Gedigte. Melanie Grobler

die doekvoet denkpad

1

Potloodtekening 2016, Elizabeth Miller-Vermeulen

 

 

Scarring dictates the poetical process and evokes the poet’s
deepest and greatest longing for wholeness.

Ashral Jamal

 

 

            MY BROER SE NAAM

 

1.

Ek het die droom

in ’n blikkissie bewaar en saam

met sy geskrifte teen die berghang begrawe

 

in die nag begin dit skielik sag te reën

heelnag soek ek deur die laaie na my

boetie se naam

 

nou loop hy deur my slaap

en stap dan verder aan

 

onthou hy ook die verbeelde water

die verlore rimpelings op die plaasdam

en die treurende laatherfsreën.

 

 

2.

Ek verbeel my ek hoor die eggo’s

boetie, ouboet, boeta, broertjie

‒ die name van bome

sterre en sy vriende; hulle loop saam

deur die weerstandige hoofstraat

 

verby straatbome in die stil vuur van herfs

’n kraai vlieg verby en later ’n meeu

verby ’n markplein waar seuns

donkerblou albasters in die rooi stof skiet

 

draai af in ’n nou stegie

met vele inkwinkels met prente

teen die muur

vroue wat swem

deur die blou golwe

 

na die soom van ’n donker oseaan

waar walvisse verdwaal

en hul wanhopig bulk

in waterswaar wagkamers.

 

 

4.

Maar vir jou vra ek of jy my broer gesien het

sy transparante gesig in die daglig

sy voete verlore in die donker nag

het jy hom sien leun teen die maanlig

gesien hoe sy formules verander in krone van die wind

ruisende vlerke wat vlieg oor die verkoolde veenland?

 

 

5.

Kom tog, geliefde broertjie

vir ’n laaste lopie

kom, ek neem jou na die seder

aan die einde van die aarde

kom luister na die skugter roep

van die bamboesbosduif.

 

 

 

JOSEPH BEUYS 

 

1.

Geklee in sy ou onderbaadjie en vilt hoed

leef Joseph Beuys in ’n boomryke plek

waar hy hom oopstel vir die geluid van voëls

 

aandagtig luister hy, steeds gedagteloser

na die geluid van voëls, die wind en die blare

 

na die insekte bogronds en wildehase ondergronds

die haas wat sy hopie grond boontoe stoot

 

Beuys het uit die hok van hase gekom

om die donker gange van die haseryk

vir oulaas in diepte te verken.

 

 

2.

In sy doodsoomblik sien hy

grys ou vroue met vlerke aan die

skouerblaaie lok hom na

die apokaliptiese gange

in die diepste van die Karoo

 

die pad wat hy stap

word water na sand

van sand na sneeu

 

op sy graf

’n stil meer

sonder rimpeling

van ’n enkele seil. [i]

 

 

DIE DOEKVOET DENKPAD

 

Waarom beweeg sy hande soos donker vlerke

waarom deursoek sy oë die suisende stilte

 

waarom luister hy na die galmende

momente diep in die niet van riete

 

wie onthou die vilt hoed, die winterjas

wie luister na die gebabbel van dagbreek

 

wat oor sy lippe stroom. Wie, vra ons

sien die skemer in die sjamaan se oë.

 

In sy hart dra hy ’n kaart

van die terugvouende ysvlakte

 

in hierdie uitgebreide haseryk

ontvlerk die graafdiere se blou asems

die man se siel

 

nogtans strompel hy verder

om lyflik te voel hoe alle remlyne

van die gehurkte self uitgevee word.

 

 

 

DIE DOEKVOETJIE

Riverene Rabbit Thinking Path

Riverene Rabbit Thinking Path

 

Die sagte asems van mense wat verbykom

om bo in die werf van water te gaan sing

sê dat huise met plat dakke verbrand is

’n vertwyfeling en ’n verkwyning

van reënwaters van die doolhof van vore

reeds verkleur die verskimmelde

doekvoetjies, die graafdiere

in ondergrondse labirinte

die sagte asem van mense

wat verbykom om bo in die

werf van water te gaan sing. [ii]

 

 

DIE AREND EN DIE SLANG

The Snake Eagle Thinking Path

The Snake Eagle Thinking Path

 

Daar word vertel van pelgrims wat glo

dat vraagstelling die mens lei na antwoorde

soos reisigers se dors, hul na die water neem

is daar die siening dat reisigers verslaaf raak

aan die labirint

dis juis die momentum van stap

die stil paaie en die leë komme

van die gedagtes wat vernuwing bring.

en die wat lig ontvang

as hul die denkpad voltooi

nie kan nie verdra, om tot stilstand te kom nie. [iii]

 

 

 

            Waarom beweeg die hande nog

 

Maar waarom beweeg die hande nog

in fladderings van donker vlerke

waarom deursoek ons oë die suisende stilte

van die heelal

waarom luister ons na ’n rigtinglose roep

van die voël diep in die niet van riete?

 

Wie onthou die kleur van haar winterjas

wie luister na die gebabbel van dagbreek

wat oor haar lippe stroom

waar moet sy nog leef om meer te weet

die lakens van die bed het reeds die

nag se koue vergeet

en sy hang dag ná dag in die skroeiende

gedig   wat haar vlerke skroei

sodat die hart kan sing.

 

——————————–

 

[i]    As Post Tweede Wêreldse Oorlog kunstenaar en deel van die Duitse Fluxus beweging, het Joseph Beuys saam met ander kunstenaars soos Anselm Kiefer, die trauma van die na-oorlogse tydperk probeer verwerk. Beuys, as kunstenaar sjamaan, het suggereer dat die uitvoering van die kunswerk in die openbaar, Performance Art, ’n helende uitwerking op beide die toeskouers en die kunstenaar mag bewerkstellig. Een van sy belangrikste werke met simbole was die wilde haas (the Hare). Die simboliek van die graafdier in die vorm van die haas verklap baie oor die naoorlogse Duitsland; die erfenis wat verlore is, hoe om die verlies te herontgin en te herontdek, is almal resonansies wat die Haas vir Beuys oproep. Volgens Beuys was dié simbool belangrik omdat die graafdier homself in die aarde inbou; it incarnates itself in the earth: that alone is important. Na ’n lang siekbed sterf Beuys en het toe self graafdier geword.

https://en Wikipedia.org/wiki/Joseph_Beuys The _artist_as_shamaan

https://en Wikipedia.org/wiki/ How_to_Explain_Pictures_to_a_Dead_Hare

[ii]    #Riverene Rabbit Thinking Path. A Site_Specific Land Art Karoo Geoglyps project. Photo by Lance Foster. Environmental awareness via Google Earth. Rabbit = konyn. Pharos. Afrikaans-Engelse Woordeboek.

LOXTON 104.5 x 90 2016

[iii]    The Snake Eagle Thinking Path. A Sitespecific.org.za/karoo–geoglyph. Photo by Gustav Ludick of Aerial Pictures SA. Environmental awareness via Google Earth.

Snake Eagle Thinking Path. Matjiesfontein. https!//www.youtube.com/watch?=z1MET-gcPn4

MATJIESFONTEIN 170m x 58m 2015

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Gedigte. Melanie Grobler”

  1. Annelie Venter :

    dit raak my diep.

  2. Melanie, dit is `n groot kompliment dat jy my tekening gebruik! Baie dankie.

  3. Louis Esterhuizen :

    Melanie, hierdie is aangrypende gedigte! Welgedaan.

  4. carina :

    Interessant, Melanie, hoe jy die twee permanente Karoo Geoglyphs projekte van Annie Snyman en haar broer PC Janse van Rensburg by Loxton ( Riverine Rabbit Thinking Path – 2016) en by Matjiefontein (Snake Eagle Thinking Path – 2015) verwoord het. Dit is inderdaad materiaal vir gedigte. DIE DOEKVOETJIE het 38 mense 10 dae geneem om uit te pak. Sy roete gee ‘n stapafstand van 1097 meter en duur teen ‘n flinke pas 25 minute om te voltooi. DIE AREND EN DIE SLANG gee ‘n stapafstand van 1536 meter. Dit bestaan uit ‘n deurlopende lyn en eindig waar dit begin het. In Februarie 2016 is DIE AREND EN DIE SLANG opgeneem in prente op GOOGLE EARTH – ‘n eer en grootste manier van eietydse herkenning vir dié kunstenaars.

  5. Melanie Grobler :

    Baie dankie vir die inligting Carina!

  6. Susan Smith :

    Magiese gedigte, Melanie! So met die lees neem dit jou mee na plekke en gewaarwordings buite jouself – en terselfdertyd binnetoe, al grawend. En die mooi woord: “graafdier”.