Resensie: In ‘n oomblik (Cas Vos)

in 'n oomblik

In ‘n oomblik deur Cas Vos. Naledi, 2016

Resensent: Tom Gouws

Te veel verspeelde oomblikke

Hierdie nuwe publikasie is Cas Vos se tiende digbundel in sewentien jaar. Dit sluit nie sy twee knap vertalings, Fragmente uit die Ilias en Fragmente uit die Odusseia, in nie. Voeg daarby die werk wat hy as samesteller doen, asook sy hoogaangeskrewe teologiese bydraes (veral oor die Psalms), dan is Vos ongetwyfeld een van Afrikaans se mees produktiewe skrywers. Om soveel digkuns in so ‘n kort tydjie te skryf en gepubliseer te kry, is absoluut imposant.

Soos dikwels die geval met Vos se werk, is die voorblad van sy digbundels hier ook veelseggend. Annemart Swanepoel se bandontwerp (wat ongelukkig op die oog af te veel lyk na ‘n vorige bundel van Vos, Voor-bode) stel dramatiese donker wolke met ‘n tipe apokaliptiese sondeurbreek voorop, beskryf met Griekse letters en woorde, met lyntekeninge van Griekse gode en gestaltes. Visueel verpak dit die hooftemas van die teks. Die donker wolk simboliseer redelik geyk dat onweerswolke by wyse van spreke saampak om die sentrale persona in die bundel, maar daar is hoop deurdat die lig deurbreek. Met die loop van die teks verkry die beeld ook die bybetekenisse van ‘n hiernamaalse bestemming (soos ‘n gelyknamige gedig op p. 90 dan ook heet). Deur die donker wolke word spesifiek die bedreiging van die sieke geïmpliseer. Sy ongesteldheid, en ‘n lewe wat ingrypend in ‘n oomblik kan verander, soos die titel dan ook uitspel, word die breë tema wat die bundel onderlê. Menige gedigte handel oor hierdie ontredderende ervaring, die hospitaal, die mediese prosedures, die dokters, verpleegsters, fisioterapeute, die geliefdes se reaksie en verwerking, en dan natuurlik die dood wat so onverwags persoonlik, en skielik, in ‘n oomblik, kom nader kennis maak het.

Die titel van die bundel is op die voorblad, titelblad, agterblad in ‘n vorm van ‘n trompet- of basuinvorm geskryf, wat as teken noodwendig ‘n Christelike assosiasie met byvoorbeeld dood en wederkoms vooropstel. In die gedig ‘Bestemming’ word dit in vergulde kanseltaal só verwoord:

’n Stem luid soos ’n trompet

sal in ons ore klink:

“Kom na My toe,

na die nuwe hemel en aarde

waar son, maan en sterre

in ’n oomblik sal ophou glinster.

By My straal lig soos kristal.”

Uiteraard kan ‘n mens dan ook hierdie bundel lees as ‘n proklamering van sekere oortuigings rakende die mens en sy kortstondige bestaan op die aarde. Vos se perspektief is duidelik Christelik van aard, al is dit soms aweregs (soos die gedig ‘As ek eendag huis toe gaan’, wat nog eens ‘n onbevredigende verskrywing is van Ps. 23). Vos het in 2009 in ‘n onderhoud met Johann de Lange gesê hy dekonstrueer en saboteer religieuse tekste, maar in die bundel as geheel bevestig hy onteenseglik weer ‘n baie tradisionele Protestantse siening sonder enige vorm van ontluistering.

Op die voor- en agterblad is daar allerhande Griekse letters en woorde afgedruk, wat aandui dat die teks teen die agtergrond van die Hellinistiese taal en kultuur, ook veral mitologie, geprojekteer word. Hierdie tema, wat ook verskeie vertalings van twee bekende Griekse digters insluit, is nou al ‘n gevestigde digterspraktyk by Vos. Die slanke lynsketse wat uit die vertalings van die klassieke eposse kom waarna Vos hom so dikwels wend, dui aan dat hy weer eens sterk steun op die stramien van die klassieke letterkunde, en dat daar ‘n verdere ontginning is van die gode van papier waarmee hy so identifiseer.

As bundelmotto en stemvurk gebruik hy ‘n aanhaling van Wisława Szymborska:

Sover as wat die oog kan kyk, heers hier die moment.

Een van die aardse momente

wat ’n mens laat vra: moenie verbygaan nie.

In ‘n oomblik van doodservaring word die brose onmiddellike, die moment, lewensbelangrik, en uiteraard ook die sintuiglike bewaring van hierdie lewe. Die poësie word ‘n pleidooi om die voortsetting van lewe, ‘n begeerte om ten alle koste iets behoue te laat bly. Die desperaatheid, maar ook verslaendheid van hierdie ontgogelende ervaring, word besonder mooi in die openingsgedig uitgespeel, die paar geykthede en soetsappighede ten spyt:

In ’n oomblik

.

In ’n oomblik

is jy van die fetus­hurk verlos

en sien jy die wit swye

in die tydsverheldering

van versbeelding.

.

In ’n oomblik

omhels die liefde jou,

dans en skop jou hart

stof in die son se oë;

die oomblik se vlerke ruis

as die wind deur bome beur

jou drome plunder

en jy weeskind alleen

stilte in jou binnehoek soek.

.

In ’n oomblik

verwring sin tot onsin,

ontaar koringgerwe tot kafstrooisels.

.

In ’n oomblik

voordat die wind

’n nagspoor nalaat,

hoor jy aandtogmusiek.

Die vlei sing polifonies

onder die aanwesigheid

van die sterrehemel

en die werfmaan.

.

In ’n oomblik

dryf eiesug en dwase woede

jou in jou kort lewe só aan

dat die donker jou vlek,

uitsig wegruim.

In ’n oomblik.

.

Die gebruik van die vindingryke nuutskepping “versbeelding” in die gedig hierbo, wat vers/gedig, verbeelding, asook beelding naatloos in ‘n kontaminasie laat voeg, is tematies prominent in hierdie bundel (dis wel Breytenbach wat die woord gemunt het). Om die dwingelandy van siekte en dood te ontsnap, word die vers ingespan, die verbeelding tot die uiterste gestrek, die beeldingsproses tot in die vesels verken, om die “ding” genaamd dood te besweer. Om hierdie rede, meer nog as in sy ander bundels, is daar ‘n geding met taal, en dra die eerste van die afdelings van die bundel selfs die effe corny titel, ‘n inspeling op Descartes se bekende diksie: Ek is, daarom taal ek. In die gedig “Taal” spel die spreker dit soos volg uit:

Waar kry ek woorde

om met ’n skatkis metafore

verbeelde patrone te borduur?

Sonder my taal

is my mond gesnoer.

Houd den bek.

Sonder taal is verbeelding en drome

dwalende skimme.

Al is dit tematies vooropgestel, slaag Vos egter dikwels in die bundel nie om die doodsonde van die digterlike ambag te vermy nie – hy verduidelik ongelukkig gans te veel en verbeeld te min. Die digter moet Archibald MacLeish se wyse raad onthou: A poem must not mean / But be. Té dikwels val hy in die slaggat om maklike paaie te kies en uit te spel wat hy eintlik wil sê, sonder om dit deur die nou poort van die wonder te laat beweeg. [Dit sou baie interessant wees om Vos se digterspraktyk te vergelyk met sy teoretiese perspektief rondom hierdie saak deur sy artikel: ‘Beeld- en simbooltaal’ in Acta Theologica, 21(2):136-144 as verwysingsbasis te gebruik.] Sy retoriese gebruik van Bybel-intertekste dra dikwels grootliks by tot die geyktheid van segging, want hy maak digterlik nie veel daarvan nie. Die verdere strofes van hierdie gedig illustreer pynlik die gebrek aan taalverbeelding:

En nou wys ek julle

’n pad wat die allergelykste is:

Al praat ek die tale van mense

en van engele,

is dit sonder die liefde

’n stuk klinkende metaal,

’n galmende simbaal.

Al versamel ek kennis

en kan ek berge versit,

is dit sonder die liefde nutteloos

Die liefde bedek alles,

glo alles, hoop alles,

volhard onder druk.

Liefde is die allerfraaiste

in die kleed van my taal.

.

Daarom sal ek opstaan

en na my ma toe gaan

en vir haar oorfluister:

ek is lief vir my taal.

.

Die tweede afdeling, met verwysing na DJ Opperman se ‘Ballade van die grysland’, is getiteld: Slaap dapper in die grysland. Hierdie ironiserende titel verwys na die dood en die doderyk as die grysland. In ‘n in memoriam-gedig vir kollega en kunstenaar Bertie du Plessis praat die spreker van “jy het in ’n oomblik na grysland / uitgewyk”. Binne hierdie afdeling word verskeie lykdigte aangebied, ‘n toenemende tradisie in die eietydse Afrikaanse digkuns. Die dood (en lewe) van onder andere Muhammad Ali en Pablo Picasso word poëties gekis, asook eietydse geskiedenisse van byvoorbeeld die massaslagting van mense in Parys. In hierdie afdeling bêre Vos ‘n klomp gedigte wat almal op die een of ander manier met die allure van die sterflikheid geassosieer kan word. Net reeds in die titels word hierdie tematiese gefokusdheid duidelik: ‘Eagles of death metal’, ‘Na ‘n dood’, ‘Vaar-wel’ (mooi woordspeling op die vlugtelinge wat drenkelinge word), ‘Besoek aan ‘n graf’, ‘laaste woorde’, testament’. Geen twyfel waaroor hierdie afdeling handel nie.

Met die loop van die bundel word die konvensionele teologie oor die sterwe en die hiernamaals egter totaal eendimensioneel en geyk aangebied, Twee strofes uit die absoluut teleurstellende slotgedig ‘Bestemming’ as voorbeeld:

Ons gaan huis toe

met sneeuwit klere

en wuiwende hande.

Een vir een en vir goed

kom ons in ’n stoet,

met lofsange en psalms.

Ons knieë sal buig

voor sy glansende glorie.

Wanneer ons die welkomsange hoor,

sal ons dans en juig in ’n koor

en ons lof sonder ophou aan Hom wy,

ons jubelende vreugdes sal Hom verbly.

Die derde afdeling, mooi dubbelsinnig getiteld: ‘Verslae’, is ‘n uitvoerige digterlike dokumentering van siekte en die realiteit om “dalk vir die lewe vaarwel (te) wuif” (p. 36). Dit word ‘n geobsedeerde “medical gaze”, soos Foucault dit genoem het. Ons het ‘n baie ryk tradisie in Afrikaans van digbundels wat handel oor oudword en siekwees: Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok, Antjie Krog se Verweerskrif, Marlise Joubert se Splintervlerk, E.W.S. Hammond se Doodsteek van ’n diabeet , maar ook oeuvres waar daar ‘n sterk poëtika van pyn” (Marlies Taljard se frase) is: Sheila Cussons, Eveleen Castelyn, TT Cloete, Ernst van Heerden en vele ander. Voeg daarby die metatekste oor die liggaam, siekwees en die mediese praktyk, soos by Gilbert Gibson en Martina Klopper, onder andere, is dit ‘n formidabele tradisie om teen in te skryf. Cas Vos slaag baie, baie beperk daarin om nuut en onderhoudend ‘n wounded storyteller (Arthur W. Frank se munting) te word.

Siekwees (“illness”) word hier – in Susan Sontag se terme – nooit oorkoepelend gesien ‘n metafoor nie. Daarbenewens – hierdie afdeling wemel boonop behoorlik van moeë clichés en verslete beeldspraak: Ek lys net ‘n paar: “Ek teug die lewe tot bodem toe”, “blou van die dood se yskoue”, “My geliefde veraf vrou is soos ‘n robyn”, “Kaptein en matrose roep ter nouernood / tot gode, maar ek is narkose bedwelm” [sic], “met sy steriele skalpel kundig / heel te maak”, “Met sy steriele vlymskerp skalpel het hy / reeds die verraderlike infeksie probeer uitban”, “‘Stadiger tog, asseblief, / al is daar nog hope ongerief’”, “spuit dit op die eina-eina rowe”, “Onthou, dit bly seer”, “trane wat agter ooglede stol”, en so meer. Vos transendeer helaas nie die seer nie. Die geseur oor die siekte wat alles eis, die liggaamlike en fisiese aftakeling, die doodsangs selfs van hulle wat “onbeholpe oud word”, bring geen noemenswaardige katarsis vir óf digter óf leser nie, en dít is terminaal vir die digkuns.

Dirk Human skryf verhelderend oor Vos se vorige poëtiese konflikgesprekke oor menslike grenssituasies (In: Oor jou afdrukke. Met waardering vir Cas Vos se teologies-poëtiese bydrae. Dirk Human & Danie Veldsman, reds.), maar in hierdie bundel slaag die digter kwalik om oortuigend aan die liminale staat beslag te gee.

Afdeling vier bevat, soos ook in Voor-bode, vertalings waarin Vos die digters Giorgos Seferis en Konstantinos P. Kavafis Afrikaans laat praat. Kavafis se werk is spesifiek relevant in hierdie bundel, hy word immers die “digter van die ouderdom” genoem. Ons het al in die verlede goeie vertalings van hierdie digters se werk te lese gekry by Uys Krige, Joan Hambidge en Johann de Lange, maar Vos ken duidelik die grondtaal se fyner nuanses. Daar is weer eens agterin hierdie bundel uitvoerige aantekeninge, maar myns insiens is dit onnodig en te veel. As vertaler het Vos bepaald ‘n goeie reputasie, maar ek moet eerlik sê hierdie vertalings het my min geroer – die kenmerkende “driftige pen” van Vos se vorige vertalings ontbreek hier.

Afdeling vyf dra die titel: ‘En nou bly die allergrootste’, wat ‘n mens laat verwag dat daar in besonderhede à la 1 Korinthiërs 13 oor hierdie grootse saak gedig gaan word. In hierdie afdeling word die liefde aan die vrou besing, ook nou al ‘n bekende tema van Vos. Daar word wydlopig geleen hier, uit Jesaja, Hooglied, Johan Wolfgang von Goethe, Vincent van Gogh. ‘n Gedig van Dorianne Laux wat vry deur Vos vertaal is, ‘Skeepsmid’, is een van die bestes in die bundel. Tog vry die digterspreker ook hier dikwels in bedroë beeldspraak: “jou wange perskerooi”, “Jou naeltjie is ‘n ronde kom”, “ons een-same reis deurweek van liefde”, “Gee jou oor aan die liefde.”, “die geur van ons liefde”, “My oë smaraggroen, / my lippe vol verwagting.”, “jou rou smart”, “ek skilder verskietende sterre”, en andere. Dit stel mens teleur dat Vos – wat onteenseglik die vermoë tot vars beelding het – hier iets só middelmatig en substandaard opdis.

Die laaste afdeling dra die titel: ‘Uit-sig’. Weer eens is die koppeltekengebruik meerseggend, maar in die bundel as geheel word hierdie procédé te dik vir ‘n daalder. Vroeër in sy oeuvre het hy dit ook gedoen, in die bundeltitel Voor-bode was dit vooropgestel, maar in hierdie teks is dit ‘n absolute hebbelikheid: uit-koms, naelstring-­geheg, weg-­sterf-­note, uit-asem, ver-dra, Reis-verslae,  venster-­ruit, afdraai­-paaie, voor-­spooksels, uit-­roep, voor-oordeel, om ‘n klompie te noem. Die stylgreep is studentikoos en word op die duur deursigtig en irriterend.

In hierdie afdeling is die gedig ‘Misterie van oë’, wat saam met die gedigte ‘’n Nagbesoek’ en ‘Diabeet’, die hoogtepunte van die bundel. Daarteenoor staan absoluut fasiele gedigte: ‘Taal’, ‘Gebed vir die ortopeed’, ‘Voetsorg’, ‘Wonde’, ‘As ek eendag huis toe gaan’, ‘Bestemming’. Die laaste twee gedigte is ‘n verleentheid.

Op die keper beskou gaan dié laatwerk van Cas Vos totaal mank aan wat iemand soos Martinus Nijhoff misère genoem het. ‘n Tema soos hierdie vra ‘n beslaggewing van wat Derrida en Kristeva met melancholia bedoel het, of wat Friedrich Schelling Schwermut noem, maar dié denkmodus of perspektief ontbreek grootliks. Wat Vos wíl vasvang in woorde word nie deur ‘n gedrae emosionele diepgang gevoed nie.

Die agterblad van die digbundel beslaan ‘n uitvoerige stukkie teks deur die uitgewer, hopelik nie die keurder nie, wat Vos se bundel en werk probeer takseer. Ek is oorgevoelig oor hierdie tipe bemarking, want dit kan maklik ‘n albatros om ‘n bundel se nek wees. In hierdie geval is dit grootliks die geval. Die agterplat is swak en ondeurdag geskryf, en veral die gebruik en toepassing van literêre terme doen vreemd en meganisties aan:

In ’n oomblik toon die hand van ’n ervare digter wie se poëtika reeds gevestig is in terme van temas en tegnieke. Die digbundel verteenwoordig ’n voortsetting van dié aspekte van Vos se digkuns waarvoor hy reeds lof verdien het. Op tegniese vlak is daar veral sy baie effektiewe gebruik van ’n onpretensieuse toon wat dikwels sonderlinge poëtiese vondste oplewer. ’n Voorbeeld hiervan is die nuutskepping (die slinkshandige). Tegniese vernuwing vind ook plaas deur die aanwending van die epiese gedig en die tersine. Die intertekstuele gesprek met Homeros en Dante as reismotief om ’n langdurige ongeluk en operasie poëties te verwoord, is nuut in die Afrikaanse digkuns.”

“Tydens die reis kom daar fel en verskillende emosies en ervaringe na vore. Dit word alles met die leser gedeel. Die tematiese nuutheid en aktualiteit van die bundel blyk uit die digterlike uitbeelding van die menseslagting op 13 November 2015 in Parys en vlugtelinge uit Sirië se bootreise na ’n heen­kome. In die bundel kom daar diep emosies na die oppervlakte. Alles gebeur in ’n oomblik. Op die lewensreis word verskillende emosies ervaar: lig en donker, liefde en ongeluk, geboorte en die na-lewe. Die tema van verganklikheid en ouer-word is sentraal in die bundel. Die lewensreis is ook ’n taalreis. Daarom word die taalgesprek, in ’n boeiende saampraat met Konstantinos Kavafis, poëties uitgedruk. Op die leefreis is daar ook verlies. Hier kom Cas Vos se vertalings van Konstantinos Kavafis en Georgos Seferis se Griekse gedigte aan die bod. Die reis eindig egter nie in wan­hoop nie, maar met uit-sig.”

Die bundel word geen guns gedoen met hierdie soort slordige skryfwerk nie. ‘n Mens sou ‘n lang essay kon skryf oor die uitgewer se twyfelagtige uitsprake, lomp formulerings en gebrekkige styl soos dit hier uitgestal word. Trouens – ek meen Naledi het die digter grootliks gefaal om nie enigsins hierdie teks noukeurig af te rond nie. Daarvan getuig ook die onaanvaarbare hoeveelheid taalfoute wat in die bundel voorkom: “weeskind alleen”, “aan die anderkant”, “narkose bedwelm”,  “swaartekrag wette”, “denim hemp”, “staalpunt stewels”, “voë”. Dit pla baie as daar byvoorbeeld in die aantekeninge staan: “‘n Meester soos Kafavis stel hoë eise van die vertaler.” [sic]. En ook: “Sy gedigte is deurdring van die antieke wêreld.” [sic].

Ja, “slinkshandig” is vir my ook ‘n vonds, soos ook byvoorbeeld: “doen en nalate” en “gekant en klaar”. Maar Vos struikel dikwels in sy oorywerigheid om vinnig iets vindingryk te munt: “ons het woorde land en sand gestrooi”, “Soos perskebome ryp van albertas het jy boordevol metafore gedra”, “Ek was my pote in onskuld”, “waardige lokke”, “druppel trane oor die groot gryse se wange”, “in rep en moer”, “In ’n oomblik van verduistering / raak my sinne die kluts kwyt”, “ ’n Ambulans ver-dra my”.

Nadat ek hierdie digbundel ‘n paar keer gelees het, en ook weer my vorige resensie van ‘n Cas Vos-teks onder oë geneem het, (http://versindaba.co.za/2012/05/14/resensie-weerloos-lewe-cas-vos/), het ek aan hierdie woorde gedink wat in sy bundel Voor-bode, in die gedig: ‘’n Ou man’, staan:

.

Elke ver-

speelde oomblik

tart nou sy sinlose wysheid.

.

Hier is in dié bundel helaas te veel verspeelde oomblikke.

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.