Onderhoud met Bibi Slippers (Fotostaatmasjien)

bibi-en-rene 

Wel, Bibi, ek weet nie of Vincent van Gogh regtig geel verf geëet het om homself gelukkiger te laat voel nie, maar jou geel boek het my beslis gelukkig gemaak – I have been eating poetry, om Mark Strand effens buite konteks aan te haal. Baie geluk met hierdie opwindende debuut! Vertel my tog van die geel, voor ons by die teks self uitkom. (Ek het twee weke gelede vir iemand gesê dit lyk of dit die seisoen van blou boeke is, toe kom verbreek jy my persepsie). Was die kleur jou idee? Het dit spesifieke betekenis? Ek vra hierdie vraag omdat sommige gedigte ook op geel bladsye gedruk is – dit is sekerlik nie toevallig nie. Hoe voel jy oor geel in die algemeen – jy is tog ook visuele kunstenaar.

 fotostaatmasjien-versindaba-1

 

Die geel was een van drie opsies vir die voorblad en eerste afdeling van die boek: al drie kleure wat ons oorweeg het is kleure waarin jy pakke fotostaatpapier kan koop as jy nie wit koop nie. Die ander opsies was daai vreemde af-groen, en so flou oranje. Die geel was onmiddellik my gunsteling, ek was bly toe Tertius Kapp (my uitgewer) en Richard James Myburgh (die ontwerper van die boek) saamstem.

3

My lessenaar is so turkoois-kleur geverf, en daai helder geel is die kleur wat die mooiste lyk saam met die turkoois. Tydens die skryfproses het ek nogal lank daardie turkoois in my gesig gehad, en die spatsels geel op my lessenaar (‘n poskaart met suurlemoene op van ‘n vriendin in Australië, ‘n Tin-Tin-beeldjie met ‘n geel jas aan, ‘n stuk geel duct tape met ‘n aanhaling van Cheryl Strayed op en ‘n geel leeslamp) het my opgekikker wanneer ek van die turkoois wou opgooi.

 fotostaatmasjien-versindaba_4

 Ek hou van geel en glo dit stimuleer kreatiwiteit, (kaas is ook geel en kaas is lekker) maar om die waarheid te sê dink ek nie dis waaraan Richard gedink het toe hy die opsies vir kleure gekies het nie.

Ek weet Richard het gevoel die boek kan nie net swart/wit/grys wees nie, want sy assosiasies met my is van helder kleure. Richard se idee  was dat Fotostaatmasjien ‘n boek moes wees wat lyk of dit in die nag deur ‘n verveelde fotostaatmasjien gemaak is. So daar was toevallig hierdie paar velle geel papier in die masjien en dan druk hy daarop en wanneer die geel velle opraak beweeg ons aan na wit papier.

Ek hou van daardie verklaring vir die geel: the machine made us do it!

Bibi, jy is ʼn Ann Carson aanhanger. Ek lees hierdie woorde van haarAs Sokrates tells it, your story begins the moment Eros enters you. That incursion is the biggest risk of your life. How you handle it is an index of the quality, wisdom, and decorum of the things inside you. As you handle it you come into contact with what is inside you, in a sudden and startling way. You perceive what you are, what you lack, what you could be. En ek wonder wat jy my en jou lesers kan vertel oor beginne, oor aanvangsoomblikke. Daar is baie “eerstes” in jou gedigte en hulle titels. Daar is ook ‘n skeppingsverhaal-afdeling in jou bundel. Meer hieroor?

 

 Ek het daardie hele boek oor Eros van Carson gefotostateer – dis in my kas by my ander fotostate. Dis ‘n mooi aanhaling wat jy uitgekies het.

Hmmm, beginne. Dis moeilik. Daar was beslis by my ‘n sin van die boek as begin van iets – maar ek is self nog nie seker wat nie. Ek het vir lank rondgeloop met klomp idees rondom “Die inleiding tot alles” – wat uiteindelik net as deel van die heel laaste gedig se titel in die bundel verskyn.

https://www.youtube.com/watch?v=cMPEd8m79Hw

(Exhibit A: Taylor Swift is ook ‘n professionele oorbeginner.)

Ek dink ek sien myself as ‘n beginner, en veral ‘n oorbeginner. Ek hou van die potensiaal van aanvangs. Die energie aan die begin van enige ding is vir my verslawend. Dis seker maar hoekom daar baie beginne in die boek is – dit merk dalk elke keer wat ek die boek moes oorbegin, omdat die energie waarmee ek die vorige poging begin het, opgeraak het. Verder as dit weet ek nie regtig nie: alles kan ‘n begin wees, mens weet net nooit van wat nie.

 

Op die noot van jou as skeppende mens wat in verskillende dissiplines werk, het die volgende gedagtes by my opgekom:

Jou bundelbekendstelling in Johannesburg was seker die grootste poësiebekendstelling wat ek nóg bygewoon het. Soos jy weet, was daar nie plek vir ʼn muis nie en die mense het uitgespoel na die sypaadjie en die straat. Iets in die atmosfeer van die aand, die venue, die straattonele en die mengsel van persoonlikhede en jou jeugdige ouderdom het my onwillekeurig aan Parys en Jean-Michel Basquiat laat dink. Andy Warhol, wat dalk die eerste mens was wat sy gedig op ʼn fotostaatmasjien gedruk het, verskyn dan ook op bladsy 26 in jou bundel. Tesame met die boekbekendstelling, is ʼn kunsuitstalling aangebied, waar werke in gesprek tree met die gedigte. Jou eie skeppings was ʼn hibriede vorm van woord en collage in gemengde media.

Vertel asseblief meer van jou siening oor popkuns en hoe dit inwerk op jou styl as kunstenaar – ook in jou betrekking van bv Harry Styles, Taylor Swift en ander aktuele pop-ikone.

.

Boekbekendstelling in Johannesburg. Foto: Adam Heyns

Boekbekendstelling in Johannesburg. Foto: Adam Heyns

 

Die Johannesburg-bekendstelling was presies hoe ek gehoop het dit sou wees! Ek is regtig dankbaar vir almal wat daar uitgeslaan het om ‘n fesie te kom vier. Mens kan hordes lok met beloftes van wyn, veral dié tyd van die jaar. J

Ek is maar versigtig met die woord “kuns” wanneer dit by daai goedjies kom wat ek maak – ek ken te veel regte kunstenaars wat met erns met hulle werk omgaan en baie bloed en sweet daarin tap, om na my knipsels as “kuns” te wil verwys. Ek speel net, en die goed wat ek maak is cute at best. Dit is wat dit is, en ek wil nie hê dit moet iets anders wees nie. Om goed te kan maak waaroor ek nie ernstig voel nie is vir my ontvlugting en outydse ontspanning. As mense daarvan hou of dit wil hê voel dit vir my amper soos die goed wat ek fotostateer of uit tydskrifte skeur: dis nie bedoel om blywend te wees nie, ’n sommerso keepsake van ‘n oomblik of ‘n versreël of ‘n grepie van ‘n cool gesprek met iemand of ‘n kortstondige crush.

5

 

Ek hou van Andy Warhol omdat hy nogal ernstig was oor sy piss-takes. Daai mengsel – om baie ernstig te wees oor ’n lawwigheid – is vir my aanloklik.

Die popmusiek is daar omdat ek werklik daarvan hou, verskriklik baie daarna luister, en soms redelik ernstig daaroor nadink. Ek volg die podcast Switched on Pop nogal slaafs – hulle analiseer popliedjies op daai podcast asof dit TS Eliot is en dan besef mens hoeveel werk dit is om so ‘n catchy bestseller te fabriseer, en dit gee jou nóg meer respek vir mense soos Taylor Swift, wat waarskynlik nog heeltyd honger is ook.

Hierdie is een van my gunsteling Swift-nommers, en onder dit is Switched on Pop se interpretasie.

https://www.youtube.com/watch?v=e-ORhEE9VVg

http://www.switchedonpop.com/010-taylor-swift-blank-space-single/

Bibi, jy is ʼn vernuwende stem in die huidige Afrikaanse poësieklimaat. Die leser kan dus nie die ironie mis van jou bundeltitel en jou verkennings rondom die gedagte van afskrifte, afdrukke en foutiewe weergawe nie. Verskeie spottone, satire en veral ironie, speel ʼn belangrike rol in jou gedigte. Hoe sien jy die effek van hierdie tegnieke op die moderne en veral ook die jonger leser? Bereik dit wat jy gehoop het dit sou? En aangesien jy dikwels met ouer digters in gesprek tree, wil ek my verstout om hier ook te vra: het jy binne die ironie ook die liefde behou?  Indien wel, hoe het jy dit gedoen en wat is jou mening oor hierdie jukstaposisie?

Hahaha, ek dink dit sal besonder cheeky wees van my om aanspraak te maak op vernuwing op grond van ’n boek soos Fotostaatmasjien. Ek was nogal nie ironies in my benadering tot my onderwerp nie – ek dink werklik nie daar is iets nuuts onder die son nie. Ek wonder of dit nie net ’n sekere intensiteit is wat my boek anders laat lyk nie? Ek hou daarvan om die pap lekker dik aan te maak, maar ‘n ge-té is ook nie uniek nie, en ek dink nie enige iets in my boek is werklik nuut nie. Laat ek ‘n metafoor toets: ek voel asof Fotostaatmasjien ‘n trifle is wat uit klomp bekende kerspoedings gemaak is, en dan is daar ander minder tradisionele bestanddele bygegooi wat mense aan die Kerstafel se oë laat rek. Maar dis nog steeds ‘n trifle en die bestanddele is almal goed wat jy al gesien of geëet het – dis net op ‘n anderster manier bymekaargesit.

https://www.youtube.com/watch?v=yJ6wJqaE6o4

<Hier is Sleeping at last se cover van I’m Gonna Be deur The Proclaimers – sommer net.>

Ek is nie seker waarvoor ek gehoop het toe ek geskryf het nie. Ek het tot ‘n groot mate maar net gedigte geskryf wat ek wou lees, en wat Loftus sou wou lees. As dit aanklank vind by ander is dit lekker – maar ek kan nie regtig kommentaar lewer oor die effek wat dit op lesers het nie. Die wat #fotostaatmasjien op Instagram post lyk of hulle van die boek hou, maar wie weet. Ek post partykeer kos op Instagram wat mooi lyk maar dan hou ek nie werklik so baie daarvan nie. 🙂

Oor die liefde: dié het ek nooit verloor nie. Ek haat dit baiekeer om te skryf, ja, maar ek bly lief vir lees en vir gedigte wat met my praat en vir ander mense se woorde. Dis miskien, bó alles, wat die bundel uiteindelik is: ’n versameling van my eie wonky copies van goed wat vir my mooi of lekker of interessant of snaaks is, goed waaraan mens op een of ander manier wil vashou, terwyl jy weet dis nie joune nie en dat alles uiteindelik deur jou vingers sal glip. Maar jy wil klou want dis mooi en jy’s lief daarvoor: https://www.youtube.com/watch?v=sndW_dDy-s8

<Ryan Adams wat aan Taylor Swift wil klou, en dit mooi doen.>

 

Stel jy belang in tegnologie en masjiene? Of is die prikkel die dinamika van kommunikasie? Is akkurate kommunikasie vandag nog belangrik, dink jy, of het die boodskapper in hierdie era van selfies belangriker as die boodskap geword?

Ek is MAL oor masjiene. Vir my was die lekkerste deel van my werk as tydskrifjoernalis om stories oor gadgets en apps en ander tegnologie te skryf en te dink oor hoe dit die wêreld verander. Ek het nie veel tegniese begrip vir masjiene nie – ek kan nog steeds nie lekker uitwerk hoe ‘n fotostaatmasjien werk nie – maar dis nie die aspek van masjiene wat my fassineer nie. Ek stel meer belang in hoe die masjiene/tegnologie mense se gedrag beïnvloed.

Ek probeer om gereeld jong nerds te date om seker te maak ek weet wat met die masjiene aangaan, en hoeveel tyd daar nog oor is voordat ons singularity slaan.

Die dinamika van kommunikasie is beslis ook ‘n prikkel. Akkurate kommunikasie sal altyd belangrik wees – maar ook altyd onmoontlik. Dis dalk hoekom musiek ook moet bestaan, so hier is ‘n klein playlist:

https://www.youtube.com/watch?v=1N2vCFQQE2Y

https://www.youtube.com/watch?v=iB23K9tT1JU

https://www.youtube.com/watch?v=eo8vW_0H_Kg

https://www.youtube.com/watch?v=0FRPg9DS-oA

Ek is baie geïnteresseerd in die selfie-fenomeen en het probeer om ‘n siklus gedigte oor selfies te skryf – maar ek kon dit nog nie regkry nie. Ek is, net terloops, nie negatief oor selfies nie – ek dink ons moet mooier na die dinamika van die verskynsel kyk voor mens dit net afmaak as massa-narsisme.

 

Leuen en waarheid kom vanselfsprekend aan die bod indien ons aanvaar dat die mens self ʼn flawed copy is van … wat? Is een mens in verskillende gedaantes dalk ook wanvoorstellings van mekaar? Jy skryf bv op bladsy 31

 

die naaste wat ek nog aan die waarheid was

is Antjie Krog in ʼn swart swembroek…”

 

en jy gaan dan voort om verskeie gestaltes van ʼn Antjie aan te bied, wat ander lewens, emosies en figure aktiveer of ondermyn.

Hierdie ambivalensie binne die bundel laat die leser vermoed dat die digter se uitsprake en sienings ook in twyfel getrek moet word. Ons vind fabrieksfoute, foutiewe vertalings en skeefgedrukte gedigte. Ek dink ook aan die gebruik van teenoorgesteldes, soos byvoorbeeld “regtig net ʼn rumour” op bladsy 87. Kan jy ʼn naam gee aan hierdie spel wat jy speel? Of hoe sou jy die wisselwerking wil beskryf? Is daar ʼn soeke na waarheid of is dit te futiel?

Ek dink nie ek soek na waarheid nie. Ek vermoed ek sal nie weet wat om met waarheid te doen as ek dit per ongeluk vind nie.

https://www.youtube.com/watch?v=Y6-QvBz9_lY

Ek hou van foute en maak hulle graag self. ‘n Goeie fout, om weer vir Carson te parafraseer, kan meer as een ding gelyk sê, en is dus baie meer interessant as ‘n juistheid. Een van my gunstelingpopliedjies hierdie jaar is DNCE se Cake by the ocean. Die liedjie het ontstaan nadat DNCE se Sweedse vervaardiger, Max Martin, per ongeluk die Engelse term “Sex on the beach” verkeerd onthou het as “Cake by the ocean”.

https://www.youtube.com/watch?v=vWaRiD5ym74

Dit sou baie wys wees om die digter se uitsprake en sienings in twyfel te trek. Dis soos die X-files ons geleer het: Tust no one. Maar moet veral nie die post-truth politici vertrou nie. 🙂

  

Kom ons kyk na die afdeling waar die digter as amanuensis verskyn. Die skiewie in die skriptorium (wat ʼn blywende beeld maak daardie woorde nie!) Hier vind ons interteks, postmodernisme of iets wat ek nog nie kan benoem nie in ʼn varser gedaante. Terwyl ek in ʼn onderhoud nie die gebied van resensies enigsins wil betree nie, meen ek die menslike faktor verhef die bundel in hierdie afdeling ver bokant die bekende gedagte van oorspronklike skepping en afdruk, al dan nie. Kan jy uitbrei? Is die digter ook ʼn slaaf? ʼn Vertroueling?

Toe ek voorgraads kuns studeer het, was ek werklik uitsonderlik kak met teken. Formele, outydse teken was ‘n groot komponent van die kunskursus by TUKS – dis as die basis gesien vir alles wat volg, en bly tot einde derdejaar deel van jou opleiding. Ek het teken gedruip en gedruip en aanhou druip – nie van nie probeer nie, ek het werklik net zero aanleg gehad vir netjiese, tradisionele weergawes van dinge. My sketse was onbeskryflik aaklig!

In my tweede jaar het Diane Victor vir my klasgegee – sy teken moontlik beter as enige ander lewende Suid-Afrikaner – en sy’t my tekeninge so bekyk en besluit daar is iets daar waarmee mens kan werk. Sy het my sketse middeldeur geknip en die  stukke agterstevoor weer aanmekaargeplak, my aangemoedig om met my linkerhand te teken en om die goed wat ek wel kon regkry te versterk. Ook, omdat ek baie geïntimideer was deur die wit papier, om lukrake merke daarop te maak en dit as beginpunt te gebruik. Sy het my laat verstaan dat mens jou swakheid in iets bruikbaar en uniek kan omskep as jy fokus en die intensiteit van dit wat “af” is hoog opdraai. Ek dink ek het daardie les onthou toe ek so swak geskryf het soos wat ek geteken het. Dit het met skryf net langer gevat om oor myself te kom, want ek het gedink ek skryf goed – dit was ‘n groot deel van my identiteit, tot ek die M getref het.

Dis my preamble tot die eintlike antwoord:

Ek vernoed die ding wat jy in hierdie afdeling raaklees (en “menslikheid” noem) is ’n noodwendige byproduk van die proses/omstandighede.

Ek het die Ginsberg-gedig met redelike sukses oorgeskryf as opdragvers vir ’n kolokwium wat Marlene van Niekerk in 2010 in Stellenbosch gereël het. Op daardie stadium was die meeste van die werk wat ek self probeer skryf het, regtig baie flou. “Yl” is die woord wat Marlene graag gebruik het om die gedigte te beskryf – met reg. Die Ginsberg-opragvers het vir my die moontlikhede van my manier van oorskryf openbaar – maar dit het nogal lank gevat voor ek dit weer begin doen het.

Teen 2011 het ek nie meer geweet watter kant toe nie – dit het gevoel of ek regtig nie vordering maak as skrywer nie, en asof ek nooit by ‘n behoorlike gedig gaan uitkom nie. Ek was besig om skryf te druip soos wat ek teken gedruip het. Ek was baie gefrustreerd en hartseer en lekker depressief – ‘n kombinasie van sukkel met die skrywery en my persoonlike lewe wat besig was om in ‘n volslae disaster te ontaard.

Dis op hierdie heel lae punt waar ek begin het om Anne Sexton se gedigte oor te skryf. (Uiteindelik het net een van hierdie oorskryfsels die boek gehaal ­– “Op die swartbord” – maar daar was hordes van die goed.) Ek het haar gedig as “merke” op die wit papier gebruik en dan my eie woorde daarteen afgeëts. Daar was ‘n groot mate van oorgawe betrokke. Ek moes erken dat ek niks beter het om op te dis as wat reeds bestaan nie en dat my beste roete gaan wees om, soos ‘n apprentice-kunstenaar, die goed na te skilder wat ek graag sou wou maak. Hoe meer ek dit gedoen het, hoe meer het ek begin verstaan dat die tekortkominge in my namaaksels dit is wat my van die digters wat ek namaak onderskei, en dat ek daarmee kan werk. Ek het geoefen tot ek beheer gekry het oor daardie “af-geit” en die spanning wat mens kan skep tussen dit wat iemand anders op die papier gesit het, en dit wat jy kan byvoeg of wegneem. Later kon ek dit toe ook “summon” vir my eie skeppings, nie net wanneer ek “trace” op iemand anders se vloerplan of buitelyne nie, maar ook op ‘n skoon stuk papier. Ek het geleer om my woorde teen niks ook af te ets – om die unieke kontoere van verskillende stiltes raak te sien en dan rondom en teenoor en saam met dit te werk.

So ek dink wat ek probeer sê is – “menslikheid” is dalk net ‘n ander woord vir genuine humility. I had nothing, and I had to own that hard. Eers daarna kon ek begin aangaan en met ander mense se rubble bou. Ek dink dis oorblyfsels van hierdie proses wat in hierdie afdeling deurskemer. Yoh. Ramblings – ek hoop mens kan sinmaak van wat ek hier getik het, en dat dit die vraag darem soort-van aanspreek.

  

Nou direk na die teks. Die bundel is effens anders verpak as wat ons in onlangse jare gesien het. Daar is grys bladsye en paper jams, swart bladsye en landscape prints. Ek weet dit is vir jou belangrik dat die betrokke gedigte nie anders aangebied word nie. Of is dit? Is hierdie bundel meer artefak as boek? Waar lê die nuanses vir ʼn digter?

Die voorkoms van die bundel het baie te make met die navorsing wat ek vir my M-graad gedoen het oor Anne Carson se boek Nox. Dit is ‘n onbeskaamde fisieke objek – ek het my uitgewers mooi gevra om vir niemand ‘n PDF van die boek te stuur nie, want die papier is vir my belangrik. Ek sou nie sê dis meer artefak as boek nie – maar ek dink dit probeer iets meer doen met die eienskappe van ‘n boek, die potensiaal van boekheid bietjie harder myn as wat tans standaad is. Ek het baie spesifieke idees gehad oor hoe ek wou hê die boek moet lyk, maar ek moet hier vir my ontwerper Richard James Myburgh BAIE krediet gee. Hy het verstaan wat ek wou hê, maar ook net so vars en anders gedink. Dit was sy idee om die gedigte met lang versreëls in landskap-formaat te druk – dis so eenvoudige oplossing vir die probleem van reëls wat nie op die bladsy inpas nie! Riana Barnard en Tertius Kapp by Tafelberg was dapper en het my self ‘n ontwerper laat kies – dit was ‘n voorreg om saam met iemand te kon werk wat my goed ken en onmiddellik my idee verstaan het, en ook om deur die hele proses die ondersteuning van my uitgewer te hê. Daar was nie teenkanting teen ons volksvreemde voorstelle nie – almal het saamgespan om die vreemde geel eier gelê te kry.

Die boek ruik ook soos ‘n pak fotostate, wat ‘n wonderlike toeval is – maar Tertius het gesê ek moet vir almal sê ons het dit so beplan. 😉

 

Bibi, ek het vele gunstelinge in die bundel, maar ek wil graag die windhond ʼn plek gee. Alles op aarde word deur iets anders verteenwoordig, vermoed die leser. Altyd, altyd sal die windhond ʼn Dinsdag wees! Vertel asseblief meer van hierdie gedig, van windhonde en van Lucien Freud (al kan enigeen google, is dit nie naastenby voldoende nie)

Ondersoek na die aard van die geskilderde windhond met

spesifieke verwysing na die latere werk van Lucian Freud

.

watter weeksdag is die windhond?

mens wil dink ‘n woensdag,

maar, nee: die windhond

is dunner, en ’n dinsdag, dus.

.

wie se kind is die windhond?

die aanteelt van ’n kuitspier

en ’n kantgordyn, of die kleintjie

van ’n jakkals en ’n sweep?

.

is die windhond meer wenkbrou

of meer tong en waarvan

droom die windhond? wildernis

of kussing? oopte

.

of oksel waarin hy sy neus kan

wegsteek? is die windhond met ‘n

rede presies so wyd soos die spa-

sie tussen kardeur en sit-

.

plek, of is alles net toevallig? hoe weer-

loos is die windhond werklik? meer

of minder as wat sy effensheid en

bewerasies suggereer? laastens:

.

as die windhond dan ’n leesteken was,

watter leesteken sou hy wees?

’n komma wat ’n asemteug aandui

of die vraagteken op die laken

.

langs die hompe mens?

  

Die gedig het byna volledig na my toe gekom terwyl ek staan en wasgoed ophang het buite my woonstel in Linden. Loftus Marais het in 2015 ‘n voorlesing gereël by The Whippet, ‘n koffiewinkel in Linden waar ek soms in die oggende sit en werk. Ek en Loftus en Andries Bezuidenhout en Melt Myburg sou voorlees, en Loftus het besluit ons moet elkeen ‘n opdragvers oor Lucien Freud se windhond-skilderye skryf. Ek is ‘n erge uitsteller as dit by sulke opdragverse kom – so ek dink die een het uiteindelik die Woensdag voor die Vrydag se voorlesing gebeur. Die vraag “watter weeksdag is die windhond” het by my opgekom en toe kan ek voel die res van die gedig is daar. Ek het die reëls opgesê terwyl ek wasgoed ophang, en herhaal sodat ek dit nie vergeet nie. Toe het ek in die huis ingehardloop en dit vinnig gaan neerskryf. Daar was net klein veranderinge om by die finale gedig uit te kom.

(Daar is nog twee weergawes van opdragverse wat so vinnig geskryf is in die boek: “15 fotostate” en “die ding met vere”)

Ek het nie veel meer daaroor te sê nie. Ek hou van windhonde, en sal dalk een wil hê.

https://www.youtube.com/watch?v=1XEkXvUp8VM

Maar ek hou eintlik van alle honde, en sal dalk AL DIE HONDE wil hê.

https://www.youtube.com/watch?v=nHlJODYBLKs

 

Kakpraat in die hemel is beslis ʼn oorspronklike siening van die plek waar engeltjies gewoonlik harpspeel – wat ʼn kragtige en wrang voorstelling van wat moontlik verkeerd gegaan het, vind ons in hierdie gedig. Vertel ons hoe die idee aan jou deur geklop het en hoe die gedig toe verder verloop het. (Om die plesier te bewaar vir ʼn volledige lees, haal ek slegs enkele reëls aan):

… daar is baie kak gepraat

om bakke vol kaaskrulle, die raad-

saal was ’n dansvloer en die CFO

het ’n rep gemoer …

(uit “Die eerste afvallige”, bladsy 25)

Ek was op ‘n stadium tydens die skryf van die boek volstoom op ‘n voël-tangent. Die gedig wat ek eerste geskryf het in dié siklus was die een oor die veer wat in die fotostaatmasjien beland terwyl daar reptiele gemaak word, en dan is daar per ongeluk voëls. Oeps! Die idee was vir my ietsie snaaks en lekkers en omdat dit my laat lag het toe ek dit geskryf het, het ek probeer om dit uit te brei tot ‘n skeppingsverhaal. Dis dalk nie van die sterkste werk in die bundel nie, maar ek wou dit daar hou vir ‘n bietjie pret, en ook omdat dit uiteindelik ‘n nuttige manier was om die struktuur van die res van die bundel te laat sin maak. Baie van die skeppingsverhaal-gedigte is etlike male oorgeskryf – amper so baie soos die Instagram-gedigte. Die skryfproses het altesaam seker iets tussen twee en drie jaar gevat van die eerste pogings na die weergawes in die boek. Dit het begin by waar kom iets so vreemd soos ‘n voël vandaan – dit moet mos een of ander fout wees! – en toe daardie gedig gemaak is, het ek besef dis moontlik ‘n verklaring vir al wat fokkop is, en kan ‘n lekker storietjie wees om te vertel.

https://www.youtube.com/watch?v=LbioNrmW5Ao

(Ek weet nie hoekom daai gedigte my aan hierdie liedjie laat dink nie – dalk die margharita tent by die company event?>

 

Fotostaatmasjien  is die produk van bloedsweet, die liefde as valse profeet, instagram-bewussynstrome en ʼn Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns. Jy het al dikwels genoem dat die proses ʼn straf en lyding is met diepe twyfel gepaard gaan en tog groot vreugde verskaf. Hoe het dit jou gevorm vir die pad vorentoe en wat behels die toekoms, dink jy? Sal jy ooit kies tussen die mediums en genres, het jy dalk ʼn gunsteling? En dink jy ʼn digter moet noodwendig deur die akademie beweeg om volle potensiaal te bereik?

Hahaha, dit is inderdaad ‘n produk van al daardie dinge, maar ook dinge wat nie noodwendig in die boek opgeteken is nie: ontelbare liters Coke Lite (Loftus Marais het dit vir my aanbeveel as skryf-brandstof en ek gaan hom vir ewig verkwalik omdat ek nou verslaaf is daaraan), slapelose nagte, FOMO, oordadige partytjies om op te maak vir FOMO en ’n gereelde getjank. Die hoogtepunt van die getjank was die dag toe ek hoor dat ek my meestersgraad geslaag het – Willem Anker se e-pos het by my aangekom terwyl ek by die werk was, en ek het onbedaarlik begin huil toe ek dit lees. Ek het uit die kantoor uitgehardloop om my ma te gaan bel en my arme kollegas het gedink ek het doodstyding ontvang. Die verligting was oorweldigend – ek het soms gedink ek gaan nooit by daardie punt uitkom nie. Daardie oomblik het wel vir my ‘n baken geword – ek is baie, baie sterker omdat ek vasgebyt en deurgedruk het met die meestersgraad. Ek sal soms by die gym lus voel om op te gee, dan sê ek net een maal vir myself “Kom nou, jy’t jou M klaargemaak” en dan onthou ek dat ek sterk is en nog ‘n paar squats kan doen of nog ‘n kilometer of twee hardloop. Dis soos Sia sê: die hele ding het vir my bewys I’ve got stamina. https://www.youtube.com/watch?v=GKSRyLdjsPA

Ek besef wel ek is bevoorreg – nie net omdat ek die geleentheid gehad het om die M te kon doen nie, maar ook omdat dit die moeilikste ding is wat ek nog moes doen. Ander mense se moeilikheid is baie groter – my lewe is breezy.

Oor die toekoms weet ek min. Ek speel tans bietjie “Yes, man” en sê “ja” vir als wat vir my lekker klink. Een ding wat ek al van myself geleer het is dat volhoubaarheid vir my variasie beteken – so ek sal nooit kies tussen genres en mediums en “avenues” nie – ek is happy met my jack-of-all-trades-master-of-none-benadering. Ek wil net nie verveeld wees nie.

Ek dink glad nie digters moet noodwendig deur die akademie beweeg om hulle volle potensiaal te bereik nie – dis beslis nie die regte roete vir almal nie. Vir my het die “pressure cooker” goeie resultate opgelewer, maar ek hou van druk. Ek dink daar’s ander mense wat beter gaan vaar op hulle eie tyd en volgens hulle eie reëls.

 

Bibi, miskien kan ʼn digter nie ʼn darling kies in ʼn pasgebore bundel nie, maar wil jy nie as slotantwoord iets hier plaas nie? Gedig, collage, enigiets. Dit sal ons besig hou, terwyl jy voortsnel op die baksteenpad wat dalk geel is en dalk nie! Fotostaatmasjien gaan beslis opslae maak en verdien om wyd gelees te word.  Baie geluk, nogmaals en dankie dat jy my vrae beantwoord het.

Ek’t in my eerste antwoord na kaas verwys, ek dink dis net appropriate om weer bietjie cheesy te raak hier aan die einde. Vir my is daar nie ‘n gunstelinggedig of darling nie. Ek is al so gewoond aan die gedigte, hulle voel nie regtig meer vir my spesiaal nie. Maar vir die kunstenaars wat werk gemaak het vir die uitstalling wat ons saam met die bekendstelling gehou is, was die gedigte nuut, en dit was vir my die heel lekkerste ding op aarde om die gedigte deur hulle oë te sien. Die feit dat mense tyd en energie en fokus bestee het om goed te maak omdat die gedigte met hulle praat – dis super spesiaal vir my. En hulle interpretasies was verrassend en deurdag en gevoelvol: ‘n massiewe kompliment vir my, beter as enige resensie. Op die ou end gaan dit vir my oor ‘n connection met iemand – en die kunswerke is ‘n manifestasie van ‘n konneksie. Ek deel dus eerder ‘n paar van die kunstenaars se werk. (Ek stuur foto’s aan van werke wat ek byderhand gehad het – daar was nog baie ander werk waarvan ek nie nou foto’s kan vind nie. Almal is uitgenooi om by my te kom tee drink sodat ek vir hulle Retha Bornmann se werk in persoon kan wys – dit hang nou in my huis.)

(Credits vir laaste foto’s)

fotostaatmasjien-versindaba_carine_muller

Carine Muller

fotostaatmasjien-versindaba_-nina-torr_ons-lam-web-j

Nina Torr

 

Christine Cronjé

Christine Cronjé

Hanrie Coetzee

Hanrie Coetzee

Oliver Mayhew

Oliver Mayhew

Monique Prinsloo

Monique Prinsloo

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.