Marlise Joubert. Balkon

balkon

 

op hierdie klein balkon sou jy staan

jarelank tuur oor bessiebome en ‘n tuin

tot hoog teen die blouste helderberge

bokant die landgoed van lourensford

soms skoongelem soms gehul in wolk

 

dis die laaste keer dat ek hier besoek aflê

die laaste goed is uitgedra, jou eenheid leeg

alle weelde vir verblyf slegs ‘n elegie

die mure stil en blas verraai geen lewe hier

jy het vertrek asof jy nooit op aarde was

 

op hierdie klein balkon staan ek waar

jy eens gestaan het in lig of waan

in verwondering aan die maan se vrug

ek slaan my oë op na die berge: waar

o waar kom die dood vandaan?

 

jy is reeds versteen in duisternis

jou geheue tot teen die wis ontveer

en tóg, jy draai na my uit die niet

en antwoord: kind, die dood sien niks

weet niks, die dood begin

 

 in die al-vergeet

 

 

© marlise joubert/gedenkdiens: didi joubert

25 november 2016

didi-joubert

 

 

 

 

 

 

 

 

.

.

.

.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Marlise Joubert. Balkon”

  1. Gisela Ullyatt :

    Roerende gedig oor jou moeder. Dankie, Marlise.

  2. Nini Bennett :

    Wat ‘n waardige en lieflike huldeblyk – tydloos.

  3. Marie Bredenkamp :

    Ek is ontroerd. Dankie Marlise.

  4. Pragtig geskryf – so hartseer die volslae afskeid

Los kommentaar