De Waal Venter. Die donker digter

cesarvallejo_newbioimage

César Vallejo

Die donker digter

Daar word gesê dat elke Peruviaan die eerste reël van César Vallejo se beroemde gedig, “Die donker boodskappers”, ken. In Spaans is dit: “Hay golpes en la vida, tan fuertes … Yo no sé!”. Afrikaans: “Daar is mokerhoue in die lewe, so hard …ek weet nie!”

Hierdie gedig, Los heraldos negros” is die titelgedig van Vallejo se eerste bundel verse wat hy hoofsaaklik geskryf het toe hy in Lima gewoon het. Die bundel is in 1919 gepubliseer. Vallejo se eerste bundels, “Los heraldos negros” en “Trilce” (1922) is nie goed deur die Peruviaanse kritici ontvang nie en hy verhuis daarna na Parys in 1922 waar hy die res van sy lewe deurgebring het.

Vallejo is miskien nie so bekend buite sy vaderland soos byvoorbeeld Pablo Neruda of Octavio Paz nie. Maar baie kritici meen dat hy die belangrikste Spaanssprekende digter van die twintigste eeu was.

Die invloedryke kritikus, Martin Seymour-Smith, sê in een van die reeks boeke oor die wêreldliteratuur, “Guide to modern world literature”, die volgende: “The Peruvian César Vallejo (1892 – 1938) is one of the greatest poets of the century – and the most puzzling and ‘advanced’ of all” Hy skryf verder: “Vallejo lived nearly all his own life in poverty; he above all is the poet of poverty, of misery, of the oppressed. … He is, one feels, the poet of the future: the poet for the intelligent, compassionate and enlightened young.”

Terloops, as jy belang stel om Vallejo se naam korrek in Spaans uit te spreek, moet dit ongeveer iets wees soos “Bva-je-go”. Die “V”-klank in Spaans is ’n tussenklank – iets tussen “B” en “V”. Maar ’n gewone Afrikaanse “B” is ook verstaanbaar. Die “ll”-klank is ’n glyklank wat taamlik goed weergegee word deur die Afrikaanse “j”. Die beklemtoonde lettergrepe is in vetdruk.

Pablo Neruda kan weergegee word as “Pa-vlo Ne-roe– tha” Die “th” is stemhebbend soos die Engelse “th” in “this” en nie die stemlose “th” in “thing” nie.

Ek wil graag krities kyk na “Die donker boodskappers”, maar eers kortliks kyk na die literêre atmosfeer waarin Vallejo hom bevind het toe hy begins skryf het.

Modernismo

Die modernistiese beweging wat in Europa aan die einde van die negentiende eeu ontstaan het, het ’n effens ander vorm in die Latyns-Amerikaanse lande gekry. Daar is dit die “modernismo” genoem en die beoefenaars van hierdie soort letterkunde “Modernistas”. Hierdie beweging het die destydse nasionalisme in die Suid-Amerikaanse letterkunde vervang met simbolistiese en Parnassiaanse rigtings soos in Europa beoefen. Hulle het “l’art pour l’art” nagestreef. Die sterkste beoefenaar van modernismo was die Nicaraguaanse digter Rubén Darío (1867 -1916).

Eienskappe van die modernismo was dinge soos die beskrywing van pragtige landskappe, ’n versigtig uitgewerkte vers wat partykeer kunsmatig begin lyk het, kleurryke beelde en elegante, musikale taal. Alhoewel van hierdie elemente in “Die donker boodskappers” bespeur kan word, was Vallejo al reeds besig om verder te beweeg met sy ondersoek van donkerder, meer realistiese onderwerpe en sosiale protestemas. Hy het ook gou afgesien van die tipiese retoriek en ornamentele styltrekke van die modernismo.

Vallejo het in werklikheid aspekte van surrealisme begin ontgin. Amerindiane gebruik dikwels simbole en beelde om uit te druk wat hulle dink en voel. ’n Soort mistieke fatalisme is kenmerkend van baie van hierdie mense se denke. Vallejo se twee oumas was albei Amerindiane (afstammelinge van die Inkas). Sy oupas was van Spaanse afkoms. Dit was dus byna onafwendbaar vir Vallejo om in die rigting van surrealisme te beweeg. Hy het die Inka-taal, Quechua, verstaan en in sy latere gedigte het hy woorde uit hierdie taal in sy gedigte gebruik.

n Inka-afstammeling met sy sampaña fluit

Inka-afstammeling met sy sampaña fluit

Surrealisme bevry die digter van literêre konvensies. Hy kan dubbelsinnig en ironies skryf en hy word nie gebind deur die reëls van logika nie. Hy hoef ook nie netjiese, formele ritmes te gebruik nie. In “Die donker boodskappers” word die ongewone ritmes hoofsaaklik geskep deur die ellipse wat pouses in sekere reëls skep. Vergelyk: “Daar is mokerhoue in die lewe, so hard …ek weet nie!”

Los heraldos negros

Kom ons kyk nou na die gedig “Los heraldos negros”.

Sommer met die titel neem mens die verskynsel waar dat Vallejo op ’n wyse skryf wat verskeie vertaalmoontlikhede ooplaat. Dit geld vir die meeste poësie in alle tale, maar hierdie Peruviaanse digter se werk is, meer as baie ander, ryk aan veelvuldige betekenismoontlikhede.

In ’n artikel in die ENCYCLOpedia punt com lees ons:

“Critics often comment on the difficulties of the translator’s job. Julio Ortega, writing for Latin American Writers, states: ‘Vallejo is perhaps the most complicated poet of the Spanish language.… the hermetic [airtight] work of Vallejo is nearly impossible to translate.’ However, Efrain Kristal, writing a critique of Eshleman’s 2006 book, The Complete Poetry of Cesar Vallejo, for American Poetry Review says that Eshleman has shown that ‘impossible to translate’ is not the same as ‘impossible to paraphrase,’ and he ‘renders Vallejo’s paradoxes with ease, and his linguistic unconventionalities with instinctual acumen.’”

Die “heraldos” kan maklik vertaal word in Engels met “heralds”. ’n Herald het ’n bepaalde betekenis van ’n “aankondiger”, ’n “boodskapper”, veral in ’n koninklike of adellike hof. Wat maak mens in Afrikaans? Ons het “herout”, “boodskapper” en “voorloper”. Ek het gevoel dat “herout” ietwat onbekend en vreemd in Afrikaans klink. “Voorlopers” was ook nie vir my reg as mens die gedig se inhoud bekyk nie. Hierdie “heralds” kan maklik daardie vier ruiters wees wat mens in Openbaring aantref en wat dood en verwoesting aankondig.

Die Spaanse woord “negros” beteken hoofsaaklik “swart”, maar dit kan ook “donker” beteken. Ek meen dat die Afrikaanse “donker” ’n beter beskrywing van hierdie boodskappers is. In Suid-Afrika word sekere kleur-woorde onmiddellik aan “ras” verbind, en hier is geen sprake van ras nie. Ek bied dus die vertaling van die titel aan as “Die donker boodskappers”.

Man by Machu Picchu in 1922

Man by Machu Picchu in 1922

LOS HERALDOS NEGROS

Hay golpes en la vida, tan fuertes… ¡Yo no sé!

Golpes como del odio de Dios; como si ante ellos,

la resaca de todo lo sufrido

se empozara en el alma… ¡Yo no sé!

Die donker boodskappers

Daar is mokerhoue in die lewe, so hard … ek weet nie!

Mokerhoue asof van die Here se haat; asof voor dit,

die droesem van alles wat gely is

opgedam het in die siel … ek weet nie!

Hulle is min; maar hulle is daar … hulle slaan donker vore

in die woesste gesig en op die sterkste rug.

Hulle is dalk die perde van barbaarse Atillas;

of die donker boodskappers wat die Dood ons stuur.

Hulle is die afvallighede van die Christusse van die siel

van ’n gebede-geloof belaster deur die Lot.

Daardie bloedige houe is die geknetter

van brood wat voor ons verbrand in die deur van die oond.

En die mens … Arme … arme mens! Sy oë raak wild,

Soos wanneer ons geroep word met ’n klap op die skouer;

sy oë rol wild, en alles wat hy beleef het,

dam op, soos ’n poel skuld, in daardie staring.

Daar is mokerhoue in die lewe, so hard … ek weet nie!

Wat sê die gedig?

Die eerste reël maak die leser onmiddellik bewus van die intensiteit van die mens se lyding soos Vallejo dit beskryf.

“Daar is mokerhoue in die lewe … ek weet nie!”

Die lewe kom so genadelos neer op die mens, moker hom teen die grond dat die digter voel dat hy dit nie in woorde kan uitdruk nie. Hy skep ’n pouse met die ellips en spreek dan sy onmag uit: “Ek weet nie!”.

Verder lees mens in hierdie strofe dat hierdie “mokerhoue” is asof dit die haat van die Here is. Die herinneringe aan die lyding dam op in die siel. Die “droesem” herinner aan “die beker wat tot die droesem geledig word”.

Die strofe eindig weer met die ellips en die uitroep: “Ek weet nie!”. Dit is ’n kragtige uitdrukking van die digter se frustrasie en ontsteltenis oor hierdie onverstaanbare lyding van die mens.

Tweede strofe

Die digter sê daar is min van hierdie mokerhoue in die lewe, maar wanneer hulle kom, slaan hulle hard: “donker vore in die woesste gesig en op die sterkste rug.” Hier verwys die “donker” nie net na die verkleurde vel wat volg op ’n letsel nie, maar waarskynlik ook na die “donker” dele van die gemoed wat getroumatiseer is.

Die “barbaarse Atillas” word ingespan om die idee van die “haat van die Here” nog verder te versterk.

In die laaste reël lees ons van die “donker boodskappers wat die Dood na ons stuur”. Dit kan gelees word as die “Engel van die Dood. Die woord “engel” is afgelei van die Griekse woord “angelos” wat “boodskapper” beteken.

Derde strofe

Hier word gepraat van die “afvallighede van die Christusse”. “Afvallig” beteken om ’n geloof te ontken of weg te breek daarvan. Dit kan ook letterlik gesien word in hierdie reël as die ’n beskrywing van Jesus wat drie keer geval het toe hy die kruis gedra het. Hierdie reëls, saam met die volgende een met die gedagte van die “geloof belaster deur die Lot”, druk die digter se gedagte uit dat hierdie geloof wat toelaat dat die mens so moet ly, nie ’n ware geloof kan wees nie, maar ’n “gevalle” een. Daar word gepraat van “Christusse” en nie “die Christus” nie, asof die “Christusse” net maar mense was.

Vallejo het in ’n streng Rooms-Katolieke huis grootgeword, maar hy het sy hele lewe lank geworstel om sy godsdienstige oortuigings en begrippe te laat rym met wat hy in sy, dikwels smartlike, lewe ervaar het. In hierdie gedig is dit duidelik dat hy voel dat daar nie ’n genadige Here is op wie hy altyd kan vertrou nie.

Vierde strofe

In hierdie strofe is daar ’n duidelike beskrywing van die “Arme mens” wat ’n klop, of ’n mokerhou, op die skouer kry. Hy is byna van sy verstand af as gevolg van die pyn en angs wat hy moet verduur. Weer eens lees ons van al sy pynlike ervaring wat opdam in hom “soos ’n poel skuld. Hy is verskrik en “sy oë is wild”.

Die digter gebruik weer twee ellipse in die eerste reēl om die verskriklike omvang van die menslike lyding duidelik te maak. Dit is asof die digter nie woorde kan kry om dit te beskryf nie – net stilte.

Die laaste reël herhaal die eerste reël van die gedig. Dit onderstreep die sikliese, onophoudelike aard van menslike lyding. Daar is geen uitkomkans nie.

Parys 1938

Parys 1938

Trilce

 

Ek wil nou kyk na een gedig uit Vallejo se twee bundel, Trilce (1922).

Hier is wat een kritikus van die bundel sê:

“In Trilce, César Vallejo tears the language of his poetry out of Spanish and Peruvian Quechua. He fights a revolution in words not unlike that which Paul Celan was to fight in the sidestreets of the German language some years later.” — Stanley Moss.

Vallejo het die woord “Trilce” geskep. Dit het nie in Spaans bestaan nie. Kenners meen dat dit drie Spaanse woorde reflekteer: “triste” (droefheid), “dulce” (soetheid) en “tres” (die getal 3).

Hier is ’n Afrikaanse vertaling van “Trilce II”. Die Spaanse titels van die strofes is:

Tempo tempo

Era era

Mañana mañana

Nombre

Trilce II

Tyd Tyd

Middag vasgevang in die dou.

Vervelige pomp wat pomp uit die sel

tyd tyd tyd tyd.

Was was

Hane kraai en krap verniet rond.

Mond van die helder dag wat bymekaarbring

was was was was.

Môre Môre

Die warm rustigheid om tóg te wees.

Die huidige dink om my te bewaar vir

môre môre môre môre

Naam naam

Wat is dit wanneer dit ons so stekelig seermaak?

Dit is Dieselfde wat ly

naam naam naam naaM

Vroeg in sy lewe is Vallejo valslik beskuldig van ’n misdaad en het hy ’n tydperk in die tronk deurgebring in Peru. Hierdie gedig verwys in groot mate na die tydperk in die tronk – die verveling, die tyd wat oënskynlik eenvoudig herhaal en nie verby gaan nie. Middag en aand smelt saam. Selfs taal word half sinneloos soos dit klakkeloos herhaal word: “was was was was …”

In die laaste strofe “Naam naam” skryf die digter die laaste woord as NombrE”. In die vertaling het ek dus ook die laaste letter van “NaaM” as ’n hoofletter geskryf. Ek moet egter erken dat ek nog nie kon uitvind wat die digter se bedoeling daarmee was nie! Kan dit wees dat die digter wil aandui dat die sinlose herhaling uitloop daarop dat die einde naderhand weer ’n nuwe begin word?

César Vallejo is ’n groot digter en verdien om gelees en geïnterpreteer te word, ten spyte van sy dikwels obskure en amper onontsyferbare styl. Lesers en beoefenaars van Afrikaans kan sekerlik groot baat vind by die bestudering van hierdie gemartelde digter.

einde

Bookmark and Share

20 Kommentare op “De Waal Venter. Die donker digter”

  1. Helize van Vuuren :

    Dankie, De Waal. Nie in Vallejo se debuutbundel nie, maar in een van sy nagelate verse vind ek ‘n treffende Paryse herfsvers-by-stortreën (1923/24), wat nogal herinner aan “bedreiging van die siekes” uit Breyten Breytenbach se debuutbundel (1964):

    Swart klip op ‘n wit klip

    By sulke stortreën in Parys sal ek sterf,
    op ‘n dag wat ek nou al onthou.
    Ek sal sterf in Parys – en haastig is ek nie –
    miskien op ‘n donderdag, soos vandag, in die herfs.

    Donderdag sal dit wees, omdat ek vandag, donderdag, by
    die roer van hierdie verse, in ‘n donker bui is,
    en ek vandag, soos nooit tevore, myself weer
    op my lewenspad, so alleen sien.

    César Vallejo het gesterf, almal het hom geslaan
    sonder dat hy iets verkeerd gedoen het;
    hard het hulle hom geslaan met ‘n stok, en hard

    ook met ‘n dik tou; getuie daarvan is
    die donderdae en die donker bui,
    die eensaamheid, die reën, die paaie…

  2. Ek hou van die vertaling van Piedra Negra Sobre Una Piedra Blanca”, Helize. Is dit jou vertaling?

    Dit is interessant hoe die vertaling “donderdag” (días jueves) en “donderdae” met ’n kleinletter weergee, soos dit ook in die Spaans geskryf is. Ek meen dit versterk die gedagte van die slae wat die spreker in die gedig moet verduur: “hard het hulle hom geslaan met ‘n stok, en hard ook met ‘n dik tou;”. In Afrikaans gebruik ons mos die woord “donder” as ’n ruwe sinoniem vir “slaan”.

    Dit is interessant dat die dae van die week in Spaans nie met ’n hoofletter geskryf word nie. Vallejo kon seker nie bedoel het dat “jueves” die slae wat hy moes verduur, eggo nie. Die woord het niks met “slaan” te doen nie. (“Jueves” is afgelei van Germaanse vorme “Jove” en “Thor”, name vir die Germaanse godheid.)

    Met hierdie vertaling het ons ’n voorbeeld van hoe ’n vertaling ’n ekstra dimensie by ’n gedig kan voeg en dit sodoende verryk.

    Ek sien ook die ooreenkoms tussen Vallejo en Breytenbach se gedigte. Albei het te doen met die afsterwe van die digter en hulle verblyf in Parys. Terloops, Vallejo se “voorspelling” in sy gedig is bewaarheid en hy het in der daad in Parys gesterf in 1938.

  3. Helize van Vuuren :

    Ja, maar dis weer eens die vermaledyde vorm, ‘n hervertaling met sekere vryhede geneem daarmee…uit Bart Vonck se bloemlesing oor Vallejo (1995:192), maar hy het twee rare reëls (6 & 7), waarskynlik gebaseer op ‘n idioom onbekend aan Engelse of Afrikaanse lesers:

    “mijn opperarmbeendere heb/ ik geforceerd”.

    By nadere ondersoek van alle Engelse vertalings van die vers op internet beskikbaar, blyk dat sommiges hierdie reël vertaal as iets te make met “humeur”. Vandaar die “donker bui” wat sin maak in die donkerte van die seisoen en die ‘natuur in simpatie’ met die mens se emosionele gestemdheid.

  4. Ons weet dat vertalings van gedigte verskillend deur verskilende vertalers weergegee word. Vallejo is ‘n digter wie se poësie van so ‘n aard is dat dit besonder uiteenlopend vertaal word deur vertalers.

    In die gedig “piedra Negra Sobre Una Piedra Blanca” maak Helize melding van die idioom in reël 6 wat nie in Afrikaans of Engels voorkom nie. In Spaans is dit: “estos versos, los húmeros me he puesto/a la mala y”. Letterlik kan dit iets beteken soos “Ek het my bo-arms sleg (verkeerd) gehou”. Soos Bart Vonck sê, “Ek het my bo-arms ‘geforseerd’ gehou”.

    Ek het die gedig vertaal en het besluit om op ‘n paar plekke drasties af te wyk van die letterlike betekenis soos dit in Spaans geskryf is, om reg te laat geskied aan die gedig as geheel.

    Ek aanvaar die “bo-arms” reël is ‘n idioom en het dit dus vertaal as “donker bui”. Maar om die gevoel van die bo-arms te behou het ek weer afgewyk van die letterlike betekenis in die voorlaaste reël (die volledige gedig word hieronder geplaas).

    ‘n Bekende Engelse vertaler, Rebecca Seiferle, het besluit om by die letterlike betekenis te bly en die resultaat is: “I’ve put on my humeri in a bad mood …” Hoe ek ook al daarna kyk, maak dit nie vir my eintlik sin nie.

    Nog ‘n voorbeeld van waar ek afgewyk het, is reël 5. In Spaans: “Jueves será, porque hoy, jueves, que proso/ estos versos …”

    Letterlik iets soos: “… toe ek hierdie reëls ‘ge-prosa’ het (in prosa geskryf het) …” Vallejo wou dus aandui dat hy nie “digterlik” of liries wou wees nie. Daarom het ek die “on-liriese”, saaklike woord “aanmekaarsit” gebruik.

    Hier is die gedig soos ek dit vertaal het:

    Swart klip op ’n wit klip
    .

    Ek sal in Parys sterf gedurende ’n reënstorm
    op ’n dag wat ek nou al onthou.
    Ek sal in Parys sterf – en nie wegskram nie –
    miskien op ’n donderdag, soos vandag, in die herfs.
    .
    Dit sal Donderdag wees, want vandag, donderdag, terwyl ek
    hierdie reëls aanmekaarsit, is ek in ’n donker bui en,
    vandag, soos nooit tevore nie, het ek omgedraai,
    die hele pad, om myself eensaam te sien.
    .
    César Vallejo is dood, almal het hom geslaan
    maar hy het niks aan hulle gedoen nie;
    hulle het hom hard geslaan met ’n stok en hard
    .
    ook met ’n tou; sy getuies is
    die donderdae en sy seer bo-arms,
    die eensaamheid, die reën, die paaie …

  5. Helize van Vuuren :

    Dankie, De Waal. In jou skrywe tem jy gramadoelas van die gees..Lyk my hy is redelik onbekend by ons, hoewel al teenwoordig in Uys Krige se onbesonge Spaans-Amerikaanse keuse. Insiggewend vir beter begrip is ook Bart Vonck se inleiding oor Vallejo, en sy stewige bloemlesing vertaalde verse.

  6. Uit: “Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige”. (2002) J.C. Kannemeyer

    Reeds tydens sy verblyf by die Campbells in Martigues in 1933 het Krige en Mary Campbell saam die Spaans-Amerikaanse digters uit ‘n bloemlesing gelees en het hy onder die indruk gekom van hulle werk. Tydens die oorlog het Charles Eglington hom in 1945 in Kaïro weer op dié digters attent gemaak.

    Die meeste van die gedigte, wat hy eers in 1969 onder die titel Spaans-Amerikaanse keuse sou bundel en wat M.M. Walters ná sy dood in Spaanse dans (1991) sou versamel, vertaal hy reeds in die veertigerjare en baie van hulle verskyn op Saterdae in die byvoegsel van Die Burger en in tydskrifte.

    Wat Krige pakkend vind in die werk van die Chilene Vincente Huidobro en Pablo Neruda, die Peruaan César Vallejo, die Kubaan Nicolás Guillén en Jorge Carrera Andrade van Equador, is die wyse waarop hulle die tradisies van Europa absorbeer, maar dan in hulle eie verse transformeer. So byvoorbeeld is die Spaans-Amerikane geen rasegte surrealiste nie, maar maak hulle dikwels in hulle gedigte gebruik van sekere surrealistiese vondste of ‘ontblotings’ wanneer dit vir die vertolking van hulle diepste gevoelens noodsaaklik is.

  7. Toe ek Charl-Pierre Naude so 25 jaar gelede in Kaapstad leer ken het, het hy ‘n hele manuskrip Vallejo-vertalings met hom saamgepiekel. Hy kon nie ‘n uitgewer vind nie. Wonder wat daarvan geword het?

  8. Ek sou baie graag daardie vertalings onder die oë wou kry. Dit is opwindend dat Charl hierdie belangrike digter se werk in Afrikaans vertaal het.

    Ek weet dit is baie moeilik om uitgewers te kry wat vertalings wil publiseer. Maar deesdae het mens nie meer uitgewers vreeslik nodig nie. Daar is webruimtes soos Versindaba waar mens jou werk kan publiseer. Mens kan ook jou eie webruimte of blog skep om jou vertalings beskikbaar te stel. Ek bied byvoorbeeld my vertalings aan op my blog: https://spaansafr.wordpress.com/

  9. Charl-Pierre Naude :

    Beste De Waal,

    Dankie dat jy dit noem, Daniel. Dit is met belangstelling dat ek jou en Helize en De Waal se korrespondering lees.

    Ek het nog steeds daardie boel vertalings/ interpretasies, De Waal, en ja, ek sou graag weer daarna wou terugkeer. Toe ek op ‘n slag in Brussel was, het ek die vertaler Bart Vonck ontmoet. Die Franse vertaler van Marlene van Niekerk en Karel Schoeman, Pierre-Marie Finkelstein, het my aan hierdie baie innemende man om sy (P-M) en sy vrou Suzanne, se etenstafel voorgestel.

    Ek het toe sekere vertaalkwessies met Bart bespreek, onder andere oor die manier waarop ek daardie gedigte van Vallejo uit Spaans in Afrikaans vertaal het, sonder om Spaans magtig te wees op die gewone manier, buiten vir ‘n paar Spaans-lesse, en met ‘n Engelse interteks byderhand (Eschleman). Omdat Eschleman se vertalings NIE ‘n letterlike weergawe is nie, maar sigself verdigtings en omskrywings, is die saak problematies, maar met my rudimentere Spaans, Frans 1 en Latyn-agtergrond kon ek soos ‘n blinde wel die mure bietjie “bevoel”.

    My eerste stap was om ‘n sommerso vertaling te lewer volgens by ngerip uit die wisselwerking tussen die oorspronklike en die interteks. Die tweede stap was vir my om terug te keer na die letterlike woorde in Spaans, en sodoende ‘n vreeslik letterlike vertaling te lewer. Die derde stap is om jou eie “digterlike weergawe” uit die eerste twee weergawes tot stand te bring.

    Sedertdien het ek uitgevind van Ted Hughes se wyse van vertaal, iets waaroor ek op hierdie oomblik naspeuring doen. Hy het veel te verklap oor hierdie wyse van vertaling, waarby my eie en dalk jou wyse ook, aansluit. (Ted Hughes: Selected Translations Edited by Daniel Weisbort.)

    Ek het vir Bart gevra of hy weet van iemand wat Spaans ken sowel as Vallejo, en ook bande het met Afrikaans, met wie ek my ms. weer kan deurwerk. Hy het voorgestel: die Nederlander Helena Pastoors.

    Ja, Helena Pastoors is die einste anti-apartheidsvryheidstryder wat destyds maande lank in ‘n ambassade geskuil het in Pretoria om gevangeneming deur die apartheidpolisie te vermy. In elk geval, Helena, ‘n goeie vriendin van Vonck, het met my gekorrespondeer nadat Bart my aan haar bekendgestel het via e-pos. Sy het haar bereidwilligheid te kenne gegee om my behulpsaam te wees, ‘n baie vriendelike persoon het ek haar gevind, en met die soort empatiese gees wat my aan Vallejo self herinner. Tot my skaamte het ek belowe ek sal gou weer met haar in verbinding tree, en toe het ek dit nie gedoen nie, want my Vallejo-projek moes terugstaan vir ander dinge.

    In elk geval, daar is wel van hierdie vertalings van my in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Dit was in die loop van 1993/94. Ek is tans nie naby by boekrak nie, uitstedig, so kan nie se wat die nommer of uitgawe nie. Maar die digter Henning Pieterse (self natuurlik vertaler), was destyds die redakteur.

    Daar staan verder ‘n enkele vertaling deur my van Vallejo op Versindaba. Dit sal nodig wees vir jou om ook die Spaans na te gaan, maar daar is beslis ‘n sinergie tussen die twee tale. Ek is nie seker wat die werklike waarde van my vertalings is nie. Jy moet maar self oordeel uit die wat jy te lese kry. Dis ‘n work in progress.

    Daar is ook minstens een, dalk twee, ver-Afrikaansde vertalings van Vallejo-gedigte in my digbundel Die nomadiese oomblik.

    Sterkte met jou eie vertalings, De Waal! C-P.

  10. Hallo Charl-Pierre

    Ek is bly dat jou vertalings nog beskikbaar is en dat jy weer wil terukeer daarna. Ek sien uit na publikasie daarvan op Versindaba en ander plekke.

    Ek het gekyk na jou twee vertalings wat op Versindaba beskikbaar is: “En el momento en que el tenista” en La violencia de las horas”. Ek hou van jou vertalings. Hulle lees maklik en beskrywend in Afrikaans.

    Ek wil net ‘n paar dinge uitlig wat my getref het: In “En el momento” die
    vyfde reël “es una bestia completa.” Jou vertaling: “is hy volledig rund.”
    Jou keuse van die ongewone woord “rund” vir bestia is moontlik daarop gemik om die “vreemdheid” van die tennisspeler se metamorfose tuis te bring.

    Die tweede laaste reël: que se diría casi un vegetal.” Jou vertaling: “‘n mens kan hom ‘n groengewas ag.” Letterlike vertaling: “Dat jy sal sê (dit is) amper ‘n groente”.

    Hier is ‘n voorbeeld van hoe jy wegbeweeg het van die letterlike vertaling en woorde gekies het wat die essensie van die oorspronklike oordra, maar op ‘n manier wat vir die Afrikaanse leser meer sin maak.

    Vertalings van Vallejo se oeuvre kan ons Afrikaanse letterkunde grootliks verryk. Ek hoop ons gaan binnekort meer van jou vertalings sien.

    Sterkte!

  11. Charl-Pierre Naude :

    Dankie, De Waal vir die terugvoering oor my vertalings op Versindaba. Dis lekker om te weet die goed ten minste gemaklik lees. Ek dink mens sou dalk kritiek kon inbring teen sommige aspekte, soos enkele punte van die getrouheid (soos jy ook uitgewys het), maar vir my was die Afrikaanse klank belangrik. (Met klank bedoel ek ook “betekenisklank”. Nie seker hoe om dit te omskryf nie. (Uys Krige het ‘n interessante manier gehad om die getrouheidsgraad van ‘n vertaling met ‘n omweg, soms ‘n helse omweg, let it be said, :-), terug te bring.)
    Terloops, daardie Sefeirle-vrou, sy is baie geeerd as Vallejo-vertaler, soos jy dalk sal weet. Maar ek het tevergeefs haar vertalings probeer bestel deur Protea, en deur Louis. Het jy van haar vertalings, kan jy meer inligting oor die publikasie verskaf, miskien waar op die internet? Die paar vertalings van haar wat ek gelees het, het my geruk met hul skoonheid en oortuigingskrag. En ek kon sien sy het ‘n mate van herskrywing gepleeg. . Die kronieke van vertaling is ‘n palimpses, en baie hande werk maar saam. Groetnis!

    __________________

  12. Charl-Pierre Naude :

    En ek het vergeet om te se hoe ek jou eie vertalings van die brokke uit Trilce hierbo geniet het, ek het weer gaan lees daaraan. Sou dit graag wil vergelyk met die Spaans (in my Trilce), as ek weer in my eie studeerkamer kom.

    Afrikaans sal heerlik kan omgaan met daardie woord “Trilce”, hoe om dit te vertaal.

  13. Hallo C-P

    Getrouheid in ‘n vertaling is belangrik, maar nie die alfa en omega nie, soos Krige ook bewys het. Die opmerkings wat ek oor jou vertaling gemaak het, is nie bedoel as kritiek nie, maar net om uit te wys hoe uiteenlopend Vallejo vertaal kan word en dat verskillende vertalings almal aanvaarbaar kan wees.

    Ek kan ongelukkig nie veel uitvind van me Seiferle nie. Blykbaar het sy nie ‘n versameling vertalings uitgegee nie. Daar is by Amazon bundels beskikbaar van Vallejo vertalings, maar deur ander vertalers.

    Dankie vir jou waarderende woorde oor my vertalings uit Trilce.

    Ek het gedink, dat indien mens Trilce sou wou vertaal, ek dit sou doen as “Droet”. Ons weet dat Trilce waarskynlik sy wortels het in die “Drie” en “Soet” (“tres” en “dulce” in Spaans). Verder het “Droet” vir my ook ‘n suggestie van “Droef” en “Droefheid”, iets wat baie kenmerkend is van Vallejo se werk.

    Laat ons dus almal fluks voortwroeg!

  14. Marlise Joubert :

    Aangesien dit hier oor vertalings gaan,plaas ek graag ‘n skakel oor ‘n onderhoud wat ek onlangs op Guillotine se aanlynplatform gehad het oor die bloemlesing met Engelse vertalings van Afrikaans digters: In a burning sea. Hoewel. Baie van die dinge het ek al voorheen kwytgeraak in onderhoude elders, maar so ‘opvarsing’ of ‘verfrissing’ is dalk ook weer nodig: https://guillotine.blog/2017/02/06/onderhoud-met-marlise-joubert/.

  15. Helize van Vuuren :

    Die digter, Rebecca Seiferle, het twee bundels Vallejo-verse vertaal, in 1992 en 2003, volgens haar Wikipedia-bladsy:

    * César Vallejo. 2003. THE BLACK HERALDS
    * César Vallejo. 1992. TRILCE

  16. Interessante onderhoud, Marlise. Ek het dit geniet. Dit is verbasend hoe wyd verspreid belangstelling in Suid-Afrikaanse poësie is. Ek kry lesers uit lande soos Rusland, Pole, Indiē, Switserland, VSA, Suid-Amerika en ander lande op my poësie-blog.

    Dankie ook aan jou, Helize, vir die inligting oor Rebecca Seiferle.

  17. Charl-Pierre Naude :

    De Waal! Jy gaan dit nie glo nie, maar “Droet” was ook my vertaling van “Trilce” van ‘n klompie gedigte uit Trilce, wat ek in 1995 gedoen het. Ons is of albei in die kol, of saam net buite die kol. 🙂

    Ek glo dis dalk in die kol. Ek het daardie vertalings gedoen toe ek in Bez Vallei, langs jou seun, Francois, in die ander skakelhuis op ‘n erf gewoon het.

    Nee, as ek die woord “kritiek” gebruik om jou gewaardeerde uitsprake oor my vertalings op Versindaba, te beskryf, bedoel ek dit meer as ‘n kwessie van “critique”, of “ontledende beskouing”, of andersins: “waardering-met-raad”. 🙂
    Goed gaan.

  18. Charl-Pierre Naude :

    Dankie vir daardie titels, Helize. Dis die twee bundels waarna ek soek, onsuksesvol sover. Dis uit druk, so word vertel.

  19. Helize van Vuuren :

    Dis nie waar nie, Charl-Pierre. Op amazon.com kan jy albei kry vir die spreekwoordelike appel-en-ei (Trilce as Kindle af te laaie vir 1.50 dollars), andersins 2de handse boeke, albei, vir iets tussen 1.50 en 2.50 dollars.

  20. Charl-Pierre Naude :

    Helize, jy wys my nou op as ‘n baie swak speurder. Ek sal weer moet gaan kyk. Ek het maar geoordeel volgens Louis E en die boekhandel se invoere-moontlikhede.Dankie vir die wenke, hoor.

Los kommentaar