Breyten Breytenbach. « die dood is ‘n oordrywing » (‘n klein reis)

« die dood is ‘n oordrywing » (‘n klein reis)

in hierdie onthoubrief aan Oupa Lewe

 

Bra Leonard,

 

Daar’s ‘n lover in die storie

Maar dis dieselle ou storie

Daar’s ‘n slaapliedjie vir lyding

En ‘n padda vir die boks

Maar dis ook in geskrifte

En nie net op die wind

Jy wil die nag verblind

Ons blus die vlammetjietong

 bb-foto1

 

*

Bring doodgaan ooit verlossing ? Die dood is wel ‘n oplossing, ‘n oplos-sing, maar ook ‘n toestand – wanneer jy toegegooi word onder die sand, ingespit, of wanneer die weefsels (die gort en die aorta, die woord en wat die oog gesien het) verknetter tot as en vlekkies been. Dood-gaan egter, die verwording wat ‘n proses is, die reis, bly dit ons by ? En wanneer die syn in die skyn verdwyn ? Bewuswees is immers in die saamneem. Daarna slegs nog daardie gesigte wat ons probeer vaspen in gedigte…

 

*

 

jy sal my moet vergewe

ek sal nie lank genoeg kan lewe

(niemand leef ooit lank genoeg)

met hierdie losglippende vashou aan helderheid

om reg te laat geskied

al sou dit ook net in die opnoem wees

aan al die dooies

 

die geraamtes blootgelê

die lyke wat uit die aarde peul

die ledemaatloses

die gefluit in die bome

die geraamde gesigte

dié wat tussen blaaie gebêre

nie begrawe gaan word nie

dié wie se woorde wurms is

dié wat onthou moes wees

 

om die lewendes nie eens te noem nie

 

dié wat aan deure klop

dié wat hul hande afvee

dié wat agter vensters gebare maak

dié wat langs paaie loop

dié wat in lense staar

dié wat in bome sit en fluit

die gebreklikes

dié wat hande klap

sien ?

ek kon nie aanhou vashou nie

 

*

bb-foto2

 

 

*

 

waar sal jek die woorde gaan haal

om uit te tel en stippelspel op die skaal

wat die oorhelbalans van nag na dag bepaal ?

 

die gedig die donkervrug, en met lig

die gesig te koud en te kaal

om die duisternis reise te onthou ?

 

maar ook dit wat opweeg

teen die vergeet : ‘n vel papier

se geykte ewewig : jy wat ek

 

*

 

bewussynsvloei

lappieswerk

met woorde gare

op naai na patroon

se skadu-wees

in die water

 

*

 

intens bewus van hierdie lyf,

log, soos dit deur ruimte

beweeg, met slak se ongemak

bedags, wanneer lig die donkerte skêr

buite, snags soos ‘n blinde se stok

tok-tok deur duister

bewusteloosheid                       gedeeltes nou buite

bereik en nie meer bekend nie

 

die bylê van drome

die wegsê van bome

die dryf in soomloosheid

se suising wat slaap mag wees

 

en nooit weer teen lewe te stamp nie

 

*

 

Die viering van wat mooi is – ‘n verlustiging in die skone : « Die mooie (skoonheid) is wat ons te staan laat kom voor die transendensiële. Vandaar die lig. Vir my vind dit uiting in sintaksis. Ek probeer ‘n sintaksis van werklike fermheid en helderheid nastreef. » So sê Amilie Northomb, die Walloniese skryfster met die vreemde hooftooisels wat vinniger romans produseer as ‘n bakker sy mooi broodjies.

Ook, om die oppervlak te ontdek – nie slegs in die sin van blootlegging nie maar asof dit vir die eerste keer gesien word. Beweging is immers om in wisselwerking te kom met wat reeds bestaan.

Ons is stukkende mense, elk op eie manier en dalk vir uiteenlopende redes. Miskien is dit lankal so. Dalk is die gebrokenheid deel van wat dit is om mens te wees, of besef jy dit wanneer jy bewustelik mens word, bewus van die onvoltooidheid én die heelheid en eenmaligheid van mens te wees. Ons leer om daarmee saam te lewe – ook sodat dit nie ‘n las vir ander is nie. Af en toe herken ons die stukkendheid van die ander en dikwels is ons nie bedagsaam genoeg om verdraagsaam teenoor die ander se krake te wees nie.

Ek praat nie net van wat spesifiek met elkeen van ons gebeur het, die wonde wat toegedien is, die kwesplekke met minder of meer effek weggesteek (ook vir self), maar eweneens die bewuswees van die gaping (die niet) tussen die strewe na éénwording, heling, transendensie en dit wat nooit bereik word nie. Behalwe soms – en dan is dit wonderlik. Miskien is dit juis omdat ons daardie wonderlike onthou, dalk heilig, dat die strewe daarna so seer maak

 

*

bb-foto3

 

*

 

dit is ingebed in die taal

dat ‘n god

(noem daardie aanwesigheid God

want alles verdien om naam te kry)

wat afwesigheid vergestalt

staangemaak sou word

in ‘n bestaan van die ondenkbare

 

om langs jou in die bed te kom lê

 

(God is moeg

en die versvoete is seer

van rondloop

deur die mens se syn

op soek na spieël

wel wetende dat skyn

soos taal ‘n skerfenis is)

 

skuif op, o vreemde leemte

die nag word koud

die tong is oud

en te klakkeloos styf

om nou nog liefde te maak

 

laat my aan jou raak

om te voel hoe voel

voel die dood

in my lyf

 

*

 

wakkerword is ‘n gebed

 

dankie vir die geleentheid

nou dit nog vroeg in die dag is

om asem te mag haal,

dankie om te belewe :

die aarde wat somber en bruin is,

‘n duif se gelate koer in die kloof,

die blare in stille afwagting

op die hitte.

dankie om die geleidelike dynserigheid

van vergaan mee te kan maak.

dankie vir die lewe wat ‘n skulp is

in die see oor alle onthoue

en voue van verandering heen,

dankie vir hierdie lyf as ervaring

se organe en ledemate die sintuie

nou swaar en byna verby

maar so min of meer nog bymekaar

om die illusie van deurlopendheid

aan die gang te hou, dankie

vir wat deurgaan as verstand,

meer versand maar met die wete

van maan om verdonkering te laat taan,

dankie vir die saambeweeg nog

met die betreurenswaardige van die mens

se kondisie.

dankie vir die silwer lig

so vroeg-vroeg gelaken oor die rante.

dankie vir stilte se mik

mik tussen sê en snik.

dankie, dankie

 

*

 

aanhou beweeg al

agter die woorde aan

en sonder om ‘n wêreld

se geraas te maak?

 

terapie vir doodgaan

 

(let wel: nie dood nie)

 

—————————————————

voetnoot : {die altydtyd van aanbeweeg}

 

*

bb-foto4

      

*

 

in die nag hoef jy nie oë toe te maak

vir die wete van ‘n stroom sterre

wat alle ewigheid oorvloei

om die geheime verklarings van bestaan

en niebestaan uit te spel

in die oënskynlike oorgange tussen lig

en altydstil se donkerte

geplof soos klippies in bodemloosheid

 

om te weet van ruimtewinde

wat sterre klingel soos klippies

opgehang bo deurposte van huise

waarvan die sleutels so swaar is

dat dit jou in die aarde laat sink

 

sing bome ook hierdie refrein ?

wanneer velddiertjies die ore spits

is dit om te luister na geruisloosheid ?

 

Celan skryf : die gedig is eensaam.

dis eensaam en op reis.

wie dit afskryf word ‘n ewige roetemaat.

maar is die gedig dan nie juis daarom

en dus ook hier

in die ontmoeting

in die geheimenis van ontmoeting nie ?

 

wié spoel uit ?

 

————–

Voetnoot : {In sy inleiding tot die versamelde gedigte van Paul Celan, ‘n keuse wat die digter saamgestel het uit slegs die handvol vroeëre bundels, skryf die vertaler Jean-Pierre Lefebvre o.a. as volg – en onthou Celan was eweneens ‘n gedugte vertaler wat grotendeels van sy vertaalwerk gelewe het : « Indien Celan se werk sig veroorloof om in afsonderlike verse ‘n mate van weerstand te bied teen maklike ontsyfering, dan is dit binne die raamwerk van ‘n meer oorkoepelende afspraak met die leser wat genooi word om die totaliteit van die siklusse te lees en herlees (om te ‘werk’ en deur die werke ‘bewerk’ te word), om die werwelinge raak te sien en daarop te let hoe sommige woorde se semantiese buiterandskap altyd weer terugkom, om ingelyf te word by die prosodie en sintaksis en vertroud te raak met al die Celaniaanse ‘ontkennings’. ‘Verstaan’, hier en vir altyd, moet aan die hand van ‘n dialoog gesien word as die ‘sin’ in woorde wat die dader wou afstaan, maar jy moenie vergeet om ook die skadu toe te staan nie ; d.w.s. die pad saam met hom te loop, hom te begelei in wat Kafka « ‘‘n ekspedisie na die reële » noem, met voldoende vertroue dat die paradokse wat jy raakloop nie oomblikke van ‘n verstarde onsekerheid van betekenis sal wees nie, maar verdere avonture in die soeke na presiesheid. Om te begryp behels dus dat jy wegstaan van die gewoontelike en aanvaar dat intuïsie en voorstelling – kortom beelde – se asem uitgeslaan word deur die naakte woord, sonder arabeske maar nietemin oop vir iedere windrigting, dat poësie nie uitdrukking is nie, maar naspeuring : om daardie arbeidsveld waar die verbale kosmos op die natuurlike kosmos ingestem word te betree, om eie aan jou self te wees, en soos die gedig « die draad gespan tussen die ster en die wind woorde op reis… » / En dan word Jean Bollack se besinning oor die besonderse etiese objek in Celan se poëtika onthou : « Die verhouding tussen die lewende (of historiese) onderwerp en die entiteit wat dit in die taal van poësie (be)skryf is die kern van die debat rondom die outonomie (selfsêheid) of die duisterheid van ‘n digkuns wat haar eie konvensies skep uit die deurlopende differensiasie en bevraagtekening van bestaande tale, hetsy poëties of kommin, deur hulle byna deurgaans te veronderstel sonder om hulle ooit te reproduseer. In hierdie beginsel dui dit dus ‘n stap aan in die volledige ontheiliging van die poëtiese tradisie en impliseer die uitskakeling van (haar ?) vermoëns om te integreer… » / « In die skadu van die dialoog geskryf in die jaar dat ‘Sprachgitter’ verskyn, die amperse kaalkop meningsverskil met Adorno, moet ons insien dat dit juis die hermetisme is – Celan se radikale individualiteit en aldus die opsetlike gevaar van alleenheid (of afsondering) – wat hom in staat stel om sy persoonlike betrokkenheid by en solidariteit met universele mense-belange te betuig, in teenstelling met die oorverdowende dialektiese evolusie van die abstrakte politieke ‘woord’ (Adorno se filosofiese ‘woord’ bv.) soos uitgedruk in ‘n pseudo-helder teoriek. » / « Onder die uitspansel van hierdie kennis was vertaalwerk, herhaaldelik elke week, vir Celan ‘n wyse om die etiek van so ‘n beskeidenheid (‘n etiese kuisheid) uit te lewe. Hy het vertaal sodat ander kon leer hoe om te vertaal, deur jaar na jaar op en in die taal te werk. Vir Celan is vertaling nie slegs ‘n kwessie van eenvoudige oorplasing, die afgehandelde saak van die gids aangeland op die ander oewer nie, maar « ‘n dialoog op weg », en dis as sodanig dat dit aansluiting vind by sy poësie – en tog is juis sy gedigte meer koppig onvatbaar vir vertaling as enige ander Duitse poësie. Al het hy ook die mees verskriklike vorms van eensaamheid belewe was Celan nooit ‘n eenlingdigter nie. Elke voltooide gedig wat « van hom weggeval het » is bemaak aan Leser. Hy het die konsep van onaanraakbare genialiteit verafsku – want hy het gewéét van sy verwantskap met die afgryslike. Hy nooi ons om hom sonder aansitterige familiariteit te leer ken. »

  

*  

bb-foto5 

 

*

 

‘ewigheid’ net-net anderkant begrip :

die tyd van sterre

reeds ondenkbaar genoeg

 

aanhou doen

om nie te verslib

in skreeuende stilte nie

 

*

 

fuga

 

Geagte owerheid :

hierdie sou die samevatting

van my lewenstaak as studieveld

kon wees : die onderlinge

wedersydse verhouding

tussen woord as sonderlinge

knal of swart gat

waarin alle materie as smart reeds verdwyn het

en sin wat dit opneem

soos die sterreruim beweging

en omgewing

en daarom betekenis

verleen

 

Ekskuus ?

nee – dis tog hoe die beeld ontstaan

ongeag sosiale agtergrond

of stamgeskiedenis

 

Of juis daarom

ja, ek weet ek praat nou

(en dan) van ‘n gemeenskapsfenomeen :

(dat dit) die ontwikkeling van interaksie

tussen één en méér aan sou stip –

daardie kyk na die klip in die nag –

waaruit oer-bewuswording

van verantwoordelikheid groei

soos nog altyd sedert sterfvrees

moes kyk na (weggekyk het van)

die lyk wat nie tot kos kon vertaal

(en dat ons) uit besef se immer-onthouwete

(omdat dit een van ons was)

toe klipkappers geword het

 

Rym bloei ?

o ek sien u wil my rig

na wat verheldering impliseer en toe moet lig :

één se weer en weer

bot aan daardie tak

wat slegs as waan

van bestemming bestaan

 

En daarom synvernietiging is ?

maar dan gee u toe

dat die dood ‘n herrangskikking

van veranderende en so verskuiwende

(verganende) danspatrone

gaan uitstippel tot in die verskiet

 

So soos pyn die seer

skering en skeur van om te lewe

om laat kom in aanhouweggaan se troos

 

————-

voetnoot : {Leser laat weet : « (L. fuga vlug) Abnormale geestetoestand gekenmerk deur oënskynlik rasionele gedrag gedurende ‘n periode van impulsiewe aktiwiteite (soos deur rond te wandel) ten opsigte waarvan die individu later volledige amnesie het ; onbewustheidsdaad »}

 

*

 

Leonard : Wanneer jy by jou bestemming kom en klaar gesels het met almal wat jou wil omhels en jou hand wil skud, kyk tog uit vir my ou vriend Amadou ‘Vieux’ Mbodji. Hy was op sy dag ‘n korporaal in die Senegalese leër. Het toe by ons by die Gorée Instituut kom werk as gardien. Regop, fier. Mettertyd moes ek agterkom hy is ook die waardige verteenwoordiger van die Pulaar minderheid op die eiland – nomade (van die groter Fulani groepering) wat suidwaarts migreer het uit die Fouta, hulle tuisland. Hy was ‘n vurige beskermer van Al-Pulaar, hulle taal. En altyd was hy een van dié wat my kom verwelkom wanneer die chaloupe soos ‘n logge seekoei uit die nag my terug besorg het na nog ‘n verre reis. My jonger boet… En wanneer ek my kamerluike oopmaak in die oggend was hy reeds op sy bidmatjie in die binneplaas met die pers verbleikblomme en die frangipanis. Toe, seker ‘n dag of twee voordat jy geval het, is hy laataand aangetref op die vloer van sy kamer. Reeds gedeeltelik verlam. Beroerte, sê hulle. In die nag oorgeneem Dakar toe in die hospitaalbootjie. (Ons het ook ons donker see wat oorgesteek moet word.) Twee dae in ‘n koma. En weg. Sy lyk gewas en afgespons, gevou in ‘n waad. Kollega’s het hom vergesel die 700 kilometers Fouta toe, geboortegrond, waar die imam hom in die aarde sou weglê. Die woue is swart linte in die hemel. Druk hom aan jou hart en hou hom styf vas vir my. Jy sal hom herken aan sy trotse houding. Hy het ‘n sterk en mooi stem, en ‘n conahim soos jy sal dalk ‘n by-psalmis nodig kry.

bb-foto6

 

*

 

« it is called grieving for the present »

(« Longing for ancient times and grieving for the present,

    my heart is exhausted » – Ryokan, Reading the ‘Record of Eihei Dogen’)

 

nou weet jy wat dit is

om dood te gaan :

dat alles en almal en dit en dié

vir wie jy lief was

sonder om daarvan bewus te wees

moes sterwe terwyl jy nog leef

 

en nou terugkom in musiek

die effense blaarbeweging

tussen kyk en sien

die randjie van ‘n gliplag

oor die malligheid van lewe

 

nou weet jy hoe dit is

om te lewe :

dat alles en almal en dit en dié

vir wie jy lief is

nie daarvan weet nie maar weet

hulle sal lewe terwyl jy nog sterf

 

*

 

dit is so

 

dit is so

dat jy vir die dooies opskryf

die geraamtedans van die hand

tot die oog

want slegs hulle kan lees

 

elke leser is dood in die stilte

van die oog

wat hier staan beweeg nie

behalwe in die koud-geklipkerkde hart

 

dit is so

dat hierdie makabere gebarespel

munte neerlê

op die leser se kykholtes

gekloosterde maantjies

vir enklaves van die duister

 

dit is waar

dat dit ‘n diens is

om die maan se vrugbaarheid te vier

dat die dansende digter

geruisloos sy Kaïnskennis sing

op wysies van die dooies se geheue

 

en die woord vleg-vlieg

soos ‘n voël se skelet

teen ‘n verhemelte van gister

in die gebrandskilderde oog

van ‘n dooie son

 

*

 

die gedig op reis

 

nou se dae

en nou se nagte

neem ek die voël in my kop op reis

en weet nie of sy lewendig anderkant

aan sal kom nie

 

wees rustig, sê ek –

ek weet die fuik is beknop

en jou vlerke kaal geskuur

teen die wande

 

maar moenie so trippel nie :

jy maak my deurmekaar

met die woorde –

ek weet daar is min te eet

in die bakkie van herinneringe

en dat jou wonde besmet sal word

 

kyk, jy is die gedig

wat ek nog gaan skryf

kyk, ek bespaar jou die vermoeiende vlug

 

vroeër sou jy vry oor hierdie seë

kon sweef

met die wind om jou te lig

totdat die son van die land

in die ewigheid verdwyn

 

maar toe was jy nie blind nie

en toe het jy nog nie my hand

op kom soek

 

want jy is my ongeskrewe vluglyn

voël

en as dood in die beweging

moet wees

sal ek jou versigtig bevry

uit die hokkie van my kop

om oor die gebroke lyk te streel

en koer :

 

kyk, ek hou jou hoog om die wind

te ruik

kyk, ek het jou tot hier geskryf

by ons bestemming

kyk, ons is tuis

by nou se dae

en nou se nagte

 

*

bb-foto-7

 

*

 

ek droom ek besoek die ondergrond

waar digters se skedels in groot sale

bewaar word

 

een netjies neffens die ander

almal ontstellend afgerond

in dieselfde glimmende afwesigheid

 

chronologies uitgestal op rakke

wat tot ‘n halfdonker oneindelikheid

van stille nadenke verskiet

 

finaal teen elke klein beenkoepel

is ‘n lewe se opsommingsgedig

in swart sierskrif geletter

 

hier en daar die rooi stempel geskiedenis

asof ‘n kwaadaardige leefblaar

nog aan vlees se verrotting

 

wou kleef maar geen spoor

van wurms of rimpels

of liefde kon laat

 

die gids kyk stip na my voorkop :

hou dit kort en helder asseblief

vir niemand om te lees nie

 

want ook daardie oë wat nou ‘n bestaan

in moet pas in tyd se donker wonde

sal slegs holtes wees

 

*

 

wanneer die somer verby is

en die land nou leeggeloop

van mensebewegings

stil en diep naklink met nadenke

in grys en in roes

 

dan het wolke die vryheid van die land

om skip te speel, of kasteel of skaap

of sommer net ‘n hand aanwesigheid

statig en vol           dragtig is die woord

soos wanneer die grootmoeders

mark toe gaan  en slegs die kantwerk

van ‘n onderrok se sleepsel lig

daaraan herinner dat hulle eens

hoere was

 

______________

voetnoot :

 {in die oord van word

  dra ‘woord’ beide

  die demensie van ‘droom’

  en die skadu van ‘moord’

 

   is betekenis ( ook net ‘teken’)

   opgesluit in woord

   of is woord (slegs) die rigtingduier –

   die ‘predikant’ as ware ?

 

   en dan : maak geskiedenis betekenis

   of word dit daarmee besoedel ?

   en sou betekenis sonder vervuiling

   kon oorlewe in verwording se boord ?}

  

*

 

Met herfs is silwerigheid in die suide die lig se glans op pouplierbome. Kyk hoe mooi, hoe gaaf is die dalende sonlig oor die heuwels, hoe die glooiings bestryk word. Dis vingertoppe wat die dames se dye aai. Ek het die indruk dat ons deur die skemerte ry maar mens kan myle ver sien. Lig kom nie van ‘n herkenbare bron nie – dis van oral, gedemp en ingeneem deur wingerde, boorde, bosse, landerye – gespieël in waterlope, kanale, riviere. Die lug is ‘n gaasdoek van einder tot einder, in ‘n boog gespan, met hier en daar ‘n skeur en dan is dit ‘n verblinding wat deurskyn. In die water van die étangs waar langbeenvoëls rustig in rye sit en wag vir die nag na ‘n dag se gevry met hulle weerkaatsings, en met wat dalk nog gesê kon word nou opgekrop – in die étangs baai die ondergaande son haar gesig. Die lig sal gelaaf word. Geleidelik weet jy : hierdie is ‘n land van skemering.

 

*

 

{« Since this is so, there is no remedy for satisfying hunger other than a painted rice-cake. Without painted hunger you never become a true person. There is no understanding other than painted satisfaction. In fact, satisfying hunger, satisfying no-hunger, not satisfying hunger, and not satisfying no-hunger cannot be attained or spoken of without painted hunger. For some time study all of these as a painted rice-cake.

When you understand this meaning with your body and mind, you will thoroughly master the ability to turn things and be turned by things. If this is not done, the power of the study of the way is not yet realized. To enact this ability is to actualize the painting of enlightenment. »}

– Dogen. On the fifth day, eleventh month, third year of Ninji (1242), this was taught to the assembly at Kannondori Kosho Horin Monastery.

Translated by Dan Welch and Kazuaki Tanahashi

 

*

 

die dag daal skerp

die aarde gaan nog somberder wees

die luglyn reg rondom

waar wolke reeds gaan lê

in roos en ligte pers kooigoed

asof hulle verlief is

sal hierdie voorspel snoer

in donkerword

 

in ‘n donker wingerd

het ek ‘n brandstapel sien vlam

die dans van vonke en ‘n vokaal rooksinjaal

en ‘n swerm dartelende voëls

gedompel in die donkernis

bevry in die lig

vervleg in die wilde dodevuur

van singende spieëlskerwe

 

*

 bb-foto-8

           

 

« you would rather throw stones at a mirror ?

I am your mirror, and here are the stones. »

Rumi, Selected Poems

 

 

© Breyten Breytenbach/2016

 

 

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Breyten Breytenbach. « die dood is ‘n oordrywing » (‘n klein reis)”

  1. Dankie hiervoor Buiteblaf. Ek het gehoop jy sou iets aanstuur en al amper opgegee. Ek is bly ek kon gisteraand jou brief aan L. Cohen ‘n paar keer lees. “Are you the teachers of my heart? We teach old hearts to rest.”

  2. Maria Snyman :

    Sjoe, Mnr Breytenbach, wat sê mens op so ‘n ryke, hartroerende en leersame “klein reis”? ‘n “geverfde ryskoekie”? (Te wonderlik!)

    Die Leonard skildery is pragtig!

    Cohen se woorde

    “There is a crack, a crack in everything (there is a crack in everything)
    That’s how the light gets in
    That’s how the light gets in
    That’s how the light gets in”

    (soos onlangs deur Marlene van Niekerk hier op Versindaba aangehaal)

    laat my dink aan u volgende gedig uit “die na-dood” wat ek hier vir die lesers aanhaal:

    die hartkraak

    so van skryk na skrif
    kry ek nie my woordryk
    uitgestryk nie:
    die skryfstok struikel
    en die uitreikklok van drif
    ’n kraak in die uitgewoedendheid

    Dankie vir die klip- en sintaksisstories – dis twee van my gunsteling onderwerpe. (Noem my maar ‘n konkrete formalis.)

  3. Baie dankie, liewe Breyten, vir hierdie aangrypende ‘onthoubrief’, die lieflike
    skilderye en die onvergeetlike ‘geklipkerkte hart’.

  4. ‘koud-geklipkerkte hart’ (asemrowend)!

  5. Francis Galloway :

    Ek het weer gelees wat Breyten in “’n Klein reis deur die wêreld se kwyning aan die hand van woorde” hier op Versindaba geskryf het oor hoe hy tydens ’n jazzfees in Vienne “probeer verduidelik wat Afrikaans is en hoe dit nou beweeg na die ruimtes van vergeet waar daar niks meer is nie om tot in die verskiet te dein”. Dit was hier waar hy vir Cohen “in die jaart van ’n laerskool” ontmoet:

    “Cohen sit eenkant op ’n bank, sy hoof slank soos dié van ’n eensame roofvoël, die oë diep in hulle kaste. Hy is ’n beleefde iemand uit ’n ander, meer beskaafde era, met die diskresie van ’n oorlewende wat viool speel wanneer dit donker word. Natuurlik gee hy ook uiting aan ’n soort Mandelamania, die uitsonderlikheid van die figuur wat op die regte tydswerweling daar was. ’n Trapsoetjies versigtig gedra op die wêreld se gewrig. Met oë wat alkant toe draai ? En nee, hy dink tog dat die utopie van Suid-Afrika ’n deurslaggewende moment in die mensegeskiedenis was, daarna kan die mensdom nie weer dieselfde wees nie, net so belangrik as die Revolusie, en dat alles nie verlore is nie, dat dit die land van die toekoms is. Waarom sal Jek ook daardie skyntransendensie wil vernietig ? […]”

  6. helize van vuuren :

    Liewe Francis
    Daai is ‘n gans andere Cohen, die Frans-Joodse Marcel Cohen van RAUM DER ERINNERUNG (RUIMTE VAN HERINNERING)(2014), enigste een wat oorgebly het as 5 jarige seuntjie van ‘n hele familie uitgewis in die holocaust. Wat nou onlangs, op sy oudag vir die eerste keer sy enkele herinneringe aan sy mense (saam met “die hoorsê” en “die oorvertel” v mense wat sy dooie mense geken het), saam met foto’s van die paar goedjies wat hy oor het, wat hom aan die vernietigde wêreld bind (hout eier-kelkie, pa se stukkende viool, troetelhondjie wat sy arm pa vir hom gemaak het as klein seuntjie – uit rumateriaal, omdat dit al manier was om vir hom ‘n verjaardagpresent te kan praktiseer).
    Om die verlore gegane herinneringe weer te kan beleef…
    Hartverskeurende boekie.

  7. helize van vuuren :

    ‘n present te kan PRAKSEER,
    bedoel ek
    koproes hier aan’t vreet

  8. Francis Galloway :

    Baie dankie Helize vir die reghelp. Nou lees ek daardie passasie met nuwe insig. My kop roes dus ook duidelik.

  9. Breyten knoop in hierdie stuk ’n boeiende gesprek aan met die onverstaanbare, die begrippe van lewe en dood en lewe na die dood.

    As die digter ’n wetenskaplike was, sou sy aanbieding anders gewees het: daar sou, soos in hierdie gedigte, ’n “teorie” gewees het oor lewe na die dood en ander begrippe, maar daar sou ’n vaste gevolgtrekking gewees het wat die begrippe sou definieer, anders as in die gedigte Sê nou maar: “Atoom-partikels kan met mekaar verstrengel word oor selfs kosmiese afstande, maar hulle toestand verander sodra hulle waargeneem word.”

    Dit doen die digkuns nie. Hier word die materiaal aangebied, die verskynsels en idees word met verrukking en ontsag, meevoerend beskryf, maar … dit word aan die leser oorgelaat om daardie finale gevolgtrekking te maak wat die wetenskaplike in sy aanbieding sou doen.

    Verander die digter dan die leser in ’n soort wetenskaplike?

    Hoe dit ook al sy, die dood en die lewe na die dood boei omtrent alle digters en daar word baie daaroor geskryf. Jacques Roubaud, die interessante Franse digter en Oulipo-lid, het sy vrou Alix, op vroeë leeftyd verloor. Hy het baie swaargekry om dit te verwerk en ’n hele klompie gedigte daaroor geskryf. Ek bied ’n vertaalde gedeelte van een van daardie gedigte aan wat baie mooi aansluit by Breyten se gedigte. Dit is getiteld “Identiteit”.
    .
    … “jy is, sou ander sê, soos jy herskep word
    in die geheue, as hulle onthou, van hulle
    wat, al is dit net vir ’n oomblik, jou geken het
    .
    so sou jy wees, maar verdeeld, veranderlik, teenstellend
    afhanklik, in flitse,
    .
    en wanneer daardie ander dood is, sal jy nie meer wees nie.
    .
    en ongetwyfeld, weer eens ontleen die idee van
    lewe na dood sy eienskappe van die wêreld aan jou lewe
    .
    maar, vir my is dit heeltemal anders:
    .
    elke keer as ek aan jou dink, hou jy op om te bestaan.”

    ….
    .
    Die volledig vertaalde gedig kan hier gelees word: https://inmogale.wordpress.com/

  10. ..inderdaad sterre stof to nadenke