Andries Bezuidenhout. Nocturnes

20161114_204746

1.

NAGSKAP

 

As ek ʼn kleur donkerder as swart kon vind

sou ek ʼn doek daarmee beskilder

en dan swart gebruik

om my landskap mee op te helder

 

ʼn Karakter in Kazuo Ishiguro se kortverhaal Nocturne aan die woord: “If it’s pop they want, it’s pop I play. R&B? Fine. Car commercials, the walk-on theme for a talk show, I’ll do it. I’m a jazz player these days only when I’m inside my cubicle.” Die karakter, ʼn musikant, is besig om van kosmetiese chirurgie aan sy gesig in ʼn hotel aan te sterk en ontmoet ʼn baie bekende aktrise wat soortgelyke chirurgie ondergaan het. Hulle kan mekaar se gesigsuitdrukkings nie lees vanweë die verbande nie. Hul nagtelike uitstappies en eskapades is vol misverstande, wankommunikasie en onbeholpe pogings om daarvoor te vergoed. Die musikant kan enige deuntjie speel, maar sukkel met menslike kontak.

 

20161114_204945

2.

Ek dink die afgelope tyd aan Suzanne Vega se “Night Vision”, ʼn lied van lank gelede. Uittreksels:

 

The table, the guitar

The empty glass

All will blend together when

Daylight has passed

 

Find the line, find the shape

Through the grain

Find the outline, things will

Tell you their name

 

Die olieverftegniek wat gebruik word om lig en donker te kontrasteer staan bekend as chiaroscuro – “chiaro” beteken lig en “scuro” donker. Rembrandt, Da Vinci en Caravaggio word gewoonlik as meesters van die chiaroscuro-tegniek genoem. Olieverf se glanskwaliteit – weens roulynolie en ander olies wat as basis gebruik word – maak dat die medium dit tot skerp kontraste leen. Suid-Afrikaanse landskapskilders soos Henk Serfontein en MJ Lourens gebruik die tegniek suksesvol – laasgenoemde werk egter meestal in akriel.

Dis baie moeilik om olieverfwerke in die chiaroscuro tradisie af te neem, omdat die oppervlak geneig is om te blink en lig terug te kaats, eerder as donker. Dis ʼn verdere kuns om hierdie tipe werke korrek te belig, sodat die kunswaardeerder nie deur gereflekteerde swart oppervlaktes verblind word nie.

Marsswart en ivoorswart is die mees algemene swart olieverfkleure. Kunsstudente leer tipies dat swart as suiwer kleur selde in die natuur voorkom. Min mense maak dus van suiwer swart gebruik en meng eerder ʼn donker kleur deur middel van ander kleure wat reeds deel van die gekose palet vorm. Indigo en gebrande omber maak ʼn heerlike swart. Indigo en Indiese rooi ook, maar dit het ʼn pers ondertoon. Om dit swarter te kry, kan ʼn mens ʼn leksel geel oker byvoeg. Hoe donkerder die donker, hoe donkerder kan kontrasterende kleure wees. As mens dan, op só ʼn donker doek, ʼn leksel helder byvoeg, gebeur die toorkrag van chiaroscuro.

Lig in die werklike lewe gloei, anders as op ʼn skilderdoek. Die ironie is dat donker kleure in olieverf beter gloei as ligte kleure, omdat dit lig beter reflekteer. Daarom kry die skilder slegs die effek van lig wat gloei as die kontras tussen lig en donker werklik tot die uiterste gedryf word. In skildertegniek gaan kontras nie net oor lig en donker nie, maar ook verskille tussen koue en warm kleure, asook versadigde (suiwer) en onversadigde (troebel) kleure.

Swart is die afwesigheid van ʼn oppervlak wat kleur terugkaats. Tog is daar altyd ʼn tipe weerkaatsing. As iemand swart klere aanhet, lyk dit nie asof die persoon se lyf verdwyn nie, behalwe as die persoon teen ʼn pikswart agtergrond staan en ʼn ultravioletlig sy of haar gesig belig. In sekere vertonings word hierdie effek gebruik sodat dit byvoorbeeld lyk asof iemand se hand (met ʼn wit handskoen aan) in die lug ronddryf. Die effek werk omdat die kontras tussen die swart en die wit so groot is.

 

20161114_205229

3.

NOCTURNE IN ROADSIDE LODGE MAJEUR

(of: die ontwykende balkesaag polka)

 

Hierdie hotelkamer. Watter melodie kan slaaptyd loop haal?

Sans klavier, plaat of kompakskyf, maar wel met wifi-sjibbolet

soek ek Chopin se Nokturne in E-mol majeur

wat op aanvraag aan skootrekenaarluidsprekers kom vyl –

 

toepaslik, die gevyl, die pianis saag immers deur klawer-ivoor.

Na hiérdie houtwerk is amper 23 miljoen keer geluister

en kommentaar gelewer, soos ene Crab, twee dae gelede:

 

Oh

My

Fucking

God.

 

ʼn Kwatryn? Waarderingstaal dun, so dun dat dit

deur optiese vesel ʼn ongelukstoneel tot hier kan frees:

“Meneer, asseblief, kyk anderpad, ry net verby.

Daar het niks in hierdie hotelkamer gebeur nie.”

 

Hierdie hotelkamer en ‘n heldere maannag se vrees

dat ‘n leegwit neonskerm my droom sal wees.

 

20161114_205026

4.

Om ʼn kleur donkerder as swart te vind is nie ʼn oorspronklike gedagte nie. My skoonma het my vertel van die outistiese seun wat knaend wou weet of daar ʼn kleur donkerder as swart was. Om hom te stil te kry, het sy ma bevestig dat daar wel so kleur bestaan. Die kind was verheug: “Dan gaan ek die huis daardie kleur verf, maar die gang swart verf – net om dit op te vrolik.”

Sedert 2014 bestaan daar wel ʼn kleur wat donkerder as swart is, omdat dit slegs 0.035% van lig terugkaats. Dit word “vantaswart” genoem, maar sommige mense noem dit “swartste”. ʼn Britse maatskappy genaamd Surrey NanoSystems het dit uitgevind. Die kleur donkerder as swart (vantaswart of swartste) is egter baie moeilik en duur om te vervaardig en bestaan nog nie as kommersiële produk in die mode- of kunswêreld nie. Dis jammer, want ʼn vantaswart T-hemp sal enige bierpens kan laat verdwyn.

Oor ʼn paar jaar gaan iemand ʼn kleur prakseer wat dalk selfs swarter as “swartste” gaan wees en dan gaan iemand uitwys dat “swartste” dalk eerder as “swarter” bekend moes staan. Dis egter nog in die toekoms. Die digterlike moontlikhede is natuurlik legio.

In haar nuwe digbundel skryf Susan Smith:

 

jy leer jou oë

om die donker te lees

om nagloper te wees

 

die begeerte

om die tuin vir laas

 

in besonderheid te herhaal

om die onthoude aarde

 

in biesies toe te vou

in pikbestrykte woorde agter te laat

 

Die gedig se titel is “Om die donker te lees”. Ek hou van hoe die digkuns die donker op ‘n ander wyse as die skilderkuns kan binnedring – die mooi beeld van Moses se waterdigte mandjie. Susan Smith natuurlik digter, maar ook skilder.

 

Aanhalings:

Kazuo Ishiguro, Nocturnes: Five Stories of Music and Nightfall (2006, Faber & Faber), p. 127.

Susan Smith, die aarde is ʼn eierblou ark (2016, Protea), p. 20.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Nocturnes”

  1. Marlise :

    Aangesien ek deesdae met ligaf urelank hulpeloos in die nagdonkerte instaar (waarskynlik om ‘n vertaling van die volgende dae dalk te sien), het jou blog vir my sin gemaak. Ook die lieflike vers van Susan daarby. Dankie Andries!

  2. Leon Retief :

    Andries, Michel Pastoreau het uiters interessante boeke geskryf oor die “geskiedenis” van kleure waarvan ek twee, oor groen en swart, gelees het. Die boek oor blou is ongelukkig te duur vir my sak, rooi verskyn vroeg volgende jaar en ek hoop dat ek dit sal kan aanskaf. Kyk of jy die boek oor swart iewers in die hande kan kry:
    http://press.princeton.edu/titles/8717.html

  3. carina :

    Dankie Andries, vir ‘n kort beskouing oor hoe jy kyk na swart. Met “Nocturne” in ons boekrak en die onweerstaanbare, swart gat van Anish Kapoor op ons drempel spreek dit my aan. Gaan soek gerus na Kapoor se “Decent into limbo”(1992). Hierdie minimalistiese werk, wat die effek van swart op die kyker ondersoek en uitdaag, is deel van die permanente versameling in Museum De Pont.

  4. Dankie Leon en Carina vir verwysings. Marlise, om wyle L. Cohen weer aan te haal: “You want it darker/We kill the flame.” Ek luister daardie een oor en oor. Die rabbi aan die einde, “Hineni, hineni…”