Digstring. “By die soetdoring” (Susan Smith)

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

——————————————————

 

by die soetdoring

Acacia karroo

 

die boom staan met haar voete waar my voete staan

haar bruin romp is met roes brokaat ingebrand

en elke lente wentel sonpomponne in ’n baan

óm die dubbelgeveerde blare vlaamse kant

 

haar bruin romp is met roes brokaat ingebrand

kyk, serpe hoëveldse lug, die syblou omhelsing

óm die dubbelgeveerde blare vlaamse kant

in ’n somerdeurspoelde ligvermeerdering

 

kyk, serpe hoëveldse lug, die syblou omhelsing

en ondertoe ’n opgetelde stukkie boombas wat ek balanseer

in ’n somerdeurspoelde ligvermeerdering

tot herfs, tot winter, met witter dorings en blaarverweer

 

en ondertoe ’n opgetelde stukkie boombas wat ek balanseer

die sekelpeule sal gaandeweg al brosser sing

tot herfs, tot winter, met witter dorings en blaarverweer

hou die aarde haar in stand in hierdie minnende kring

 

die sekelpeule sal gaandeweg al brosser sing

en elke lente wentel sonpomponne in ’n baan

hou die aarde haar in stand in hierdie minnende kring

die boom staan met haar voete waar my voete staan

 

*

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Hierdie gedig is in 2014 geskryf, op uitnodiging vir die Byderhand Tuinverseprojek van proff Franci Greyling en Bernard Odendaal by Noordwes Universiteit. Vyftien digters met verbintenisse tot Potchefstroom, waaronder TT Cloete, Heilna du Plooy, Johan Myburg, Carina van der Walt en Bernard Odendaal, om maar enkeles te noem, is uitgenooi om elk ’n gedig te skryf wat handel oor ’n spesifieke plek in die Noordwes Universiteit Botaniese Tuin of die omringende omgewing. Die bedoeling was dat dit dus plekspesifiek moes wees, en ingeplaastheid ’n sentrale kenmerk. My gedig se plek was onder ’n soetdoringboom – wat ek so langafstand vanaf ’n kaart en foto’s gekies het.

Die Byderhandprojek het behels dat die gedigte in verskeie vorme verwerk is, visuele voorstellings is gemaak, digitale manipulasie van woorde en versreëls, musikale toonsettings en vertalings in Engels (in 2016 bygevoeg) en in sommige gevalle in SeTswana, asook stemvoorlesings deur die digters self. Al hierdie inligting is digitaal op ‘n QR-kode aangebring en hierdie QR-kodes is elk by die gedig se plek in die tuin aangebring. Besoekers en Aardklopfeesgangers kon (in 2015) deur middel van ’n QR-leser toepassing (wat hulle, bygestaan deur studente, sommer vinnig kon aflaai op hul fone) die gedigte lees en na die klankbane luister, terwyl hulle in die omgewing is en eerstehand dieselfde omgewing ervaar as waaroor die gedig handel – dus, ingeplaaste lees wat plaasvind.

Benewens die leeservaring deur besoekers, is daar ook ’n akademiese uitkoms aan die projek gekoppel en ’n seminaar is in 2016 deur Noordwes Universiteit aangebied waar ons as navorsers betrokke was by ’n meer akademiese ontleding van die projek, die prosesse en die uitkomste. Die titel van my referaat was “Ingeplaaste skryf en die materiële verbeelding. Voorlopige aantekeninge en waarnemings oor ingeplaastheid en verbeelding in twee Tuinversprojekgedigte” waarin ek die ooreenkomste en verskille tussen my soetdoringgedig en ’n soetdoringgedig van Hein Viljoen ondersoek het.

(Gaan kyk gerus by http://www.byderhand.net/ waar jy meer kan lees oor die onderskeie projekte, die tuinverse, die digterstuine en voortgesette projekte, sowel as ’n uitgebreide fotogalery.)

noordwes-universiteit-botaniese-tuine-1

NWU Botaniese Tuin, Potchefstroom

 QR_Tuinverse_eienetwerk_druk

QR-kode op ’n klip onder die soetdoringboom

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Met die skryf van die gedig het ek voor ’n aantal wesenlike probleme te staan gekom. Eerstens was ek nie ten tye van die skryf self in Potchefstroom nie en moes staat maak op wat ek in die daaropvolgende navorsing as materiële geheue en materiële verbeelding gedefinieer het, volgens die konsepte van Buell se omgewingsverbeelding. Dit het onder andere behels dat ek op elke moontlike manier “inligting” moes bekom oor die plek waaroor ek moes skryf, deur navorsing oor plant- en voëlspesies van die Botaniese Tuine en onmiddellike omgewing, deur foto’s, digitale bronne en veral ook deur lewende videomateriaal wat Franci vir my gemaak het van die staproete na “my” boom, die klip onder die boom en die onmiddellike omgewing en klanke. Hierdie materiaal het die “toegangsdeure” geword waardeur ek, in samehang met die eie ervaring as materiële geheue van gelyksoortige omgewings waar ek was, ’n konsep kon skep vir die gedig.

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Wat gegee was, is die foto wat ek ’n jaar tevore van ’n welige soetdoring in volle blom geneem het. Dit was my mooiste soetdoringplek en ek kon daaruit put.

soetdoringbloeisels-4

Soetdoringbloeisels

Van daar af verder was dit wroeg en sweet! Ek het seker gemaak dat ek weet hoe die bloeiwyse van die soetdoring is, (dubbelgeveer), terwyl die stralekranse van geel pomponne vanselfsprekend is (sonpomponne).

Voorts moes ek in ag neem dat die besoeker aan die tuin op verskillende tye van die jaar daar sou wees en steeds moes kon identifiseer en meeleef met die gedig – vandaar die konsep van herhalende seisoene.

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Sirkels en kringe was van die begin af ’n ordeningsbeginsel – ek wou reg laat geskied aan die goue sonpomponne, aan die krans(as kring)-wyse waarop hulle aan die stingels gerangskik is, aan die kringloop van die son en van seisoene en uiteindelik die kringloop van die aarde en kosmiese kringe. Die pantoen se herhalende vorm het na my gevoel die kringe-binne-kringe goed gepas.

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek skryf meestal baie afgesonderd en min mense sien vooraf wat ek skryf. In die geval van hierdie gedig, was Franci en Bernard die eerste lesers. Tydens die vertaling na Engels het Tony en Gisela Ullyatt ’n vaardige Engelse hand bygesit.

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die eerste “verskyning” was in die NWU Botaniese Tuin en my eie eerste in situ-lees daarvan op ’n verskriklike warm dag tydens Aardklop. Wat nie daar was nie, was die sonpomponne; wat wel daar was, was die son. Daarna is die gedig natuurlik opgeneem in Die aarde is ’n eierblou ark (Proetea Boekhuis 2016).

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

In hierdie geval is die gedig op feite gebaseer en het ek so na as moontlik aan die spesifieke kenmerke van ’n soetdoring gehou sonder om die liriese kwaliteit van die ervaring prys te gee.

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Ek ontleed nie graag my eie gedigte nie en verkies dat dit deur lesers gedoen word wat my dalk kan verras!

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Die foto hierbo van die soetdoring se blomme was sekerlik die grootste invloed.

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Ek het definitief hier ’n leser in gedagte gehad wat deur die skaduryke Botaniese Tuin sou stap en ’n rukkie op die klip onder die boom sou sit. Ek wou seker maak dat die leser/kyker/luisteraar afkyk, na waar ook sy voete op dieselfde plek as my voete en die boom se voet staan, dat hy sou opkyk, na die blou hoëveldse lug wat tussen die blare deurskyn en dat hy dalk aan die bas sou voel. Spesifieke woorde in die gedig sou dus ’n performatiewe funksie moes vervul – wat van die begin af deel van die beplanning was – en die gedig moet ’n soort lens of meganisme word waardeur die leser se waarneming gefokus word. Ek vermoed dat die performatiewe aard van die gedig bydra tot die leser se ingeplaaste leeservaring.

Hoewel ek ’n bepaalde soort leser in gedagte gehad het, is die fokus in die gedig egter die boom, bykans as ’n sentrum van die heelal, op daardie oomblik, binne die “minnende kring” wat alles in stand hou. Die verhouding van die digter met die boom en die ervaarde materialiteit word ook vooropgestel.

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Hoewel dalk nie een van die sterkste gedigte in die bundel nie, maak die oorsprong van die gedig dit baie spesiaal. Die ervaring vir my as randdigter (en ook aan die rand van literêre kringe) om deel te kon wees aan die Tuinverse, was oorweldigend. En die gedagte dat die gedig en totempaal steeds daar is, by die boom, en voortgaan sonder my, is uniek.

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die gegewe van die soetdoring ervaar ek nogal as tipies Suid-Afrikaans. Ons almal het iewers ’n soetdoring in ons lewe – dis deel van ons kollektiewe geheue van landskap. Die doringboompie betree ook die literêre versruimtes alreeds vanaf Totius se tyd.

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek het by die sonpomponne begin, en toe ek eers op die pantoen besluit het, het die gedig sy eie (kring)loop geneem. En toe die bundel begin vorm aanneem het, het ek geweet dat die gedig ’n plek daarin sou vind. Tydens die redigeerproses het Martjie Bosman gehelp om die gedig kompakter te maak en dit verskyn in die bundel in die finale vorm.

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek is nie bewus van enige tradisionele lesersreaksie op die gedig nie. Ek kan dalk wel hier iets vertel oor die toonsettings as kunstenaarsinterpretasie, sowel as die landkunsinterpretasie van die gedig.

Twee musikale toonsettings is van “By die soetdoring” gemaak, die een as kunslied, getoonset deur  Gerrit Jordaan met klavierbegeleiding en stem, terwyl die tweede, getoonset en uitgevoer deur Johann Tempelhoff, ’n kitaarverwerking is. Die twee toonsettings is nogal uiteenlopend ten opsigte van die tonale aard en musikale kleur – die een dramaties en kragtig, die ander gedemp en meesleurend. Hierdie toonsettings word ook geaktiveer deur die QR-kode en lesers hier by Versindaba kan dalk probeer om die foto van die QR-kode op die klip te skandeer (deur enige QR-leser toepassing op hul foon) om toegang tot die toonsettings te kry. Ek moet byvoeg dat die toonsettings ’n groot verrassing vir my as digter was, en ’n verdere dimensie aan die gedig verleen. Aan die een kant is daar die “herkenning”, maar andersyds ook ’n “vreemdmaking” wat afstandelikheid van die gedig bewerkstellig.

Die tweede kunstenaarsinterpretasie is visueel. Deel van die Byderhand Tuinverseprojek was dat landkunstenaar Strijdom van der Merwe gevra is om kunswerke te skep wat by die verse se plekke aangebring kon word. Hy het die wonderlikste totempale gemaak wat ook as bakens opgerig is, elkeen uniek aan ’n spesifieke gedig. Die sketse van die konsepontwikkeling is ook deel van die inligting waartoe die leser/besoeker aan die tuine toegang het deur middel van die QR-kode.

skets-van-strijdom-van-der-merwe-5

Landkunstenaar Strijdom van der Merwe se interpretasie van die gedig

soetdoring-totempaal-6

Soetdoring-totempaal

(Foto: Franci Greyling)

Die konsep van tuinverse is in 2016 by die Tuin van Digters in Wellington gebruik met gedigte van digters uit daardie onmiddellike omgewing. Voorts het Prof Greyling ook besoek gebring aan Victoria Universiteit, in Kanada waarheen sy enkele gedigte, waaronder “By die soetdoring”, in ’n kampustuin “verplant” het om die konsep te verduidelik. My soetdoring het vir ’n kort rukkie sy blomkranse oor ’n ander kontinent uitgesprei!

boom-op-victoriakampus-kanada-10

“My” boom op die Victoriakampus, met die “Soetdoring”-gedig daarop aangebring

(Foto: Franci Greyling)

  1. ’n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

My eerste vers kom uit my hoërskooldae en na ’n uiters kort skryfproses het ek dit vir die destydse Transvaler gepos, wat in daardie jare weekliks gedigte gepubliseer het. Ek dink die “prys” wat ek ontvang het na publikasie was R5! As ek reg onthou was die onderwerp religieus van aard. Daarna het gedigte gereeld in Die Huisgenoot op hul tienerblad verskyn.

Nota: As julle Potchefstroom besoek, gaan maak gerus ’n draai by die Botaniese Tuin waar die gedigte en totempale ’n permanente installasie is.

*

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.