoeman, deel van ʼn monnikeorde was (indien my gesinsoorlewerings korrek is), die ongelooflike volume uitsette, ʼn amper nostalgiese ingekeerdheid op die Westerse tradisie en ʼn oënskynlike verbintenis tot ʼn kluisenaarsbestaan.

Oor een ding is ek bitter spyt. Te oordeel aan die res van Verster se Suid-Afrikaanse versameling, moes sy boeke oor kuns en kunsgeskiedenis voorwaar indrukwekkend gewees het. Ek wens my ouers het eerder daardie deel van die biblioteek gekies.

Bookmark and Share

Comments are closed.