Hendrik J. Botha. Het dokters die digkuns nodig? Deel 2.

images

Soos verlede keer toe ons die vraag gevra het: het die digkuns dokters nodig, blyk hierdie eweneens op die oog af, ‘n onsinnige vraag te wees.

Nadat ek onlangs ‘n artikel gelees het wat Richard Berlin, ‘n psigiater en ook ‘n bekroonde Amerikaanse digter geskryf het met die titel, Why Doctors Need Poetry, het ek begin dink oor die oënskynlik “onsinnige vraag”.

Om dokters in ‘n tyd van uitkomsgebaseerde geneeskunde te oortuig dat om poësie te lees, net so belangrik kan wees om na hulle pasiënte om te sien as wat dit is om die nuutste mediese joernale te lees, is egter makliker gesê as gedaan.

William Carlos Williams

William Carlos Williams

William Carlos Williams, sekerlik die bekendste dokter-digter in die moderne geskiedenis, het gereken dat poësie krities belangrik is vir oorlewing… “men die miserably every day for lack of what is found there.” Tydens groot krisis tye wend mense hulle toenemend tot iets wat emosioneel tot hulle spreek, ‘n duidelike voorbeeld wat demonstreer is na die 9/11 ramp.

Rafael Campo, nog ‘n dokter-digter lig dit uit en demonstreer dat poësie die ritmes in ons liggame, ons biologiese sisteme naboots soos ons hartklop en die ritme van asemhaling, die onafgebroke vloei van lug in en uit ons longe. Ritmes so oud soos lewe self.

In die tydperk van menslike bestaan voordat die geskrewe woord ontstaan het, is boodskappe en lesse oorgedra deur middel van stories en gedigte. Poësie was dus as’t ware die medium van kulturele oordrag vir die mens. Poësie was toe dan ook beskou as die taal van die gode.

Die vraag kom onwillekeurig dan nou op: maar wat het dit steeds te doen met dokters, en hoekom behoort dokters poësie te lees? Die skrywer, Robertson Davies, wat “gode identifiseer in die moderne samelewing”, het eenmaal tydens ‘n lesing aan ‘n groep dokters die vraag gestel, “Hoe lyk julle vir julle pasiënte”, en toe na ‘n oomblik van stilte, self die antwoord verskaf, “Julle lyk soos ‘n god”.

Op die oog af lyk dit na ‘n ietwat buitensporige stelling in die tyd van moderne geneeskunde wat oop en deursigtig behoort te wees, waar pasiënte goed ingelig is en deel in die besluitneming oor die uitvoer van bepaalde ondersoeke of prosedures; sogenaamde “ingeligte toestemming”.

Wat Davies egter uitwys het, is dat die simbool van medisyne, in die Amerikaanse tradisie, die Caudaceus is, die staf met twee vegtende slange wat aan die god Hermes behoort. In die mitologie is die Caudaceus geskep toe Hermes op twee vegtende slange afgekom het, en hy sy staf tussen hulle ingegooi het. Die twee vegtende slange sou om die staf krul, en in balans gehou word deur die goddelike staf.

So is die twee slange, vegtend om die staf, vandag steeds in konflik, maar in balans gehou deur die staf van die god. Die god vandag waarskynlik dan die Geneeskunde.

Nou wie af wat verteenwoordig die twee vegtende slange dan? Kennis en Wysheid. Kennis, die medies wetenskaplike domein, en Wysheid, die menslike empatiese verhouding wat daar tussen ‘n dokter en sy pasiënt behoort gevestig te word en wat vir genesing net so kardinaal belangrik is as Kennis. Dis die emosionele skakel wat “slagoffer en heler” met mekaar verbind,. Poësie bied die grondslag vir empatie.

Volgens ‘n studie deur J. Kenneth Arnette, begin junior mediese studente hulle opleiding met “empathy deficits”, wat vererger tydens hulle mediese opleiding. Opleiding wat eerder fokus om afstandelikheid, afgetrokkenheid jeens pasiënte aan te moedig eerder as ruimhartigheid en gulhartigheid. Iets daarvan moet mens ook probeer verstaan, want in sekere situasies waarin hulle as dokters hul later gaan bevind, waar lewensreddende besluite geneem moet word, is helder nugter kalm en emosioneel onbetrokke denke en besluitneming nodig. Wat egter soos ‘n paal bo water staan, is dat in ‘n groot deel van dokters se kontak met pasiënte, is meer as net wetenskaplike Kennis nodig. Dis hier waar die gebrek aan Wysheid dikwels blootgelê word, en die rede kan deels daaraan toegeskryf word dat tydens opleiding word slegs die “slang van Kennis” gevoed, en nie die “slang van Wysheid” nie.

Aaron Lazare, ‘n psigiater van Massachusetts wys uit hoe skaamte en vernedering universeel deur mense ervaar word tydens ernstige siekte.

Poësie kan dokters help om beter “helers” te word, omdat gedigte ons help om die wêreld vanuit iemand anders se emosionele perspektief te sien. Steven Dobyns skryf, “A poem is a window that hangs between two or more human beings who otherwise live in darkened rooms.”

Poësie bevat baie van die ideale wat dokters nastreef, dit wat Cesar Pavese noem “an absolute will to see clearly”, of wat Czeslaw Milosz beskryf as “the passionate pursuit of the real.”

Richard Berlin skryf dat van sy kosbaarste momente met pasiënte plaasgevind het tydens besoeke waar hulle ‘n gedig saamgebring het: “a poem they written themselves, a quote from Shakespeare, or the work of a poet whose words captured their emotional predicament.”

Berlin sê voorts, sy voorskrif vir pasiënte is die volgende: kies ‘n gunsteling gedig, (of ‘n gedig wat jou situasie die beste beskryf), neem dit saam en gee dit aan jou dokter met jou volgende besoek.

Vir dokters sê hy die volgende: onthou, om poësie te lees is soos om pasiënte te behandel, dit wat Wallace Stevens beskryf het as “a response to the daily necessity of getting the world right.” Of miskien dan William Osler se raad: “Nothing will sustain you more potently than the power to recognize in your humdrum routine… the true poetry of life.”

Hy sluit dan af deur William Carlos Williams aan te haal: “if it ain’t a pleasure, it ain’t a poem.”

Het dokters die digkuns nodig? Ek brand om te hoor wat my kollegas in medisyne daarvan sou sê. Wat myself aanbetref, wel ja, miskien meer as wat die digkuns dokters nodig het.

Maar miskien kan ons eendag daaroor debatteer, maar intussen, kom ons gee eerder pasiënte die voordeel van die twyfel, investeer tien minute van jou kosbare tyd in ‘n daaglikse reeds oorvol skedule, deur elke dag vir een van jou pasiënte ‘n gedig voor te lees. En besluit dan self of dit werk al dan nie. ( Dis tog wat “uitkoms gebaseerde medisyne” predik, dan nie? Soos die Engelse spreekwoord leer. “the proof of the pudding lies in the eating”, of vir die puriste wat dit suiwer Afrikaans wil hou, “ die estetiese integriteit van die nagereg, lê ongetwyfeld gesetel in die verorbering daarvan.”

 

[Hendrik J. Botha is ‘n digter en narkotiseur van Pretoria.]

 

 

Bron: Berlin, Richard M. 2011.  www.richardmberlin.com. Why Doctors Need Poetry. ( Datum van toegang: 20 November 2016)

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Hendrik J. Botha. Het dokters die digkuns nodig? Deel 2.”

  1. Leon Retief :

    Hendrik lees jy ooit gedigte of gee gedigte aan hulle om te lees? Indien wel, het jy ‘ sommige waaraan jy voorkeur gee?

  2. Hendrik Botha :

    Leon, ek het self nog nie gedigte vir pasiënte gelees nie. Ek dink ook nou diep daaroor. Ek gee dikwels narkose vir klein en jong kinders, en ek vetel vir hulle stories terwyl ons hulle voorberei in teater. Dit werk uitstekend. (Ook vir die verpleegstaf wat help in teater!) My gunsteling is ‘n gemodifiseerde Liewe Heksie storie, aangepas in ‘n ietwat moderne idioom wat wyle Verna Vels in haar graf sal laat omdraai…

  3. Hendrik, my tandarts hier in Berlyn het digbundels in sy wagkamer en klassieke musiek in sy behandelingskamer.

  4. Hendrik Botha :

    Engela, moenie ooit van tandarts verander nie!
    Groete,
    Hendrik