Andries Bezuidenhout. In Wellington brand ʼn klavier – ʼn verleentheidsgedig

Weer ʼn doenige dag vir joernaliste.
In Braamfontein brand Eybers se busse
en in Kaapstad loop studente en ʼn rektor parlement toe
waar die Minister van Finansies ʼn koek met ʼn graaf moet sny.
Ook in Wellington vlamme.
Bekommerd oor almal daar tik ek ʼn rooksein.
Ons is okay, sê Anne-Ghrett.
Dis net so neerdrukkend wat aangaan, sê sy
Een van die oudste, mooiste geboue
met die oudste klavier in die land
in as.
Wat sê mens hieroor?
In Bloemfontein se oorlogsmuseum
staan ʼn klavier wat die Tommiebarbare verniel het
toe hulle die aarde verskroei het.
ʼn Klavier lê ʼn hele wa vol
en staan ewe swaar op ʼn landskap as ʼn verhoog.
Die klavier stem my onrustig
maar ek weet watter vrae kom volgende:
Gee jy meer vir ʼn klavier om as vir mense?
As die saal brand, wie red jy – die mens of die klavier?
Ek bieg. Ek huiwer en oorweeg die opsies.
Dalk is dit die verkeerde vraag. Eerder:
Is jy bereid om jou lewe vir ʼn klavier te gee?

 

26 Oktober 2016, om 13:30. Soveel kan nog op een dag gebeur

Bookmark and Share

49 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. In Wellington brand ʼn klavier – ʼn verleentheidsgedig”

  1. In alle eerlikheid, Andries, ek verstaan nie die relevansie van jou vrae nie.

  2. Daniel, dis nie my vrae nie.

  3. Van Twitter: “#TheSadIrony: Burning a painting that’s been deemed to be worth more than your existence #RhodesMustFall #UCT”

  4. Maria Snyman :

    ‘n Beweging sur place – kleitrap – dieselfde ou storie – gepraat van ‘n verleentheid? Of dalk net ‘n goeie ou paradoks – die mens gaan vorentoe deur agtertoe te gaan – ons is immers hier – “against all odds” -‘n asemrowende wonderwerk! Dank die sterre vir digters wat dit in woorde kan omsit, ‘n gesprek aan die gang sit …

  5. Andries, die laaste vraag is tog joune, of hoe?

  6. Inderdaad.

  7. Jammer, maar F-k enigiemand wat dit oor hulle harte kry om so iets te verbrand.

  8. Ek voel ook so Richard. Ek verneem die brand is deur ‘n petrolbom veroorsaak. Ek het in Februarie vir ‘n maand op ‘n plaas buite Wellington gaan woon en baie lief vir die dorp geword. In Mei is ek met die trein van Johannesburg af Kaapstad toe daar verby. Ek het ‘n kant van die dorp gesien waarvan ek van onbewus was.
    Ek kan nie anders as om te wonder oor die verband tussen hierdie mense se lewens en die klavier nie. Dis maar hoe my kop werk en van my studente konfronteer my konstant met die verskil tussen hul lewens en myne.
    Vandag het ek nie antwoorde nie, ook nie vir Daniel nie. Net vrae.

  9. Karlien Conradie :

    Ironies dat Burgstraat, Wellington, as geboorteplek van die eerste Suid-Afrikaans vervaardigde klavier dien. Die vervaardiger was Phillip Dietmann.

    Ek kan my voorstel die versigtige vakmanskap, die tydsame ontwerp en herontwerp. Die klein aanrakings van vingerpunt en klawer. Oë gerig op die eindelike saambeweeg van hamer, houtjie en klank. Soos vere.

    Hoe plant mens ‘n petrolbom-ook met tintelende vingers wat saggies met die wêreld omgaan?

  10. Andries, ek gaan ‘n antwoord waag op jou vraag. In ‘n demokrasie behoort dit vir niemand nodig te wees om sy lewe te gee om sy kultuurgoed te bewaar nie. En die staat moet die beskermingstelsel bied. Historiese en huidige ongelykhede word nie reggestel deur skuldgevoelens, masochisme en rookoffers nie. Dit kan slegs bereik word deur ‘n gesonde ekonomie en ‘n gedeelde waardestelsel. Jou gedig het my klaarblyklik laat dink! Dankie.

  11. Daniel, ek en Irma het gisteraand lank hieroor gepraat, o.a. oor “De aanslag” en etiese keuses wat mens soms moet maak, hetsy oor jou navorsingsprojekte of klaviere. Ek het gevoel jou vrae is sarkasties en Irma het gesê jy is een van die beste lesers van digkuns – as jy nie ʼn gedig verstaan nie, is daar fout met die gedig. Vir my gaan die vrae oor etiese keuses. In Suid-Afrika is dit daaglikse keuses (by elke bedelverkeerslig) en ‘n mens kan seker nie oorleef of met jouself saamleef as jy nie ‘n mate van afstomping ondergaan nie. My lewe is vol studente en sommige van hulle (die minderheid) is werklik talentvol en maak iets van hul lewens ten spyte van uitdagings. Een het sy Magistergraad met ʼn kragopwekker geskryf. My werk behels nie net studieleiding nie, maar ook pogings om my studente in hul studies te hou ten spyte van druk van hul families om te gaan werk, sodat jonger broers en susters kan studeer. Hulle moet bestuurslisensies kry, leer om lughawens te gebruik, leer om in sekere omstandighede hemde met krae eerder as T-hemde en sywaartse pette te dra, ens. Die staat is heel afwesig as dit hierby kom en ek doen baie kontraknavorsing om geld in te samel om hulle in hul studies te hou. In breë trekke ondersteun ek die studente se eise, maar ek walg as mense klasse met geweld ontwrig en ʼn hele stelsel in gedrang bring in die proses. Ek dink nie skuldgevoelens is ʼn produktiewe manier om met ʼn mens se bevoorregting om te gaan nie, al het ek ʼn digbundel oor skuld geskryf. Ek probeer eerder om op hierdie manier verantwoordelikheid te neem en voel bevoorreg om in ʼn paar individue se lewens ʼn verskil te kan maak. Ek weet ook dat hulle my eendag daarvoor sal haat – dat hulle by my moes leer skryf en vlieg. My gedigte in Afrikaans staan baie ver van hierdie wêreld. Tyd wat ek aan gedigte of skilderye afstaan is tyd wat ek anders sou kon gebruik – nóg kontraknavorsing, nóg geleenthede vir my studente. Soms raak ek net moedeloos, soos as hierdie klavier deur ʼn petrolbom verwoes word. Dis nie net die klavier nie, dis die gebou en die orrel – ʼn konkrete stuk erfenis. Dis ook ʼn dekadente stuk erfenis, gegewe die armoede wat dit omring en die afwesige, kriminele staat wat waarskynlik nie ʼn verskil daaraan gaan of wil maak nie. Te midde hiervan het ons darem Satie en Abdullah Ibrahim, helaas nooit weer op hiérdie klavier nie! ʼn Mens sou seker van dit als kon onttrek en jou lewe voor ʼn klavier of esel deurbring en indien ek dit sou doen, sou ek ʼn beter kunstenaar wees. Ek wens ek kon. Dankie in elk geval vir die vrae op my vrae. Ek dink ek sal die gedig nou laat staan.

  12. ‘n Dekadente stuk erfenis, Andries? Van die beste kunswerke en argitektoniese wonders in die wereld het tussen die grootste armoede ontstaan. Soms is selfs slawe ingespan om dit tot stand te bring. Alles dekadent en daarom verwerplik? Maar dankie vir jou uitvoerige antwoord en ernstige stuk besinning.

  13. Francis Galloway :

    ww.classicsa.co.za/site/features/view/classicsa_
    phillipp_dietmann_founder_of_piano_
    factory_in_south_africa/

  14. Hieroor stem ons saam! ‘n Onlangse stuk oor kerkgeboue waarin ek ‘n soortgelyke punt maak:
    http://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/behou-kerkgeboue-vir-nageslag-20161025

  15. Marlene van Niekerk :

    Beste Andries,

    Bestaan daar so iets soos ‘n kulturele status quo (klaviere en digterstuine inkluis) wat nie in die laaste analise stoel op geweld, onderdrukking, en
    onreg/ongelykheid nie? Selfs al is die oorsaaklike verband heel indirek en/of vergete in die newels van die tyd? Selfs al is dit net ‘n klein bietjie uitsluiting of onregverdigheid wat daaraan ten grondslag lê?

    Hoe leef mens met hierdie gegewe, onder andere as wit kunstenaar, in so ‘n land soos SA? Mens volhard in jou bestaan as maker van komplekse dinge, as reaktor en agentskap in hierdie kulturele veld of jy hou gewoon op daarmee, soms omdat die slagoffers in die verhaal jou met hul handelinge of uitsprake oortuig daarvan dat jy oor geen enkele legitimiteit beskik om die wêreld verder te vervuil met jou interpretasies nie (hetsy in navorsing of gedigte). Dis eenvoudig: jy hou jou staande en gaan voort of jy gaan onder, eers in swye, dan in dadeloosheid, dan in emigrasie, uiteindelik in finale selfverwydering. Lees White Innocence? van professor emeritus Gloria Wekker in Nederland indien aanmoediging benodig word.

    Ek vind jou gedig fyn geformuleer en hoogs tersaaklik en ‘n groot oplugting in hierdie konteks, en dankie vir jou response (die foto van die slum) en besinninge hierbo. Ek bewonder jou inspanninge om jou studente te help en dankie vir die kontekste waarop jy tereg aandring. Ek kyk partykeer op hierdie website en wonder soms hoe lank daar geen rimpeltjie van die politieke en maatskaplike krisis in ons land hier gaan registreer nie.

    In my huis met verwarming, lugreëling in die studeerkamer, skoon lakens, yskas vol kos, (materiële moontlikheidsvoorwaardes) en geleë , soos die kraai vlieg, ‘n kilometer van die slum van Enkanini teen Papegaaiberg, het ek ook sedert 2015 soms ‘n ontstelde respons neergepen op die toestande op die kampusse. In Engels omdat ek ‘n rare behoefte daaraan het dat die Hitlerbewonderende Mcebo Dlamini dit miskien eendag sal lees as hy Minister van Onderwys geword het en die deure van kennis vir die tweede keer vir alma in ons vaderland oopgegaan het.(Die eerste keer het dit, soos ons weet, nie so lekker gewerk nie omdat ‘n gediskrediteerde uitkomsgebaseerde onderwysmodel aangeneem is, die onderwyskolleges gesluit is, die slaagsyfers verlaag is na dertig en veertig present, SADTU toegelaat is om onderwysdepartemente in ses provinsies te skaak sodat onderwysposte gekoop kan word met bokke. Verder het die verspreiding van handboeke keer op keer gefaal (viva Edusolutions) en baie skole beskik nie oor biblioteke, laboratoriums of ordentlike toilette nie. Inspekteurs is afgeskaf en onderwysers skryf nie byskolingstoetse nie.In hulle gedragsreëls staan dat hulle nie dronk mag skool toe kom, of kinders seksueel mag aanrand nie. Die deure het nie oopgegaan nie omdat daar geen enkele vermoede was (vanaf Sibusiso Benghu, tot by Kader Asmal tot by Angie Motshekga) van die omvang van die sisteme, die hoeveelheid administratiewe kompetensie, die aantal kontroles en die organisatoriese dissipline om ‘n basiese onderwyssisteem te laat werk nie. Die deure het nie oopgegaan nie omdat daar nie genoeg kennis, ervaring, insig, visie of politieke wil by die beleidmakers en die implementeerders was nie. Daar was deure in hulle koppe wat nie oop was nie.(Anders as die wit fasciste van die vorige regime het hulle nie tradisies van burokrasie gehad nie nie) Gaan dieselfde nou by die universiteite gebeur? Of gaan die “African instruments of analysis” soos bepleit deur Baleka Mbete in ‘n toespraak by Stellenbosch almal verras deur die merkwaardige resultate daarvan in die gesondheidsorg en die mineralogie?

    Of die deure van kennis en studie met die tweede probeerslag vir almal sal oopgaan is met ander woorde die vraag. (ek bedoel nou in die sin dat ons wiskunde en wetenskap op skool so goed sal wees soos ten minste in China en Indië) Persoonlik dink ek nie die moontlikheidsvoorwaardes daarvoor bestaan hier nie, nie vir die SA skole van die toekoms en ook jie nie in die SA universiteite van die toekoms nie. Die deure sal dig bly totdat hulle uitval uit die kosyne en die windswaels en die vlermuise intrek. Ek sal nooit weer (mens is net een keer jonk) in ons land kollektief gedeklameerde en revolusionêre hoë politieke ideale van opkomende magte glo of vertrou nie, ook al eien hulle watter morele hoë grond vir hulleself toe.

    Uiteraard sou dit alles anders gewees het as die land nooit gekolonialiseer was nie.

    Ons bly hoop op die moontlikheid van ‘n mens wat nie kolonialiserend sal wees nie, nie in geboue se gange nie, nie op die pleine nie, nie tussen die kontinente nie. Maar ons weet Elon Musk het sy oog klaar op Mars. Ai, tsk.

    Die probleem is hoe die seewater hier ontsout moet word oor ‘n paar dekades, genoeg vir negentig miljoen mense.

    Die colonial collapse van ons bye daargelaat.

    Hier is my pogings.

    For the class of 2016, a fantasy

    What Africa needs to pursue is becoming its own centre, and putting its people to work for this.
    Achille Mbembe

    So for months on end each day we fed
    our carvers the appropriate food,
    fruit and salads mostly and at night
    a wholesome stew. We took turns
    to take them water, chilled,
    with lemon slices, while they
    carved the figures, handing them
    glasses and bottles at which they barely
    nodded, not releasing their eyes
    from a difficult patch where a knot
    in the wood proved resistant.
    There was such a sense of application
    under those blue gum trees, such insistent
    music was the tapping of hammers
    on chisels, and after sunset we hoisted
    lanterns for them to add, for a few
    more hours, the finishing touches
    to sections completed that day, the leg,
    or arm, a trunk clearing brightly
    from the rugged stump, the dance
    and jump, the vital cry emerging
    miraculously from brute matter.
    Sometimes we just sat there quietly,
    keeping them company, imagining
    the finished product, adding our vibes
    to their effort. We had to be patient,
    it had to be right, we expected a lot
    and had anointed the spaces
    on the pedestals from which Rhodes
    had fallen, C. R. Swart, and assorted figures
    of the past, their stiffly prancing horses,
    their stupid thinker’s pose. We knew
    what we wanted instead and gave them
    instruction, but not too much, for we
    trusted our artists to get the exact
    redolence in the limbs, the unassuming
    surge of hope in pubescent shoulders,
    that diligent stoop in the back of a people
    who had understood what they wanted
    from the future and were prepared
    to work for it.

    The Student Accountant’s Tale, South Africa 2016.
    (For Simon Rakei*)

    When we run the University one day
    it will be leaderless and the running
    of the State will be the same,
    like a Plenum of black sand in the hour
    glass, it will be Paradise, there shall be no
    pain. We don’t want Management.
    That’s what we aim for as Students
    of the Revolution. We won’t write
    down do’s and don’ts, we remember
    in our bones, our blood, having learnt
    it from the stones, we’ll blow
    as the wind blows, there is no knowing
    how our people will react, but when
    they do, we’ll go with the flow
    and decolonise our land as those who
    decolonised theirs before us, it is the Tao
    of the Instrumental Unconcerned,
    we are looked after by Fate. We shall
    not be dictated to by anything but
    by the force of Nature, don’t try to split
    our will asunder, we are a cloud
    and bear in our limbs a single mind,
    this is our occult discipline, you could say
    we were born as the Grass of Insurrection,
    we sway together in the tide
    like bamboo, our feet in the Rock
    of Conviction, our thinking is swarm thinking
    and it sits down with us and shouts
    when we shout, and turns when we turn,
    there is nothing to mourn for, nothing
    to judge or support, we glow as one worm
    and who belongs to us acts like us without
    exception, we are the School of Earth and Sky,
    it means our Conversation really is
    a feedback loop, our Message is our Medium,
    what is inside us smoothly emanates
    and returns in an Augmented Form,
    quarrels we have none, we look each other
    in the eye, our elbows barely touching,
    and we know: Now Run, Now
    Kill, Now Loot, Now Burn.

    *Third-year accounting student Simon Rakei was deputed by the Rhodes Must Fall movement to answer questions about events at the University of Cape Town. Sunday Times asked him . . . http://www.timeslive.co.za/sundaytimes/opinion/2016/02/21/So-Many-Questions-RhodesMustFall-and-UCT-vandalism

  16. Dankie Marlene, vir die twee gedigte en vir een van die helderste, maar daarom een van die mees ontstellende uiteensettings van ons onderwysinstellings wat ek nog gelees het. Daar’s soveel waaroor mens kan praat – die komende aanval op die Lettere (wat deels geregverdig sal wees, as mens nou dink aan die selfverwysende tekste wat voorgeskryf word en wat baie van die studente so halfpad lees); die feit dat hierdie tipe brande ʼn laaaaaang geskiedenis het (Doman, wat Batawië toe gestuur is om Nederlands te leer maar toe ander repertoires ook ingeneem het); die feit dat vele universiteite al in die verlede moes sluit weens kollektiewe aksies, maar nou dat dit met elite-instellings gebeur is dit ʼn nasionale krisis; die neoliberale rekenmeesters wat universiteitsmure uitgehol het (en wat nou vir die Lettere gaan kom); die studentebeweging (dalk “beweging”) se gebrek aan interne demokrasie en strukture; die soomlose oorplanting van Amerikaanse kritiese rasteorie (ek vermoed ons president staan op die punt om daai een van sig voetstuk af te bliksem – daar van KwaZulu-Natal se kant af), ens.
    Ek is ʼn jaar gegun om te lees en te skryf (die eerste keer in my lewe en seker ook die laaste keer), so ek volg baie van wat aangaan op ʼn afstand. Ek hou die lynch mobs of Facebook dop – Mbembe een van die teikens. Ek wens almal wil Mamdani se boek oor wat met Makerere gebeur het lees.
    Dan weer, mens leer selde uit ander mense se foute. Ek bedoel nou as kollektief. Ons was hierdie tog te wagte – 20 jaar na onafhanklikheid. Nog so paar generasies om deur als te werk. Ek dink ons het nog net die eerste stuiptrekkings beleef en meer as die oudste klavier in die land gaan nog brand. Irma doseer op die oomblik Fanon, Mamdani, Chabal & Daloz – werk oor die staat in Afrika. Ek kan sien hoe bleek sy word.
    Swye, dan dadeloosheid, dan emigrasie, uiteindelik selfverwydering. Dis als ruimtelike strategieë. Ek dink nou eerder in terme van tyd. Dit het Suid-Amerika ʼn paar generasies geneem om te kom waar hulle nou is (steeds nie watwonders nie, maar beter). So ek dink jy’s reg om oor water te dink. Ons moet seker ook oor genetika en ingeplantde mikroprosesseerders oplees en voorskryf. Werklike, materiële dinge. Oorleef en dit moontlik maak vir ʼn volgende generasie om iets (hopelik) beters te doen.
    My volgende klein oorloggie – om geld te behou om tutors vir my eerstejaarstudente aan te stel. Daarvoor sal ek bereid wees om goed aan die brand te steek. Nie dat dit sal help nie.

  17. Maria Snyman :

    ‘n Tragedie en dan ongelooflike gedigte …

    ‘n Vreemde menslike fenomeen waaroor daar ‘n gesegde is: Sny jou neus af om jou gesig terug te kry. (“Cut your nose to spoil your face.”) Die prototipiese daad van van wrok, nyd, boosaardigheid, wrewel – aldus die kognitiewe wetenskaplike Steven Pinker (Wikipedia.)

    Wikipedia definieer die gesegde soos volg: “an expression used to describe a needlessly self-destructive over-reaction to a problem: “Don’t cut off your nose to spite your face” is a warning against acting out of pique, or against pursuing revenge in a way that would damage oneself more than the object of one’s anger.”

    Wikipedia vertel dan ook die volgende oor die moontlike oorsprong van hierdie gesegde:
    “The phrase is known to have been used in the 12th century. It may be associated with the numerous legends of pious women disfiguring themselves in order to protect their virginity[citation needed]. These cases include Saint Eusebia, Saint Ebba, Saint Oda of Hainault and Saint Margaret of Hungary.[2]
    The most famous[citation needed] of these cases was that of Saint Ebba (sometimes called Æbbe the Younger), the Mother Superior of the monastery of Coldingham. In 867 AD, Viking pirates from Zealand and Uppsala landed in Scotland. When news of the raid reached Saint Ebba, she gathered her nuns together and urged them to disfigure themselves, so that they might be unappealing to the Vikings. In this way, they hoped to protect their chastity. She demonstrated this by cutting off her nose and upper lip, and the nuns proceeded to do the same. The Viking raiders were so disgusted that they burned the entire building to the ground with the nuns inside.[3]”

  18. Maria, interessant dat jy Pinker noem, oor mense se bereidwilligheid om hulself te vernietig, soms as desperate daad aan die einde van ‘n konflik. In ons geskiedenis is daar die voorbeelde Nongqawuse, asook die bittereinders in Anglo-Boereoorlog. Ek sien ‘n hele aantal mense het onafhanklik begin om die term “millenarian” te gebruik om van die elemente van die huidige studentebeweging te beskryf – Marlene se tweede gedig vang dit vas. Ek hoop nie universiteite word Nongqawuse se beeste nie.

  19. Leon Retief :

    Hopelik kan ek ook hier van buite af ‘n blaffie na binne gegun word, “Ek weet ook dat hulle my eendag daarvoor sal haat.” Andries, daardie sin het my so ontstel dat ek eers moes opstaan en iets anders gaan doen, gaan koffie maak.
    Daar is waarskynlik bitter min lande wat nie, wanneer moontlik, die geleentheid gebruik het om buurlande of selfs verafgeleë lande gewelddadig te beset nie. As Switserland kans gehad het om ‘n koloniale moondheid te word dan sou dit seker gebeur het. Dis soos dit was, dis soos dit is, dis soos mense was en is en sal wees. Nietemin, mbt kolonisasie in SA: two wrongs don’t make a right.
    Nie alle lande wat voorheen deur koloniale moondhede beset was is tans in hul moer nie en as die nuwe regering bates effektief aangewend het kon SA vandag heel anders uitgesien het. Nie eers naastenby perfek nie, daarvoor was en is die agterstand mbt armoede en opleiding (op watter vlak ook al) te enorm, maar daar sou sigbare vordering kon gewees het in plaas van die sigbare agteruitgang. Soos Marlene tereg meld, die vorige regering het ‘n effektiewe burokrasie in plek gehad wat deur die nuwe regering benut kon word, maar aangesien daardie burokrate almal wit was is dit ‘n ope vraag of so iets polities aanvaarbaar sou wees. ‘n Baie groot deel van die huidige situasie is te wyte aan beleidsrigtings van die afgelope 20 jaar.
    Die vraag wat al jare gelede, selfs onder die vorige bedeling, by my opgekom het en wat nou (of so dink ek) miskien meer relevant geword het, is of daar nie te veel studente is wat universiteit toe gaan nie. Hoeveel graduandi gaan werk kry in die vakgebied waarin hulle opgelei is? Wat is daardie studente se ondervindings wanneer hulle die arbeidsmark betree? Dalk sal Andries weet.
    Universiteite laat verder studente toe terwyl hulle goed besef dat daai jongmense nie ‘n graad gaan behaal nie. Dit terwyl SA hierdie jaar iets soos R204 biljoen afgooi in die bodemlose put wat onderwys geword het – 20% van die nasionale begroting. As Rhoda Kadalie se syfers korrek is dan het 800 000 studente laasjaar gedruip en is die druipsyfer onder MA en PhD kandidate onderskeidelik 80 en 88%. Studentegetalle by universiteite behoort verminder te word maar dis natuurlik nou net eenvoudig nie moontlik om dit te doen nie – daai Titanic gaan aanhou vaar. Universitêre opleiding in baie vakke, nie net die geesteswetenskappe nie, is vandag in SA ‘n doodloopstraat – en dis juis daai studente wat, soos die armes wat baie van hulle ook is, niks het om te verloor nie.

  20. Leon, dis nou so skuins voor middernag hier en ek sukkel om te slaap. Dis waarskynlik sonskyn en laatherfs daar by julle. Ek is te moeg om nou ‘n samehangende antwoord te skryf. My antwoord gaan jou weer koffie laat maak, want deel daarvan het met Freud te doen en ek weet jy het ‘n kleintjie dood aan Freud. Daar is ook meer praktiese dinge wat ons aanvang om onvoorbereide studente te ondersteun waaroor ek wil skryf. Baie daarvan het met lees en emosie te doen. Ek skep telkens moed as ek hieroor nadink. Intussen net ‘n skakel na ‘n rubriek oor aanverwante kwessies deur Joan Hambidge – ek het dit baie insiggewend gevind:
    http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/nie-voor-dooiemansdeur-20161019
    Groete vir eers.

  21. Stephan :

    1am. Hartseer gedig. Hartseer nou. Hartseer hoe mense links en regs, wat andersins nie was nie. Die ding skeur en vermink, en maak sy eie monster.

  22. Leon Retief :

    Andries ongelukkig wil Netwerk24 my nie toelaat om die skakel oop te maak nie maar ek het dit op Joan se blog gelees en ek neem aan dis dieselfde. Ja, dit klink bemoedigend maar wanneer mens dit vergelyk met 800 000 studente wat gedruip het dan wonder mens hoe effektief sodanige pogings gaan wees. Ek hou duim vas. My eie hoop is dat (aangesien die geweldplegers glo sterk in die minderheid is) hierdie chaos mettertyd sal uitbrand. Figuurlik gesproke, nie letterlik nie.
    Joan, en jy, is korrek dat universiteite sal moet verander. Hoe en tot watter mate is nie vir my om te sê nie. Net dit: soos niemand en niks van die wette van fisika kan ontsnap nie kan geen land ontsnap van die beginsels van ekonomie wat hierdie wêreld oorheers nie, ‘n wêreld wat ekonomies gesproke een kontinent is. Wat mens nou ook al van daai beginsels mag dink maar dit nou daar gelaat. Swak opgeleide graduandi gaan SA geen guns bewys nie en ook nie hulself nie en dit wil vir my so half lyk asof die situasie daarop afstuur. En dis een plek waar gevaarligte sterk flikker, newwermaaind die feit dat enigeen wat studeer by ‘n inrigting waar alle aspekte van die Westerse kanon (of selfs net die meeste) by die agterdeur uitgegooi word veel armer sal wees. Of is ek nou selfsugtig en Eurosentries?
    Ek verskil sterk van baie wat Freud gesê het oor die terugkeer van die onderdrukte(s) maar in die konteks waarin Joan dit gebruik is ek dit met haar eens, ek weet nie of dit is wat jy in gedagte gehad het nie. Nietemin, ek sal nie my repliek, indien daar een gaan wees, op jou volgende skrywe (ek hoop daar is een) vir Freud-bashing gebruik nie, daarvoor is die onderwerp te belangrik. Ek sal maar gaan koffie maak en swyg .
    Ek is bly as daar dinge is wat jou laat moed skep, ek self het maar ‘n “die glas is half leeg” persoonlikheid.
    En om moontlike misverstande uit die weg te ruim: in my vorige brief het ek stellings gemaak oor dinge soos ek dit sien, maar my doel was meer om vrae te vra want antwoorde het ek nie – beslis nie van hier af nie en selfs al was ek daar sou ek sekerlik ook nie antwoorde gehad het nie. Ek sal dus insigte waardeer, selfs al mag ek wonder of ek saamstem.
    NS: herfs hier ja, maar sonnig? Njet. Al die mooi verkleurde blare het afgeval en lê op die grond en die sentrale verwarming is aangeskakel.

  23. Leon Retief :

    NNS: Daar was ‘n smiley na “koffie maak en swyg.” Kom ek probeer weer: 🙂

  24. Maria Snyman :

    Andries, dankie vir die herinnering aan die konsep van “millenarian” en die storie van Nongqawuse se beeste. Universiteite as soos Nongqawuse se beeste? Beeste was BAIE waardevol vir daardie gemeenskappe! Pragtige provokatiewe (post-post-koloniale?) vergelyking! (“In the beginning was the Post” – Derrida.)

    Ek weet nie hoeveel jy belangstel in “academic literacy/academic literacies” (UK) [of “composition and communication studies” (USA, vgl. CCCC) of “systemic-function grammar (Australië)] nie, maar ek het onlangs op die volgende 1992 artikel van Min-Zhan Lu afgekom: “Conflict and Struggle: The Enemies or Preconditions of Basic Writing?” (skakel onder). Sy skryf in die inleidende deel met verwysing na Gloria Anzaldua se Borderlands: The New Mestiza (1987):

    “attempts to cope with conflicts also bring “compensation,” “joys,” and “exhilaration” (Anzaldua, Preface). The border resident develops a tolerance for contradiction and ambivalence, learning to sustain contradiction and turn ambivalence into a new consciousness – “a third element which is greater than the sum of its severed parts”: “a mestiza consciousness” (79-80; emphasis mine). Experience taught Anzaldua that this developing consciousness is a source of intense pain. For development involves struggle which is “inner” and is played out in the outer terrains (87). But this new consciousness draws energy from the “continual creative motion that keeps breaking down the unitary aspect of each new paradigm” (80). It enables a border resident to act on rather than merely react to the conditions of her or his life, turning awareness of the situation into “inner changes” which in turn bring about “changes in society” (87). ”

    Lu sluit haar opstel soos volg af:

    “The writings of the pioneers and their more established contemporaries indicate that the residual distrust of conflict and struggle in the field of Basic Writing is sustained by a fascination with cures for psychic woes, by two views of education – as acculturation and as accommodation – and by two views of language – essentialist and utopian. We need more research which critiques portrayals of Basic Writers as belonging to an abnormal – traumatized or underdeveloped – mental state and which simultaneously provides accounts of the “creative motion” and “compensation,” “joy,” or “exhilaration” resulting from Basic Writers’ efforts to grapple with the conflict within and among diverse discourses. We need more research analyzing and contesting the assumptions about language underlying teaching methods which offer to “cure” all signs of conflict and struggle, research which explores ways to help students recover the latent conflict and struggle in their lives which the dominant conservative ideology of the 1990s seeks to contain. Most of all, we need to find ways of foregrounding conflict and struggle not only in the generation of meaning or authority, but also in the teaching of conventions of “correctness” in syntax, spelling, and punctuation, traditionally considered the primary focus of Basic Writing instruction.”

    Ek sien Lu se skrywe dan ook in die lig van enersyds Derrida (Nietzsche [wat Chemie nog wou studeer], Saussure) se opmerking oor die feit dat daar net magte is en waar magte enersyds niks anders is as die verskille (“sonder enige positiewe terme” à la Saussure) tussen magte nie, en waar kwantiteit andersyds ‘n groter faktor is as kwaliteit à la Nietzsche, en andersyds dus ook in die lig van Derrida se opmerking: “you have to force things” (Derrida, in Irwin se Derrida and Writing the Body, 2010, p. 25), of soos Marlene dit so mooi metafisies (binêr) cum sagkens (splinterheerlik) poëties stel:

    “Mens volhard in jou bestaan as maker van komplekse dinge, as reaktor en agentskap in hierdie kulturele veld of jy hou gewoon op daarmee, […]. Dis eenvoudig: jy hou jou staande en gaan voort of jy gaan onder, eers in swye, dan in dadeloosheid, dan in emigrasie, uiteindelik in finale selfverwydering.”

    Skakel na Lu se artikel: http://criticaltheoriesandwriting.wikispaces.com/file/view/Lu_Conflict.pdf

  25. Maria Snyman :

    Leon, jy mag dalk nie oral saamstem met Freud se werk nie (dit IS unheimlich), maar het jy al Jensen se Gradiva: A Pompeiian Fancy gelees? Ek is seker jy SAL dit geniet – dis ‘n pragtige romatiese storietjie. Hier is ‘n skakel daarnatoe (jy kan Freud se interpretasie daarvan maar ignoreer – Jensen se verhaal is helemal genoeg om te voel hoe ‘n (sensitiewe) rasionele mens betower kan word) – 🙂
    : http://www.gutenberg.org/files/44917/44917-h/44917-h.htm

  26. Marlene van Niekerk :

    Ter verheldering, Maria: (en ek wil nou nie aflei van die fokus van Andries se blog nie) – oor die verhouding tussen kulturele/artistieke aktiwiteit/erfenis en sosiale ongeregtigheid en opstand: my vraag is eintlik maar gewoon watter opsies daar oop is vir wit mense in hierdie land wat skilder/skryf/komponeer/fotografeer indien hulle legitimiteit as “outeurs” steeds meer openlik aangeveg word op grond daarvan dat hulle hulle kuns bedryf uit hoofde van hulle historiese bevoorregting. Sou ‘n mens nou weer “toestemming” moet kry van ‘n politieke tribunaal op grond van sekere politieke belydenisse en handelinge wat jy bereid is om uit te voer? Sulke toestemminge is destyds onder die cultural desk van die ANC aan sommige progressiewe kunstenaars verleen byvoorbeeld om ten spite van die kulturele boikot oorsee uit te stal (soos bv David Goldblatt). Maar wat sal vandag “progressief” genoeg wees indien selfs mense soos Mbembe as sell-out afgeskilder word deur studente? Hierdie land se polities-gemotiveerdes (wit en swart nasionaliste/essensialiste het nog altyd ‘n probleem gehad met die onderskeid tussen filosofie/kuns en propaganda. Sommige kunstenaars steur hulle nie aan implisiete of eksplisiete sensuur nie en bly gewoon hier en gaan aan met hulle werk (soos Kentridge). En deur die geskiedenis heen het mense in tye van oorlog en ontsetting
    aangehou met estetiese ekspressie: vgl die Calais Sessions, waarby ‘n groep witterige bevoorregte musici van London na die Jungle gegaan het en daar gaan jam het met die vlugtelinge en opnames gemaak het. Wat dink jy is die kans dat Andries of ek ons bogaande gedigte by ‘n ideologies-aktivistiese vergadering van #FeesMustFall voorlees en getolereer word? Dink jy dit sal die inhoud (die vrae of suggesties in die gedigte) of die vorm (die taal of die woordeskat) wees waaraan mense sou kon aanstoot neem? Of dink jy ons sal verstaan word as mense wat ons ernstig en vorsend (sy dit met vol mage vanuit ons veilige wit huise) besighou met hierdie kwessies? Miskien kan ‘n paar digters van Versindaba dit proefondervindelik probeer vasstel en ‘n jamsessie prober reël met sanger Slovo Migada wat skilderye help verbrand het by die Shackville protes. Hein Willemse en Andries Visagie gebruik teenswoordig weer die woord “betrokkenheid” in hulle literêre kritiek – sou dit sulke eksperimente wees wat hulle onder andere bedoel? Of sou dit wees om digters wat Hiroshima of die Holocaust of die volkeremoord in Rwanda deurgemaak het stilisties en inhoudelik te siteer met verwysing na huidige Suid-Afikaanse toestande van onderdrukking van die armes deur die apparatuur van ‘n wordende polisiestaat? Of soek ons na ‘n eietydse Mbuli? ‘n Aktiviste-digter? Sien onlangse onderhoud met Rustum Kozain hieroor. http://bookslive.co.za/blog/2016/10/27/hedley-twidle-interviews-rustum-
    kozain-for-wasafiri-86-unsettled-poetics-contemporary-australian-and-south-african-poetry/

  27. Ek is veronderstel om voorbereiding vir veldwerk is Swaziland te doen, maar ek wil vinnig net op Leon se kommentaar reageer. Dis groot vrae en ek dink nie ek het noodwendig antwoorde daarop nie. Net kort opmerkings oor die tipe eksperimente waarmee ons besig is in die departement waar ek werk.

    ʼn Eerste punt wat ek wil maak is dat my departement – Sosiologie aan UP – nou rofweg dubbel die aantal studente het as wat daar in 1990 was (toe ek my eerste jaar daar gedoen het) en die helfte van die hulpbronne (dosente, tutors, assistente). Aangesien hierdie ʼn blog oor poësie is, wil ek nie in veel meer detail hierop ingaan nie. Deur dit te noem wil ek Leon se punt oor studentegetalle en hulpbronne onderstreep: My eerstejaarstudente kry nie die voordeel van die hulpbronne wat ek gehad het toe ek in my eerste jaar was nie.

    Toe ek vyf jaar gelede UP toe teruggekeer het en weer die kans gekry het om vir eerstejaars klas te gee, was daar geen groepsklasse om hulle te ondersteun nie. Meer as die helfte het gedop. Ons het daarin geslaag om geld te kry om tutors aan te stel en om weeklikse groepsessies in te stel. In hierdie sessies fokus ons veral op leesvaardighede. Mense soos ons (ek bedoel digkunsliefhebbers) lees baie en geniet dit om te lees. Baie van ons skoolkinders ontwikkel egter ʼn aversie in lees – hulle is bang vir tekste. As mens sekere stappe neem om deur daardie emosies te werk, kan ʼn mens ʼn groot verskil in iemand se lewe maak. Hierdie tipe werk kan jy nie in ʼn klas met 700 studente of met afstandsonderrig doen nie – dit verg kleiner groepe en individuele konsultasies.

    Aan die hand van voorgeskrewe werk leer ons die studente om sekere vrae te vra: As jy na die teks kyk (voor jy dit lees – m.a.w. hoe dit uitgelê is, opskrifte, die aantal bladsye), wat verwag jy? Watter tipe teks is dit? Hulle reflekteer ook oor die leeservaring: Wat probeer die outeur kommunikeer? Hou jy van die outeur se stem? Hoe laat die argument jou voel? Ek wil nou nie verder hierop ingaan nie. Vir mense wat baie lees moet dit heel belaglik klink, want dis die tipe reflekse wat mens instinktief ken. Ons probeer om dit in kleingroepsverband oor te dra aan ʼn generasie wat aan baie kort leeservarings gewoond is en meer tuis in ʼn visuele wêreld is (op kleiner en groter skerms).

    Ons slaagsyfer het verbeter (en dit is belangrik), maar benewens die ekonomie van hoër onderwys, is om mense lief te maak vir lees (of ten minste minder bang daarvoor) ʼn tipe bydrae wat moeilik is om te kwantifiseer.

    Ons eerstejaarstudente lees reg van die begin af klassieke sosiologiese teorie (Marx, Weber, Durkheim, Du Bois) as oorspronklike tekste (uiteraard vertaal). Hulle lees ook sekondêre tekste wat dit verhelder en ons eksperimenteer ook met die lees van romans, sodat hulle die lees van fiksie en teoreties/empiriese werk kan vergelyk. Ons kyk na beeldende kunswerke en luister na musiek in die klas (ek begin altyd met Hugh Masekela se “Stimela”) en bespreek gedigte.

    In my eerstejaar het ons Amerikaanse sekondêre tekste gelees – ʼn tipiese eerstejaar handboek. Dit was vervelig en het absoluut niks met Suid-Afrika te doen gehad nie.

    Ten spyte van die hulpbronkwessie, dink ek, is daar sekere dinge wat ons nou beter doen as in 1990. Ek dink ook die klasse is meer uitdagend en gaan oor die wisselwerking van die klassieke Westerse kanon en ons realiteit (of onrealiteit).

    My kollegas in bv. Denemarke is verstom as mens hieroor praat. Om in Suid-Afrika klas te gee is nie vergelykbaar met baie ander plekke in die wêreld nie – nie as jy dit behoorlik wil doen nie.

    ʼn Mens kan seker die eerste studiejaar gebruik om studente wat nie voorbereid is nie uit die stelsel te verwyder, maar dan breek jy iemand se selfvertroue vir die res van sy of haar lewe. Ek dink nie dis moreel aanvaarbaar om vir iemand klasgeld te vra, wel wetende dat daardie persoon nie die mas kan opkom nie. Almal kan nie die mas opkom nie, maar baie van hulle kan, mits hulle beter ondersteuning kry.

    Op persoonlike vlak, as ek nie ten minste die hulpbronne kan aanbied wat aan my beskikbaar was nie, wie is ek om oor die studente te kla? Dis nie hulle skuld dat hulle uit ʼn disfunksionele skoolstelsel kom nie en behoort met respek behandel te word – baie van my studente beland in my klas ten spyte van uitdagings wat ek nie weet of ek dit self sou kon oorkom nie.

    Leon, net vinnig oor die kwessie wat jou laat koffie maak het. Dis kompleks, soos alles hier, maar ek wil net noem dat studente met sterk vaderfigure die uitsondering op die reël is. Die Deense kollega waarna ek verwys se nagraadse studente kry tipies ʼn kwota van 12 ure wat hulle met hom in konsultasie kan spandeer om hul navorsingstesisse te bespreek. As ons daardie benadering hier volg, sal geen van ons studente hul nagraadse opleiding voltooi nie. Dis intensiewe werk en soos ek vroeër aangedui het, gaan dit oor veel meer as net akademiese inhoud. Met Suid-Afrika se raspolitiek en die identiteitskwessies waardeur jongmense moet werk, is dit noodwendig dat iemand wat moeite probeer doen juis in die spervuur sal beland. Die grootste probleem is dat mens nooit genoeg sal kan doen nie – dis nie menslik moontlik nie.

    Jy maak ʼn groter punt oor of die stelsel kan hou. Kort antwoord: Waarskynlik nie. Maar ons probeer en daar’s plesier daarin as klein verstellings wel positiewe gevolge het.

  28. Leon Retief :

    Baie dankie aan Marlene en Andries. Ek respekteer wat jy doen Andries en ek hoop dit werp vrugte af.
    Maria ek het al half vergeet van Jensen, dis jare gelede maar ek gaan ‘n nota maak van jou skakel en dit een of ander tyd weer lees om my geheue te verfris.

  29. Maria Snyman :

    Marlene, dankie vir die skakel na die onderhoud met Rustum Kozain.

    Volgens my praat Kozain van daardie “As die saal brand, wie red jy – die mens of die klavier?”-vraag in Andries se gedig as hy verwys na “(the writers) […] treated as anthropological informants”, oftewel “the issue which is about poetic craft at a time of cultural contestation” waarna Twidlee verwys, d.w.s. die oer-oue (abstrakte, formele) vorm versus (konkrete, sosio-kulturele-politiese) inhoud debat – as ek dinge reg verstaan.

    Hoe durf mens hare kloof oor formele aspekte as mense en/of klaviere brand, of tergende modernistiese en post-strukturalistiese gedigte lees en geniet as dit “[alw]eer ʼn doenige dag vir joernaliste” is?

    Akademiese geletterdheid (AL) is bekend vir die sosiale wending (“acculturation”) wat dit gemaak het, d.w.s. teen die meer formele “skills based”-benadering gedraai het waarin grootliks gefokus is op (die korreksie van) formele (detail) aspekte soos grammatika, punktuasie, ens. AL is dus o.a. ook gebaseer op tekslinguistiek wat die teks as kommunikasiesisteem beskou en ondersoek en op die teks bo sinsvlak fokus.

    Vanuit ‘n Derrideaanse perspektief is ‘n waardering van die fynere formele grammatikale aspekte egter ‘n sekere voorwaarde vir die moontlikheid vir enige teks/sisteem, om nie te praat van hoe ‘n groot verskil aanhalingstekenkies byvoorbeeld kan maak nie (soos byvoorbeeld om plagiaat te vermy, om nie te praat van ‘n geval soos van Heidegger se weglating daarvan om die woord “Geist” nie …).

    Derrida sien hierdie grammatikale dingetjies dan ook in die lig van die Griekse woord gramma – letter (van die alphabet, brief [gepos]?) – wat verband hou met grammē – merk, lyn, spoor (Frans trace), d.w.s. in die lig van iets wat die hiërargiese binêre teenstelling beduiwel gesien die vraag: Wat sou ‘n relevante vertaling daarvan kon wees? Spore is spore van spore, hulle verdwyn soos hulle verskyn gesien hoe hulle uit die staanspoor na iets anders verwys.

    ’n Vreeslike malheid waarvoor min mense geduld het – heeltemal verstane, want indien mens nie super-selfbeheer het nie, moet mens moet half mal wees om jouself daarmee te wil bemoei. Maar, is die fisiese wetenskappe nie niks anders as die terugsporing van dinge nie? Verfynde tegnologie laat ons toe om fyner en fyner en verder en verder en meer en meer te kan sien … en doen.

    My punt: Daar word volgens my in hierdie land, in die akademie, gesukkel met ‘n smaak vir die formele, die abstrakte, die logiese, die matematiese, die algebraïese, ensovoorts.

    Ek sou die vraag in Andries se gedig dalk soos volg wou beantwoord:

    In die lig van die feit dat die mens en die klavier ewe waardevol (en weerloos) – beide is spore, van spore van spore … of wonder-werke – probeer jy red wat jy op en in daardie ongoddelike singulêre moment fisies sterk genoeg is om te dra of sleep, en ek sou dus die mens probeer red, want die klavier sou te swaar wees. Sou ek ‘n ligte waardevolle antieke viool eerder as ‘n mens red? Ja, ek sou dit vir die nageslag wou red. Is ek harteloos? Dalk.

    Die vraag in Andries se gedig is natuurlik ook ‘n goeie vraag as mens dit beskou vanuit die perspektief van Derrida wat mens daaraan herinner dat dit juis is wanneer dinge onbesluitbaar (“undecidable”) dat mens regtig kan en MOET besluit … Hoe de duiwel doen mens dit?!

    Kuzain se opmerking oor “the present – which is a nightmare – and the past – which was a nightmare, but during which we had this hope or this dream of an escape from a nightmare” is vir my baie onrusbarend, want wat IS die hoop, die droom vandag? Visieloosheid voer volgens vele denkers tans die bo-toon in hierdie land …

  30. Andries, jou slotvraag:
    ‘Is jy bereid on jou lewe vir n klavier te gee?’ herinner my aan The Monuments
    Men (boek en fliek):
    ‘But was art worth a life, Taper wanted to know. Like all Monuments Men,
    it was a question that haunted him.
    ‘I had that choice,’ Leonard said.
    ‘I chose to remove the bombs. It
    was worth the reward.’
    ‘What reward?’
    ‘When I finished, I got to sit in Chartres
    Cathedral, the cathedral I had helped
    to save, for almost an hour. Alone.’
    (Robert M. Edsel, The Monuments
    Men: Allied Heroes, Nazi Thieves and
    The Greatest Treasure Hunt in History)
    Hierdie 345 mans en vrouens(!) uit
    14 lande het in die laaste jaar van die
    Tweede Wereldoorlog 5 miljoen kuns-
    en kultuuritems wat die Nazis gesteel het, gered. Twee van hierdie groep
    het hulle lewens daarvoor gegee.

  31. Maria Snyman :

    Pragtige antwoord op Andries se vraag Engela. Sjoe, goed om daaraan herinner te word!

  32. Ek het lank gehuiwer, maar gaan my reaksie tog maar plaas:

    Bestekopname van ’n kolonis

    hier brand ’n biblioteek, daar ’n klavier
    ’n skildery, ’n koloniale standbeeld
    ’n botaniese tuin en ’n treinwa

    Afrika het sy eie bewussyn, sy eie
    kunde en wetenskap wat die moderne mens
    verstom – hier had die Weste geen inspraak

    sonder die oorredingskrag van dwang
    en wette nie, daarvoor word hy gestraf
    ondanks verskoning en selfkastyding

    sy rasionaliteit bly ’n ewige raaisel
    sy tegnologie onbegryplik ’n abstraksie:
    in Afrika sal die wiel nooit draai nie

  33. Vergeef my die openbare worsteling met ‘n gedig, maar my reaksie lyk nou so (na digter-kollega’s se simpatieke en / of bejammerende kommentaar):

    Bestekopname van ’n kolonis

    hier brand ’n biblioteek, daar ’n klavier
    ’n skildery, ’n koloniale standbeeld
    ’n botaniese tuin en ’n treinwa

    Afrika het sy eie bewussyn, sy eie
    kunde en wetenskap wat die moderne mens
    verstom – dink maar aan die sangoma

    se inherente mag oor die psigo-soma
    en Modjadjie wat die reën kan roep –
    hier had die Westerling geen inspraak

    sonder die oorredingskrag van dwang
    en wette nie, daarvoor word hy nou gestraf
    ondanks verskoning en selfkastyding

    sy rasionaliteit bly ’n ewige raaisel
    sy tegnologie onbegryplik ’n abstraksie:
    in Afrika sal die wiel nooit draai nie

  34. Marlene van Niekerk :

    Beste Daniel,

    Eweneens met groot huiwering, ek neem ‘n voorbeeld aan jou openhartigheid, vir wat dit werd is:

    Die kwessie “die moderne Weste” versus “Afrika” is en bly een van die skaal waarop mens na bepaalde verskynsels kyk: in Afrika draai die wiel wel, en sommer hard ook, die wiel van onder andere klimaatsverandering en wel vanweë die – westerse – tegniese en ekonomiese rasionaliteit ten opsigte van die verbruik van grondstowwe soos olie.

    So waar lê die mees vernietigende soort rasionaliteit?

    Hieroor maak jou gedig geen uitsprake nie, maar ek reageer op die wrangerige(?) kontraste wat ek meen jy stel tussen die inheemse ir/rasionaliteit ( “Afrika” se “eie kunde en wetenskap”) wat die huidige verbranding van westerse goed bepaal, tradisionele wêereldbeskouings en magiese tegnieke plus ‘n wiel wat nie sal draai nie aan die een kant, en wette en dwang en by implikasie wiele wat altyd sal draai by grasie van abstraherende rasionaliteit aan die ander kant.

    Die uitstoot van skadelike gasse is die hoogste in die ontwikkelde lande van die noordelike halfrond. Vgl die Stockholm Resilience Centre se Global Dashboard waarop die Groot Versnelling in ekologiese verval en menslike”vooruitgang” sedert die vyftigerjare van die vorige eeu te sien is. http://www.igbp.net/news/pressreleases/pressreleases
    /planetarydashboardshowsgreatacceleration
    inhumanactivitysince1950.5.950c2fa1495db7081eb42.html

    So die wiel draai wel in die ontwikkelde lande maar teen watter prys?

    Die kwessie van die westerse tegno-wetenskap en die ekonomiese model van die kapitalisme waarbinne hierdie tegnologie steeds sneller ontwikkel is een wat in hierdie tye met vorsende kritiese oë bekyk word in sommige van die mees prominente wysgerige en antropologiese besinninge rondom die sogenaamde Antroposeen (die geologiese era waarin die – westerse – mens die belangrikste geofisiese krag is wat verantwoordelik is vir veranderinge in die aardkors en die onterugskroefbare oorskryding van planetêre grense)

    Die Antroposeen moet volgens vele eintlik die Euroseen of die Kapitaloseen of die Tegnosfeer heet. Daarom kan Dipresh Chakrabarty ook droogweg opmerk dat indien die hele wêreld so ontwikkeld was as die Westerse lande die huidige ekologiese krisis veel en veel groter sou gewees het. https://www.youtube.com
    /watch?v=svgqLPFpaOg
    Miskien is dit die rede waarom geleerdes soos Philippe Descola in sy boek Beyond Nature and Culture nie-westerse modi van rasionaliteit, van verhoudings met die nie-menslike en vorme van sosiale kohesie ondersoek. Vgl ook die werk van Eduardo Viveiros de Castro. Miskien ook daarom dat Bernard Stiegler, fel kritikus van die Westerse verbruikerssamelewing, die hele kwessie van die primêre mede-evolusie van tegniese instrumentarium as voorwaarde vir die nosie van “mens” en menslike evolusie so diepgaande ondersoek. Vgl sy drie volumes Technics and Time.

    Ek vermoed dat die mense wat klaviere verbrand nie eintlik op die hoogte sal wees van hierdie perspektiewe nie, my indruk is dat hulle veral veg met die doel om die kapitalistiese sisteem van verbruik ten alle koste binne te kom. Die gestiek van die studente-geveg as klassegeveg lyk presies dieselfde as die gebare van woedende mense aan die prikkeldraadgrense van Hongarye waar, naas die oorloggeteisterdes (oorloë oor olie!) ook groot aantalle ekonomiese en klimaatsvlugtelinge agiteer vir toegang.

    Mense word wêreldwyd sienderoë tot gemors en afval gereduseeer en uitgestoot deur die tegnologies toegeruste kapitalistiese sisteem en die vraag na produkte en stowwe op die globale markte. Mense word net soos afvalwater en afvalgrond gereduseer en uitgestoot in die sg Planet of Slums (sien boek met gelyknamige titel) Hulle steek hulle vuiste in die lug en skreeu daaroor, oor die hele wêreld sien mens dit.

    Maar dis die cover story vir dieselfde strewe na insluiting in die sisteem wat anders lyk hier in ons land, dis storie van pan-Afrikaanse kulturele essensialisme in sommige gevalle: soos ons gesien het haal die vorige hoofsweep van die ANC Mathole Motshekga, doktor in die regte, vir Hermes Trismegistus aan as antieke Afrika-outoriteit en spirituele kennisbron oor die ontstaan van die mens uit die oorsprong van die Nyl nog voor die ontstaan van die universum self. Sien http://www.enca.com/south-africa/homo-naledi-promotes
    -africans-subhuman-mothole-motshekga en http://www.news24.com/SouthAfrica/
    News/Its-pseudo-science-Motshekga-
    stands-by-his-views-on-Homo-naledi-20150911 . Dit doen hy graag in die openbaar in ‘n reaksie op die fonds van Homo Naledi wat volgens hom die westerse wetenskap se poging is om te bewys dat swart mense van die ape afstam en ‘n voortsetting is van die koloniale moondhede se regverdiging van slawerny.

    Eers as die water hier opraak sal sy opvolgers in die toekomstige regerings miskien verder begin navorsing doen oor Hermes Trismegistus, allig om ‘n fusie van die antieke esoterie met die politieke denke van Biko of Fanon te probeer fasiliteer, maar daarvoor sal hulle eers tyd hê nadat hulle die tegniese handboeke vir die ontsouting van seewater baasgeraak het, wat hulle absoluut sekerlik sal doen as die nood hoog genoeg is, indien hulle nie ‘n rede kan vind om Israeliese tegnici daarvoor in te voer nie.

    Al wat ek sê is mens sou, dalk selfs onder die mees growwe provokasie, kon oorweeg om nie bepaalde verskynsels tot mekaar te herlei en voorts in binêre pare te vereenvoudig of te veralgemeen oor wiele, hulle geïmpliseerde uitvinding of hulle draaivermoë in Afrika of in die weste nie. Die psigo-soma van die weste heet deesdae konnektiwiteit en inligtingstegniek, dit veroorsaak dat denke in ‘n eksterne deur algoritmes beheersde swermbrein begin plaasvind en ons almal sal oorwoeker.(vgl ook Liquid Modernity Zygmunt Bauman)

    En: ek verstaan uiteraard dat die logika en teenstellinge van gedigte anders werk as die logika van argumentatiewe instrumentele taalgebruik in ‘n artikel of toespraak.

    Nog steeds: ons weet nie wie of wat ons as wel of nie westerlinge is saam met die miere en die bye op hierdie aardkloot nie.

    Verder, volgens Deleuze en Guattari in What is Philosophy is die performance van opinie die grootste vyand van kunstenaars. In heftige roerige en tye waarin alles onder die druk van kontestasie staan, is die meeste kunstenaars konstant in die verleiding om hulle opinies neer te pen in plaas van, dwars teen en bo-oor alle opinie in, eerder die grein van die materiaal op niksontsiende wyse te ontgin totdat dit selfstandig begin vibreer as ‘n nuwe en veral vreemde ding. Dit gebeur met my die hele tyd en ek verloor gereeld die stryd teen my menings as ek ‘n gedig probeer skryf nadat ek videoclips van brandende bibioteke gesien het. Vandaar dat ek ‘n verhuising na Bhutan oorweeg.

    Om af te sluit: ons eintlike kontrak as mense is myns insiens met die son. Sy suster, ru-olie, het ons soort (via fotosintese) reeds eeue lank hartstogtelik gesoek en ons ) toe gekry (tydens die industriële revolusie veral die westerlinge goed beetgekry aan die short en curlies) ter volvoering van godweet watter noodlot met elkaar op hierdie kloot se voorlopige rangskikking van kontinente. Vgl Big History van Fred Spier en Peter Sloterdijk: In the World-Interior of Capitalism.

    As ons maar net gereelde groot eksploratiewe gratis simposia met tamatietoebroodjies en glase koel karringmelk vir almal kan hê oor hierdie dinge, en wel onder die leiding van internasionaal gerespekteerde deskundiges en geleerdes uit alle dissiplines, byeenkomste van onderlinge sosiale terapie waar mense in ‘n pakt van liefde en geduld saam kan lees en praat, insluitende almal in hierdie land wat vermoeid en belas is of woedend, angstig of opge-ef van innerlike wrewel en sinisme, maar miskien is dit al te laat. Die punt is dat dit GRATIS onderwys kan wees, via projeksies van wonderlike lesings en wonderlike boeke en artikels op die internet.
    #DownloadMustRise!

    Hier is byvoorbeeld, gratis te lees, ‘n hele boek vol fassinerende opstelle oor verbandhoudende kwessies http://www.antropologias.org/files/downloads/
    2011/07/Strathern_M__org__Shifiting_co.pdf

    En: ‘n pragtige gedig van Pablo Neruda oor die stilte en passiwiteit wat moet volg na byvoorbeeld elke simposium. Hoe beny ek hom dat hy sulke gedigte kon skryf. Maar selfs hy het in die canto’s soms veel meer politieke en geopinieeerde gedigte geskryf, om van Ezra Pound nie te praat nie.

    Keeping Quiet
    Now we will count to twelve
    and we will all keep still.
    For once on the face of the earth,
    let’s not speak in any language;
    let’s stop for one second,
    and not move our arms so much.
    It would be an exotic moment
    without rush, without engines;
    we would all be together
    in a sudden strangeness.
    Fisherman in the cold sea
    would not harm whales
    and the man gathering salt
    would look at his hurt hands.
    Those who prepare green wars,
    wars with gas, wars with fire,
    victories with no survivors,
    would put on clean clothes
    and walk about with their brothers
    in the shade, doing nothing.
    What I want should not be confused
    with total inactivity.
    Life is what it is about;
    I want no truck with death.
    If we were not so single-minded
    about keeping our lives moving,
    and for once could do nothing,
    perhaps a huge silence
    might interrupt this sadness
    of never understanding ourselves
    and of threatening ourselves with death.
    Perhaps the earth can teach us
    as when everything seems dead
    and later proves to be alive.
    Now I’ll count up to twelve
    and you keep quiet and I will go.
    ( vertaal deur Alastair Reid)
    http://www.onbeing.org/program/what-we-nurture/
    feature/keeping-quiet-pablo-neruda/336

    ( die strofe-spasies het weggeval tydens die cut and paste, jammer)

  35. Marlene van Niekerk :

    vonds van Homo Naledi, nie fonds nie, jammer vir al die verskrywings.

  36. Marlene, dit is waar: ‘n gedig behoort self deur woord-, klank- en beeldassosiasie oor ‘n onderwerp te besin – sonder dat die digter se opinie deurskroei – soos in Breyten se beste verse. Maar aangesien digters se medium die verskuns is en hulle soms tog ook hul mening oor aktuele sake wil lug in die taalvorm waarmee hulle die gemaklikste voel, is daar iets soos versetverse – vide weereens Breyten Breytenbach en daardie ander BB: Bertolt Brecht. Nie dat ek my versvernuf enigsins met hulle s’n wil vergelyk nie! Maar miskien moet die digter aanvaar dat as daar ‘n prosapolemiek rondom die uitsprake in ‘n gedig ontstaan (soos in my en Andries Bezuidenhout se gevalle hier op Versindaba), daardie vers as po”esie gefaal het.

    Wat die Westerse tegnologie en sy verwoestende uitwerking op die aarde betref: Ons bevind ons in ‘n posisie waar daardie einste tegnologie die enigste moontlikheid bied op regstelling en redding – soos ook blyk oor jou opmerking oor die ontsouting van seewater. En hoe gouer Afrika dit besef, hoe beter. As Afrika nie self daardie wiel aan die rol kry nie, is hy gouer verdoem as die res van die w^reld.

  37. Nog ‘n opmerking. As die studente-opstand gaan oor toegang tot akademiese instellings, waarom word daardie infrastruktuur dan vernietig? ‘n Voorbeeld van Afrika se logika / rasionaliteit? (En daar steek ek al weer my nek uit!)

    Toe V.S. Naipaul en Paul Theroux in die sestigerjare deur Afrika gereis het, het Naipaul omtrent die koloniale infrastruktuur voorspel: “This will go back to bush!” Theroux was geskok oor Naipaul se sinisme (sien sy boek “In Sir Vidia’s Shadow”). Vyftig jaar later doen Theroux verslag van ‘n reis deur Afrika (“Dark Star Safari”) en wat hy beskryf, is presies dit: Africa did go back to bush.

    Maar ongelukkig bied “terug na die natuur” nie ‘n opossing nie. Daarvoor is die w^ereld en Afrika gans te oorbevolk.

  38. Maria Snyman :

    Daniel, jou storie oor Theroux (wat sy woorde so terug getrek het) het my laat dink aan wat my Zimbabwiese buurvrou my onlangs vertel het, of die argument wat sy gemaak het oor die beter kwaliteit van onderwys in Zim. Sy het vertel oor hoe daar mense in Zimbabwië is wat gesien het hoe beton in rioolstelsels in Mozambiek gegooi word na die oorlog en dat dit een van die redes is hoekom Zimbabwiese ouers hul kinders se opvoeding so ernstig opneem en so baie doen om self hul kinders se skole instand en aan die gang te hou. Sy bly inderdaad nog hier in Suid-Afrika, maar sy wil haar doktorsgraad (inklusiewe onderwys) doen en dan teruggaan na Zim. Sy voel sterk oor die feit dat mense daar, anders as hier, weet hoe om dinge vir hulself te doen – sy vertel altyd van hoe die mense daar so plant en oes net waar daar ‘n ooptetjie is. Vir my is dit ‘n baie komplekse situasie, maar sy is optimisties.

    N.a.v. van Marlene se Homo Naledi-storie (sowel as haar gedig “White material” waarin sy so mooi oor die “worlds of men / and animals, an open domain of owls / and quail” skryf) wonder ek ook oor Achille Mbembe se aandrang op ‘n humanistiese benadering. Soos Ruth Lipschitz dit in die opsomming van haar proefskrif getiteld “Animality and Alterity Species Discourse and the Limits of ‘the Human’ in Contemporary South African Art” (2015) stel: “Mbembe’s critique of animalising violence and the violence of animalisation initiates my project’s desire to think ethics and politics of the subject ‘otherwise,’ from within the devalued and disavowed and indeed, sacrificed, animality that grounds it.”

  39. Breyten Breytenbach :

    Julle mense (ons mense, onsmense) moenie te kwaai met julself omgaan nie! Ons moet seker ook nie verwag dat ons eenmalig, homogeen, eenduidig sal (kan) wees nie. ‘n Bietjie genade kan nie kwaad doen nie.

    Ek lees op die oomblik ‘n bietjie Rumi, bo-langs. Soos altyd vermoed mens hy’s swak vertaal en dat daar ‘n goeie skep bygekom het, in keuse en aanbieding en selfs samestelling, van wie ook al aan hom torring. Mens lees tog seker maar waarna jy soek. Tog, ‘n bietjie van die ou bok se wysheid skyn deur. Hy skryf bv. (in Coleman Banks se Engles): “Remember, The way you make love is the way God will be with you.” (Wat natuurlik vir Leon en my, synde ateïstiese atties, oorlaat aan die die genade van Derrida se meisie.) Maar veral, hy skryf nogal dikwels oor ‘die stem’ van die gedig self – waar ander vorme van aanwesigheid of oordeel – vooroordeel? – nie meer in die mompelstrompeling van wat onderling tussen woorde/beelde/klanke gebeur se pad kom staan nie.

  40. Twee kort, ligsinnige opmerkings uit Malandelas in Swaziland:
    Daniel, van die afbranders onder die studente lees ‘n Suid-Amerikaner genaamd Mignolo (ek hoop my spelling is reg).
    Marlene, ek wonder oor Bhutan. Is Ysland nie ook ‘n opsie nie? Klink na ‘n lekker plek daardie.

  41. Leon Retief :

    Breyten, ek vermoed niemand is ‘n ateis tydens orgasme nie… 🙂
    Op ‘n ander noot: Antonio Gramsci het gese (ek parafraseer nou want ek is nie lus om te gaan soek nie): tussen nou en bevryding ontstaan monsters.

  42. Waldemar Gouws :

    Maggies, Leon, jy en Marlene klink soos voortrekkers – jy in ‘n teïstiese bedmoment en Marlene opgesaal vir ‘n vars hiervoormaals.

  43. Leon Retief :

    Waldemar: :-)!

  44. Breyten Breytenbach :

    Leon,daar is seker niks soos ‘n orgasme om mens te laat voel hy/sy is god nie – al sou dit agterna blyk slegs ‘n “swaardsteek in die water” (mooi Franse uitdrukking) te gewees het.

    En ek het ‘n spesmaas baie van ons huidige interregnum-monsters, om met Gramschi te praat (let wel, nie slegs die rectummonsters nie) verwar die afbakening van nuwe grensdrade (hulle sg. politieke masturbasie) met die oorgawegasme van ‘n goeie outydse godfokkie. (A la Brink: die uitdrukking; ek sal nie weet van die praktyk nie.)

  45. Breyten Breytenbach :

    foorwaarts !

    ons is die fokkolvolk
    ons wil die veelal vol maak
    met die verwesendheid van ons niks
    as onverwesentlike fryheid

    ons voel ‘n feer vir fiemiespolitiek
    niemand gaan fools van ons kan maak nie
    ons is die fokkolvolk

    vir wat wil jy ons nog ore probeer aansit?
    one farmer one fokof!

    in ons fantasie is ons ‘n familie van vokale
    nie net ‘n vermoering van medeklinkers nie
    en soms ferbeel ons ons is ver van hier
    waar freet verniet is en die faait slegs gaan
    om fyndraai en om bier
    en nie om voertsekvoorreegte of die fuilmaak
    van gewetens nie:
    die ‘gewete’ is ‘n koloniale figuur
    vrot van vetgattigheid

    ons is die fokkolvolk

  46. Breyten, en ek was huiwerig om my opinie te lug!

  47. Maria Snyman :

    Flippit, Mnr Breytenbach, vat u ‘n paar feite/fyte darem nou lekker vas met “foorwaarts!” – “die ‘gewete’ is ‘n koloniale figuur” is veral vir my fenomenaal. Gewetenloosheid is vir my die bron van alle euwel, want al doen mense met gewetens ook kwaad, kry hulle darem swaar onder hulle gewetens wat hulle pes, maar gewetenlose mense …

    Verder het ek nie net ‘n pragtige nuwe bynaam vir een van my gunsteling leesmeesters (u weet mos wie hy is) se spoor/trace nie – “fokkolvolk[ie]” voel vir my net so reg, “ons [mense, diere, plante, die aarde, sterre, …] is die fokkolvolk / ons wil die veelal vol maak / met die verwesendheid van ons niks / as onverwesentlike fryheid” – ons “fryheid” is altyd oppad …, maar ek weet uiteindelik waarmee ek my yskas binnekort gaan versier?!

    Om my plesier in konteks te stel, ek moet bieg ek is ‘n fan van Die Antwoord – wat Afrikaans so vreeslik vieslik ZEF (“Spelt Z to the E to the muddafuckin’ F”) verinternasionaliseer al sing hulle deesdae meestal in Engels. “Fat Faded Fuck Face” vertel byvoorbeeld:

    “Trying to make conversation
    Mouth moving but they don’t say shit
    Get the fuck off my spaceship
    I’m on a permanent vacation, blow a kiss to my haters
    [?], I’ll see you later, masturbaters”)

    Ek wonder wat ‘n spanprojek tussen Marlene van Niekerk en Die Antwoord kan oplewer – ek dink sy sal hulle ‘n paar gewigtige Afrikaanse woordjies kan byleer. Ek ervaar nou nog roerings as ek aan haar “Die kortstondige raklewe van Anastasia W” dink – Savage en Lovemore was vir my briljant!

    En dan ook: U aanhaling van Rumi se asemrowende woorde “Remember, The way you make love is the way God will be with you.” laat my dink aan wat ek onlangs in Agamben se opstel “Expropriated Manner” in sy boekie The end of the poem* gelees het:

    “A date of birth can be assigned, with reasonable accuracy, to poetic atheology: it is the day on which Hölderlin, at the dawn of the nineteenth century, corrected the last two verses of the poem “Dichterberuf” (“The Poet’s Calling”). Where the first version read:

    Und keiner Würde brauchts, und keiner
    Waffen, solange der Gott nicht fehlet

    (And there is no need for worth and for
    arms, so long as the god is not absent)

    Hölderlin corrects:

    Und keiner Waffen brauchts, und keiner
    Listen, so lange, bis Gottes Fehl hilft.

    (And there is no need for arms and for
    cunning, as long as God’s absence aids.)

    […] Hölderlin’s correction marks the point at which the divine and the human alike are ruined, at which poetry opens onto a region that is uncertain and devoid of a subject, flattened on the transcendental, and which can be defined only by the Hölderlinian euphemism, ‘betrayal of the sacred.’”

    * Die titel The end of the poem verwys na die laaste reël van ‘n gedig wat nie enjambementeer nie en dus, volgens Agamben se argument, prosa word. Enjambement, vertel hy, word deur sommige denkers beskou as dié onderskeidende eienskap van poësie, en waar Nicolò Tibino (14de eeu) enjambement gedefinieer het in die volgende pragtige provokatiewe woorde: “If often happens that the rhyme ends, without the meaning of the sentence having been completed”.

  48. Marlene van Niekerk :

    Not quite Die Antwoord, Maria, en Waldemar, maar hier is iets wonderliks ter stigting in roerige tye. Leonard Cohen se “volkslied” vir die planeet (en alle voortrekkers na die hiervoormaals of die hiernamaals) Luister maar, dis werklik om van te geniet by tonele van onstuitbare sosiale fizz (soos gister in die hoofstad) En: ek dink Spinoza sou ook daarvan gehou het, byvoorbeeld as agtergrondmusiek terwyl hy kyk hoe sy spinnekoppe baklei in die fles. As die swakste een oorwin was dan het hy mos ‘n vars een gaan vang in die tuin. Ensovoorts. Hier is die skakel om te luister en die teks daaronder.

    https://www.youtube.com/watch?v=BCS_MwkWzes

    The birds, they sang
    At the break of day
    Start again, I heard them say
    Don’t dwell on what has passed away
    Or what is yet to be.

    Yeah, the wars
    They will be fought again
    The holy dove
    She will be caught again
    Bought and sold and bought again
    The dove is never free.

    Ring the bells that still can ring
    Forget your perfect offering
    There is a crack, a crack in everything
    That’s how the light gets in.

    We asked for signs
    The signs were sent:
    The birth betrayed
    The marriage spent
    Yeah, the widowhood of every government
    Signs for all to see.

    I can’t run no more
    With that lawless crowd
    While the killers in high places say their prayers out loud
    But they’ve summoned, they’ve summoned up a thundercloud
    They’re gonna hear from me.

    Ring the bells that still can ring …

    You can add up the parts
    You won’t have the sum
    You can strike up the march
    There is no drum
    Every heart, every heart
    To love, will come
    But like a refugee.

    Ring the bells that still can ring…

    Ring the bells that still can ring
    Forget your perfect offering
    There is a crack, a crack in everything
    That’s how the light gets in
    That’s how the light gets in
    That’s how the light gets in.

  49. Andries Bezuidenhout :

    Ai Marlene, daar is Cohen ook nou weg.