Carina van der Walt. Dier en drif in “De tuin der lusten”

rsz_2jeroen_bosch_-_diere_in_paradys

 

Jy maak die dier in my wakker! Hierdie ondubbelsinnige aankondiging van seksuele lus lê dikwels in die mond van die jagter. Watter jagtende dier hy of sy vir hom- of haarself in gedagtes het, hang van die betrokke spreker af. En op watter diersoort die aandag dan geprojekteer word, des te meer. Dier en Drif. Nooit was die lewe daarsonder nie. Maar as ’n mens die Wêreldnatuurfonds (WNF) se jongste verslae ter harte neem, is dit binnekort ’n werklikheid. Ongekend. Die dierebevolking het met 58% gekrimp. Vanaf 1970 is die aantal wild op die aarde met méér as die helfte gehalveer, terwyl die wêreldbevolking verdubbel het. Lucas Brouwers skryf in die NRC-Handelsblad van 27 Oktober: “Planeet aarde wordt een mensenplaneet.”

In die middeleeuse skildery De tuin der lusten (1503 – 1515) van Jeroen Bosch is diere in al drie die binneste panele (van links na regs: Paradys, middelpaneel en Hel) oorvloedig aanwesig. In die linkerkantste luik genaamd Paradys is die opvallendste diere vir die Suid-Afrikaanse kyker die olifant en die kameelperd. Dit is byna onmoontlik dat Bosch hierdie diere in lewende lywe tydens die middeleeue in Europa gesien het. Dit is diere van ’n ander kontinent, van Afrika. Veral die kameelperd se verhoudinge is verkeerd. Daaruit kan miskien afgelei word dat Bosch dit geskilder het na aanleiding van wat hy gehoor het of wat hy daaroor gelees het. Vir hom was die kameelperd ’n fantasiedier. Met die skilder van die olifant en die apie op sy rug het dit ’n beter gegaan. Miskien het Bosch iewers in ’n sirkuskaravaan uit Noord-Afrika ’n olifant gesien toe hy volgens oorlewering ’n ruk lank in Italië rondgereis het. Vir die Suid-Afrikaanse kyker is die wit eenhoring wat links by die dam water drink ’n mitologiese dier. Iets van die verbeelding, die fantasie. Is dit hoe ons agter-agterkleinkinders na ’n renoster of ’n springbokkie gaan kyk? Die wêreld staan op die rand van ’n massiewe uitsterwingsgolf, rapporteer die WNF. Die redes daarvoor is nie net klimaatsverandering nie, maar ook verstedeliking, besoedeling en stropery. Mensgemaakte probleme.

 

jeroen-bosch-eenhoring-in-paradys

 

Bosch se sedeles met De tuin der lusten om die middeleeuse mens teen morele verval en sonde te waarsku, het beslis ook betrekking op die diereryk gehad. Die slang as simbool van die kwaad is reeds teenwoordig in die Paradys. Hy seil regs teen die stam van ’n dadelpalm af. Terwyl God vir Adam en Eva in die huwelik bevestig, is die duiwel dus subtiel aanwesig by hierdie geleentheid in die gedaante van die slang. In die middelpaneel met al sy sensualiteit en aardse vergrype is nêrens ’n slang te sien nie, maar hy keer verdrievoudig terug in die Hel. Dan krul ’n slang dreigend om die hals van ’n lier waaraan ’n man vasgebind is. Hy pik van agteraf. Nog ’n man hang gekruisig in ’n harp, deurboor met die snare. Bo-op die harp drapeer ’n tweede slang en aan die basis krul ’n ou dikke. ’n Luislang? In W.E.G. Louw se gedig Drieluik: Die tuin van aardse luste word hierdie toneel in reël 42 tot 45 beskryf sonder dat daar enigsins na ’n slang verwys word. Dankie aan Dietloff van der Berg wat ’n fragment uit Louw se Die Hel vir my ge-epos het.

 

Vasgedruk teen sy luit sit die luitspeler daar –

’n janfiskaal se koringkriek aan ’n tak!

Die harp se snare is dwarsdeur die harpenaar

geryg, sodat hy – asof aan ’n kruishout – hang;

 

In die middeleeue kon slegs kerkmusiek amptelik bestaan. Alle ander musiek is beskou as aanstigting van vulgêre en uitlokkende danse wat tot sedeloosheid kon lei.

’n Uil loer uit ’n gat in die pienk fontein in die middel van die Paradys. Wat beteken dit? Ek het met die uil as ‘boodskapper van die dood’ grootgeword. Dis ’n vreemde simbool vir Europeërs. Deur die heen eeue het daar ’n groot verskuiwing plaasgevind in die simboliek van die uil. In die Griekse oudheid het die uil wysheid uitgedruk. Hy was selfs ’n kenteken van godin Athene. In die middeleeue verskuif die simboliek. Die uil waarsku teen domheid en onwetendheid, wat nié sy voorafgaande simboliek uitskakel nie. Hy kondig onheil aan. Pasop! In Suid-Nederlands (Vlaams dus) het in die middeleeue die volgende spreekwoord bestaan: “de meid heeft haar uil laten vliegen”. Dit beteken dat sy haar maagdelikheid verloor het. Sodoende was die uil in Bosch se tyd klokkeluier én erotiese simbool. Laasgenoemde word in De tuin der lusten se middelpaneel bevestig.  Daar sit nie meer ’n uil uit ’n swart gat en loer in die sentrale blou fontein nie. Daar staan ’n man en vrou en hy is besig om haar onsedelik te betas.

Al moes die uil dus sy posisie uit die Paradys afstaan aan twee wellustige mense in die middelpaneel, is daar nog steeds drie uile in dié onderdeel. Genoeg tekens van erotiek! Genoeg waarskuwings! ’n Misverstand wat hierdie jaar tydens die Jheronimus Bosch 500-jaar reggestel is, is dat die voël in die Hel op die gemak (of soos Louw dit noem die “troon”) nie ’n uil is nie, maar ’n nagswaeltjie. Dit word genoem Caprimulgus europaeus. Die assosiasie word bevestig deur die groot, swart oë en die stekeltjies rondom die bek. Dis is dus ’n uitvergrote nagswaeltjie wat besig is om ’n man in te sluk. Die uil is afwesig in die Hel. Gedurende die middeleeue het die rykste mense hulle behoeftes sommer in die stroompie die Dieze gedoen. Die Dieze stroom vandag nog deur ’s Hertogenbosch. Op één van die walle is ’n identiese beeld van die skytende nagswael op sy gemak aangebring. Dit laat toeriste wat nie vertroud is met De tuin der luste nie, gewoonlik vassteek en wonder: ‘Wat is dít?’ Hierdie toneel beskryf Louw in reël 56 tot 66.

 

’n Entjie vorentoe sit Modikak op sy “troon”

penspotjie as kroon, sy voete in kruike:

hy verslind met sy snawel sy slagoffers een vir een.

Deur die blou blaas van ’n derm val een in ’n vuilput;

’n gierigaard oor die rand gehurk, doen stil

sy behoefte in kuttel op kuttel van goue dukate.

Maar ’n minnetent is ingerig met gordyne

wat sleep om dié hoë stoel: hoere met huiwe

beloer die liefdespel van ’n man en ’n padda;

’n ydeltuit sien haarself en ’n esel – haar vryer –

weerkaats in ’n spieël teen ’n duiwel se agterent.

 

jeroen-bosch-uil-in-hel

 

In bogenoemde foto-onderdeel is ook ’n vrou met ’n padda op haar bors te sien. Volgens historikus Eric de Bruyn het dit in die middeleeue straf teen ydelheid beteken. Om haar naakte bolyf kleef twee nat pote, asof dit verband hou met die takagtige pote van ’n groen dier – ook ’n padda? – wat met sy agterent na haar kant toe gedraai kniel. Daaraan is ’n ronde spieël vasgemaak. Sy kyk nie daarin nie.

In die middelste paneel van De tuin der lusten kom twee klein paddatjies voor, maar dis in die Paradys wat Bosch hulle as ’n groep dreigende amfibieë in die omgewing van  die swaan skilder. Die simboliese waarde van ’n swaan was nog altyd positief: getrouheid, liefde, elegansie en harmonie. In die Paradys weerkaats die swaan se beeld in die water. Sien sy haarself as die paddas onder haar deurswem? Hulle verleidingselement is amper net so sterk soos die slang!

Drie huisdiere in die linkerkantste luik (Paradys) trek aandag as gevolg van hulle uitbeelding in die regterkantste luik, die Hel.

’n Konyn sit rustig in die paradyslike grassies geskilder. Die konyn het tóé vrugbaarheid gesimboliseer en simboliseer dit vandag nog. In die Hel (links onder op die vorige foto) is die konyn uitvergroot tot groter as mensgrootte. Hy dra ’n man aan sy haakstok en ’n soort jaghoring in sy poot. Die man hang onderstebo en is vasgebind aan sy voete. Net soos ‘n konyn, maar nou is hy die prooi.

 

jeroen-bosch-hond-in-hel

 

Die hond is die mens se grootste vriend. In die Paradys staan ’n spaniël. Hy is herkenbaar aan sy lang ore en staan regop op twee bene. Is daar ’n beter manier om die hegte band tussen mens en dier te skilder? In die Hel staan ’n groterige straatbrak oor ’n man gebuig. Hy het pas ’n gat in die man se bors geruk. Hy lek die mensebloed op.

Ook die witrot, geklee in ’n swart karnavalspak, het ’n man met sy swaard deurboor. Hý is die jagter. Die man is sy prooi. Of dit nou die rot, hond, konyn, nagswaeltjie of padda is, hulle is almal klein diertjies wat in die Hel bedreigend uitvergroot is en die mens aanval.

Die jagtoneel tussen dier en mens kom nouliks in die middelpaneel voor. ’n Bokkie snuffel onskuldig aan ’n man wat op sy maag lê. ’n Drenkeling? ’n Paar jagtonele tussen diere kom in die Paradys voor, maar die belangrikste speel af op die agtergrond tussen ’n leeu en ’n bokkie. Die leeu moes vir Bosch ook ’n fantasiedier gewees het. Nogtans het Bosch hierdie spesifieke toneel in meerdere skilderye geskilder. Die leeu wat ’n bok verslind, kom ook voor in Bosch se drieluik die Laaste Oordeel. Dit word net soos in De tuin der lusten op die linkerkantste paneel afgebeeld. Hierdie skildery hang in Wenen. Dieselfde leeu wat ’n bok verslind, kom verder voor in die vierluik Visioenen uit het Hiernamaals se linkerkantste paneel. Die skildery hang in Venesië.

As ’n mens Jeroen Bosch se skildery lees as ’n afbeelding van die lewe in die middeleeue en ’n waarskuwing teen sedelike en morele verval, dan het jag nie voorgekom as ’n menslike aktiwiteit nie. Die mens van toe se vraatsug is bevredig deur vrugte soos aarbeie, kersies, brame, moerbeie, blou- en rooibessies. Die mens uitgebeeld as vleiseter? Aikôna! Dis diere wat reg van die begin af mekaar gejag het en uiteindelik in die Hel ook op die mens jag.

Dit bring lesers uit by die tameletjie van plesier- en trofeejag. Vandag is dit amper Afrikanertradisie. Wie wil nou nié so af en toe ’n bokkie vir biltong gaan skiet nie? Dit is deel van die normale lewe. Maar is die jagtende mens ’n ontaarde mens? Hoe sou Bosch vandag daarna gekyk het? Heilna du Plooy het in haar sewedelige gedig Die jag uit Die stilte opgeskort hierdie problematiek goed uitgewerk. En hoewel die gedig glad nie geskryf is met die oog op die Hel in De tuin der lusten nie, kan dit dit net sowel verwoord. Die brand uit 1463 toe ’s Hertogenbosch verwoes is en vierduisend huise afgebrand het, is in die Hel ingeskilder. Bosch was dertien. Du Plooy skryf ook oor ’n brand. ’n Hel bly ’n hel. Die perd in Du Plooy se gedig is in Bosch se Hel vasgeskilder in ’n skedel. By Du Plooy roep dit ’n sterk beeld van Picasso se Guernica op. Dis maar enkele woorde soos “kanonne en gewere / vliegtuie en missiele” hieronder wat nié in Bosch se konteks inpas nie.

 

IV

Die prooi

 

in die verskroeiende

hitte van die geveg

in die loeiende

raserny van doodslag

tussen swaarde en perde

kanonne en gewere

vliegtuie en missiele

sal die jagter

as sy aanvoerder skree

in die donderende brand

in die verterende rumoer

weer en weer

sy boog terugtrek,

sy pyl afstuur

sekuur

na die bors

in die hart

van die enige

een

aan

die

ander

kant

 

wie se arms oopruk

voordat hy val

en wat roep na hulp

omhoog omlaag

van waar dit nie meer

sal kom nie

 

en in die pandemonium

is dit duidelik

die perd wat sy bek

erbarmlik

wyd ooprek

en hartverskeurend skreeu

 

Die WNF verklaar plesier- en trofeejag as moreel verwerplik. Suid-Afrika en Namibië word in hulle onlangse persverklaring genoem as lande waarin goed gekontroleerde jag op wit en swart renosters gewettig is in ‘n poging om stropery te voorkom. Gaan ons agter-agterkleinkinders nog renosters mét hulle horings en olifante mét hulle tande ken? Of sal die spesies heeltemal verdwyn het? Vir die WNF bly hierdie tipe wettige jag ’n kwessie van kwaad met kwaad bestry. En Bosch het sy punt bewys!

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Carina van der Walt. Dier en drif in “De tuin der lusten””

  1. Belle :

    Carina, dankie vir hierdie deurdagte ‘oproep tot groter bewustheid’. Soos Bosch, daag jy ons om te besin oor ons ego-gesentreerde behoefte bevrediging ten koste van ‘n ganse skepping. Die vraag is of ons bereid is om tot daadwerklike verandering in self. Be

  2. carina :

    Dit was vir my ‘n voorreg om ‘n hedendaagse kwessie deur middel van ‘n beroemde skildery uit die middeleeue te kon aanspreek, Belle. DANKIE. Dat ons klassieke digters goed geweet het waaroor hulle skryf met betrekking tot “Die tuin der lusten” is vir poësielesers hopelik toegevoegde waarde. Wat my veral fassineer is dat digters soms ook onwetend wetend ‘n universele snaar met ‘n gedig aanroer. Asof daar ‘n onsigbaar stroom onder alles stroom en digters dan met hulle eie werk onbedoeld maar onteenseglik daarby aansluit.

  3. Rene Bohnen :

    Sommer omdat ek weet dat jy van installasiekuns ensovoorts hou, Carina, hierdie kort videotjie wat ek raakgetoer het: https://www.youtube.com/watch?v=AcotvBHvz9A

  4. carina :

    Dankie vir hierdie moderne animasie, René. Sover ek weet het niemand nog regtig oor die vreemde vorms van de fonteine in “De tuin der lusten” geskryf nie. Die sg. onskuldige paradyspaneel? Ja! Die vryery, vrugte-etery en ander uitspattighede in die middelpaneel? Ja! Die helpaneel? Ja! Maar dis die detail in elkeen van hierdie panele wat ‘n mens laat duisel. Dis nou nog die twee buitenste panele uitgesluit!