Gisela Ullyatt. Gedig in vibrocrete

Gedig in vibrocrete

 

Ek:

vroeëperske-bloeisel,

bespieder van vibrocrete heinings;

die bure se boomlose jaart.

Hulle hond howl soos Ginsberg

sonder ’n beat.

Geen kaddisj opgedra

aan die ontwaterde son nie.

Eerder ’n venynige wiegelied.

 

Heilige Here van laerskooldae:

kap my boom nie af nie.

Hoor my pleidooi in kwynende onskuld.

In takke na-droom-dink ek in ekstatiese lig

want wonde ook bome,

hulle dreunsing vir duiwe van ’n ander kleur.

 

Heilige God, if you happen to listen

laat my alles afsterf.

Verlos my en die brak van ons vibrocrete dae.

 

© Gisela Ullyatt / 2017

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Gisela Ullyatt. Gedig in vibrocrete”

  1. Ek het dit geniet om hierdie gedig se nuanses en subtiele betekenislae te ervaar. Ek wil nie ‘n analise van die gedig hier kwytraak nie, net ‘n paar aspekte wat my opgeval het.

    Die gebruik van Engelse woorde in die Afrikaanse struktuur werk vir my goed. Dit versterk die gevoel van egtheid, soos die spreker in die gedig haar (?) sterk gevoel uitspreek oor ‘n moontlike jeug wat gekenmerk word deur vibrocrete heinings; dus moontlik ‘n taamlik gemiddelde middelklas woonbuurt.

    Die spreker voel blykbaar verwond en amper getroumatiseer deur haar jeugervaringe in daardie lae-middelklas buurt, want sy vra verlossing daarvan. Dit is iets wat sy seker nooit sal kry nie, want lewenservaringe kan nie vernietig word nie, net tydelik vergeet word.

    Daardie hond wat soos Ginsberg kerm, gee my baie plesier. Nie die getjank van die hond nie, maar die groot stuk kommentaar wat gelewer word met min woorde op Beat Poets en hulle werk.

    As ek die gedig se styl moet tipeer, sou ek dink dit kan nogal vergelyk word met Sylvia Plath se “belydenispoësie”.

  2. Gisela Ullyatt :

    Sjoe, De Waal, ek waardeer jou kommentaar baie. Op hierdie afgryslike Sondagaand gee jy my weer moed. Baie dankie!

Los kommentaar