Helize van Vuuren. Breyten Breytenbach se Die na-dood (2016)

die na-dood breytenbach

Breyten Breytenbach se Die na-dood (2016):

’n Afrika-sprokie of ontstaansmite oor blindemolle en ’n koningin met “’n ware towerstaf”

“Die jare gaan verby…maar mens se sondes is geneig om jou in te haal. Eintlik was dit sommer lawwigheid van my en ek was aan die begin nogal half trots dat niemand my uitgevang het nie. Ek wil darem byvoeg dat “plagiaat” nie slegs so oud (en verslete) soos die mensegeskiedenis is nie – want wie skryf nie na of oor nie? – maar dat dit ook ’n huldebetuiging is. Mens steel immers slegs dit wat jou aanspreek, dit waarmee jy dink jy kan werskaf, van die bron waarmee jy jou kan vereenselwig.”

(Breyten Breytenbach in ‘n kommentaar oor “Niklaas Abraham Izak Liebenberg” se fiktiewe bundel, Die eerste gety (1971). Versindaba, 23 Oktober 2013:

http://versindaba.co.za/2010/10/15/debuutwerke-in-die-afrikaanse-poesie-1944-2002/  )

Ure, dae, maande – ’n hele volle jaar het ek gestoei met Die na-dood – om te probeer begryp waaroor dit gaan en waarom dit so onpoëties is. Sopas het die lig gedaag. Die na-dood is ’n laslappiekombers van raapsels en skraapsels, van woordspore van herwaarts en derwaarts (baie van Litnet en Versindaba bydraers: lesers, digters, resensies. Die meeste kom uit die periode van 2014-2015). Aanmekaar geheg aan die mees vae algemene elemente met ewigheidswaarde binne ’n narratief van ’n pelgrim op reis (klip, berg, huis, see, boot, nag, dag) met skuim en lym, soos die digter opmerk aan die slot van sy laaste versamelbundel, Die singende hand. Slim verby! So slim “dat byna niemand dit wou vat nie” (Tristia, 1962), al is diep onderlangs op stoepe van die Kaap tot in Wenen gebrom oor ’n “insinking”.

Die waarheid is eenvoudig, en absurd: die bundel bevat ’n blufspel, om te toets of enigeen sou agterkom as hy woorde (meesal beelde) en frases van ander digters insmokkel, dit aanmekaar weef met sinledigheid en dit dan onder sy eie naam presenteer. Dié gesprek oor “digterlike duimafdrukke” het al op Versindaba begin in September 2013 (http://versindaba.co.za/2013/09/19/plekgedig-22-johannesburg-witwaterwyser/#comments).

’n Toets dus vir lesers, veral resensente. Ook ’n uitdaging, ’n toets van sy eie statuur, om te kyk wie durf na soveel jare reguit seg: “Dis minder geslaagd”. En tot dusver nog geen inkelte een… In die resensies wat verskyn het was besonder hooggestemde lofsange (veral Tom Gouws, maar ook Daniel Hugo), as sou die bundel geen enkel verskil van styl toon met ander Breytenbach-bundels nie. Daar is wel elders die vermoede uitgespreek dat dit oorblyfsels sou wees (Hambidge), en gewonder oor wat die “valstrik” sou wees (Van Vuuren).

In Die na-dood is die ru-materiaal beelde uit die skryfsels van digters, lesers, kritici van toeka tot nou, van hier en wêreldwyd. Hulle is almal daar, meesal in woordspore: “kwartels op sy” van Sheila Cussons uit Plektrum, ’n “doringheining” vlak “(L)angs die pad” vir Totius se “Vergewe en vergeet”, Leipoldt se Oom Gert vertel wie se hart nie wou bedaar, Van Wyk Louw se “Rondloper”…tot diep in die een-en-twintigste eeuse internasionale digters. Ook lirieke van sangers. Van A tot Z, van Celan-agtige neologismes tot Leonard Cohen (vergelyk “hartkraak” en talle ander krake met, “there is a crack in everything”, en sy “Tower of song” met “Toring van stilte”). Van Griekwapsalms in die gebed vir die Noord-Kaap (Hans du Plessis) tot kritici.  Vergelyk die openingsgedig, “Opsomming”: waar sou so ’n abstrakte parafrase ooit ’n gedig kon wees? Die vers bevat min of meer een beeld – “verkluimde trekganse in die sneeu”. En orals is doelbewuste feitefoute, teenstrydighede, spelfoute, ongrammatikaliteite (bv. “soos in nou” vir “dadelik” in die gebed om reën vir die Noordkaap) – as verwysings, met spesifieke funksie, maar tot dusver deur geen enkele kritikus opgetel nie. Kwartels hou nie in loekwartbome nie (titel van afdeling 4), maar onder bosse of vleie. ’n Boot met “gestrykte seile” kan nie “wegvaar” nie (“Ons gedig”, 2016:39). Dié foute is klaarblyklik daar om lesers attent te maak daarop dat dinge nie is soos hul voorgee om te wees nie. Daar is meerdere bodems…

Met Die na-dood het hy orals leidrade gelaat – soos aan die slot van Die singende hand, en rondom sy onlangse verjaardag op Versindaba, in bydraes daar. Sien veral die handleiding oor Carl Thunberg se Marmota Africana (die Kaapse mol en sy familielid, die Namakwalandse duinemol, te lese as ’n beeld van die wit en bruiner Afrikaanssprekendes), en sy skilder-metodologie as parallel vir die ars poetica in hierdie bundel. Die mees singewende elemente is die verwysings na Afrikaanse woorde of begrippe wat die herkoms van die taal aandui: Khoi of San in “koekemakranka” en “noem-noem”, Maleis-Portugees in “katjiepiering”, Frans en die “dubbele ontkenning” in die druiwetros waaraan in ’n vers gepeusel word, plus die harde gutturale “g”-klanke in “Ons gedig” (die “koninginneboot” waarin hierin gevry en gereis word, is nie dié van die Koningin van Engeland nie, maar van die Afrikaanse Taal). Al voorgaande elemente roep die eintlike onderwerp van die bundel op, “Die Afrikaanse Taal”, as die beminde vrou en die “juweel in die goue lotus”, waaraan die bundel opgedra is. In 1896 het Jan Lion Cachet (1838 – 1912) die taal só laat praat:

.

Die  Afrikaanse Taal

 

 Ek is ’n arme Boerenôi,

      By vele min geag;

Maar tog is ek van edel bloed,

       En van ’n hoog geslag.

Uit Holland het myn pa gekom

       Na sonnig Afrika;

Uit Frankryk, waar die druiftros swel,

       Myn liewe, mooie ma.

.

Hul skel my uit vir Hotnotsmeid,

       Maar ek gee daar nie om;

Want aan my lippies kan jy sien

        Van wat geslag ek kom.

Soet vloei die woordjies uit myn mond;

        Dit het ek van myn ma;

Maar as ek bid, dan hoor jy wel,

       Ek is ’n kind van pa.

.

Myn sussie wat uit Holland kom,

        Die hou verniet haar groot:

Die lug is alte skerp vir haar,

         Sy is al amper dood.

Die dokters kom nou bymekaar,

        Hul maak tesaam ’n “Bond” ;

Maar tog met al die doktery

        Word sy nooit weer gesond.

.

Myn niggie met haar stywe nek,

         Die loop in rooi satyn;

En baing jonkmans loop haar na;

        Sy denk hier baas te syn.

Maar as die awenduurtjie kom,

        Dan is die klomp by my:

Dis  “hartjie” voor en “hartjie” na:

         ” Laat ons ‘n bietjie vry!”

.

As ek maar eers myn vryer het,

        ’n Digter vol van moed;

Een wat my om myself bemin,

         En nie maar om my goed;

Wanneer dié vryer tot my kom,

         Vat ek hom by die hand,

En maak ek hom, hoe swak ek skyn,

         Nog koning in die land.

.

Want ek het onder in myn kis

         ’n Ware towerstaf,

Wat ek nog van myn ouma het,

         en niemand weet daaraf.

Hef ek die staf op, “Moedertaal” ,

          Dan volg die land my na:

En ek is netnou koningin

          Van heel Suid-Afrika!

.

Breyten Breytenbach se ‘fiktiewe’, ‘bewerkte’ bundel is ook ’n huldiging van almal werksaam in die “huis” van Afrikaans, deur gebruik te maak van die woorde van Afrikaanse lesers, vertalers, kritici, en sangers van toe tot nou. Maar dis ook ’n lang uitgesponne toetsing van NP van Wyk Louw se kunsteoretiese uitlating:

.

Uit die gevormde literatuur

is nooit weer poësie te maak nie,

uit die ongevormde wél…

            Tristia (1962:34)

.

Die bundel bewaar die DNA van die geliefde moedertaal, gevang-in-vlug van 2014-2015, en verwysend na die veranderende taalgebruik van 1896-2016, ’n periode van 120 jaar. Hiermee dien hy ’n finale nekslag toe aan Diena Dood, in die gloed van 14 November se supermaan…

.

© Helize van Vuuren / 2016

NMMU

Naskrif: Ondersteun die “Gelyke kanse”-inisiatief, gedenk dié bundel waarin ’n digter alles sit op die altaar van Afrikaans, en help om ons taal te probeer red van politieke ondergang.

 

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Helize van Vuuren. Breyten Breytenbach se Die na-dood (2016)”

  1. Breyten Breytenbach :

    Beste Helize,

    Daar HET jy my nou! Ek was juis op die tippie om ‘n nuwe (mis)baksel aan Versindaba voor te lê toe jou klip hier bos-in woer en my pote skoon onder my uitslaan. (‘n Geval van die tjank wat net betyds stomp afgetrap is.)

    Mits dese dan sela. So mettertyd sal dié wat onderlangs op die stoepe sit en brom het hopelik moed skep uit jou voorbeeld en kom stem gee. Nee a, ons Afrikaners skrik mos nie sommer vir koue pampoen nie!

    Ek het ‘n goeie innings gehad. Jammer (en verskoning) dat die sinkings hier so op die hond se stert my opgekeil het. Maar nouja – jy het my fê en skwê geboul vir ‘n duck. Ek lig my keil.

    Al ekskuus wat ek kan bedink – ook maar flou – is dié van die outjie in die spotprent waarna ek nou sit en kyk wat vir sy meisie sê (haasbek,
    asof hy ook klippe gekou het) : “So many other people have written poems that all the good words are used up.”

    So long,

    Binneblaf

  2. Maria Snyman :

    Nee wat Mnr Breytenbach, “sela” en “so long” se seksie sussie se … (Waar is daar nou tyd en plek vir sulke hartseer woorde?!)

    Bring vir ons daardie “(mis)baksel” hier op Versindaba en maak ons bly! Dis mos die ding van taal, soos die digkuns deur en deur bewys so in sig gebruik van goeie ou bekende woorde en woordjies, ‘n eindigheid met oneindige moontlikhede. “good words”, soos party ander dinge, kan mos nie opgebruik word nie?!

    “die spanning is te wyte slegs aan die plasing, nie die inhoud van die woorde” – “wat hier tel is die formele en sintaktiese praksis wat komponeer en dekomposeer” (JD)

    “If metaphysics is made up of moves which are identical, […], and if these gestures come down to reducing or erasing the powers of the signifier (and of the body) by means of arbitrary separations or cleavages, then this cannot happen without leaving marks.” – Jean-Michel Rey (1988:79-80) in sy teks “Commentary” in die afdeling “Toward a new logic: Singing the sirens’ song” in Nietzsche’s New Seas.

    (Sjoe, skryf ek nou wild en woes hier in die teenwoordigheid van grotes, maar dis daardie “Mits dese dan sela” en “so long” wat my so laat sing – ek kan dit nie vat so vroeg op ‘n Saterdagoggend terwyl ek sintaksis navors nie!)

  3. Francis Galloway :

    Helize, jy vlek die veelkleurige vis van ‘n boek behendig oop. En watwou se sela, Breyten. Aanhef lê
    voor!

  4. Leon Retief :

    Net om te laat weet: Ek stem saam met Francis en sowaar, by wyse van verandering, ook met Maria :-). Nee wat Breyten, jy kan ons nie nou in die steek laat nie.

  5. helize van vuuren :

    Ek was hopeloos te haastig om my “eureka!”-oomblik van insig te deel: eintlik is die bundel meer soos ‘n brein met dendriete en dun drade van sinapses (die woorde-of beeld-stringe van elders, verwerkin nuwe verband) tussen in. ‘n Neurale netwerk van digters en hul gedigte, verweef.

    Sien die grafiese voorstellings van estetiese plesier en die brein deur Jean-Pierre Changeux:
    Jean-Pierre Changeux – La beauté dans le cerveau …(Skoonheid en die brein) – hy het sopas ‘n nuwe boek hieroor gepubliseer:
    https://www.youtube.com/watch?v=Sjai6pPAy30

    Daar is ‘n hele paar groter donker eilande van vastigheid waar die Louw-stelling verkeerd bewys word in treffende en pragtige verse (“eetvers 3″,,”ons gedig”, “soos asem”, “leser: 18 Julie 2015”, “kolkstilte, Kersfees 2015”, “wat is die storie?”, “(N)oneness”, die fassinerende kwartel-afdeling 4, “die aanpraat van die skilderye”, “laatwerk”, “Die toring van stilte”, ” en “die na-dood”).

    As vernuwende eksperiment, is Die na-dood ‘n bundel wat die asem wegslaan. Nie ‘n bluf-spul nie maar verbluffend in reikwydte van als wat hier betrek word, en hier eggo in die woordklank. Vir homself as uitdaging gestel om mee te werk as “ru-materiaal” om nuwe verse uit te maak.

    Ek is besig met die “lê van die klip-eier” (soos sulke die digter sulke skryfsels van kritici of “leesskrywers” noem – bladsy 141). Sal kyk of hier dan ‘n nessie daarvoor gevind kan word…

  6. Waldemar Gouws :

    Indien Breyten se “sela” nou “omega” beteken, dan weet ek nie wat om te maak met die gewig wat die Bybel en die HAT (ook bekend as “goeie gesag”) aan “sela” verleen nie. En sê “so long” dieselfde as wat Leonard Cohen daarmee bereik het, dan lê daar nog heelwat werk voor vir Breyten, net sonder Marianne.

    Maar voel Breyten nie dalk soos Arthur Rimbaud en Peter Blum, met hul eie oorwegings onderskeidelik om op te hou met dig (om sommer uit die vuis uit – miskien uit Francis se vis uit – twee voorbeelde te gryp) dat hy met “die na-dood” wil aandui dat hy genoeg gehad het nie?

  7. En die gat-oor-kopslaan, Helize? Het slim toe sy baas gevang? Of die kopseer na die roes?

  8. In ‘Van digters en resensente gepraat’
    haal Dewald Koen onlangs op Versindaba J.C. Kannemeyer aan i.v.m.
    T.T. Cloete se resensie van Peter Blum
    se bundel ‘Steenbok tot Poolsee’:
    ‘tot vandag toe as een van die ernstigste mistastings deur n prominente Afrikaanse literator beskou’.
    Blum reageer in n brief aan Ernst
    Lindenberg:
    ‘Muse, maak jou uit die voete
    hier kom Theopompus Cloete
    met sy verbryselende knewel
    van n blink swart doppelstewel’.
    Die geskiedenis is n slegte leermeester!
    Breyten, jou lesers kan gelukkig
    self lees – binnekort hopelik jou splinternuwe gedig.

  9. helize van vuuren :

    kopseer na die roes
    babbelaas
    onderwaters vasgevang
    o Heer sny die koord!

  10. Opperman!

  11. In ‘Van digters en resensente gepraat” haal Dewald Koen onlangs op Versindaba J.C. Kannemeyer aan i.v.m. T.T. Cloete se resensie se bundel
    ‘Steenbok tot Poolsee’ :
    ‘tot vandag toe as een van die ernstigste mistastings deur n prominente
    Afrikaanse literator beskou’.
    Blum reageer in n brief aan Ernst Lindenberg:
    ‘Muse, mask jou uit die voete
    hier kom Theopompus Cloete
    met sy verbryselende knewel
    van n blink swart doppelstewel’.

    Die geskiedenis is n slegte leermeester!

    Breyten, jou lesers kan gelukkig self lees –
    binnekort hopelik jou splinternuwe gedig(te).

  12. Jammer oor die foute: T.T. Cloete se resensie van Peter Blum se digbundel….

    en ‘maak’ ipv ‘mask’!U

  13. Maria Snyman :

    Breytenbach as liefdemaker met sy (Afrikaanse) leser? Tom Gouws verwys in sy resensie van “die na-dood”* na Breyten se “dwingende bemoeienis, selfs amper obsessie” met sy leser, hoe hy vanaf sy eerste gedig “’n absoluut doelgerigte poging [aanwend] om die leser ’n deelgenoot van die skrywende subjek en die digproses te maak”, hoe die “mate waarin die digter kan vlieg (skryf) […] grootliks bepaal [word] deur die leser wat kan begryp en interpreteer, […]”.

    Gouws haal ’n gedeelte van “ons gedig” aan; ek plaas die hele gedig hier sodat dit daar staan om gelees te kan word, hier op Versindaba op die internet – dit is beeldskoon!:

    ons gedig

    sal ek dit weer onder jou aandag bring?
    dat die maan statig in die spieël se verblinding
    die vaart is wat ons poësie noem
    maar, leser, jy wat ingeskeep is
    is die enigste gedig
    die enigste oopgaanontdekking

    en ek skryf net vir jou
    ek skryf net vir jou dig bedagte
    versinsels van hoe ek jou verlyf
    en ervaar met die versugting om
    aan boord geneem te word

    dis seker jou straf
    om nie teen die prikkels van milde tugtiging te skop nie
    sodat jy ligter voel
    en soms aan my dink
    hoe nader woordsog kom
    aan die wegsink van skyn

    en dalk ’n glasie rooiwyn skink?
    jy wéét tog ek dors daarna
    om die heerlike vog van jou hemelnessie te drink
    en dan jou tepeltjies blink
    te vryf tussen voorvinger en duim
    tot stuiwers om die beurs te styf
    en na die hemelse ruim gesleeptou te word
    met jou daar te saamsaam
    tot in lendeverstrengelde lengte van dae
    en ons nagte
    wat rym met nagte?
    ek verbeel my geslagte het so gedroom
    in die sagte skedes en skagte van jou lyf

    ek versteek my in die gedagte
    aan die sterbevonkte wagte
    en kwartiere van ons wakkerslaap
    die magte wat ons loslaat
    wanneer ons dit die minste verwag
    soos ’n drag voëls in die takelwerk
    opskrik van die glans in die water

    as jy ragfyn die asemstilte oor ’n ander boeg
    gooi om te kom
    en die vreugdevlae wat jy my dan bring
    voor jy wegvaar met gestrykte seile
    om te verdwyn
    o lieflike koninginneboot
    die diep spieël van die see in

    * http://versindaba.co.za/tag/resensie-deur-tom-gouws/